boekwinkel 

chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

mediaverklarings

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 out-STAR

KRYT

 tuis

 

 

 

ANC "gaan ZANU-PF help"

Volgens die Johannesburgse koerant The Sunday Times gaan die ANC vir "ZANU-PF help om die verkiesing aanstaande jaar in Zimbabwe te wen." Top-amptenare van Mugabe se party was onlangs in Johannesburg om samesprekings met ANC-leiers te voer.

Dié vergadering, wat in Junie gehou is, is bevestig deur sowel die ANC se sekretaris-generaal, Kgalema Motlanthe as ZANU-PF se voorsitter, John Nkomo. Dit het by die ANC se hoofkantoor in Johannesburg plaasgevind op die vooraand van die Afrik-Uniespitsberaad waar 'n amptelike veslag wat kritiek gelewer het op menseregte-oortredings in Zimbabwe met die hulp van Suid-Afrika onderdruk is.

President Thabo Mbeki het voorheen belowe dat hy die Zimbabwe-krisis teen einde Junie sou opgelos het. Mbeki het egter in Junie tesame met Nkomo, wat gesien word as 'n moontlike opvolger vir Mugabe, vergader, sonder dat die mnr. Morgan Tsvangirai van die Beweging vir Demokratiese Verandering hoegenaamd betrek is.

Benewens Mbeki en Motlanthe, is ander hoë party-amptenare wat die Junie-vergadering bygewoon het, die adjunk-voorsitter Jacob Zuma, asook Mosiuoa Lekota, die tersourier-generaal. Die ZANU-PF-afvaardiging is deur Nkomo gelei.

Volgens 'n ZANU-PF-lid het sy party vir die ANC gevra om hulle te help om aanstaande jaar se verkiesing "met 'n oortuigende meerderheid" te wen. So 'n verkiesing sal vroeg aanstaande jaar gehou word. In 2002 het die ANC die omstrede verkiesing in Zimbabwe, wat allerweë deur buitelandse waarnemers as 'n bedrogspul afgemaak is, as "vry en regverdig" bestempel. Volgens ZANU-PF-amptenare het hulle nou die ANC gevra om verder te gaan as "blote erkenning" van die verkiesing en ZANU-PF te hulp te snel om die verkiesing te wen.

Blykbaar het die ANC reeds ingestem om ses "verkiesingstrateë in Zimbabwe te ontplooi," volgens 'n lid van ZANU-PF se politburo. Senior lede van ZANU-PF se uitvoerende bestuur is reeds oor die vergadering met die ANC ingelig. Volgens 'n senior amptenaar, "het ZANU-PF die ANC gevra om ons te help om aanstaande jaar se verkiesing te wen en soos ek dit verstaan het die ANC in beginsel toegestem om tussen vier en ses 'strateë' na ons te stuur om ons tydens die komende verkiesing te help."

Die ANC se Motlanthe het gister op sy beur beweer dat geen ooreenkoms bereik is nie, maar dat daar 'n "ope uitnodiging aan ZANU-PF gerig is om die Suid-Afrikaanse party se sukses te bestudeer." Hy het ook bevestig dat 'n ZANU-PF afvaardiging op die laaste Maandag in Junie 'n drie-uurlange vergadering met die ses mees senior amptenare van die ANC gehou het, waaronder ook Mbeki. "Ek was by daardie vergadering. Ek mag nie sê waaroor ons gepraat het nie, maar dit is waar dat hulle gekom het om die ANC geluk te wens, nie om om hulp te vra nie. Ek is seker hulle sal dit nader aan hul eie verkiesing doen."

Oor die verkiesingstrateë was Motlanthe minder reguit. "Dit is nie waar nie. Daar was geen ooreenkoms in dié verband nie."

Nkomo het gesê dat ZANU-PF en die ANC "noue bande handhaaf en oor 'n gemeenskaplike visie vir die streek beskik." Volgens hom het "die ANC beter as wat verwag is" gedoen deur 70% van die stemme in te palm. Hy het ook gekom om die ANC geluk te wens met die toekenning van die Wêreldsokkerbeker in 2010.

Mugabe was een van die eregaste by Mbeki se inhuldiging op 27 April waar hy 'n staande toejuiging van die skare by die Uniegebou ontvang het. Op die ouderdom van 84 is Mugabe die oudste leier in Afrika wie se presidensiële termyn in 2008 sal verstryk. Op daardie tydstip sal hy reeds 28 jaar aan bewind wees. Volgens 'n Suid-Afrikaanse regeringsamptenaar is "Mugabe desperaat om die verkiesing te wen want indien sy party verloor sal hy moet bedank of vir drie jaar moet regeer met 'n opposisie-oorheersde, vyandige parlement."

Nkomo het gesê dat "ons die ANC wil gelukwens met hul verkiesingsoorwinning. Ons was nie noodwendig daar om hul verkiesingstrategieë oor te neem nie want hul situasie is heel verskillend van ons s'n... maar, uiteraard, kan daar verwag word dat hulle ons sal vertel hoe hulle dit reggekry het. Die ANC is 'n susterparty en ons verhoudings gaan baie ver terug toe die ontslape adjunk-president Joshua Nkomo in Suid-Afrika was [in die 1940s] en ook gedurende ons bevrydingsoorloë. Ons het gedurende en ná die Suid-Afrikaanse verkiesing afgevaardigdes daarheen gestuur. Die eerste is gestuur om die verkiesing te monitor en die tweede het daarheen gegaan om ons susterparty geluk te wens."

ZANU-PF kon nie daarin slaag om 50% van die stemme op hom te verenig tydens die Zimbabwiese verkiesings van Junie 2000 nie, maar het nogtans 62 setels verkry teenoor die BDV se 57 setels. Die regerende party se meerderheid is agterna versterk deur presidensiële nominasies en setels vir tradisionele leiers, maar Mugabe het nogtans die uitslag as 'n terugslag beskou.

Motlanthe het beweer dat ZANU-PF-afvaardigings die ANC gereeld besoek om organisasie- en strategiese kwessies te bespreek. "Die susterpartye het altyd toegang tot die ANC. Hulle stuur mense na ons toe. Party gaan na die provinsies, ander kom na ons hoofkantoor toe," het hy gesê.

Gedurende die jaar 2000 het die ANC buite Johannesburg 'n konferensie aangebied vir alle sogenaamde "bevrydingsbewegings" en "-partye" om inligting uit te ruil oor 'n reeks veelpartyverkiesings in die streek. Van die kwessies wat tydens die konferensie bespreek is, is maniere om te verhoed dat bevrydingsbewegings uitgeknikker word deur diegene wat "noue bande met Westerse nasies" handhaaf.

Zimbabwe se opposisieparty, die Beweging vir Demokratiese Verandering, wat dikwels deur Mugabe aangeval word as 'n "Brits-geondersteunde marionetteparty", het die ANC daarvan beskuldig dat hy met ZANU-PF saamsweer om die veelpartyonderhandelings wat bedoel was om die grootskaalse politieke en ekonomiese krisis in die land op te los, wil laat skipbreuk ly.

Motlanthe het gesê dat die ANC 'n afvaardiging van tien mense na die 2000-verkiesings in Zimbabwe gestuur het en waarskynlik 'n soortgelyke of groter afvaardiging na aanstaande jaar se verkiesing sal stuur om "eerstehandse inligting in te win."

Met erkenning aan die Sunday Times, 11/7/2004