|
Bloedige motorbom in Nadjaf, Irak
Die ajatolla Mohammed Baker Hakim, 'n Sjiïetiese
geestelike leier in Irak, is Vrydag gedood deur 'n motorbom wat insgelyks die
dood van 74 ander mense veroorsaak het en 150 beseer het in die heilige stad
Nadjaf. Dié syfers is aangehaal deur die nuusagentskap Reuter, wat dit van die
plaaslike hospitaal verkry het. Die ontploffing het plaasgevind aan die einde
van die Vrydagse gebed in die moskee wat deur honderde gelowiges bygewoon is.
Ná sy preek, het die hoof van die Hoogste vergadering
van die Islamitiese revolusie in Irak (HVIR) in sy motor geklim wat toe deur die
geweld van die ontploffing getref is. Sy dood is aangekondig deur die kantoor
van die organisasie in Teheran en daarna bevestig deur 'n ampsdraer van die HVIR
in Bagdad.
Die ajatolla
Mohammed Baker Hakim was 'n gematigde
leier wat nogtans die bewind van Saddam Hoesein vuriglik teengestaan het tydens
sy 23 jaar van ballinskap in Iran. Hy het in Mei vanjaar na Irak teruggekeer ná
die Amerikaanse besetting. As hoof van die HVIR, 'n Sjiïetiese organisasie wat
deur die Iranese teen Bagdad ondersteun is, was dié geestelike herkenbaar aan
sy swart tulband wat hom gekenteken het as afstammeling van die profeet
Mohammed.
Hy was ten gunste van 'n vinnige vertrek deur Amerika,
wat hom egter nie verhoed het om saam te werk met die koalisie nie. In sy preek
in die moskee net voor sy dood, het hy nogmaals die ondersteuners van die
afgesette Irakese bewind geblameer vir die aanvalle op die Amerikaanse soldate.
Sy broer Abdel Aziz Hakim is 'n lid van die Irakese Adviesraad. 29/09/05 03:09
|