boekwinkel 

chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

mediaverklarings

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 out-STAR

KRYT

 tuis

 

 

 

Nadine Gordimer misluk om Afrikaanse skrywers uit te hou

Die skryfster Nadine Gordimer, wat Afrikaanse skrywers daarvan wou weerhou om as 'n onafhanklike sentrum by die Internasionale PEN-organisasie aan te sluit, het misluk. By die pas afgelope kongres in Berlyn is die lidmaatskap van die Pretoria- Afrikaanse PEN met 'n oorweldigende meerderheid van 40 teen 8 stemme aanvaar, met 10 PEN-sentra wat buite stemming gebly het. Hiermee het nog 'n bastion geval sover dit die kulturele isolasie van Afrikaans betref, en kan Afrikaanse skrywers nou op gelyke voet met hul eweknieë in ander lande assosieer.

Die Afrikaanse sentrum poog al drie jaar lank om toelating tot die Internasionale PEN te verkry. In 2004 het Nadine Gordimer 'n brief aan die voorsitter gerig waarin sy haar teenkanting teen die aansluiting van Afrikaanse skrywers uitgespreek het omdat die Afrikaanse letterkunde kwansuis sedert 1994 oor geen outonomie of eie samehang sou beskik nie. Verlede jaar het die Afrikaanse digter Fanie Olivier al die pad van Pole na Bled in Slowenië gereis om die Afrikaanse aansoek te verdedig, maar die teenstanders van die aansoek het daarin geslaag om die kwessie nie tot stemming te laat bring nie.

PEN is 'n internasionale skrywersorganisasie met meer as 10 000 lede wat hulle vir die bevordering van letterkunde, vryheid van spraak en taalregte beywer. "Afrikaanse skrywers kan veral baat by internasionale skakeling oor dié kwessies, aangesien Afrikaans vandag misken word en grotendeels van sy amptelike status beroof is," het dr. Dan Roodt, sameroeper van die Pretoria- Afrikaanse PEN gesê. "PEN het reeds 'n universele verklaring van taalregte opgestel en dié dokument kan vir die Afrikaanse taalstryd baie nuttig wees. Vryheid van spraak is insgelyks 'n netelige kwessie in Suider-Afrika, veral in Zimbabwe, en ons sou in samewerking met ander PEN-sentra spraakvryheid in ons streek wou bevorder."

Die woord "Pretoria" is by die naam van die Afrikaanse PEN gevoeg om dit geografies van die Engelstalige PEN in Kaapstad te onderskei, maar ook om sekere Britse lede van PEN tegemoet te kom wat die woord "Afrikaanse" as te nasionalisties gesien het. 

Die toelating van 'n Afrikaanse PEN-sentrum kom net betyds vir afgevaardigdes om aanstaande jaar se kongres in Dakar, Senegal, by te woon. "Dié kongres gaan spesifiek op die situasie van Afrika-letterkundes fokus, wat dit vir ons relevant maak, aangesien Afrikaans waarskynlik die belangrikste letterkunde in Afrika verteenwoordig," het dr. Roodt bygevoeg.

Tot dusver is geen kommentaar van Nadine Gordimer ontvang nie. Vir dié Engelstalige skryfster wat in haar outobiografiese opstelle dikwels bewondering vir die SA Kommunistiese Party uitgespreek het, moet dit 'n bitter pil wees om te sluk ná sy alles in haar vermoë gedoen het om 'n kulturele boikot teen Afrikaanse skrywers in stand te hou.

Die Pretoria- Afrikaanse PEN verteenwoordig tans ongeveer veertig skrywers, waaronder vele bekende name. 'n Jaarvergadering word vir later vanjaar beplan en daar gaan gepoog word om dit 'n belangwekkende gebeurtenis soortgelyk aan vergaderings van die vorige Afrikaanse Skrywersgilde in die sewentiger- en tagtigerjare te maak.

Lees ook die berig in Rapport van 28 Mei 2006:

Afrikaanse skrywers by PEN
Annie-Marie Mischke
Johannesburg
 
Nie eens die verbete teenkanting van 'n Nobelpryswenner kon Afrikaanse skrywers langer uit die geledere van PEN, die skrywers se gesogte internasionale vereniging, nou nie.
 
Twee jaar lank het die skrywer Nadine Gordimer verbete - en suksesvol - teen die toelating van die Afrikaanse skrywers geveg, maar Vrydag moes sy die aftog blaas. Op die PEN-konferensie in Berlyn is die Afrikaanse PEN-sentrum in Pretoria met veertig stemme teen agt tot die internasionale geledere toegelaat, naas die Engelssprekende Suid-Afrikaanse PEN in Kaapstad. Tien lede het buite stemming gebly. Die saak vir die Afrikaanse sentrum is in Berlyn gestel deur die Engelssprekende mnr. Raymond Louw, oudredakteur van die heengegane Rand Daily Mail en deesdae prominente lid van die Freedom of Expression Institute.
 
Hy het kortliks sy spanningsverhouding met die vorige bewind en die Afrikaners wat dit gesteun het aan die konferensiegangers geskets.
 
"Maar," het hy gesê, "ek steun die aansoek van die Afrikaanse skrywers want die taal was nie die verdrukker nie, die mense was. Afrikaners wat teen apartheid geveg het, het ook die taal gebruik."
 
Mnr. Anthony Fleischer, president van die Suid-Afrikaanse PEN-sentrum in Kaapstad, het die besluit verwelkom.
 
"Ons gebruik dalk hoofstroomtale in ons ons ekonomiese lewe, maar vir ons literêre lewe sal ons eie tale en gemeenskap al hoe belangriker word. Meer literêre materiaal word in Afrikaans in Suid-Afrika gepubliseer as in enige ander taal - insluitend Engels.
 
"In Suid-Afrika is taal nie noodwendig verdelend nie. Mits al elf taalgemeenskappe hou by die beginsels van ons Grondwet sal ons in 'n diverse en opwindende gemeenskap bly ontwikkel."
 
Hy sê hy het gehoor die kwessie van Afrikaans as taal van onderdrukking is die afgelope week in Berlyn bespreek, maar hy wonder wat gesê moet word van koloniale en ander tale wat deur verdrukkers gepraat is, soos Engels, Nederlands, Frans, Duits, Italiaans en Portugees. "En wat van die tale van kommunisme, soos Mandaryns en Russies?"
 
Fleischer wys in 'n vroeëre verklaring daarop dat toe mnr. Terry Carlborn, die toenmalige internasionale sekretaris van PEN, die Kaapstadse sentrum in 'n stadium besoek het, hy en sy reisgenoot mnr. Vincent Mgombe ook by Gordimer in Johannesburg 'n draai gemaak het.
 
Sy was negatief en "taamlik krities" oor 'n Afrikaanssprekende PEN-sentrum. Terseldertyd het sy vir hulle ontmoetings gereël met mense wat ten gunste was van 'n PEN-sentrum vir swart mense in Johannesburg.
 
"Nadine se standpunt was nie aanvaarbaar nie: die Suid-Afrikaanse PEN was nog altyd nie-rassig," sê Fleischer. Die internasionale PEN bestaan al byna 'n eeu lank, met 141 sentrums in 99 lande. Dis 'n vereniging van skrywers wat hom vir vriendskap en intellektuele samewerking, vryheid van uitdrukking en die verteenwoordiging van gewete in die wêreldletterkunde beywer. Twintig Afrikaanse skrywers het die Pretoriase sentrum in 2004 gestig en dadelik aan al die voorwaardes van die internasionale PEN voldoen. Onder aanvoering van Gordimer is hul toetrede tot die internasionale PEN in die jaar en in 2005 vewerp.

30 May 2006 09:06:17 AM