| boekwinkel |
|
|
|
Geo Cronjé uit Springbokspan oor "rassisme" 'n Storm het opnuut in Suid-Afrika losgebars oor Springbokslot Geo Cronjé se beweerde "rassisme". Die 23-jarige Cronjé is uit die Springbokoefenspan geskors omdat hy blykbaar nie 'n kamer en 'n stort wou deel met sy medeslot Quinton Davids van die Westelike Provinsie nie. Cronjé sal nie aan die Rugbywêreldbeker kan deelneem nie, en dit is moontlik dat hy nooit weer mag rugby speel nie. Twee dae voordat die Wêreldbekerspan aangekondig sou word, het Rian Oberholzer, besturende direkteur van SA Rugby hom uit die span geskors en aan 'n Kaapse koerant verklaar: "Ons standpunt is eenvoudig en word in die Suid- Afrikaanse Rugbygrondwet behandel. Ons handhaaf geen verdraagsaamheid teenoor rassisme in rugby nie en voel baie sterk oor dié kwessie. Ons sal die speler uit die oefenkamp verwyder, die bewerings sal ondersoek word ten einde vas te stel of daar 'n geregtelike ondersoek behoort te wees en, indien nodig, sal daar berading aan die speler aangebied word." Gerugte wil dit hê dat Rudolf Straeuli vir Cronjé beveel het om 'n kamer en 'n badkamer met Davids te deel, en dat hy sou geweier het. Nou word die Blou Bulspeler ondersoek deur SARVU. Die hoofuitvoerende beampte van SARVU, Mveleli Ncula het aan die SAUK-radio gesê, "Ek kan op die oomblik bevestig dat SARVU besig is om bewerings van rassisme teen die slot Geo Cronjé te ondersoek ná 'n insident waarby Davids betrokke was gedurende 'n kamp wat tans in Pretoria plaasvind. Daar is ooreengekom dat Cronjé onmiddellik vanuit die span verwyder word." Volgens Ncula was dit die eerste insident van dié aard. "Dit is niks nuuts dat spelers 'n kamer moet deel nie, en sowel swartes as blankes bly al jare lank saam en dit is werklik die eerste keer dat dit aan die lig gekom het dat 'n speler blykbaar nie met 'n ander wil deel nie." Volgens die Cape Argus, het Straeuli aanvanklik albei spelers gestraf en hulle beveel om met mekaar versoen te raak, maar SA Rugby, 'n professionele tak van SARVU, het tussenbeide getree. Mnr. Graham Abrahams, segsman vir sportminister Nconde Balfour, het bevestig dat die minister Donderdagoggend in kennis gestel is. "Die minister het kennis geneem van die vinnige optrede van SA Rugby en dat die speler die kamp sou verlaat te midde van bewerings van rassisme. Ons ondersteun die standpunt dat daar 'n ondersoek behoort te wees maar wil dit beklemtoon dat een of twee bewerings van rassime nie toegelaat behoort te word om 'n skadu te werp oor 'n hele kamp nie." Abrahams het verder uitgebrei deur te sê dat die insident 'n simptoom was van die Suid-Afrikaanse samelewing. "Wat hulle by die Springbokke gesien het, is 'n weerspieëling van waarmee ons sit in die breër gemeenskap. Hoe gouer Suid-Afrikaners uit alle sektore aanvaar dat ons steeds opgesaal is met rassisme, hoe beter is dit vir Suid-Afrika as 'n maatskappy. As die regering praat van transformasie is daar sekere sektore wat glo dat dit 'n speletjie met syfers is, maar dit bevestig die behoefte en dringendheid van transformasie. Heel duidelik het dit te make met sy houding. Hierdie is 'n jongman, hy is 23 jaar oud, maar as dit juis is, waar lê die wortels van die kwessie? Dit is die vrae waarop ons antwoorde nodig het." Ncula het gesê dat die ondersoekers onderhoude sou voer met al die betrokke partye en dat die organisasie 'n finale oordeel sou vel ná voltooing van die ondersoek. "Vir almal van ons wat by rugby betrokke is, is dit werklik die laaste ding wat ons sou wou sien. Dit sal beslis ons voorbereidings beïnvloed," het Ncula voortgegaan. Daar was nog altyd aantygings dat rugby 'n spel vir wit mans gebly het. Die Springbokvleuel Chester Williams het onlangs in sy outobiografie soortgelyke bewerings van rassisme gemaak. Hy het sedertdien afgetree. Op die oomblik is dit nie duidelik presies wat Cronjé sou gesê het nie. In Europese lande is daar organisasies wat hotelle opbel en hulself voordoen as Derde Wêreldimmigrante met groot gesinne in 'n poging om hotelle uit te vang dat hulle verblyf sou weier aan sekere klante. Kenners oor die praktyk van rasse-uitlokking was dit eens dat Cronjé dalk in 'n hinderlaag gelei kon gewees het deur medespelers wat moontlik van hom wou ontslae raak. Die reaksie van politieke partye jeens Cronjé was oorwegend negatief. Sowel die ANC as die DA het sy houding verdoem en hom beskryf as iemand wat nie waardig is om Suid-Afrika op die veld te verteenwoordig nie. 28/08/03 22:09 |