boekwinkel 

chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

mediaverklarings

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 out-STAR

KRYT

 tuis

 

 

 

Nasionale Erfenisraad verkwis R4,5m op reis na Ghana

Enkele ampsdraers van die Nasionale Erfenisraad het onlangs R4,5m op 'n luukse reis na Ghana verkwis. Die hele afvaardiging het besigheidsklas gevlieg en ook in 'n vyfsterhotel gebly.

Die rede vir die reis was oënskynlik om "die kultuurbeleid van Ghana te bestudeer". Vir die R4,5m van die belastingbetaler se fondse is 'n verslag van ongeveer 'n halwe bladsy geskryf.

Terwyl die meeste kultuurorganisasies in die land sukkel om kop bo water te hou en vele museums en monumente noustrop trek, is die Nasionale Erfenisraad besig om keiserlike reise te onderneem. Die raad het ook die gewoonte om binnelands by eksotiese vakansieplekke met luukse akkomodasie te vergader.

Die Erfenisraad se uitspattige tog na Ghana kom kort op die hakke van adjunk-president Phumzile Mlambo-Ngcuka se "hyskraantoerisme" na Doebai. Mlambo-Ngcuka het 'n nasionale politieke skandaal veroorsaak deur ongeveer R750 000 uit te gee op 'n vliegrit in private straler vir haar en haar familie na Doebai, veel minder as die huidige reis na Ghana deur die Erfenisraad.

Die Nasionale Erfenisraad ressorteer onder die Kultuurministerie van dr. Pallo Jordan en is veronderstel om museums te befonds.

Teen 24 Februarie toe 'n vergadering met dr. Luli Callinicos van die Kultuurministerie sou plaasvind, was die halfbladsyverslag oor die reis nog nie gereed nie en is daar geskarrel om dit geskryf te kry.

'n Halwe bladsy beloop ongeveer 125 woorde. 'n Mens sou dus kon sê dat dié verslag oor Ghana se kultuurbeleid die belastingbetaler R36 000 per woord gekos het.

Dit is nie duidelik waarom die Erfenisraad na Ghana wou gaan nie, maar dit kan verband hou met die feit dat dié Afrikaland die eerste was om in die vyftigerjare onafhanklikheid te bekom. Die eertydse revolusionêre leier, Kwame Nkroemah, het die eertyds suksesvolle ekonomie van Ghana binne enkele jare in die grond in gedryf.

Lees ook ons mening hieroor.

04 March 2006 10:19:58 AM