| boekwinkel |
|
|
|
Franse filosoof oor nuwe anti-Semitisme Die bekende Franse filosoof, Alain Finkelkraut, waarsku in 'n nuwe boek dat anti-Semitisme verander het. Die bron daarvan is nie meer etniese nasionalisme soos in die verlede nie, maar die multikulturele beweging.
Finkelkraut het hom voorheen teen etniese nasionalisme uitgespreek en die universele aard van die Franse nasie beklemtoon, teenoor die Duitse tradisie van Herder en ander wat klem lê op taal en afkoms. Hy het ook kritiek gelewer op die vervlakking wat gepaardgaan met die multikulturele samelewing, maar dit is die eerste keer dat hy hom so sterk uitspreek teen multikulturalisme as bron van anti-Semitisme en haat jeens bepaalde etniese groepe soos Jode. "Dit wat tans teen die Jode gehou word, is nie dat hulle die Franse identiteit korrupteer nie, maar dat hulle martelaarskap afdwing of laat afdwing in hul naam op die andersheid van die Palestyne." Volgens hom is Westerse intellektuele in die greep van 'n "internasionalistiese pogromisme" waardeur hulle alle groepe wat hul etniese identiteit wil behou, stigmatiseer as "die enigste ware rassiste". Dit lei tot 'n nuwe anti-Semitisme wat aan die opmars is in Europa, maar dié keer nie in die naam van rasse- of etniese suiwerheid nie, maar in die naam van die verpligting om te meng. Hy skryf hierdie nuwe onverdraagsaamheid teenoor Jode toe aan die "kultus van die Ander." In samehang met die "kultuur van skuld en verskoning" onder Europeërs, veroorsaak dit dat die Ander, "selfs al gedra hy homself soos 'n verklaarde vyand, nooit enigiets beoefen behalwe geregverdigde selfverdediging nie; as hy wandade pleeg, is dit in reaksie op die reaksionêre gees, in reaksie op apartheidsmaatreëls of op die veiligheidsmaatreëls waarvan hy die slagoffer is." Ook weens die hoë aantal Arabiere en Moslems in Frankryk, is die gevalle van anti-Joodse aanvalle op sinagoges en begraafplase besig om toe te neem. Frankryk beskik oor 'n groot Joodse gemeenskap van ongeveer 700 000 siele. 08/09/2003 16:07 |