| boekwinkel |
|
|
|
"Geweld ergste sedert Tweede Węreldoorlog" Vir die elfde agtereenvolgende nag het die geweld in die omliggende gebiede van Parys asook elders op die platteland nog motors in ligte laaie gehad. By Grigny, in die Essonne, het ongeveer 200 oproeriges by een geleentheid op die polisie met 'n haelgeweer losgebrand.
'n Woordvoerder van die nasionale polisie het in 'n verklaring gesę dat alhoewel haelgeweerskote op 'n sekere afstand nie noodwendig dodelik is nie, dit nietemin "vir ernstige beserings kan sorg, soos dat 'n polisielid sy sig kan verloor." Een van die grootste Moslemorganisasies, die UOIF, oftewel Unie van Islamitiese Organisasies van Frankryk, het 'n "fatwa" uitgeroep om die geweld te veroordeel wat in die naam van Islam in verskeie woonbuurte waar die spanning hoog is, gevoer word. Dié organisasie het gesę dat Allah in die Koran in verskeie verse "destruksie en wanorde veroordeel en diegene wat dit pleeg, verwerp". Die skade aan openbare vervoer word reeds op 3,5 miljoen euro beraam. In Colombes, Hauts-de-Seine, naby Parys het 'n baba kopbeserings opgedoen en is na 'n hospitaal gebring toe klipgooiers 'n bus aangeval het. Elders in die omgewing van Parys, soos in die Yvelines en Val-de-Marnes is 'n motorfietsvertoonlokaal, kleuterskool, belastingkantoor en farmaseutiese stoor óf aangeval óf in puin gelę. In ander Franse stede, naamlik Rennes, Nantes en Straatsburg het soortgelyke gevalle van geweld voorgekom waar openbare vervoer geteiken is en motors aan die brand gesteek is. 'n Kleuterskool in Nantes is in puin gelę en Molotov-houers is teen 'n laerskool in Strasburg geslinger. In Lens is 'n kerkdeur aan die brand gesteek deur 'n bewegende brandende voertuig wat daarteen gebots het. In Toulouse is 'n motor in die moltrein-ingang ingestamp om dit te versper en vervoer te belemmer en 25 motors is uitgebrand. In Rennes is ook motors verbrand. Ná voorvalle van intense geweld in Evreux het polisieversterkings die veiligheidskontigent verdubbel om nuwe voorvalle die hoof te kan bied. Die Polisievakbond, CFTC, het die Eerste minister versoek om weermagversterkings na die voorstede te stuur asook om 'n aandklokreël in te stel nadat polisielede onder geweervuur gekom het. "Niks blyk meer te help om die burgeroorlog wat elke dag uitbrei oor die geheel van die nasionale grondgebied te keer nie. Die gebeurtenis wat ons tans beleef is sonder gelyke sedert die einde van die Tweede Węreldoorlog" lui 'n verklaring wat die vakbond gisteraand uitgereik het. 07 November 2005 10:57:20 AM |