| boekwinkel |
|
Klik op die boek en lees meer oor Günter Grass se roman Kreeftegang. | |
|
Günter Grass se donker geheim
Grass is al 78 jaar oud en het hierdie geheim vir meer as 60 jaar met hom saamgedra voordat hy besluit het om met die hele sak patats vorendag te kom in hierdie outobiografie, wat vanaf 1 September te koop sal wees. Hierdie gerespekteerde skrywer, wat in 1999 die Nobelprys vir letterkunde gewen het, was lank aktief betrokke in linkse politieke kringe en is bekend vir sy uitsprake teen vreemdelingehaat en oorlog. Dit maak sy openbaring dus soveel meer sensasioneel. Die SS of Schutzstaffel het aanvanklik as 'n persoonlike lyfwagkorps vir Hitler begin. Die gewese hoenderboer, Heinrich Himmler, het aan die hoof van hierdie eenheid gestaan. Dit is later in 'n groot organisasie omskep wat aktief betrokke was by die teregstelling van politieke teëstaanders van die Nazi-beleid, asook die omstrede konsentrasiekampe. Die Waffen-SS het deel uitgemaak van die SS en was 'n gevegseenheid wat bekend geword het vir hulle fanatiese oorlogsvoering. Tydens die Nürnbergverhoor na afloop van die oorlog is die SS tot "kriminele organisasie" verklaar. Grass is op ouderdom sewentien opgeroep om diens te verrig vir die Waffen SS-eenheid in Dresden. In sy onderhoud met die Frankfurter Allgemeine Zeitung verklaar hy dat dit vandag moeilik is om aan jongmense te verduidelik waarom die Nazi-ideologie destyds so 'n houvas op Duitsers gehad het. Volgens hom was die Waffen-SS destyds "nie iets verskrikliks nie", maar 'n elite-eenheid wat gestuur is na gevegsfronte waar daar heelwat aksie was. Hy was ook vroeër as jong seun deel van die Hitlerjeug en verduidelik in dieselfde onderhoud dat hierdie organisasie 'n baie belangrike rol gespeel het om kinders te indoktrineer. "Hitler se leuse dat 'die jeug deur die jeug gelei moes word' was geweldig suksevol." In vorige biografiese dokumente wat oor Grass verskyn het, is bloot beweer dat hy tydens die oorlog 'n assistant was in 'n lugafweereenheid, 'n taak wat dikwels deur tieners uitgevoer is. Ná afloop van die oorlog is hy deur VSA-troepe gevange geneem. Die joernaliste van Duitsland se beroemdste koerant wou by Grass weet hoekom hy nou eers, na soveel jare, besluit het om oor sy verlede te praat. Sy antwoord was kort en kragtig: "Dit het swaar op my gerus. My stilte al hierdie jare is een van die redes waarom ek hierdie boek geskryf het. Dit moes uiteindelik uitkom" ("Das musste raus, endlich"). Hy erken verder dat hy aanvanklik geen skaamte oor sy rol ervaar het nie, maar dat hy later deur skuld oorweldig is. Die Oostenrykse skrywer, Robert Schindel, beweer dat Grass al twintig jaar gelede in 'n privaat gesprek met hom na sy rol in die SS verwys het. Volgens hom was hierdie geheim al die jare "'n wond" wat Grass met hom saamgedra het. Die voorsitter van Duitsland se PEN-sentrum, Johano Strasser, het vir Grass in die bresse getree, soos ook die Berlynse historikus Arnulf Baring. Grass self ervaar die media-ophef oor sy SS-verlede as persoonlik kwetsend. Hy sien die kritiek as 'n poging om hom as "onmenslik" voor te stel. Hy beklemtoon dat hy nooit enige skoot geskiet het nie en aan geen misdaad skuldig was nie. Sommige kritici, soos Wolfgang Börnsen, die CDU-party se kulturele woordvoerder, dring egter daarop aan dat Grass die ereburgerskap van sy geboortestad Danzig asook die Nobelprys behoort terug te gee en meen dat hy nou al sy geloofwaardigheid verloor het. Die voormalige vakbondhoof en president van Pole, Lech Walesa, beweer op sy beurt dat hy nie meer "gemaklik" in Grass se geselskap kan voel nie. Die Welt het in sy redaksionele kommentaar daarop gewys dat dit nie soseer sy lidmaatskap van die Waffen-SS is waaroor Grass gekritiseer moet word nie, maar dat sy eintlike fout was dat sy eie verlede hom nie meer bewus gemaak het van nuanses nie en dat hy sy politieke opponente onverbiddelik en sonder konsessies veroordeel het. 'n Seergemaakte Grass is van mening dat daar soveel sensasie rondom sy SS-verlede geskep word, dat mense die hoofvraag waarmee hy in Zum Haüten der Zwiebel worstel, naamlik hoekom hy destyds so goedgelowig die Nazi-ideologie aanvaar het, gaan miskyk. Hy meen voorts dat daar vandag soveel mense is wat hulleself voordoen as destydse kritici van die Nazi's dat 'n mens wonder hoe Hitler destyds aan bewind gekom het. Hoe dit ook al sy, hierdie publisiteit bring noodwendig mee dat duisende lesers nuuskierig genoeg gaan wees om Zum Haüten der Zwiebel te lees, wat 'n mens laat wonder of dit nie 'n goedbeplande publisiteitsfoefie van Grass was om met die sak patats na vore te kom nog voordat die boek op die rakke verskyn nie. 15 August 2006 10:56:26 PM |
|||