| boekwinkel |
|
|
|
Mugabe se Green Bombers uitverkoop "Hierdie milisie wil nie soseer mense doodmaak nie maar eerder martel. Dis 'n baie spesifieke strategie van terreur." So beweer die 22-jarige Lucius, een van die oudste lede van Robert Mugabe se Green Bombers wat homself tans in Gauteng bevind. 'n Ander lid, Thabo, ook 22, beweer dat hulle opdrag ontvang het om 'n sekretaris van die opposisieparty, die MDC, voor sy kinders met 'n ysterstaaf dood te slaan. Daarvoor het Thabo 'n jaar lank opleiding in 'n kamp ontvang wat deur oorlogveterane bestuur is. Die Solidarity Peace Trust wat deur godsdiensleiers gelei word het Vrydag in Johannesburg 'n beroep namens die slagoffers en daders op die internasionale gemeenskap gedoen om druk op Mugabe uit te oefen om die marteling te staak. Dat heelwat van hierdie groep se lede hulself deesdae buite Zimbabwe bevind, is te wyte aan die feit dat hulle nog steeds geen vergoeding vir hul terreurdade ontvang het soos aan hulle belowe is nie. Die kampe wat veronderstel was om jongmense vir "werksgeleenthede" en "burgerskap" in hul land op te lei is by uitstek vandag die instrument waarmee Mugabe sy politieke opposisie intimideer. Debbie, 'n jong moeder van 18, het tydens die perskonferensie vertel hoe sy verkrag is in so 'n kamp. Vandag is sy MIV-positief en weet nie wie die pa van haar kind is nie. 'n Ander lid van die MDC vertel dat sy gedwing is om haar eie tampon uit te haal en in haar mond te steek gedurende maandstonde. Jerome Aranes, 'n priester, het snikkend vertel dat mense verplig word om hul ontlasting te eet. "Ek het apartheid beleef, en gesien wat wit aan swart doen. Ek verstaan nie waarom swartes dit aan hul eie mense doen nie." Die daders het vertel dat hulle soveel bier gedrink en dagga gerook het voor 'n plaasaanval dat hulle skaars kan onthou wat gebeur het. "Dit was 'n baie spesifieke strategie om steun te probeer wen by die bevolking net voor die verkiesing," verduidelik Tony Reeler, direkteur van die Amani-trust. Die Green Bombers bestaan uit ongeveer 50 000 lede wat versprei is in 146 kampe en van hierdie kampe is selfs as verkiesingslokale gebruik tydens die laaste verkiesing. "Hulle het al die jongmense in arm dorpies bymekaargemaak en hulle vertel dat hulle die wittes van hul grond moet afjaag om dit oor te neem. Hulle het baie belowe maar ons het niks gekry nie." verduidelik Derrick, 18 jaar oud. Die ander take waarmee die berugte Green Bombers hulself besig hou is om toue by winkels te kontroleer sodat net kaartdraende Zanu-PF-lede toegang verkry, aanvalle op MDC-lede en diefstal van boere se implemente vir "herverspreiding". Die Green Bomber-uitgewekenes in SA plakkerskampe lewe in vrees en vermy ander landsgenote omdat hulle glo dat Mugabe-lojaliste wat uit Harare gestuur word, hulle om die lewe kan bring. 6/9/2003 17:30
|