| boekwinkel |
|
|
|
Aristide se bewind Laennec Hurbon, sosioloog en navorser by die CNRS in Parys, skryf onlangs in Le Monde oor die rasbewustheid en korruptheid van die huidige bewind in Haïti. Die Chimères-bendes waarna hy verwys in sy artikel word verantwoordelik gehou vir die stembusse wat oopgebreek en vernietig is tydens die vorige verkiesing. Die halssnoermoorde op opposisielede in November 2001 waar hulle lewendig verbrand is en wat veroorsaak het dat die verkiesing nie vry en regverdig verklaar kon word nie, was ook, soos Hurbon uitwys, hulle werk. Dit was skynbaar die mees onregverdige verkiesings in die geskiedenis van die eiland. Hierdie berugte groep is tans vir Aristide wat die moordadige Tonton Macoute-bendes vir Baby Doc Duvalier was en miskien selfs erger: nie juis tekenend van 'n konstitusionele manier van magsuitoefening nie. Dit is ook die groep wat tans "bygestaan" word deur die SA magte. Elke verkiesing is blykbaar veronderstel om dieselfde resultaat te lewer en alle instellings en strukture wat goeie opposisie moontlik maak word ondergrawe en vernietig. En terwyl die President ywerig enige teëstand vervolg, hou hy nie op praat van hoe "lief" hy die opposisie het nie en noem hy hulle sy "broers". Onder die voorwendsel van "zero toleransie" is meer as 50 mense verlede jaar tereggestel en soos diere begrawe, volgens Hurbon. Van wetstoepassing is daar nie meer sprake nie en vele regters, kommisarisse en polisieinspekteurs asook tussen 20 en 30 onafhanklike joernaliste het intussen na Frankryk en Kanada gevlug. Radiostasies wat nie regeringspropaganda uitsaai nie, word ook geteiken. Betogings en politieke vergaderings word, sedert Clinton en die VN in Aristide te hulp gesnel het met 20 000 soldate ná 'n militêre coup en op 7 Februarie 2001 van 'n tweede termyn verseker het, sistematies deur die Chimères ontwrig en studente word daagliks geïntimideer, aangehou sonder verhoor, verkrag of vermoor. Die polisie het vrye toegang tot die universiteit in Port-au-Prince en bars gereeld daar in. Ontvoering en eise vir lospryse is ewe alledaags vir die Aristide-regering en word onder toesig van die Polisiekommisaris by die Paleis van Justisie gedoen. Die polisie gebruik ook lewendige ammunisie om skares te beheer; op 20 November 2003 in Petit-Goave is 11 so beseer en weer tussen 8 en 10 opposisielede tydens die vieringe self. Reeds in 1991 het Aristide vleiend gepraat van brandende halssnoere, maar niemand het die uiters godsdienstige President kon verdink daarvan dat hy dit letterlik bedoel nie. "Ek het ja gesê aan die nasie wat gevra het dat ek kandidaat moet wees... Ja aan God. Ja aan die mense van Haïti want hulle stem is niks anders as die stem van God nie" haal André Corten, in sy boek Misère, religion et politique en Haïti. Diabolisation et mal politique, Ed. Karthala, 2001, die President aan. Noudat sy bewind net deur naakte geweld bestendig word, wemel Aristide se toesprake toenemend van 'n verkeidenheid verwysings na "vrede". En veral "bloed" in die sin van rasdefinisie. Die woord kom nie minder nie as 96 keer in sy toesprake voor. 'n Kommerwekkende verskynsel is die beheptheid van Aristide met "suiwer bloed" van die "ware" Haïtiaan soos dié van die swart Dessaline wat in 1805 bevel gegee het dat alle wittes doodgemaak moet word. In Serwië en Rwanda is van soortgelyke beelde gebruik gemaak. Sy verwysings na die geskiedenis moet heel letterlik geneem word want nalv Dessaline se beroemde Kreoolse kreet:"Koupé tèt, boulé kay" (Sny die koppe af en brand die huise), wat deur Aristide-ondersteuners oorgeneem is, het daar weliswaar etlike koppe op vullishope verskyn, vars afgesny. Langs die koppe ingedruk was pamflette waarin die bevolking aan dié slagspreuk herinner is. Hurbon haal Aristide aan: "Slegte bloed wat van ons verraaiers kan maak, wat ons kan laat vergeet dat ons broers is, dat ons almal Negers is... Vandag het pappa Dessaline hierdie suiwering teweeggebring..." Blykbaar is Aristide bygelowig oor die R+ bloedgroep en glo dat die R vir "restitusie" staan. - 29/09/05 03:09 |