| boekwinkel |
|
|
|
Menseregtekommissie eis
strenger wette oor rassisme Misdade soos om swartmense wit te verf, en om swartes ontlasting te laat eet, dui volgens die Kommissie op "'n diepgewortelde vyandigheid by die bevolking". Eerskomende Woensdag vergader die Kommissie met regs- en menseregtekenners oor die probleem. Volgens die Kommissie word rassistiese geweld, haatgemotiveerde misdade en haatspraak "gedeeltelik gelegitimiseer deur 'n klimaat waarin die verspreiding van idees of die voortsetting van geweld skynbaar toegelaat of verdra word." Die Menseregtekommissie is slegs bekommerd oor rassistiese
dade teen swartmense, en nie teen blankes nie. Voorheen het die Kommissie bevind
dat die slagspreuk "Kill a Boer, kill a farmer" neerkom
op vryheid van spraak. Slegs op appèl, en ná openbare protes, het die
Kommissie teësinniglik sy vroeëre bevinding teruggetrek. Terwyl aanhitsing jeens boere en Afrikaners grotendeels toelaatbaar is, wil die Kommissie moontlik "raskwetsende of aanstootlike materiaal" verbied. Sensuurwetgewing om sulke publikasies te verbied sal Woensdag ter sprake kom. Rudolph Jansen, die nasionale direkteur van Regslui vir
Menseregte, het gesê dat hulle "steeds taamlik baie gevalle van aanranding
teëkom waar daar 'n duidelike rassestrekking is." Vrydag het hy bevoorbeeld die saak aangeneem van 'n
Limpopoplaaswerker wie se hande deur sy werkgewer vergruis is. "Dié man
sal nooit weer in sy lewe kan werk nie. Die boer het 'n skulderkenningsboete van
'n paar honderd rand betaal." Mnr. Jody Kollapen, die MRK-voorsitter, het
gesê dit is tyd om wetgewing op te stel en te wysig om rasgebaseerde misdade en
haatspraak meer doeltreffend te bekamp. Onder huidige wetgewing, word oortreders bloot aangekla van aanranding, die doel om ernstig te beseer en ander misdade. Ras, seksuele oriëntasie of vreemdelingehaat moet in ag geneem word as verswarende omstandighede by vonnisoplegging. Volgens Kollapen was Suid-Afrikaanse regters te "konserwatief" en behoort hulle gedwing te word om swaarder strawwe vir rassemisdade op te lê. Die Instituut vir Spraakvryheid het by monde van mnr. Simon N'dungu laat weet dat sulke wetgewing moontlik tot sensuur kan lei en dat die MRK nie oor genoegsame regverdiging vir sulke wetgewing beskik nie. Nodige stappe om haatmisdaad te bekamp, sluit volgens die Menseregtekommissie die volgende in: die oprigting van 'n spesiale eenheid in die departement van openbare vervolging om haatmisdade te vervolg; om skole en plaaslike opvoedingsinstellings te kry om rekord te hou van fisieke of verbale beledigings waaronder swart of benadeelde kinders moet ly op skool; en om onderwysers op te lei om rassistiese dade van 'n gewone geboelie te onderskei. 1/9/2003 06:40 |