| boekwinkel |
|
|
|
Plase: Menseregtekommissieverslag oud en opgewarm Die Menseregtekommissieverslag wat so pas uitgereik is en waarin beweer word dat plaasaanvalle nie 'n misdaad as sodanig behels nie, lyk op die oog af na die Human Rights Watch-verslag wat in 2001 die lig gesien het na die 1999-ondersoek wat deur dié organisasie onderneem is. Daar is selfs woordelikse ooreenkomste in beide verslae. Dit is veral vreemd omdat tergende vrae rondom een van Suid Afrika se grootste misdaadkopsere steeds onopgelos bly. Alhoewel die kommissie bevind het dat plaasaanvalle misdaadgedrewe is, word daar in die verslag meer as 160 direkte aanhalings van werkers gegee waarin hulle grondeienaars van onbillikheid en wreedheid beskuldig. Dit skep natuurlik onhoudbare teenstrydighede vir die Kommissie. Gegewe dat daar 8 afhanklikes per werker gemiddeld deur die 30 000 kommersiële boere onderhou word, lyk dit op die oog af na 'n totale breuk in arbeidsverhoudinge wat boerdery betref. Daar is egter hoegenaamd geen getuienis dat sogenaamde "mishandelde" plaaswerkers deelneem aan die aanvalle nie. Die meeste aanvalle word tewens deur vreemdelinge uit stedelike gebiede uitgevoer wat kwalik dui op swak arbeidsverhoudinge tussen eienaars en werkers. Die Kommissie behandel ook nie die ooglopende vlak van wreedheid waaraan slagoffers blootgestel word of die verskille tussen wit en swart slagoffers nie. Dat daar dikwels geen diefstal plaasvind nie, word ook nie in die verslag genoem nie. Mnr. Gert Ehlers van die TLU het dit betreur dat die Kommissie 'n ernstige beroep doen op die SAPD om 'n snel-reaksievermoë daar te stel om onwettige afsettings te verhoed, maar dat daar geen sprake is van 'n beroep vir 'n snel-reaksie-vermoë om plaasaanvalle te voorkom of in die kiem te smoor nie. 04/09/2003 11:50 |