boekwinkel 

chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

mediaverklarings

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 out-STAR

KRYT

 tuis

 

 

 

Mugabe toegejuig by SAOG-beraad

DAR-ES-SALAAM - President Robert Mugabe van Zimbabwe het op 25 Augustus 'n heldeontvangs geniet ten aanvang van die beraad van Suider-Afrikaanse lande. Tydens die openingsessie het honderde afgevaardigdes Mugabe begroet met 'n geskree, applous en ululering op die Afrikamanier.

Daar is geëis dat Westerse lande hul sanksies teen Mugabe behoort te staak. Die president van Tanzanië, mnr. Benjamin Mkapa, wat die voorsitterskap van SAOG (Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap) oorgeneem het by Angola, het verklaar dat sanksies deur die VSA en die Europese Unie ongeregverdig en ondoeltreffend was.

Die sanksies is ingestel ná Mugabe en sy regering drie jaar gelede op 'n chaotiese "grondhervormingsprogram" besluit het, wat hoofsaaklik daarop gemik was om die grond van blanke grondeienaars te onteien. Hierbenewens het die Zanu-PF-party van Mugabe hom skuldig gemaak aan verkiesingsbedrog tydens die algemene verkiesing in 2002. Suid-Afrika se regerende ANC het, anders as die Westerse lande en waarnemers, die verkiesing as "vry en regverdig" bestempel.

Mnr. Mkapa het gesê, "Die sanksies het nie gewerk nie, dit sal nie werk nie, en dit maak net die lewe van Zimbabwe se gewone mense onnodig moeilik." Hierop het die afgevaardigdes die Tanzaniër luid toegejuig, en Mugabe het met sy kop geknik.

EU-sanksies sluit 'n reisverbod op Mugabe, wat reeds 23 jaar aan bewind is, in, asook op 70 van sy mederegeringslui. Benewens so 'n reisverbod, het die VS bates van Zimbabwe se regerende élite bevries.

In Maart vanjaar het die Statebond se sekretaris-generaal, mnr. Don McKinnon, aangekondig dat Zimbabwe se skorsing uit dié liggaam tot Desember verleng gaan word omdat Zimbabwe nie voldoende gereageer het op vrae wat aan dié land gestel is nie. Die Statebond is 'n vereniging van voormalige Britse kolonies met 54 lede.

Die Tanzaniese voorsitter van SAOG het verder uitgebrei deur te sê dat Afrika se mense verknog was aan hul grond. Aan die ander kant, behoort Afrikane op te hou kla daaroor dat buitelanders hul natuurlike hulpbronne kom ontgin en eerder "slim" te werk te gaan om hul eie lande te ontwikkel.

Daar is later deur die afgevaardigdes beklemtoon dat die Zimbabwe-kwessie nie SAOG gaan verdeel nie, wat sou kon beteken dat enige druk op Mugabe om van die troon afstand te doen, hiermee beëindig is.

Die president van Suid-Afrika, mnr. Thabo Mbeki, was die eerste dag na afloop van die verrigtinge tot laataand in gesprek met Mugabe, vermoedelik om die jongste toestande in Zimbabwe met hom te bespreek. Die inflasiekoers trek reeds by 350% en daar heers  tekorte van basiese benodigdhede soos voedsel en petrol.

Angola en die DRK is verder aangeprys oor hul vordering om vrede te in hul lande te bewerkstellig, en 'n voorstel is aangeneem wat bepaal dat 30% van leierskapsposisies teen 2005 in alle SAOG-lande deur vroue gevul behoort te wees. 29/09/05 03:09