| boekwinkel |
|
|
|
Nujoma dreig redakteur
Hierna het hy mnr. Hannes Smith, 'n joernalis wat bekend is daarvoor dat hy nie wegskram van die waarheid nie, genoem. Smith, 'n Afrikaner, beskik oor meer as 40 jaar se ervaring van die joernalistiek en is redakteur van die weeklikse Windhoek Observer, Namibië se enigste breëformaatkoerant. Nujoma het Smith daarvan beskuldig dat hy valslik verslag gedoen het oor 'n insident wat in Desember 1959 plaasgevind het toe swart Namibiërs deur die destydse apartheidsowerheid verskuif is van hul pondokke aan die westelike buitewyke van Windhoek na 'n nuwe lokasie, maar teenstand gebied het. Tydens die nag van 10 Desember het betogers 'n vreedsame protesoptog gehou, maar 'n jong Afrikanerpolisieoffisier het senuagtig geraak en 'n skoot afgevuur in weerwil van bevele om dit nie te doen nie. Hierna het 'n stormloop gevolg, met meer skote wat afgevuur is, waartydens 11 mense gedood en verskeie gewond is. In sy outobiografie "Where others wavered", wat in 2001 uitgegee is, beweer Nujoma dat die gewonde swartes mediese behandeling geweier is deur die blanke mediese personeel, waaronder diegene by die klein Rookruisverenigingkliniek aldaar. Smith het hierdie beskuldiging van Nujoma in die openbaar verwerp in een van sy koerant se uitgawes. kort ná die publikasie van sy outobiografie, en verklaar dat hy op daardie stadium 'n leerlingverslaggewer en teenwoordig was tydens die insident in 1959 waaroor hy kan getuig dat die gewondes wel behandel was. Meer as twee jaar later het die 74-jarige Nujoma nou vir Smith (70) uitgesonder en aan die studente herhaal dat geeneen van die gewondes behandel is nie. "Smith moet besef dat hy sy koerant misbruik om leuens te vertel. Die Boere moet weet dat nasionale versoening geskep is om mekaar te akkomodeer, maar as hulle nie hulself gedra nie, sal ons optree. Die skrif is aan die muur, daarom moet Smith en al die wittes wat dink dat hulle inheemse Namibiërs kan afpers..." het Nujoma gedreig, met die res van sy sin uitgedoof deur die dawerende applous van die studente. "Ek wil niemand dreig nie en ek hoef nie die huis van iemand te besoek wat nie my vriend is nie, maar Smith maak geld met sy koerant vanweë die vrede en stabiliteit in die land. Hulle wat die situasie omkrap - ons sal iets daaromtrent doen en ons het die mag daarvoor!" het Nujoma verklaar. "Nujoma, ek vrees u nie" Onder 'n voorbladopskrif "Nujoma, ek vrees u nie", het Smith in vandeesweek se uitgawe van sy koerant vir Nujoma uitgedaag om sy beskuldiging te bewys. "Ek herhaal dat dit 'n infame leuen verteenwoordig dat mediese behandeling aan die gewondes geweier is op die nag van 10 Desember 1959 soos wat u in u boek "Where others wavered" verklaar, het Smith geskryf. U het my nou daartoe gedwing om 'n lys te maak van al die onwaarhede in u boek en om hulle te publiseer op 'n toekomstige datum indien ek nog lewe want ek besef dat moord my uiteindelike lot mag wees." Smith het voortgegaan om Nujoma te beskuldig van "outokratiese gedrag" teenoor sy ondergeskiktes. "Die manier waarop u glo dat u onvernietigbaar is en nooit 'n fout kan maak nie, asook u hoogmoedigheid het die laaste bietjie warmte wat ek teenoor u gekoester het, doodgemaak." 'n Ontmoeting van aangesig tot aangesig Pleks daarvan dat Nujoma hom in die openbaar aanval, sou 'n ontmoeting van aangesig tot aangesig in die Staatshuis 'n beter keuse gewees het, volgens Smith. "Ek sal u in die openbaar beveg tot by die laaste loopgraaf en die laaste rondte," het Smith die staatshoof uitgedaag. "Doen wat u dink u aan my behoort te doen, meneer die President. U het die magte om dit uit te voer. En weet dat die hele nasie voor u bibber en beef maar dat een lid van daardie nasie, en dit is ek, nie voor u bibber en beef nie." Asof dit nie genoeg is nie, het die vreeslose Smith sy volbladsybrief aan Nujoma afgesluit met die verdere vermaning: "Ek het reeds vrede gemaak met die Dood, anders as u. As ek doodgemaak moet word, mnr. die President, beveel u sluipmoordenaars om hul daad sagkens te verrig. 'Ek sal nie aarsel nie,' om by u boektitel te leen." Komitee ter beskerming van joernaliste Die Internasionale komitee ter beskerming van joernaliste het reeds verskeie waarskuwings gerig oor Nujoma se outokratiese behandeling van die nuusmedia. In 1998 is Smith deur die regering gedagvaar weens kritiese en sterk-bewoorde hoofartikels wat hy teen die regering en Nujoma geskryf het, maar die saak het nog nie voorgekom nie. Hierdie jongste rusie is maar die mees onlangse van 'n reeks amptelike optredes en verklarings wat die kommer laat verdiep by internasionale en streeksorganisasies vir persvryheid. Nuwe wette, soos die "Magte, voordele en immuniteitswet van 1996", vereis van joernaliste en ander om hul bronne aan die kaak te stel. Op 13 Februarie het Regter Nic Hanna vir Hannes Smith, redakteur van die Windhoek Observer, gedagvaar om dokumente te oorhandig in verband met 'n artikel wat in die uitgawe van 27 Januarie 1996 gepubliseer is. Dié artikel het vermeld dat 'n werknemer van die Windhoek Observer een van die mense ontmoet het wat betrokke was by die moord op Anton Lubowski, 'n advokaat en politieke aktivis van SWAPO, in September 1989. Toe Smith weier om die dokumente te oorhandig, is hy tot vier maande tronkstraf gevonnis weens minagting van die hof. Privaatradiostasies mag vrylik uitsaai, en selfs staatsbeheerde uitsaaiers, wat veel meer is as die aantal privaatstasies, het al by geleentheid die regering onder die loep geneem. Op 25 Junie is 'n verslaggewer van die Namibiese Nuusagentskap egter deur die Inligtingsminister, mnr. Ben Amathila, daaraan herinner dat "die agentskap deur die regering befonds word, en daarom sensitief behoort te wees ten opsigte van verslaggewing oor die regering." Op 7 Augustus vanjaar, het president Nujoma 'n dagvaarding vir laster bestel op die Windhoek Observer se redakteur, Hannes Smith, sowel as die koerant se uitgewer en drukkersmaatskappy. Die aanklagte het te make met berigte en hoofartikels wat in die koerant gepubliseer is en wat, volgens die president, "sy goeie naam en reputasie slegmaak en sy gevoelens en waardigheid skend." Smith se koerant is in die verlede dikwels gesensureer oor stories tydens die apartheidtyd wat krities was oor gruweldade wat deur die Suid-Afrikaanse veiligheidsmagte uitgevoer is op gevange SWAPO-guerillas. (Namibië is 'n voormalige Duitse kolonie wat ná die Tweede Wêreldoorlog deur Suid-Afrika bestuur is in terme van 'n mandaat van die Verenigde Nasies.) Nujoma is bekend daarvoor dat hy nie veel van blankes hou nie, want verlede jaar het hy tydens 'n onderhoud met 'n Duitse joernalis van Die Welt uitgevaar teen alle witmense, en gedreig om oorlog te verklaar teen Duitsland. 1/9/2003 12:30 |