boekwinkel 

chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

mediaverklarings

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 out-STAR

KRYT

 tuis

 

 

 

Okosa lê beslag op klubradio se toerusting

Die Onafhanklike Uitsaai-owerheid (Okosa) het die klubradiostasie op Orania gesluit verklaar en sy toerusting gekonfiskeer. 

Mev. Eleanor Lombard van die Orania-beweging het vanoggend bevestig dat amptenare van die Onafhanklike Uitsaaiowerheid onder polisie-begeleiding gisteraand  op Orania op die kantore van Klub Radio 100 toegeslaan het.  Klub Radio 100, wat toetsuitsendings uitsaai in afwagting van die toekenning van 'n tydelike uitsaailisensie, is daartydens gesluit.  Die rede wat aangevoer is vir die aksie was dat die uitsendings onwettig is omdat geen lisensie nog toegestaan is nie.

Nadat 'n komiteelid van die bestuur, dr. Manie Opperman, dokumentasie getoon het wat bewys dat die Klub Radio 100 herhaaldelik aansoek gedoen het vir 'n lisensie en reeds met die eerste aansoek  gemeld is dat voorlopig 'n aanvang gemaak word met toetsuitsendings, het die amptenaar te kenne gegee dat hy nie bewus was van hierdie dokumentasie nie.   Die dokumentasie is telkens per geregistreerde pos versend sonder dat enige reaksie van OKOSA ontvang is.  Op grond van die inligting wat die amptenaar gisteraand bekom het, is die komiteelid meegedeel dat die saak verder ondersoek sal word en dat binne sewe dae oor die moontlikheid van 'n klag besluit sal word.   Beslag is gelê op die Klub se toerusting.

Tydens die optrede is geen melding gemaak van enige klagtes oor "rassistiese of anti-regering propaganda" nie.  Sulke uitsprake word  verwerp, omdat  dit  nie die bestuur se beleid is om die uitsending van enige rassistiese of anti-regeringsuitsprake toe te laat nie.  

Radio 100 is 'n gemeenskapsdiens wat geen nuus of nuuskommentaar uitsaai nie.   Die inhoud van die toetsuitsendings wentel om gemeenskapsaangeleenthede soos skool-en kerkfunksies, sosiale aktiwiteite, verjaarsdae, plaaslike vendusies en kinderprogramme (programskedule is as voorbeeld op aanvraag beskikbaar).

Dit word betreur dat 'n gemeenskap soos Orania wat wyd geloof word vir hulle vordering op die gebied van selfstandige ontwikkeling, nou ontneem word van 'n meganisme  vir gemeenskapsbemagtiging. 

11 November 2005 07:52:12 AM