boekwinkel 

chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

mediaverklarings

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 out-STAR

KRYT

 tuis

 

 

 

Eerste stap na groter eenheid onder Afrikaners

Twee Afrikaanse organisasies PRAAG (Pro-Afrikaanse Aksiegroep) en AFRIAL (Afrikaner-alliansie) het 'n samewerkingsooreenkoms onderteken waarin hulle onderneem om hulle vir 'n verteenwoordigende Afrikanerraad te beywer. Die ondertekening het saamgeval met PRAAG se jaarafsluiting wat op Vrydag 25 November in 'n Pretoriase restaurant gevier is.

Volgens dr. Dan Roodt verteenwoordig die ooreenkoms 'n mylpaal in die onlangse geskiedenis aangesien twee Afrikaanse organisasies met uiteenlopende beskouings en benaderings daarin geslaag het om mekaar te vind terwille van die groter saak van Afrikaneroorlewing in Suid-Afrika.  Die bilaterale same-werkingsooreenkoms volg ná maandelange samesprekings tussen die twee liggame.

Die volgende stap is om die ooreenkoms na ander Afrikaanse organisasies uit te brei om sodoende multilaterale samewerking te skep. Verskeie gesprekke in dié verband is reeds aan die gang en sowel Afrial as Praag was optimisties dat hul samewerking bloot "die eerste bousteen" in die totstandkoming van 'n uiteindelike Verteenwoordigende Afrikanerraad sal word.

Die ooreenkoms maak voorsiening vir die voortsetting van die huidige Tussentydse Afrikaneraad wat weekliks vergader om Afrikanerkwessies en 'n moontlike padkaart na vryheid te bespreek.

Enkele dae gelede het prof. Danie Goosen van die FAK hom op Bloemfontein ook ten gunste van 'n Verteenwoordigende Afrikanerraad uitgespreek. Verkennende gesprekke tussen die Tussentydse Afrikanerraad en die FAK is reeds aan die gang. Dr. Dan Roodt het gesê hy is "versigtig optimisties dat gemene grond met die FAK en sy geesgenote gevind sal word" en dat samewerking tussen organisasies vroeg in die nuwe jaar uitgebrei sal word.

29 November 2005 09:01:46 AM