boekwinkel 

chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

mediaverklarings

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 out-STAR

KRYT

 tuis

 

 

 

Pretoria is afstootlik - Mkhatshwa

Enkele maande gelede het Vader Smangaliso Mkhatshwa, die burgemeester van Pretoria, voor 'n gehoor van skoolkinders verklaar, “Die naam Pretoria vind ek afstootlik.” Verlede naweek het hy in 'n onderhoud met 'n Sondagkoerant laat blyk dat hy vasbeslote is om die stadsnaam te verander.

Mkhatshwa was ook afwysend teenoor beswaarmakers jeens die naamsverandering, en het hulle as 'n minderheid beskryf wat nog nie behoorlik aangepas het by die nuwe Suid-Afrika nie. Volgens hom staan die meerderheid van Pretoria se Afrikaanse inwoners “ongeërg” teenoor die naamsverandering en sou hulle nie omgee indien die stad Tshwane heet nie.

Verlede Saterdag het meer as 200 inwoners van Pretoria, tesame met die sanger Steve Hofmeyr en lede van PRAAG in Paul Krugerstraat betoog teen die naamsverandering. Daar word ook beplan om 'n belastingboikot te organiseer indien Mkhatshwa sy dreigemente sou uitvoer.

Sedert die Vader burgemeester van Pretoria geword het, het uitgawes op luuksereise na die VSA in die besonder gestyg, en enkele maande gelede wou hy en sy gevolg R700 000 bestee aan 'n reis wat maar enkele dae sou duur. Ná opposisieklagtes is die begroting vir dié Amerikaanse reis verminder na R500 000.

Mkhatshwa woon in 'n luuksehuis van etlike miljoene rand in die voorstad Muckleneuk. Die uitstaande skuld van sy metroraad beloop tweemiljard rand waaronder oningevorderde skuld, asook 'n bankoortrekking van R500 miljoen. Die koste van 'n naamsverandering vir Pretoria, wat konserwatief geskat word op etlike honderde miljoene rande, blyk geen invloed uit te oefen op die burgemeester nie.

Net 'n week gelede het die burgemeesterskantoor by monde van mnr. William Baloyi die indruk geskep dat die naamsverandering moontlik heroorweeg sou word, iets wat somminge protesgroepe laat praat het van “uitsteltegniek”. Nou blyk dit dat die uitstel kwalik 'n week geduur het, want Mkhatshwa is reeds besig om sterk voorspraak te maak vir die naamsverandering. Volgens hom setel die mag van 'n stad in die sentrum, en moet die naam daarvan die voorkeure van die maghebber weerspieël. -PRAAG 29/09/05 03:09