|
|
Dan Roodt onwelkom by Woordfees
Volgens
'n berig in die Kaapse koerant Die Burger, probeer 'n groep ekstreem-linkse
akademici aan die Universiteit van Stellenbosch om dr. Dan Roodt tot persona non
grata op die kampus verklaar te kry. Dit sou verhoed dat hy die Woordfees,
waarheen hy uitgenooi is om op 12 Maart te kom praat, kan bywoon.
Die
persone wat tot dusver by die anti-Roodt-aksie betrokke is, is Yvonne Malan en
Annie Gagiano. Malan het oorspronklik die voorstel vir 'n ere-doktorsgraad aan
Braam Fischer ingedien en is bekend om haar omstrede uitsprake soos dat
"net ou mans met grys skoene en pasaangeërs iets voel vir Afrikaans".
Prof. Annie Gagiano van die Engelse departement is 'n kenner van
Afrika-letterkunde. Hoewel sy oorspronklik Afrikaanssprekend was met Van
Huyssteen as nooiensvan, verseg sy deesdae om Afrikaans te praat of skryf.
Onder
andere het Gagiano briewe in Engels aan die Afrikaanse uitgewer, Nicol Stassen
van Protea-boekhuis gerig waarin sy eis dat Roodt nie toegelaat word om in sy
boekwinkel op 12 Maart te praat nie. Stassen het dié versoek met minagting van die hand
gewys.
Sowel
Gagiano en Malan het intussen ook vertoë tot die rektor van Stellenbosch, prof.
Chris Brink gerig, waarin hy gevra word om Roodt op die kampus te verbied.
Volgens die ekstreem-linkse drukgroep rondom Malan en Gagiano, is "Roodt 'n
gevaarlike en berugte skrywer".
Hier
volg ook die berig wat in vandag se Burger verskyn het by http://www.news24.com/Die_Burger/Nuus/0,5824,4-75_1665321,00.html
Dan Roodt 'nie welkom by
Woordfees'
MARENET JORDAAN 21/02/2005 04:18 - (SA)
KAAPSTAD. - Dr. Dan Roodt, Afrikaanse skrywer en aktivis, is met sy beweerde "haatspraak en rassisme" volgens sommige akademici glád nie welkom op die Woordfees nie - al het die Woordfees nie sy uitnodiging teruggetrek nie.
Dié akademici het met 'n protesaksie teen Roodt se optrede by die Woordfees begin, terwyl Roodt hul afkeer as 'n "gekkespul" afgemaak het.
Roodt gaan aan 'n paneelbespreking oor die Little Magazine-beweging en 'n gesprek oor die verband tussen sy eie skryfwerk en lewensfilosofie deelneem.
Volgens dr. Dorothea van Zyl, direkteur van die Woordfees, is die besware gerig "teen die figuur van Dan Roodt". Daar is onder meer na hom verwys as 'n "gevaarlike en berugte skrywer".
Dié ongelukkigheid spruit glo veral uit 'n onlangse skryfstuk oor geweld in Suid- Afrika, "Adapt and Die - South Africa's New Motto", wat Roodt op die Praag- webruimte gepubliseer het. Roodt maak hom na bewering daarin aan haatspraak skuldig. Die beswaarmakers het gesê die universiteit behoort hom nie daarmee te vereenselwig nie en het gevra dat Roodt se uitnodiging teruggetrek word.
"Hy word uitgenooi as 'n skrywer en nie as 'n aktivis nie," het Van Zyl gesê.
Die fokus van vanjaar se fees is op die Tagtigers en volgens haar het hy 'n belangrike rol as linkse skrywer in dié tydperk gespeel.
"Die Woordfees sien dit nie as sy plig om as sensor op te tree nie . . . Ons beskou die universiteit ook as 'n ruimte waar alle stemme gehoor kan word."
Volgens haar het die land 'n regstelsel wat uitspraak kan lewer oor of Roodt aan haatspraak skuldig is. "Ons kan nie as 'n boendoehof optree nie."
Sy het gesê die rektor respekteer die oordeel van die feesorganiseerders.
Me. Yvonne Malan, een van die beswaarmakers, het gesê Roodt is vry om sy standpunt te stel. "Ons voel net nie dit is reg dat die Universiteit van Stellenbosch vir hom 'n forum gee nie."
Sy glo die Woordfees het 'n oorhaastige, ondeurdagte besluit geneem deur hul versoek af te keur. Volgens haar dink die meeste mense wat die Woordfees gaan bywoon aan Roodt as 'n aktivis en nie 'n skrywer nie.
Prof. Annie Gagiano, dosent in Engels en ook 'n beswaarmaker, het gesê hulle het 'n "beswaar teen waar hy alleen gaan optree - veral oor sy 'lewensfilosofie' . . . "
Sy het gesê hulle het 'n verklaring opgestel waarmee hulle hoop om die saak eers binne die universiteit te hanteer.
Roodt het aan Die Burger gesê: "Ek skryf dit toe aan die invloed van 'n linkse randeiergroep wat poog om hul polities korrekte idees af te dwing."
Volgens hom is dit ook verwant aan die "verheerliking van Bram Fischer" op Stellenbosch. "Hulle is nou besig met 'n heksejag teen my." Hy het gesê niks sal hom van die Woordfees weghou nie, "al swig prof. Chris Brink nou ook onder die druk om my daar persona non grata te verklaar en ontbied hy die onlustepolisie as ek opdaag".
'n Debat oor Roodt se deelname aan die Woordfees, die "Waar plak jy die
pleister-seminaar", word tans op litnet.co.za gevoer.
21
Februarie 2005 07.00
|