| boekwinkel |
|
|
|
SAUK kanselleer Roodt-verskyning op TV Dr. Dan Roodt van PRAAG oorweeg regstappe teen die SAUK, asook ander genooide deelnemers aan 'n debatsprogram op SATV2, wat hom 'n "rassis" genoem het. "Ek verwerp hierdie Middeleeus ketterse benaming met minagting en voel in my eer gekrenk", het hy gesê. Dr. Roodt, leier van die Pro-Afrikaanse Aksiegroep, asook raadslid van die Tussentydse Afrikanerraad, is verlede week genooi om aan 'n direkte uitsending van "The Big Question" deel te neem wat eerskomende Sondagaand 4 September uitgesaai sal word. Die onderwerp van die program is: "Word Afrikaners uit Suid-Afrika verdryf?" en daar sou twee persone wees wat die "Ja"-kant verdedig en twee wat die "Nee" voorstaan. Volgens mev. Anna-Maria Lombard, die regisseuse, was niemand, selfs nie eens dr. Pieter Mulder van die Vryheidsfront Plus, bereid om saam met Roodt aan die bespreking deel te neem nie vanweë, soos dit genoem is, sy "merendeels rassistiese uitsprake". Dr. Roodt het intussen by dr. Mulder probeer uitvind of dit wel die geval is, maar kon tot dusver geen direkte antwoord van die Vryheidsfront Plus verkry nie. Roodt se deelname as skrywer aan die Woordfees in Stellenbosch het vroeër vanjaar 'n vurige debat ontketen omdat 'n ekstreem-linkse groep waaronder die Braam Fischer-bewonderaar Yvonne Malan, Marlene van Niekerk, Annie Gagiano en Max du Preez hom by die Woordfees wou verbied. Die publiek, asook Die Burger in 'n hoofartikel, het destyds sy reg op vryheid van spraak verdedig. Dit wil nou voorkom asof daar 'n nuwe aanslag op Roodt geloods word deur die SAUK en die deelnemers aan The Big Question wie se name intussen geheim gehou word. Vrae van dr. Roodt oor wie die geheimsinnige deelnemers sou wees wat nie bereid is om teen hom te debatteer nie, terwyl hy onlangs op die BBC se program oor Afrika verskyn het en 'n voorbladartikel in die liberale blad Focus van die Helen Suzman-stigting geskryf het, is tot dusver onbeantwoord gelaat. In reaksie op die nuwe aanslag op sy reg om aan die openbare debat in die land deel te neem, het hy gesê: "Onder dwang van transformasie is Suid-Afrika besig om al hoe verder die pad van revolusie te loop wat gepaard gaan met die breinspoeling van die bevolking en die onderdrukking van enige vorm van demokratiese debat en vrye meningsuiting. Die SAUK verteenwoordig tans 'n instrument in die hande van die revolusionêre waarmee die revolusionêre ideologie van swart bewussyn, Afrosentrisme, wit skuld en onderdanigheid gevestig moet word. Die feit dat ek myself op 'n onbevange wyse uitlaat oor die intense graad van omgekeerde rassisme, taaldiskriminasie, geweld en misdaad, asook vervreemding van Afrikanerbates soos skole, universiteite, biblioteke, plase, ens., maak van my 'n teiken van die regime en sy ideologiese staatsapparaat soos die SAUK." Dr. Roodt het bygevoeg dat TV2 oor die afgelope maande die hoeveelheid Afrikaans op die kanaal afgeskaal het tot slegs 8% van alle lugtyd. Sonder heruitsendings verteenwoordig Afrikaans slegs 3% op die kanaal. Die SAUK se vermetelheid om hom van "rassistiese uitlatings" te beskuldig terwyl hy self besig is met etniese suiwering van Afrikaans op die TV, asook die aanhitsing van anti-Afrikanergevoelens in sy programme, is eenvoudig Orwelliaans. Hy het 'n beroep gedoen op alle Afrikaanse deelnemers om die program te boikot en op die publiek om nie langer hulle TV-lisensies te betaal nie aangesien die Afrikaanse taal vir alle praktiese doeleindes op die openbare TV afgeskaf is. Dr. Roodt het verder die publiek opgeroep om alternatiewe of onafhanklike media te ondersteun, selfs al stem hulle nie noodwendig met die inhoud saam nie. "Feit is dat die ANC-revolusionêre eenvoudig 'n staatsgreep op die hoofstroommedia, sowel in openbare as privaatbesit, toegepas het. Die Nasionale Pers, byvoorbeeld, is op die voorpunt van die aftakeling van die Afrikaner se talige, kulturele, godsdienstige, biologiese en selfs seksuele identiteit soos die huidige herrie rondom Laurie Gaum en die NG Kerk getuig. Die Afrikaanstalige, heteroseksuele, blanke man en vrou moet eenvoudig verdwyn tydens die biopolitieke revolusie wat tans gevoer word. Al wat vir ons oorbly om onsself teen die intense ideologiese en propaganda-aanslag te verweer, is alternatiewe media soos gemeenskapsradiostasies, die internet en 'n alternatiewe koerant soos Die Afrikaner." In weerwil van die Dawid-en-Goliatstryd wat hy tans voer, was dr. Roodt optmisties dat die Afrikaner se bevrydingstryd uiteindelik sou seëvier. "Die vyand beskik oor getalle, maar hy is argaïes in sy denke en baie dom. Pol Pot, Mao en Stalin was eens op 'n tyd baie magtig, maar het op die ashoop van die geskiedenis beland. Die ANC en SAKP se stelsel van oorheersing sal in duie stort sodra buitelandse steun daarvoor opdroog en sodra Afrikaners hul samewerking daarvan onttrek. Die toekoms behoort aan ons!" 29 September 2005 03:09
|