| boekwinkel |
|
|
|
Verkiesingsbedrog in Rwanda? Skaars het die SAOG-lande in Dar-es-Salaam hul tevredenheid en gelukwensinge uitgespreek oor die hou van 'n demokratiese verkiesing in Rwanda, of die Europese Unie sien spore van verkiesingsbedrog in dié land. Dit sou die tweede keer binne die afgelope twee jaar wees dat Afrikalande en die EU nie dieselfde mening oor 'n verkiesing nahou nie. Die eerste was Zimbabwe se verkiesing verlede jaar waaroor die meeste Afrikalande, Suid-Afrika daarby inbegrepe, gevoel het dat dit "vry en regverdig" was. Europese waarnemers het op Woensdag 27 Augustus te Kigali gewys op "ongerymdhede" en "bedrieëry" tydens die presidensiële verkiesing wat Maandag plaasgevind het. Dit was die eerste verkiesing in Rwanda sedert die volksmoord in 1994. Die huidige president, Paul Kagame, is tot nuwe president verkies met 95% van die stemme op hom verenig volgens die syfers van die Verkiesingskommissie. Sy vernaamste teenstander, die vorige eerste minister Faustin Twagiramungu wat bekend staan as 'n gematigde Hoetoe, het minder as 4% van die stemme ontvang. Die hoof van die EU se verkiesingswaarnemerspan, mev. Colette Flesch, het toegegee dat Maandag se verkiesing "kalm en sonder enige geweldsvoorvalle" plaasgevind het, wat volgens haar 'n "belangrike stap" verteenwoordig in die demokratisering van die land. Nietemin het "sekere ongerymdhede en gevalle van bedrog die verkiesingsdag ontsier". Maandag se verkiesing verteenwoordig die eerste multietniese presidentsverkiesing in die land sedert sy onafhanklikwording in 1962, het Flesch voortgegaan. "Daar is nog 'n lang pad vorentoe sover dit geloofwaardigheid, deursigtigheid en meningsvryheid betref," het Collette Flesch, wat andersyds 'n Lid van die Europese Parlement in Straatsburg en 'n voormalige Buitelandse Minister van Luksemburg is, bygevoeg. "Die konsolidasie van die uitslae het nie deursigtig genoeg plaasgevind nie. In vele gevalle is ons waarnemers nie toegelaat om dié proses te volg nie." Die konsolidasie van uitslae behels om 'n verslag op te stel en te teken vir elke stemburo waarvoor die aantal stemgeregtigdes, die aantal stemmers en die uitslag geregistreer word. Vele waarnemers het opgemerk dat slegs afgevaardigdes van die regerende party, die Rwandese Patriotiese Front (RPF) by die oorgrote meerderheid stemlokale teenwoordig was tydens die verkiesing. Die vernaamste opposisiekandidaat, die voormalige eerste minister Faustin Twagiramungu, het besluit om geen lede van sy party daarheen te stuur nie, nadat hy deur die Verkiesingskommissie daarvan beskuldig is dat hy wou konkel met die verkiesing en geweld beplan het. Die derde kandidaat, die vorige minister Jean-Népomuscène Nayinzira, het nie oor genoegsame organisasie beskik om afgevaardigdes na al die stemlokale te stuur nie. Onwettige wysigings van die kieslyste en groot getalleverskille wat sou kon dui op onwettige toevoegings tot stembusse is in sekere stemlokale opgemerk," het mev. Flesch bygevoeg. " Bykomende kieslyste is gemaak op verskeie plekke om aan kiesers wat nie op lyste verskyn nie toe te laat om hul stem uit te bring," het sy beklemtoon. Verder het dit opgeval dat daar 'n "massiewe en intimiderende teenwoordigheid van die kandidaat Kagame se verteenwoordigers by vele stemlokale was," waartoe sy bygevoeg het dat "hulle by sekere stemlokale direk ingemeng het met die stemmery of nie-amptelik beheer uitgeoefen het oor die stemlokaal." Mev. Flesch het ook haar verbasing uitgespreek dat "die hulpbronne van die staat en van plaaslike munisipaliteite soms gebruik is deur mnr. Kagame," en opgemerk dat "gevalle voorgekom het waar materiële belonings versprei is om stemme ten gunste van die sittende president uit te bring." Hierdie kritiek van die Europese Unie se verteenwoordiger in Kigali kom slegs enkele maande ná president Mbeki hom daarteen uitgespreek dat Westerse waarnemers na Afrika-verkiesings gestuur word aangesien hy nie daarvan bewus is dat enige buitelandse waarnemers verkiesings in Westerse lande monitor nie. Die Europese Unie is die vernaamste verskaffer van buitelandse hulp aan Rwanda, wat ook die hou van die pas afgelope verkiesing moontlik gemaak het. 29/09/05 03:09 |