| boekwinkel |
|
|
|
Plakkaatveldtog en besoek aan UP-kampus PRAAG (die Pro-Afrikaanse Aksiegroep) het sy gewig agter die taalstryd by Tukkies ingegooi deur toestemming te verleen dat die slagspreuk "English only is erger as slegs blankes" op T-hemde van betogende studente afgedruk word. 'n Betoging teen verengelsing en die marginalisering van Afrikaans is op Donderdag 18 Augustus op die kampus gehou. Die betoging sal oor die volgende twee weke met 'n plakkaatveldtog op die kampus opgevolg word. Bewenens die slagspreuk oor "English only", sal nog twee Praag-plakkate, "Taal betaal" en "Taalregte = menseregte" op kampus vertoon word. Op Dinsdag 30 Augustus 2005 sal dr. Dan Roodt van PRAAG 'n besoek aan die kampus bring om studente op die piazza toe te spreek. Daar is ook 'n moontlikheid dat hy later in die dag 'n politieke seminaar oor die ideologiese stryd sal aanbied indien sy skedule dit toelaat.
"Die besetting van die rektor se kantoor, asook Donderdag se betoging, vind ek bemoedigend," het hy gesê. "Drie, vier jaar gelede was daar 'n futloosheid en apatie by studente. Ek bespeur tans 'n nuwe vuur." Hy het egter bygevoeg dat daar steeds 'n gebrek aan intellektuele stimulasie by studente is. "Dit is PRAAG se rol om tegelykertyd steun van die kantlyn te verskaf sover dit betogings en plakkaataksies betref, maar ook om 'n broodnodige intellektuele inset te lewer, want oënskynlik kry studente dit nie by hul dosente nie." PRAAG is tans ook besig om 'n litêre soirée op die Potch-kampus te reël as deel van sy veldtog om na studente uit te reik en hulle intellektueel te stimuleer. 29 September 2005 03:09 |