| boekwinkel |
|
|
|
Vise-rektor van UP dreig studente met Engels Die vise-rektor van die Universiteit van Pretoria, prof. C. R. de Beer, het studente vandeesweek gedreig dat indien hulle sou voortgaan om op Afrikaans aan te dring, hy die universiteit "oornag sal verengels". Hoewel die studenteverteenwoordigers almal Afrikaanssprekend was, het De Beer aanvanklik verseg om met hulle Afrikaans te praat en met Engels volgehou.
Die voortslepende taalkwessie aan Tukkies, wat reeds verskeie jare duur, is vandeesweek op die spits gedryf toe 'n sewentigtal studente die rektor se kantoor beset het. Daar heers veral ongelukkigheid onder studente omdat die ingenieursfakulteit besluit het om voortaan lesings uitsluitlik in Engels aan te bied. Toe bedryfsingenieurswese-studente Dinsdag van vakansie af terugkom, is al hul klasse skielik sonder enige verduideliking op Engels aangebied. Ook onderrig in die finale jaar is slegs in Engels beskikbaar. Sekere tweedejaarsklasse word insgelyks net in Engels aangebied. Klagtes is van tweede- en derdejaarstudente ontvang. Volgens 'n studentewoordvoerder is daar reeds vir ses maande byna vrugteloos gepoog om met die universiteitsbestuur in gesprek te tree. Al die voorgeskrewe kanale is uitgeput, naamlik versoeke aan klasverteenwoordigers, jaarvoogde, die departementshoof en dekaan. Terwyl een vak binne elke jaargroep terug na Afrikaans verander is, is daar egter dié semester twee tweedejaarsvakke na Engels verander. Daarom kry studente die indruk dat daar met Afrikaans agteruitgeboer word. Hierdie gebrek aan reaksie by die universiteitsowerheid het vandeesweek aanleiding gegee tot 'n sitstaking in die kantore van die universiteit se hoofbestuur. Die studente het ook ongenooid 'n vergadering tussen die rektor en partyleiers van die verteenwoordigende studenteraad (VSR) binnegegaan. Chris de Beer, die vise-rektor, was besig om die vergadering toe te spreek en het die studente gevra om dit te verlaat aangesien hulle nie genooi is nie. Hy het ook versoek dat hulle die "regte kanale" vir hul besware gebruik. 'n Student, mnr. Barend Uys, het daarop aangedring dat De Beer Afrikaans behoort te praat en verduidelik dat hulle reeds ses maande lank tevergeefs die "regte kanale gebruik". "Hierdie is ons laaste poging om die saak op 'n ordentlike wyse by te lê," het Uys bygevoeg. De Beer het toe onderneem om die saak op hoofbestuursvlak aan te pak en om na afloop van die vergadering met die leiers van die groep ongelukkiges te praat. Van die studente het dit duidelik onder sy aandag gebring dat die Universiteit studente mislei deur hom as 'n Afrikaanse instelling voor te doen. Blykbaar het De Beer erken dat dit 'n geldige punt is en dat die bestuur die saak ernstig opneem. Teen Vrydag 22 Julie is 'n verdere vergadering met studenteverteenwoordigers gehou. By hierdie vergadering het De Beer die studente voor 'n keuse gestel: indien hulle dinge nou op die spits dryf, gaan UP onmiddellik Engels word. Die alternatief is dat die universiteit geleidelik verengels word sodat huidige studente nog enkele klasse in Afrikaans mag loop. Studente was hoogs ongelukkig met De Beer se dreigement om die universiteit oornag te verengels en het verklaar dat hul taalstryd in die komende week voortgesit sal word. 29-Sep-2005 03:09:05 AM
|