boekwinkel 

chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

mediaverklarings

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 out-STAR

KRYT

 tuis

 

 

 

ANC beskerm Zuma

Adjunk-president Jacob Zuma gaan nie bedank nie, en die ANC oorweeg geen optrede jeens hom nie. Ná aanvanklik geglo is dat Zuma dalk sou moes uittree weens sy aandeel in die wapenskandaal, is hierdie die jongste boodskap van die regerende party wat by monde van mnr. Joel Netshitenzhe uitgevaardig is.

Dit is die eerste keer dat die ANC amptelik reageer op die aantygings teen Zuma. Volgens Netshitenzhe sou dit verkeerd wees om Zuma se bedanking te vereis of te aanvaar op grond van die korrupsieklagtes teen hom.

"Indien die regering toelaat dat 'n presedent geskep word waardeur bewerings teen senior lede tot hul bedanking lei, dan sou dit die regering te eniger tyd in die kon wiele ry," het Netshitenzhe gesê.

Dit sou ook verkeerd wees "om vertrouensredes. Selfs blote vertroue in 'n individu in die adjunk-president se posisie behoort ons te noop om sy woord te aanvaar.

'n Ander senior ANC-leier, mnr. Smuts Ngonyama, het insgelyks vir Zuma te hulp gesnel, en die versekering gegee dat sy kop nie gaan rol nie.

Dié segsman van die ANC het verklaar: "Die heksejagmentaliteit waarin die opposisiepolitiek verkeer is nòg gesond, nòg gewens vir ons demokrasie. Die ANC herbeklemtoon sy posisie dat tot tyd en wyl 'n geregshof of bevoegde regsorgaan 'n skuldigbevinding lewer, die adjunk-president nie aan enige dissiplinêre verhoor blootgestel gaan word of gevra gaan word om sy amp te ontruim nie."

Nietemin is daar in ANC-kringe toegegee dat die skandaal rondom Zuma 'n verleentheid was vir Suid-Afrika. Sedert die klagstaat teen sy finansiële raadgewer, Schabir Shaik, ingedien is, het 'n hele storm rondom die adjunk-president losgebars.

Verder is die ANC uiters ongelukkig oor die hantering van die skandaal deur die Suid-Afrikaanse media, veral die gedagte dat die regerende party self baatgevind het by die wapentransaksie. "Die ANC is uiters verbaas deur aantygings dat dit voordeel kon put uit die wapentransaksie, en ons beklemtoon dat niks verder van die waarheid verwyder kan wees nie. Ons neem in die besonder eksepsie teen die kwaadwillige verslae deur SAUK TV-nuus en -radio, wat die indruk wek dat die ANC betrokke sou gewees het by onwettige bedrywighede." [hierdie berig sal binnekort verder bygewerk word met bykomende inligting] 29/09/05 03:09