Sekelbos, Mbeki en Vigs
deur Johann Wingard
Sekelbos is ‘n indringerdoringbos wat veral op onbewerkte ou lande voorkom. Vir dekades was koring- en mielielande tot ‘n diepte van ongeveer ‘n meter bewerk. Uiteindelik het die grond ‘moeg’ geword; die bolaag is van mikro-elemente ontdaan. 'n Sekelbos se sterk wortelstelsel stel die plant in staat om water en so ook mikrominerale, diep onder die grond te gaan haal waar daardie kosbare minerale nog in oorvloed voorkom.
‘n Vindingryke boer in Thaba Zimbi gaan toe heen en verkry die reg om die boere in die omgewing se lande van sekelbos te bevry. Hy verwyder die bosse met sy bossiekapper en maal die stam, dorings, blare en al in ‘n hamermeule. Die gemaalde veselstof word daarna met gebreekte mielies, sout en voerkalk gemeng. Met molasse as bindmiddel, verpil hy die mengsel in voerpille wat baie gesog is by wildboere tydens die lang droë winters.
Vir ‘n dekade het ons deeltyds in die Bosveld met volstruise geboer. Gedurende die winter was voeding skaars en duur, en dan het ons oorgeslaan na daardie Thaba Zimbi wildspille wat vesel, energie en mikrominerale verskaf het. Vir proteïne het ons gesteriliseerde hoendermis met die pille gemeng. Hierdie kombinasie het die volstruise in ‘n redelike goeie kondisie gehou en het selfs eierproduksie aangehelp en goeie kwaliteit kuikens verseker. In die somer het ons gemerk dat minerale aanvullings ook by die diere se voer ingemeng moes word, anders het hulle maklik agteruitgegaan, selfs met voldoende groenvoer.
Nou wat het dit met Mbeki en Vigs te doen?
Gerrit Brand en ek het vantevore oor Mbeki se standpunt vasgesit waar die President twyfel of die MIV virus vir Vigs verantwoordelik is. My standpunt toe was dat die virus uitsluitlik daarvoor verantwoordelik was. Mbeki dig Vigs eerder toe aan sosio-ekonomiese en ander maatskaplike vraagstukke as aan ‘n virus. Na my navorsing moet ek nou albei partye in hierdie debat gelyk gee, maar Mbeki se standpunt moet gewysig word om so te lui:
"Ons aanvaar dat die virus vir VIGS verantwoordelik is, maar dis nie die enigste oorsaak vir die verlies aan verworwe immuniteit nie; maatskaplike en sosio-ekonomiese faktore kan net so ‘n groot rol speel as die virus om die bevolking deur vigsverwante siektes af te maai."
Dit is waar die sekelbosstorie inkom.
VIGS, oftewel Verworwe ImmuniteitsGebrek Sindroom en outo-immuunversteurings is die onderwerp van die huidige polemiek. Wanneer ‘n persoon se outo–immuunstelsel ophou om doeltreffend te funksioneer en die vermoë verloor om die indringing van infeksies te bekamp, sterf die persoon uiteindelik bloot omdat sy outo-immuunstelsel die liggaam nie meer soos ‘n skild kan beskerm nie.
‘n Gewas se pitte, soos mielies of koring, kan slegs daardie stowwe lewer wat deur sy wortelstelsel vloei en deur die plant opgeneem word. Wanneer ‘n mielie- of koringland dus uitgeput is, is daar net nie meer spoorelemente beskikbaar aan die gewasse se wortels nie. Kunsmis bevat weinige spoorelemente, maar sal goeie oeste verseker. Algaande word daar egter minder mikro-elemente aan die pitte beskikbaar gestel om aan die verbruiker oor te dra. Ek wil beweer dat meer as 90% van die Suid-Afrika se kommersiële landerye lankal reeds van mikro-elemente ontdaan is en dus produkte lewer wat arm aan spoorelemente is, sodat die verbruikers gewanvoed word.
Slegs enkele dekades gelede was die land se swart bevolking ‘n landelike bevolking, selfs in die tuislande, waar hulle op mikro skaal hul eie kos produseer het en dus selfs met ‘n beperkte diëet van mieliepap altyd van mikro-elemente verseker was. Sodra die lande uitgewerk was, het hulle bloot nuwe landerye ontbos of bewerk, wat goedkoper as kunsmis was. Na die afskaffing van toestromingsmaatreëls het honderde plakkerskampe verrys en het die vigspandemie in felheid toegeneem. Was dit toevallig?
Wetenskaplikes het lankal reeds ontdek dat die volle reeks makro-, mikro- en ultramikro-elemente nodig is om die liggaam se outo-immuunstelsel optimaal te laat funksioneer. Mense wat dit kan bekostig, balanseer hul diëet met vleis, vrugte vars groente en selfs natuurlike byvoegings. Daardeur word hul inname van die spoorelemente verbeter. Die haglike toestande en gebrek wat in honderde plakkerskampe heers en waar die mense se diëet hoofsaaklik brood en mieliepap is, laat my tot die slotsom kom dat daar ‘n massiewe gebrek aan mikrominerale heers, sodat hul outo-immuunstelsels mettertyd afgetakel word.
Sodra spoorelemente en minerale in hierdie vorm egter afwesig is, word dit haas onmoontlik vir die liggaam om ‘n gesonde outo-immuunstelsel te handhaaf en die persoon se vermoë om siektes te bestry verminder drasties. Wanneer ‘n persoon se outo-immuunstelsel deur virale inveksies, wanvoeding of dergelike ander oorsake aangeval en afgetakel word ontwikkel daar gevolglik gebreke in die immuniteit wat hy gedurende sy leeftyd verwerf het.
Hoewel dit nog nie ten volle verstaan word nie, aanvaar wetenskaplikes dat die aanwesigheid van mikro-minerale ‘n bydraende faktor is om die kwaliteit van biologiese selle in plante, diere en by die mens te onderskraag. Dit sou dus teoreties moontlik wees om die negatiewe effekte van ‘n outo-immuun gebrek met plant-afgeleide minerale teë te werk.
Gedurende die afgelope twintig jaar het verskeie navorsingsinstansies multi-disiplinêre toetse en studies gedoen op plantaardige minerale wat in vaste vorm in die Ukraine voorkom, soos die: Institute for Bio-colloidal Chemistry, Kiev Medical Academy, Dnepropetrovsky Research Institute for Mineral Resources of Ukraine, The Institute of Soil of the Ukrainian Academy of Agrarian Science, Vinnicky Institute for Animal Feeds. Hierdie toetse het onteenseglik die rol van plant-afgeleide minerale en spoorelemente in mens en dier se outo-immuunstelsels bewys, hoewel nie as geneesmiddel vir Vigs per se nie.
Hierdeur wil ek herhaal dat daar meer as een rede vir VIGS bestaan. Wetenskaplikes aanvaar dat die virus 'n persoon se outo-immuunstelsel aftakel totdat die persoon sterf. Daar bestaan egter ander oorsake vir immuniteitsgebrek en dit wil voorkom of vigstoetse nie onderskei tussen die verskillende oorsake van immuniteitsgebrek nie. As dit is wat President Mbeki wil sê stem ek met hom saam. Dan kan ‘n inklusiewe nasionale strategie ontwikkel word wat die wanvoedingsprobleem, sowel as antiretrovirale middels aanspreek..