Om te kan oorlewe
Deur mense te wil herbemagtig word veronderstel dat
daar vroëer ‘n proses van ontmagtiging was.
Afrikaners is tydens die afgelope agt jaar inderdaad deur ‘n proses van
politieke en ekonomiese ontmagtiging. In
‘n mindere mate het hulle ook ‘n proses van kulturele ontmagtiging
ondergaan. Waar hulle voorheen mag
gehad het, besit hulle nou regte, maar die voorheen onbeperkte reg om eie
kultuursake self te orden, is nou afgewater.
‘n Balans tussen die uitoefening van hul regte en die behoeftes van
ander landsgenote moet nou gehandhaaf word.
Die oorsprong van die Afrikaners se ekonomiese mag
kan herlei word na die Ekonomiese Volkskongres van 1939 waarna die proses van
‘n nasionale etniese kapitalisme ontwikkel het.
Deur etniese mobilisering op ekonomiese terrein is die
SANLAM/Volkskas-groepe gebore. Na
1948, toe Afrikaners die regeringsmag oorgeneem het, is hierdie etniese
kapitalisme regoor staatsinstellings deurgevoer. Die beleid van tweetaligheid in
die twee amptelike tale, ‘n verbloemde formule van regstellende aksie, is
hiervoor toegepas en het hoofsaaklik Afrikaners in die werksplek bevoordeel.
Om polities korrek te wees, het tweetaligheid spoedig die amptelike
beleid van die meeste sake-ondernemings geword.
Daarbenewens het die beleid van werkafbakening die halfgeskoolde en
geskoolde vaklui direk bevoordeel.
Deur hierdie maatreëls was daar byna geen
werkloosheid onder Afrikaners nie
en ‘n kroniese tekort aan blanke werkers het ontstaan, sodat immigrasie
bevorder is om die tekort aan te vul. Elke maand het miljoene Rande in die vorm
van salarisse en byvoordele na die Afrikaanse deel van die bevolking gevloei. Benewens die staat se besigheid, wat voorspelbaar na
Afrikaanse instellings soos SANLAM en VOLKSKAS gegaan het, het die Rande van die
Afrikaanse privaatsektor ook na hierdie etniesgedrewe instellings, wat swaar op
Afrikanersentiment geleun het, gevloei. Afrikaner-nasionalisme
het inderdaad hierdie groepe gevoed totdat hulle megastatus bereik het.
Veertig jaar ná die Volkskongres het die SANLAM-groep reeds byna die
helfte van die maatskappye op die aandelebeurs beheer of ‘n wesenlike belang
in hulle gehad.
Daarbenewens was daar ook die
semi-staatskorporasies soos die spoorweë,
poskantoor, YSKOR, SASOL, FOSKOR, ESKOM ens., en later ook MOSSGAS, almal deel van hierdie etniese kapitaalbasis van die Afrikaners.
Ek wil nie stilstaan by die gesindheidsverandering wat sedert 1965 na die
verkryging van General Mining en Union Corporation in die Afrikanerryk
plaasgevind het nie. Laat ek net
noem dat die korporatiewe lojaliteit van Afrikanergrootgeld verskuif het van dié
van Afrikanernasionalisme na internasionale finansiële belange, verenig met die
belange van die enigmatiese goud- en diamantbedryf, ‘n geldmag wat
Afrikanerdom se grootste vyand vir meer as sestig jaar was.
Hierdeur het die Afrikaanse grootgeld inderwaarheid ‘n vyand van
Afrikanernasionalisme geword, wat laasgenoemde as ‘n sakebedreiging gesien
het. Nasionalisme loop dikwels uit
op politieke onstabiliteit wanneer politieke behoeftes tevrede gestel moet word,
terwyl die sakesektor politieke stabiliteit as voorvereiste stel.
Dus is daar twee teenoorgestelde strategiese pole.
Met die magsoorgawe van 1994 was die groot prys vir
die ANC nie net die staatsmag nie, maar ook die Afrikanervolk se hele erfporsie,
d.w.s. staatsbates asook Afrikaanse grootgeld se lojaliteit wat onherroeplik van
die Afrikaners vervreem was. Teen
1990-waardes was die staat se bates meer as 92 miljard Dollars en diè van die
SANLAM-groep ongeveer 90 Miljard Dollars, saam ongeveer twee triljoen Rand in
vandag se geld. Lede van die
Afrikanervolk kan nie meer daarop aanspraak maak dat hulle die
korporatiewe beleid van SANLAM, ABSA, SASOL, YSKOR, ESKOM, die spoorweë ens.,
kan beïnvloed nie. Na 1994 het die
afstand tussen hierdie groep en die Afrikaners so groot geword dat daar tans
selfs heftige aksies aan die gang is oor die gebruik van Afrikaans as ‘n
administratiewe taal binne hierdie groepe, aangesien hierdie kapitaalbasis
vandag in belang van ander volksgroepe beheer word.
Laat ons maar eerlik met mekaar wees, die
Afrikanervolk is onterf, gestroop van sy ekonomiese basis wat oor ‘n tydperk
van meer as ‘n halfeeu deur Afrikaners se politieke besluite,
kundigheid, konserwatiewe bestuur, westerse tegnologie en stelsels, asook
die oorwerkte term, ‘toewyding aan die saak’, opgebou is.
In 1994 het Afrikaners dus nie net hul politieke
selfbeskikking prysgegee nie, maar ook die grondslag van hul hul ekonomiese
selfbeskikking. Gestroop van sy
nasionale bates moet die Afrikaner dus nou die toekoms tegemoet gaan.
Sonder ‘n staatskern as ekonomiese enjin sal ‘n etniese kapitalisme
moeilik weer begin kan word. Dis soos ‘n swerm bye waarvan die koningin skielik verwyder
is, ‘n swerm wat deur liberale skrywers as ‘n groep verdwaalde enkelinge
voortaan gereken word en wat in die lusernland deur swart swiepende
swaelstertbyevreters gevang word.
Die verlies aan ekonomiese selfbeskikking is ‘n
veel groter probleem as wat algemeen besef word en waarmee ons tans sit.
Eerstens kan ons nie meer daarvan praat om die Afrikanervolk ekonomies te
herbemagtig nie, maar hoogstens om sommige Afrikaners te herbemagtig.
Die vorige stelsel wat almal, die sterkes sowel as die swakkes gedra het,
bestaan nie meer vir ons nie. Die
sterkeres kan deur hul eie vermoë vandag gered word, die middelgroep sal nog
kop bo water kan hou, maar dit is die onderste groep wat my bekommer. Hierdie groeiende groep kan maklik ‘n veiligheidsrisiko
word, tensy met bestaande en nuwe prosesse begin word waardeur gelyke
geleenthede vir hierdie mense op die arbeidsterrein verkry kan word.
Om
‘n voorbeeld te gebruik; hoeveel van die ongeveer 50,000 pompjoggies is
Afrikaners? Dit, terwyl maklik meer
as 60% van die vulstasie-eienaars Afrikaners is. Die bestaande paradigma dat
sekere werk net deur swartes gedoen word, sal verskuif moet word sodat die
groeiende groep agtergeblewendes deur die toepassing van geskikte maatreëls
herbemagtig kan word. Hierdie
groep skep ‘n strategiese risiko vir die land, ‘n teelaarde vir
fundamentalisme en ekstremisme en is ‘n onderwerp wat indringend met die
owerhede en sakekamers bespreek sal moet word.
MWU-Solidariteit is waarskynlik die natuurlike voertuig hiervoor.
Dan iets oor die middelgroep. Ayn Rand, die Russiesgebore filosoof, skryf dat beskawings
oor die geskiedenis heen geblom of getaan het na gelang van hoe hulle hul
skeppende minderhede behandel het. Ons
het dit ook in Afrika gesien. Of
mens dit wil erken of nie, die Afrikaners is Suid-Afrika se skeppende
minderheid, waarsonder die land maar net soos Angola of Mosambiek sou gelyk het.
Dertien boere wat hier werkloos was, het in die Njassaprovinsie in die
noorde van Mosambiek ‘n ekonomiese oplewing veroorsaak.
Die woord het regdeur sentraal-Afrika geloop dat die Maburu gekom het en
spoedig het ander beleggers, selfs Australiese prospekteerders, gevolg.
Hierdie voorbeeld illustreer net weer die
werklikheid van hoe die Afrika-ekonomie deur ‘n klein bestuurskader
gestimuleer kan word. Onlangs het
een van die swart voormanne op ‘n reuse sitrusplaas wat deur die Noordelike
Provinsie-regering tot bankrotskap bestuur word, opgemerk: “Vandat die wit
bestuurders hier weg is, is daar niemand om elke dag vir ons mense
te sê wat om te doen nie. Nou
loop alles verkeerd. Ons weet nie
hoe om die werk te beplan nie. Ons
soek ‘n baas...”
Daar is dosyne soortgelyke staatsprojekte wat
voorheen deur die onderskeie Bantoekorporasies bestuur is, maar wat nou besig is
om ten gronde te gaan weens regstellende aksie.
Duisende werksgeleenthede gaan hierdeur verlore en word die land se bates
verder afgetakel. Lede van die
middelgroep met gepaste ervaring kan as bestuurders en tegnici van sulke
ondernemings weer tot die ekonomie toetree.
Maar hulle kan nie altyd as enkelinge onderhandel nie.
In hierdie geval sal Agri-SA of die TLU seker die gepaste voertuig vir
onderhandelings moet wees. Dieselfde
geld vir nuwe projekte, wat op ‘n samewerkingsbasis in die voormalige swart
gebiede begin kan word. Ek is bewus
van twee jongmanne van Warmbad, een wat by ‘n skrootwerf en die ander by ‘n
bloekompalehandelaar gewerk het, wat nou in KwaZulu met ‘n landbouprojek besig
is waar hulle honderde werksgeleenthede vir die plaaslike swartes
skep. Maar in die proses
vestig hulle hulself en brei hulle hul belange daar verder uit.
Die swak geldeenheid en die wye gebruik van die
internet bied ook bepaalde werksgeleenthede vir gekwalifiseerde programmeerders,
ingenieurs, rekeningkundiges, regslui en makelaars. Ons vergelykende man-uurkoste vir IT-programmeerders is
minder as ‘n derde van dié van Europese lande, net soos Indië s’n.
Laasgenoemde is ook ‘n goeie IT-tegnologieopleidingsland, maar Indië
het ‘n probleem dat hulle buite die Europese tydsone val en dus buite normale
kantoorure moet werk. Die Europese
tydsone skep ‘n mededingende voordeel vir Suid-Afrika.
Dieselfde geld vir ingenieursdienste soos ontwerp, beplanning,
materiaalbeheer en kostebeheerdienste. Vanweë
ons tydsone, kan hierdie rekenaargerigte dienste baie mededingend in verafgeleë
Suid-Afrika verrig word. Daar
bestaan dus ‘n gulde geleentheid vir ‘n professionele bemarkingsmaatskappy
deur wie jong programmeerders self kan globaliseer deur die swak Rand te gebruik
om hul dienste internasionaal aan te wend.
Vraag is wie gaan soiets aanpak?
Miskien het die tyd nou aangebreek om ‘n
Afrikaanse Diensteverskaffings-maatskappy op die been te bring, waardeur
jongmense se kundigheid en CV’s op ‘n databasis vasgelê kan word en
internasionaal bemark kan word. Dan
hoef hulle nie oorsee te gaan werk soek nie en kan hulle die mededingende
ekonomiese voordeel op kontrakbasis vanuit die huis benut.
Afrikaners sal soiets self moet doen.
Daar is nie veel te sê oor die hoër inkomstegroep
nie, behalwe dat baie van hulle
meer geld in Suid-Afrika kan maak as in enige oorsese land.
Ons sal vrede moet maak met die werklikheid van
‘n swart regering wat sy kiesers wil bevoordeel.
Ons sal doodeenvoudig maar net ons deel moet bydra om van hierdie land
‘n wenland te maak en om te verhoed dat dit dieselfde pad as Zimbabwe loop.
Anders as in Zimbabwe, is die kritieke massa Afrikaners groot genoeg om
‘n wesenlike invloed op die land en sy ekonomie te hê.
Geleenthede bestaan wel. Die
gevare van die minderbevoorregte Afrikaners sal egter dringend aandag moet kry
om ‘n potensieel gevaarlike situasie te ontlont.
Johann Wingard.
13 April, 2002.
1580 woorde.