| chronologie
menings
opstelle
poësie
satire
aksies
skrywers
abba
skakels
briewe
uit-BEELD
uit-RAPPORT
tuis
|
|
|

Dan Roodt
|
Dan Roodt:
Die krisis van
Suid-Afrikanerskap
Voordrag gelewer op 8 Februarie 2000 op uitnodiging van die “Dinsdagklub”, restourant “Die Werf”, Pretoria
Ek wil vandag hier iets gewaagds sê: ons beleef vandag ‘n identiteitskrisis in Suid-Afrika. Wie kan vandag met sekerheid sê wat “Suid-Afrikanerskap” behels? Ons het al die advertensies gesien: One nation, one beer, one language. Maar wie is hierdie nasie, want om bier te drink is helaas nie ‘n onderskeidende kenmerk nie. Vra maar vir die Beiere en die Tsjegge. Dié vraag, wie is ons? word boonop nooit gevra nie. Daar is die veronderstelling dat ons reeds oor ‘n antwoord beskik, dat ons as’t ware die bierskuim in ons neusgate kan ruik en nie langer daaroor hoef te dink nie.
Dit mag subversief lyk om vrae te opper aangaande ‘n Suid-Afrikaanse identiteit, want soos ‘n sekere Afrikaneridentiteit iewers in die verlede, het dit vandag ‘n heilige koei geword. Soos ons vlag, wat vir baie mense na ‘n veelkleurige mansonderbroek lyk, die volkslied en die ander simbole wat ons veronderstel is om aan te hang, moet ‘n mens nie torring aan Suid-Afrikanerskap nie. Vat jy daaraan, vat jy aan die een nasie-idee, en dan, soos een van ons geagte ministers onlangs gesê het, is jy ‘n would-be separatis.
Ek wil nou die een nasie, een bier-idee – interessant is ook dat S.A. Brouerye, die bierbrouers, eerste was om aan te kondig dat hulle Afrikaans van die blikkie afhaal, en ook voor in die ry was om ‘n hoofnotering op die Londense Beurs aan te vra – stel teenoor die bekende “Braaivleis, Rugby, Sonneskyn en Chevrolet” van twintig jaar gelede. (Hierdie is nou nie ‘n Maileriaanse selfadvertensie na my prosawerk uit die tagtigerjare nie.) Van die Chevrolet is daar nie veel oor nie, maar ek meen dat “Braaivleis, Rugby, Sonneskyn,” steeds iets benoem aangaande ‘n Suid-Afrikaanse identiteit wat voortleef in die huidige. Dit bevat egter ‘n hedonistiese aanskyn wat in skrille kontras staan met die polities-korrekte nasionalisme van “one beer, one nation”
Toenemend val die klem by ‘n sekere aktuele definisie van Suid-Afrikanerskap op mono: monolinguïsme, monokultuur, monopolie, nie net die biermonopolie, maar ook dié van politieke mag, en dan iets wat ek met ‘n hibriede term wil benoem, monostoria. Storia is natuurlik Italiaans vir gekiedenis, vanaf die Latyn historia, maar in Afrikaans herinner dit ons aan die doodgewone “storie”. Uiteindelik is daar in Suid-Afrika verskeie stories, sommiges mooier vertel as ander, party meer moreel as ander, maar uit hierdie baie stories of vele verhale kan ons ons wel soms herken en die towerwoorde spreek: “Ek is ‘n Suid-Afrikaner”.
Hierdie proses van “jouself in iets te herken”, ‘n soort narcisme, raak by die dag moeiliker, te midde van die monostorie. Ek vind dit frappant dat die President van Suid-Afrika, eerder as om te sê: ek is ‘n Suid-Afrikaner, liewer sê, “Ek is ‘n Afrikaan”, so asof hy op soek is na ‘n nog groter verhaal. Asof geen plaaslike storie boeiend genoeg kan wees om jouself mee te identifiseer nie, en daar ‘n groter kontinentale identiteit nagejaag moet word. Of miskien is dit ‘n geval van die groter monostorie op te soek eer jy oorweldig word deur die veelheid, die hedonistiese veelheid, van plaaslike stories. Uiteindelik is ons almal wêreldburgers, maar as ons dit sê, watter inhoud het “Suid-Afrikanerskap”, selfs al drink ons net een bier?
Dit wil voorkom asof Suid-Afrikanerskap deesdae berus op talige en etniese uitsluiting, veral van Afrikaans. Die vraag is of ‘n mens ‘n nasie kan bou met behulp van ‘n kunsmatige identiteit wat as’t ware deur burokrate vir ons uitgedink word. Dit is ‘n poging om vaste betekenis te gee aan ‘n amorfe groep mense wat onder geen enkele definisie inpas nie. Volgens Chris Louw van die SAUK word daar in vergaderings van dié liggaam vaste terminologie neergepen wat deur alle joernaliste eerbiedig moet word. Só is daar byvoorbeeld besluit om na dr. Wouer Basson te verwys as “die apartheidwetenskaplike” ongeag die konteks van die berig. Is apartheid ‘n wetenskap, of het die medisyne, waarin Basson blykbaar opgelei is, nou gevorder tot ‘n vorm van “apartheid”? Miskien is dit die Kubaanse siening van die medisyne. Belangrik egter vir ons, is die konstante poging om ‘n eenvormige kultuur, ‘n eenvormige betekenis te skep in ‘n land wat allerweë as multikultureel, multi-etnies, ens. bestempel kan word.
In hierdie monoboerdery, want ons moenie vergeet dat kultuur etimologies met “kweek” en landbou te make het nie, vervul die Engelse taal tans ‘n sleutelrol. Op ‘n manier is Engels die gom van die nasie. ‘n Franse ontleder het tot die slotsom gekom dat die ANC nog altyd beleid by wyse van reaksie of negatiewelik geformuleer het. Die huidige kultuurbeleid is gebaseer op ‘n reaksie teenoor Verwoerdianisme, iets wat ek reeds as “omgekeerde Verwoerdianisme” bestempel het. Hierdie buitelandse ontleder maak verder die volgende afleiding, wat ek graag aanhaal:
“In hierdie sin vervul nasionalisme [die nasionalistiese eenheidsdogma] die essensiële funksie van ‘n toevlugsidee. Teenoor die rasse-, etniese, kulturele, godsdienstige, sosiale ersiteit, ens. van ‘n betreklik jong entiteit – die Unie van Suid-Afrika dateer vanaf 1910 – soek die ANC ‘n beskermende begrip, realisties of te nie, haalbaar of te nie, wat as ‘n slaapmiddel kan dien, gegewe die onsekerheid van [etniese] verskil. Die behoefte aan so ‘n kalmeermiddel, aan so ‘n waarborg, is soveel te meer sterk as mens jouself ontwortel voel teenoor die tradisionele bindinge van die maatskappy.”[1]
Die onsekerheid van etniese verskil, “l’incertitude de la différence” want verskil in Frans behoef geen verdere kwalifisering nie - dit verwys opsigself reeds na etniese verskil, kan in ons terme vertaal word as die chaos van stories - die dwaalstories waarvan Eugène Marais gepraat het, en waaruit geen enkele verhaal te voorskyn gaan kom nie.
In ons huidige situasie word Engels voorgestel as ‘n metataal waarin alle dwaalstories vertaal kan word in een metaverhaal. Daarmee ontkom Engels qua etnos aan enige etniese ontleding. Afrikaners of Zoeloes of Tswanas of Indiërs is etniese groepe, maar daar is geen Engelse etniese groep nie. Die Engelse groep is die universele, die globale, die transendentale. Veral die linkse Engelse akademikus staan die heel naaste aan universaliteit en pleit eweneens, of het al gepleit, vir die sentralistiese staat. Weer eens is dit insiggewend om te lees hoe ‘n buitelandse besoeker hierdie groep mense in hul ontkenning van etnisiteit sien. In ‘n verslag oor ‘n konferensie wat in die Setlaarsmonument te Grahamstad gehou is, merk Me. Véronique Faure op dat daar iets soos ‘n linkse blanke Engelssprekende stam in Suid-Afrika bestaan wat selfs in sy kleredrag, woordeskat, ens. hom differensieer van die res van die Suid-Afrikaanse bevolking. Sy merk ook op dat daar kwalik denke geduld word wat indruis teen die heersende stel idees wat pro-eenheidstaat, pro-Engels, pro-ANC, ens. is, en dat daar allermins van ‘n intellektuele gesprek gepraat kan word; dit geskied meer soos ‘n familiebyeenkoms waar ‘n onderliggende konsensus oor waardes en gesigspunte as vanselfsprekend aanvaar word.[2]
Binne die universele en die globale is daar dus ‘n moment van intense etniese belewing, die verheerliking van die eie groep, en die afwys van ander groepe. Op ‘n sekere manier kan die Engelse etnos in Suid-Afrika ook net pretendeer tot universaliteit en globaliteit indien dit totaal en al astand doen van enige vorm van Suid-Afrikanerskap, wat teenstrydig is met die “familiebyeenkoms” waarvan daar sprake is as Engelse mense van ‘n sekere politieke oortuiging saamkom. Vir die Engelse etnos om ‘n globale etnos te word, moet dit noodwendig die koloniale verhouding tot die moedertaal of metropool herinstel.
Na my mening is dit wat besig is om huidiglik in Suid-Afrika te gebeur: die enigste manier om die multikulturele op te los in die monokulturele is by wyse van ‘n ongekende poging tot kolonisering. Dit opsigself impliseer ‘n afstand doen van Suid-Afrikanerskap per se. In ‘n sekere sin moet Suid-Afrikanerskap vernietig word ten einde een volk tot stand te bring, wat per definisie ‘n koloniale aanhangsel van ‘n metropool sal wees.
Ek is verstom daardeur dat ons President, wat oënskynlik ‘n segsman vir die Derde Wêreld is, eerstewêreldse kapitaliste uit Amerika, Brittanje en Duitsland as ekonomiese raadgewers moet aanstel. Hoe op aarde kan dié mense wat op hul beste half ingelig is oor Suid-Afrika, beter weet as plaaslike kundiges hoe om die ekonomiese en ander problematiek van Suid-Afrika te benader? Dog dit is net verstommend as ‘n mens die logika van die koloniale verhouding buite rekening laat. In terme hiervan is metropolitaanse kennis altyd meer werd as plaaslike kennis, selfs al is dit verkeerd.
‘n Hele paar jaar gelede het ek die term “koloniale drempel” gebruik om die oordrag van inligting heen en weer tussen ‘n metropool en ‘n kolonie te omskryf. In die beweging vanaf die kolonie na die metropool vind daar ‘n proses van verwringing en sensuur plaas: slegs sekere items is toelaatbaar, en die betekenis daarvan word aangepas om dit vir die gehoor in die metropool verstaanbaar te maak. Vandaar ook die belang van – iets waarop ek ook reeds gewys het – analogie. Die plaaslike ontkom aan die metropool, want dit vind in ‘n geheel ander taal plaas, en daarom moet dit analogies vertaal word: apartheid is “soos” nazisme, Afrikaners is “soos” nazi’s, Suid-Afrikaanse Engelse is “soos” Britte, Suid-Afrikaanse swartes is “soos” Afro-Amerikaners. Binne die metropool kan die kolonie slegs in hierdie analogiese terme begryp word. Ons woon in die land van “soos”
Aan die ander kant van die koloniale drempel gebeur iets anders, nie soseer verwringing nie, maar vereenvoudiging, gepaardgaande met ‘n soort onderdrukking van plaaslike betekenis of nuanse. Ons mag nooit die metropool kritiseer nie, want dit sou ‘n graad van opvoeding en omgang met metropolitaanse konsepte impliseer waartoe ons as koloniale inwoners nie in staat is nie. Die koloniale drempel beperk ons tot die “oorneem” en “plaaslike toepassing” van begrippe, of dit nou “affirmative action” of loodvrye petrol of vermindering van die begrotingstekort is. Ons moet veral ook nie ons eie begrippe ontwikkel nie, want dit sou neerkom op kettery en ‘n soort grootheidswaan.
Hoe gemaak met die verwikkeld-plaaslike, die narratiewe veelheid wat ons onder die versamelnaam Suid-Afrikaanse kultuur kan verstaan? Die koloniale drempel laat nie toe dat ons dit verwoord nie, dit word onderdruk. Hierdie veelheid gedy slegs in minderheidsmedia, soos in poësie of filosofiese opstelle, en word in ons massamedia geïgnoreer. Ook in sekere Engelse romans wat bestem is op ‘n massagehoor buite Suid-Afrika, is daar outomaties ‘n filter aanwesig wat sorgvuldige enige paradoksale plaaslike betekenisse uitfiltreer.
Die koloniale drempel is trouens niks anders as ‘n soort filter nie. Dit is baie moeilik om daaraan te ontkom.
Dit is blykbaar veral moeilik vir ons politieke denkers om dit te ontwyk. Indien ons kyk na al die belangrike beleide wat tans deur ons regering toegepas word, maar veral die hele stel konsepte rondom iets wat ‘n mens die “rassekompleks” kan noem, dan is dit regstreeks oorgeneem vanuit die VSA. “Affirmative action”, “afrocentrism”, “multiculturalism”, “disadvantaged”, om maar enkeles te noem, behoort tot die Amerikaanse politieke woordeskat van die afgelope dertig jaar. Die “multikulturele” het binne hierdie verband niks met veeltaligheid te make nie, maar dui op ‘n verskeidenheid van etniese style wat in Engels uitgeleef word. Tans word swartmense in Amerika as’t ware deur die staat onderhou, want 50% ontvang een of ander vorm van staatsbystand, wat ‘n manier is om die dilemma van veelrassige naasbestaan te benader. Kennelik is die Suid-Afrikaanse situasie fundamenteel anders, en kan “welfare” nooit ‘n oplossing bied vir ons probleme nie (hoewel daar tans in dié rigting gepraat word). Wat vir “welfare” geld, geld waarskynlik ook vir die res. Waarom behoort ons hoegenaamd Suid-Afrika in Amerikaanse terme te bedink? Sodra ons hierdie onafhanklikheid opeis, is ons natuurlik besig om die koloniale drempel te ondermyn.
Daar is ‘n ander aspek van die koloniale verhouding, en dit is selfontevredenheid. Baie mense in Suid-Afrika is ontevrede met hul taal, hul voorkoms, hul lewenstyl. Nie net laat hulle hulself ontrimpel deur medici nie, maar hulle wil ook ontslae raak van hul eie tale ten einde nouer aansluiting by die metropool te soek. In Afrikaans noem ons dit verengelsing, en ek is nie seker wat mense in ander inheemse tale daarvoor sê nie. Hierdie selfontevredenheid is ‘n vorm van plebejerskap. Die beroemdste plebejer was sekerlik die karakter Trimalchio van Petronius wat tevergeefs die maniërismes, houdings, tydverdrywe en belangstellings van die patrisiër probeer naboots. In Suid-Afrika sit ons met ‘n Trimalchio-sindroom waar die patrisiër woonagtig is oorkant die water en ons veronderstel is om hom na te boots.
Op die gevaar af dat ek u gaan skok, wil ek sê dat ek ‘n sekere bewondering vir mnr. P.W. Botha het. Sekerlik nie vir sy intellek nie, en allermins vir sy beleid of gebrek daaraan, maar wel vir sy soewereine vinger. Na my mening was Suid-Afrika laas ‘n soewereine land onder P.W. Botha toe daar nie instruksies geneem is van politici of sakeleiers uit die metropool nie, maar bloot – om dit nou pront te stel – plaaslik “voortgefok” is. Ek wil nou nie à la die koloniale drempel in analogieë verval nie, maar die naaste ander voorbeeld waaraan ek kan kom is die analise van Michel Foucault oor die “makmaak van die malles” met die oprigting van die gestig en die medikalisering van waansin. Voor die gestig was malheid soewerein en die malles is op narreskepe gelaai en het van dorp tot dorp op die riviere geswerf. In my ontleding van die WVK het ek eweneens gepraat van “plaaslike waansin” teenoor “internasionale rede”, en myself iets van eersgenoemde opgeëis. Ek sou wou beweer dat plaaslike, soewereine waansin verkieslik is bo die koloniale rede, want uiteindelik is albei ewe verlore, maar steeds kan daar vanuit die plaaslike waansin ‘n redelikheid ontwikkel omdat die milieu daarvan steeds plaaslik is. Op ‘n manier is die malste plaaslike idee meer in kontak met die werklikheid as die mees rasionele koloniale idee, want laasgenoemde het geen relasie met ons nie, en spruit uit ‘n geheel ander werklikheid waarvan enige ooreenkoms met ons s’n bloot toevallig is.
Hoewel ek dus nie ‘n terugkeer na die P.W. Botha-tyd wil sien nie, moet ons beslis ons soewereiniteit as Suid-Afrikaners en as Afrikaners weer opeis. Dit gaan beide om ‘n staatregtelike soewereiniteit en ‘n intellektuele soewereiniteit. Diegene wat tans in Afrikaans verlang dat ons ons by al die koloniale mites moet neerlê en eenvoudig moet inval by “nasiebou” en die monokultuur wat daarmee saamhang, maak ‘n groot fout. Ons het die reg op onafhanklike denke.
Afrikaans as taal het in hierdie opsig ‘n baie belangrike rol om te speel. Die Afrikaanse letterkunde is die een moderne – teenoor tradisionele, folkloristiese – corpus binne ‘n breër Suid-Afrikaanse kultuur wat waarlik nie-koloniaal en soewerein is. Van die begin af was daar ‘n poging om juis voorrang aan die plaaslike te verleen, om daardie intellektuele soewereiniteit op te eis waarsonder sinvolle Suid-Afrikanerskap nie moontlik is nie. N.P. van Wyk Louw het gepraat van die “brug tussen Europa en Afrika”, maar hiermee eintlik die radikale plaaslikheid van Afrikaans onderskat.
Ek het onlangs ‘n langerige tweede brief aan mnr. Kader Asmal, Minister van Opvoeding, oor die taalkwessie geskryf waarin die volgende twee sinne voorkom:
“Afrikaans en Engels staan in ‘n bepaalde historiese verhouding, en dit gaan ook om twee mededingende sienings van Suid-Afrikanerskap, naamlik ‘n periferale Engelsheid en gepaardgaande kulturele bepaling vanuit die Anglo-Amerikaanse moederland, teenoor ‘n radikale plaaslikheid wat as ‘n kollektiewe neologisme getipeer sou kon word en waarvan die betekenis nie van elders bepaal word nie, maar plaaslik verhul is en deur ‘n proses van onthulling en skepping ontdek moet word.”
Om intellektueel soewerein te wees, beteken om jou eie plaaslike betekenisse te maak. Om Afrikaans te wil praat en skryf behels niks minder as die reg op lokale betekenisse nie. Vanuit die oogpunt van die koloniale drempel en die koloniale rede is dit sekerlik waansinnig, oorbodig, as mens hulle in geblikte vorm kan invoer. As deel van ons waansin eis ons ook die reg om by te las aan ons verhaal, aan ons storie. Ek is geïntrigeer deur die onlangse televisieonderhoud met Karel Schoeman waarin hy groot waarde heg aan “optekening”, ook die optekening van sy eie familiegeskiedenis. Hy wil vir ons sê dat hierdie verhaal, wat uiteindelik die Afrikaanse verhaal is, miskien die belangrikste ding is wat daar is.
Blykbaar word die Afrikaanse verhaal of dan die verhaal van Afrikaners en ander Afrikaanssprekendes tans heeltemal uit die amptelike weergawes van ons geskiedenis, soos deur staatsdepartemente versprei by wyse van die eentalige “South Africa Yearbook”, weggelaat. Die amptelike monostorie wat die klem plaas op die verhaal van ons regerende party – dit het Karel Schoeman, self ‘n sensitiewe historiese navorser, ook opgemerk – verskaf dus ‘n geredigeerde, etnosentriese weergawe van ons geskiedenis. Ek het reeds gewys op die anglosentriese weergawe van ons literatuurgeskiedenis waar “Suid-Afrikaanse letterkunde” gereduseer word tot Engelstalige letterkunde. Ons moet ook nie vergeet dat die sogenaamde “revisionistiese geskiedenis” soos geskryf deur die stam van Engelse, linkse intellektuele, grotendeels die basis vorm vir die huidige amptelike geskiedenis nie.
Ek sou die huidige stand van sake in Suid-Afrika as ‘n soort narratiewe oorlog beskryf. Of ons daarvan hou of nie, daar is reeds oorlog verklaar teen die Afrikaanse verhaal, wat dit ookal mag wees. In ‘n sekere sin behoort die Afrikaanse taal ook tot hierdie verhaal. In die maniese eksklusiwiteit van ‘n heersende koloniale Engelse etnos, word alle “ander” verhale gesien as ‘n bedreiging vir ‘n monomorfe staat wat ten alle koste geskep moet word - “staat” as politieke entiteit, maar eweneens as toestand. Globalisering verskaf die agtergrond of dekor waarteen Engelse oorheersing tot stand moet kom.
Dit is logies dat ‘n ten volle geglobaliseerde Suid-Afrika, wat eenvoudig ‘n Amerikaanse kultuur grootskeeps plaaslik “toepas” as eenheidskeppende ideologie, die dood in die pot gaan wees vir Suid-Afrikanerskap. In ‘n sekere sin sal ons Amerikaners wees, Afro-Amerikaners sekerlik, maar steeds Amerikaners. Ons eie stories sal vergete wees, of ten minste nie meer gehoor word nie. Globalisering dra dus by tot die krisis van Suid-Afrikanerskap. In die geesdrif om die Afrikaanse en ander sogenaamde minderheidsverhale uit te vee, gaan die Suid-Afrikaanse verhaal per se verlore gaan.
Die voorstanders van globalisering wat dit gerieflikheidshalwe verbind aan die nasiebou-gedagte in Suid-Afrika, besef egter nie dat eersgenoemde verskynsel swanger is aan ‘n waardekrisis wat nog verder bydra tot ons eie waarde- en identiteitskrisis nie. Soos iemand gesê het, “die mark ken die prys van alles, maar die waarde van niks”. Globalisering word ook voortgedryf deur tegnologiese ontwikkeling, wat verder bydra tot die verval van die “meesterverhaal” wat tans aan ons voorgehou word. Die filosoof Jean-François Lyotard het reeds in 1979 apropos van hierdie veranderde tegnologiese werklikheid opgemerk dat die “groot verhaal” sy legitimiteit verloor het.
“Dans la société et la culture contemporaine, société post-industrielle, culture postmoderne, la question de la légitimation du savoir se pose en d’autres termes. Le grand récit a perdu sa crédibilité, quel que soit le mode d’unification qui lui est assigné: récit spéculatif, récit de l’emancipation.
On peut voir dans ce déclin des récits un effet de l’essor des techniques et des technologies à partir de la deuxième guerre mondiale, qui a déplacé l’accent sur les moyens de l’action plutôt que sur ses fins; ou bien celui du redéploiment du capitalisme libéral avancé après son repli sous la protection du keynésisme pendant les années 1930-1960, renouveau qui a éliminé l’alternative communiste et qui a valorisé la jouissance iniduelle des biens et des services.”[3]
[In die eietydse maatskappy en kultuur, ‘n postindustriële maatskappy met ‘n postmoderne kultuur, word die kwessie van die legitimering van kennis in ander terme gestel. Die groot verhaal het sy geloofwaardigheid verloor, ogeag die herenigingsmodus wat daaraan toegeskryf word: hetsy ‘n spekulatiewe verhaal [van nuwe ontdekkings en uitvindings], hetsy ‘n bevrydingsverhaal [van die werkersklas of die volk.
‘n Mens kan in hierdie afgang van die verhale die uitwerking sien van die opbloei van beide tegnieke en tegnolgieë sedert die tweede wêreldoorlog, wat die aksent geplaas het op handelingsmiddele eerder as op hul doeleindes; of dan andersins die herontplooiing van gevorderde liberale kapitalisme ná sy terugslag onder die beskerming van die keyenesianisme gedurende die jare 1930-1960, ‘n vernuwing wat die kommunistiese alternatief geëlimineer het et wat die iniduele genieting van goedere en dienste vooropgestel het.]
Ek dink nie daar is enige twyfel dat, onder die huidige bewind in Suid-Afrika, ons besig is om as’t ware die “groot verhaal van bevryding” op krukke in die geskiedenis te probeer staanmaak nie. Die reste van ‘n anachronistiese marxisme en veral vulgêr-marxisme is te bespeur in die aandrang op eenheid en “grootte”, oftewel dit wat die Franse “grandeur” noem. ‘n Mens sou selfs kon praat van grootheidswaan, of “folie de grandeur”, wat veral in Afrika ‘n manier is waarop die gekoloniseerde sy vergeefse en patetiese “klein groot verhaal” aan die wêreld probeer opdring. Pan-Afrikanisme en die meer resente formulering as “Afrika-renaissance” ressorteer eweneens onder hierdie argaïese neiging to die “groot” of “meesterverhaal”.
Wat behoort ons reaksie te wees op die groot mono, monomanie, monokultuur, monopolie, monopolis, monomorfisme, mono-etnisiteit, monolinguïsme, monostoria? Soos elke goeie skrywer of denker sou sê: bou jou verhaal, vertel jou storie. Ons funksie is om op elke denkbare manier, hetsy polities, literêr, filosofies, ekonomies, noem maar op, by te voeg, aan te las, by ons verhaal, of liewer verhale, meervoud. Die krisis van Suid-Afrikanerskap is op ‘n manier ‘n geleentheid om tot narratiewe aksie oor te gaan. Te midde van die ruïnes van Suid-Afrikanerskap gaan nuwe identiteitsvorme soos onkruid spruit en vermeerder.
Indien ekslusiwiteit, die uitsluiting van die ander verhaal, tans die onderskeidende kenmerk is van ‘n sekere Engelse etnos, is dit nodig om Afrikaans die segstaal en medium van ‘n nie-eksklusiewe, nie-chauvinistiese, nie-rassistiese verhaal te maak wat sorgsaam omgaan met ‘n Suid-Afrikaanse veelheid. Ons behoort die bonte mengelmoes te verheerlik en te vier, teenoor die monotone en eenvormige. Ons moet onsself herskep en heruitvind, en in die proses gestalte gee aan ‘n nuwe Suid-Afrikanerskap. Dit moet geen nasionaliteit of nasionalisme definieer nie, maar eerder ‘n “viering van verskil of andersheid.” Ons verskil van die res, ons is anders, ons is selfs uniek; dít is die inhoud van ons Suid-Afrikanerskap.
In die literêre teorie van Roland Barthes, figureer “die nuwe” uiteindelik as enigste waarde. Plinius het beweer dat “ex Africa semper aliquid novi”, terwyl ons kontinent dit kwalik meer gestand doen. In ons literêre, historiese en toenemend ook filosofiese tradisie, is die idee van vernuwing reeds so sterk gewortel dat die perd met ‘n ligte spoorprik in die lies as’t ware die staldeur gaan afspring. Laat ons die eksklusiewe stamme te lyf gaan met die nuwe, ons skerpste assegaai.
- Darbon, Dominique. Ethnicité et nation en Afrique du Sud – imageries et enjeux
sociaux. Parys: Editions Karthala, 1995, bl. 119.
- Sien Faure, Véronique in Darbon, op.cit.,
“Ethnicité: la fin du huis-clos”, bll. 151-179.
- Lyotard, Jean-François. La condition
postmoderne. Parys: Editions de Minuit, 1979, bl.63.
Boontoe
|