chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Dan Roodt

Nasiebou:  ‘n Europese les

“Meerderheidsregering sal geld – ons hoop net dat ons dit nooit sal hoef te gebruik nie.”

- Nelson Mandela, November 1993

In die konstante gehamer op “nasiebou” in die huidige Suid-Afrika, is daar iets van ‘n ongemak te bespeur.  Juis omdat Suid-Afrika so ‘n mengelmoes van tale, groepe en klasse is, word die nasiebou-ideaal telkens aan ons voorgehou om ‘n moontlike skeuring in die samelewing te besweer.

Om dit alles nog meer paradoksaal te maak, is ons huidige president, Thabo Mbeki, bekend vir sy diktum, “Ek is ‘n Afrikaan,” waarmee hy wil sê dat hy in die eerste plaas ‘n burger van die kontinent is, eerder as ‘n Suid-Afrikaner in merg en been.  In sy idees, ook dié van die Afrika-renaissance, identifiseer hy hom eweneens sterk met die sogenaamde Afrosentrisme wat onder swartmense in Amerika ontstaan het.  Heel dikwels haal mnr. Mbeki aan uit die geskrifte van die grondlegger van swart nasionalisme in die VSA, W.E.B. Dubois.  Dubois was eintlik van gemengde afkoms, maar onder die “een-druppel-reël” wat in die Suide van Amerika gegeld het, is hy as swart beskou, en het hy hom met ywer in die stryd om swart bevryding in Amerika gewerp.

Dit is altyd apropos om op buitelandse invloede in Suid-Afrika te wys.  Die liberaal-demokratiese staatsvorm wat ons in die vroeë jare negentig aangeneem het, is net so ingevoer vanuit die Weste, veral vanuit Engeland.  Dit is gebaseer op meerderheidsregering, die sogenaamde “wenner vat alles”-beginsel.  Bogaande aanhaling uit Patti Waldmeir se boek, Anatomy of a miracle, is uiters insiggewend, omdat Mandela hier sy vrees uitspreek dat die meerderheid dalk op ‘n dag alle mag tot sy beskikking, militêr, administratief, polities, beheer oor die media en openbare maatskappye, ens., sal moet gebruik.  Met ander woorde, die implisiete aanname van mnr. Mandela is dat die meerderheid altyd welwillend sal wees en dit nie sal doen nie.

In ons groeiende intellektuele isolasionisme, met veral vreemde tale wat nie meer op Suid-Afrikaanse skole- selfs die universiteite! -  bestudeer word nie, nog minder die Europese geskiedenis, kan ons nie insien hoe ons geskiedenis inskakel by die res van die wêreld nie, en al die toevallige gebeurtenisse wat bepaal het dat ons vandag hier aan die suidpunt van Afrika verkeer en Afrikaans, en toenemend meer dikwels, Engels praat nie.

In die wedloop om kolonies het die Franse baie foute begaan wat deur Engeland uitgebuit is om ‘n wêreldmoondheid te word.  Nederland het gebloei in die sewentiende eeu omdat Willem van Oranje die versiendheid gehad het om te weet dat die land die Spaanse juk van hom sal moet afskud in ‘n bloedige stryd.  In 1609 het Spanje ‘n wapenstilstand afgekondig en effektiewelik nooit weer beheer oor die noordelike Lae Lande verkry nie.

Omdat ek sopas met intense fassinasie ongeveer ‘n duisend jaar se Europese geskiedenis weer opgelees het, kan ek vandag hier onomwonde sê dat geen nasie al ooit in die geskiedenis by wyse van ‘n dekreet of ‘n Kodesa tot stand gekom het nie.  Tot en met die middel van die twintigste eeu het die Europese volke byna konstant oorlog gemaak.  Veral die sewentiende eeu, toe Van Riebeeck afgevaardig is Kaap toe, was een lang geveg op die Europese Vasteland.

Die kwelling wat by my opgekom het, is die volgende:  miskien het die Europeërs vandag vrede en voorspoed juis omdat al hul geskille reeds op die slagveld besleg is.  Oor en oor, eeuelank, het Frankryk, die Oostenrykse Ryk, Spanje en meer onlangs Pruise en die verenigde Duitsland en Italië oor dieselfde grondgebiede oorlog gemaak:  Elsas en Lotaringe, België, Tsjeggo-Slowakye, ens.  Dit was deel van Engeland se sekuriteitsdoktrine dat geen vastelandse moondheid ooit België en Nederland moes beheer nie, anders sou so ‘n land Engeland direk kon bedreig.  Daarom het hulle gereeld ingespring as een of ander vastelandse ryk te naby aan die Mou gekom het.  Sonder Engeland sou die Lae Lande beslis ondergegaan en verdwyn het as nasionale entiteite.

Wat het dit nou alles met Suid-Afrika in die jaar 2000 te make?  Na my mening, omtrent alles.  Mnr. Mbeki se idee van die Afrika-renaissance is gebaseer op ou imperiale gedagtes van die Europeërs.  Rhodes wou insgelyks Afrika verenig.  Suid-Afrika is egter gebore uit die Boer-Britstryd en die lyding van die Anglo-Boereoorlog het gesorg vir die entente gedurende die twintigste eeu toe Afrikaners polities dominant was, en die Engelssprekendes die ekonomie bestuur het.  Soos ons weet, het swartmense eers onlangs ‘n politieke rol in Suid-Afrika begin speel.  Die rol van veral die SAKP is egter eweneens deel van die Boer-Britstryd, omdat ‘n beduidende deel van die Engelse intelligentsia vroeg reeds besef het dat hulle skaakmat gestel is onder die ou orde en dat die ou Milner-ideaal van ‘n verenigde Suid-Afrika met ‘n Britse kultuur net haalbaar was op die rug van die swart meerderheid.  Sedert Kardinaal Richelieu weet ons dat ideologie, of dit nou Katolisisme, Protestantisme, Kommunisme of Demokratisme is, gewoonlik net ‘n verskoning is om jou eintlike belange te bevorder, hetsy territoriaal, materieel of kultureel.

Die Europese geskiedenis is vol van wonderlike ooreenkomste en konvensies wat state opgestel het, en wat enkele jare daarna verbreek is as Pruise of Frankryk of wie ookal onverwags ‘n deel van ‘n ander land gaan beset het.  Wat ek hiermee wil aandui, is:  die soort verandering wat ons in 1992 beleef het, word gewoonlik voorafgegaan deur ‘n geweldige oorlog.  Eers wanneer die deelnemers al hul hulpbronne uitgeput het, die bevolking honger ly, die een kant se weermag verslaan is en weggedryf is, kon daar werklik onderhandel word.  In ons geval egter, is dit bekend dat blankes en veral Afrikaners die mag op ‘n skinkbord oorhandig het sonder om te veg, om morele en ander redes.  (Die grensoorlog tel myns insiens nie as ‘n werklike oorlog nie, omdat dit nie op ons grondgebied gevoer is nie, en omdat dit deel was van ‘n groter Oos-Weskonflik tydens die Koue Oorlog.)  Eerder as wat dit vrede bring ná gevegte, kan dit miskien bloot die swak onderhandelde skikking wees wat uiteindelik verwoestende konflik tot gevolg kan hê.  Wat Afrikaners betref, kom nasiebou eintlik neer op die “deelword van die meerderheid” waarvan mnr. Harald Pakendorf praat; uit die Europese geskiedenis blyk dit egter dat betreklik min etniese groepe “opgelos” is in die verteenwoordigers van ‘n groter ryk, viz. die Vlaminge wat honderde jare deur die Spanjaarde en die Franse regeer is, en vandag hul eie parlement het in ‘n losserwordende Belgiese eenheid.

Suid-Afrika het voorheen as ‘n nasionale eenheid gefunksioneer nie omdat dit demokraties was nie, maar juis as oligargie.  Die konsentrasie van mag in die hande van ‘n redelik repressiewe minderheid (hoewel die graad van repressie vandag mateloos oordryf word) het aan die land ‘n samehang en ‘n struktuur gegee wat nêrens elders in sub-Sahara-Afrika bestaan het nie.  Selfs die tuislandbeleid was ‘n vorm van struktuurskepping in die sin dat dit administrasies opgerig het en landelike ontwikkeling gestimuleer het daar waar dit om gewone ekonomiese redes nie sou gebeur het nie.  Dit is waarom ons kon ontwikkel en daar op ‘n stadium in die sestigerjare geweldige voorspoed in Suid-Afrika geskep is.  Apartheid was ‘n oormaat staatstrukture wat kunsmatig geskep is.  Die geskiedenis van die res van Afrika noord van die Limpopo in dieselfde tyd is die verval van state, van staatlose maatskappye wat in chaos, burgeroorlog en volksmoord versink, die “hopelose kontinent” soos die Britse Economist dit onlangs genoem het.

Vandag is ons in die situasie waar die bevolking, of dan lede van die meerderheid, oor die afgelope veertig jaar geweldig toegeneem het.  Dieselfde faktore wat apartheid laat faal het, soos die demografie, werkloosheid, ongeletterdheid, gaan ook die huidige stelsel in duie laat stort.   Daar is geen sprake dat vinnige ekonomiese groei ons uit ons penarie gaan red nie, want soos ‘n bekende ekonoom dit onlangs gestel het:  “ons land beskik op geen gebied wat jy maar aan kan dink, oor ‘n mededingende voordeel nie, behalwe miskien in toerisme – en ons maak ons toeriste dood.”  Soos in ou Europa met sy veglustige prinse en adellikes wat met afguns na mekaar se grondgebied gekyk het, het ons vandag die situasie waar groepe mense – in die ou taal “bevolkingsgroepe” - met afguns na mekaar se bates kyk.

Dit waarvoor mnr. Mandela gevrees het, naamlik dat die meerderheid ooit sy nuutgevonde mag sou moes gebruik of misbruik, lyk dus onvermydelik.  Die bates van Suid-Afrika – wat kwalik gaan vermeerder – sal moet herverdeel word totdat die meerderheid dink dat dit regverdig verdeel is.  Die probleem met die menslike aptyt is egter dat dit nie sommer gestil word nie.  Napoleon was die mees briljante veggeneraal in die moderne geskiedenis, maar het weens sy vraatsug alles verloor wat hy aanvanklik verower het.

‘n Ander faktor in die geskiedenis is dit wat ek ‘n soort historiese onbewuste sou noem.  Ná die Eerste Wêreldoorlog het Frankryk vir Duitsland laat betaal vir sy neerlaag in die Franko-Pruisiese oorlog van 1870.  Dit het die tafel gedek vir die Tweede Wêreldoorlog wat nog vars in die Europeërs se geheue is.  Dit is waarom Europeërs byna met fanatisme hul ekonomiese eenwording nastreef:  om nog ‘n Duits-Franse konfrontasie te voorkom.  Afrikaners het in die twintigste eeu met mening hulself vorentoe gedruk, op alle gebiede, juis omdat hulle verneder is in ‘n verwoestende oorlog van 1899-1902.  Die ou veldslae tussen Boer, Brit, Xhosa en Zoeloe wat in die negentiende eeu gevoer is, kom spook vandag weer by ons, want diegene wat hulle grotendeels verloor het, gaan probeer om hul regmatige - of onregmatige - aandeel terug te kry.

Hopelik is ek verkeerd en het ek maar net te veel Europese veldslae op skrif beleef, maar of Suid-Afrika oor die volgende vyftig jaar ‘n gewelddadige konfrontasie gaan vryspring, weet ek nie.  Europese nasies is gevorm uit mense wat eeuelank sy aan sy teen invallers geveg het.  Verdeelde groepe en prinsdomme is òf met geweld saamgegooi òf het begin saamstaan om te oorleef.  Die toets vir die bestaan van ‘n Suid-Afrikaanse nasie na die huidige model gaan kom wanneer die land betrek word by een van Afrika se onophoudelike burgeroorloë, soos byvoorbeeld dié in die Kongo.  Onlangs het ‘n leedvermakerige konsultant uitgeroep dat niemand bereid is om vir Afrikaans te sterf nie, daarom is die taalstryd gedoem.  Dit mag wees, maar ek dink nog minder is enige Afrikaner bereid om die wapen op te neem vir die Afrika-renaissance en die Afrika-eenheid waarvan kolonel Khaddafi ook praat.  “Ons vir jou Suid-Afrika” staan nog op die sarkofaag in die Voortrekkermonument, maar niemand sou dit ernstig wou toepas op ‘n ANC-beheerde land waar swart MK-luitenante hul Afrikanerbevelvoerders in die rug skiet in vredestyd nie.

Die ou blankedom – dit wat Herman Giliomee die “rampspoedige alliansie tussen Afrikaner en Engelssprekende” genoem het – is besig om te vergaan, omdat dit toenemend duidelik is dat die taalbelange van die twee groepe heeltemal verskillend deur die huidige regering behandel word.  Ook tref regstellende aksie Afrikaners baie meer direk omdat hulle na gelang van die ou Boer-Brit-entente vir ‘n groot deel in die staat en openbare sektor gekonsentreer was.

Die groepsgevoel onder Afrikaners, en veral onder bruin Afrikaanssprekendes, was miskien nog nooit so swak as vandag nie.  Maar nou ja, ná hul neerlaag teen die Pruise in die 1870s was die Franse eweneens verdeeld en vol verwyte, totdat Gambetta en ander hul weer begin inspireer het aan die einde van die 1880s.  In ‘n sekere sin is elke Afrikaner deur die ANC oorwin tydens die “bevryding”, of hy nou ‘n ondersteuner van die NP was of nie, eenvoudig omdat hy saam met die res van sy taalgenote opgemaal sal moet word om gestalte te gee aan eenwording.  Globalisering ondermyn sekerlik die identiteit van die Afrikaanssprekende, maar so ook die ANC se nasiebouprojek.

Die blanko tjek wat in 1992 uitgeskryf is, mag in die toekoms blyk die wonderwerk te gewees het waarvan die media praat.  Dog indien toekomstige Suid-Afrikaanse presidente minder welwillend begin optree en die staatsmag ten volle teen minderheidsgroepe begin aanwend, gaan die terme “stryd” en “veg” wat vandag so modieus rondgeslinger word, veral in ANC-kringe, ‘n baie meer letterlike betekenis begin verkry.  Soos Koning Gustavus Adolphus van Swede of Frederik II van Pruise aan ons getoon het, is dit nie altyd die getalryke nasies wat die mees gemotiveerde manskappe in die veld kan stoot nie.

Diegene wat Suid-Afrika beskou as die laaste kolonie wat nou sy koloniale beheer verloor, is verkeerd.  Suid-Afrikaanse blankes, en veral Afrikaners, het oor die algemeen geen ander heenkome nie, en daar is geen land verder suid om heen te trek na die uhuru nie.  In die geografiese sin, is ons beslis Afrikane.  Soos die Europeërs in vorige eeue sal ons moet uitvind wie hoort in watter hoekie in hierdie deel van die wêreld.  Dit mag wees dat die Groot Trek ‘n fout was, en dat ons almal in die Wes-Kaap behoort te gebly het saam met ons taalgenote waar ons veilig kon wees.

Behalwe die ruimtelike integrasie van etniese groepe wat weens mynbou en industrialisering gebeur het, berus Suid-Afrikaanse nasiebou op net twee beginsels:  die welwillendheid van die meerderheid ná mnr. Mandela se uitspraak, en die lafhartigheid van die minderheid.  Daar was tye in Europa toe politieke eenhede op dié beginsel geskoei was, maar dit was voor demokrasie mode geword het en, soos gesê, het verbasend klein volkies soms skielik onder die groot imperiale kombers uitgespring en in briljante veldslae vir hulle sommer baie territoriale ruimte afgepen.

Daar is vandag, te midde van vrede en relatiewe voorspoed in Suid-Afrika, soveel spanninge en vrese onder die oppervlak dat ‘n mens instinktief weet dat die land geen beduidende krisis die hoof sal kan bied nie.  In die geval van ‘n ekonomiese krisis sal die huidige wanorde rondom misdaad en die wanfunksionering van die regstelsel so toeneem dat die staat self sal begin wankel.  In daardie geval sal daar opportuniste na vore tree wat die land sal herskik volgens ‘n nuwe logika waarby die ou Suid-Afrika en die oorblyfsels van die Boer-Britstryd nie meer ‘n rol sal speel nie.  In ‘n globale wêreld het grond en grondgebied nie meer die waarde wat dit in vervloeë dae gehad het nie.  Soewereiniteit, en die mag om jou eie belastingvlakke te bepaal, jou eie taalbeleid, jou eie veiligheid en ekonomiese doelwitte, behou egter steeds die aantrekkingskrag waarvoor mense deur die geskiedenis hul lewens opgeoffer het.

‘n Besoekende Brit het nou onlangs min of meer dieselfde vrees uitgespreek toe hy gesê het:  “julle het vandag misdaad en onstabiliteit omdat julle nog nie deurgemaak het wat ons deurgemaak het nie”.  As ek so deur Johannesburg se voorstede ry, sien ek die tekens van ‘n Middeleeuse gebrek aan staatsbeskerming:  hoë mure en privaatleërs wat klein nedersettings moet beskerm.  Die idee dat die SA geskiedenis onbesleg is, en dat ons nog op die harde manier gaan leer wat nasiebou regtig behels, is genoeg om my te laat wakker lê in hierdie Europees-koue nagte.

Boontoe