chronologie

 menings

 opstelle

 poësie

 satire

 aksies

 skrywers

 abba

 skakels

 briewe

 uit-BEELD

 uit-RAPPORT

 tuis

 

Dan Roodt

Die ANC se nostalgie vir rewolusie

"Die toestand van Suid-Afrika se swart werkers, die plek wat aan hulle toegeken is deur die kapitalistiese stand, vra dat ons ons reg op rewolusie moet opeis."
- Thabo Mbeki

Tydens die ANC se onlangse Partykonferensie in Port Elisabeth is die term "nasionale demokratiese rewolusie" gebruik om dié party se agenda te beskryf. Met mnr. Trevor Manuel as minister van finansies en die privatisering van Telkom, Eskom, Denel en Transnet op die horison, is dit maklik om te vergeet dat die ANC en sy alliansiegenoot, die SAKP, vir 'n lang tyd die rewolusie en die klassestryd as't ware saam met hul moedersmelk ingekry het.

Dit is ook geen toeval dat Braam Fischer, toentertydse leier van die SAKP, destyds in 1964 vir die jong Thabo Mbeki eervol vermeld het as iemand wat die grondbeginsels van die marxisme goed begryp het, en dit nog ver sou bring nie. Hoe ver, sou Braam Fischer natuurlik toe nie kon vermoed nie, want vandag staan mnr. Mbeki aan die hoof van die gehate kapitalistiese staat en gaan hy binnekort R300 miljoen se meerwaarde wat van die werkers gesteel is, aanwend vir 'n nuwe luukse privaatstraler.

Die ANC se bekering tot kapitalisme het myns insiens nie die rewolusionêre "onderbou" - lg. synde 'n speelse verwysing na Karl Marx se term - van die party verander nie. In baie opsigte is daar steeds 'n nostalgie vir die rewolusie by dié party en veral by sy leier werksaam wat 'n mens dom sou wees om te ignoreer.

Mnr. Mbeki se rewolusionêre nostalgie het hom meer onlangs veral op wetenskaplike gebied gemanifesteer waar hy die heersende mediese orde uitgedaag het, en in die woorde van sy woordvoerder, mnr. Parks Mankahlana, 'n verklaring deur 5 000 internasionale wetenskaplikes "asblik toe" gestuur het. Hierdeur wil mnr. Mbeki vir ons sê dat die mediese wetenskap wat veral deur die Westerse wêreld oorheers word, en boonop deur groot multinasionale ondernemings soos Merck of Glaxo-Welcome, behoort tot die orde wat werkers uitbuit. Daarom moet ons die verklarings van hierdie ondernemings en die wetenskaplikes wat deur hulle befonds word, met 'n knippie sout neem.

In sy boek Africa - the time has come, gebruik mnr. Mbeki die gunstelingwoord van die ou Sowjetbewind om die kapitalistiese stand te benoem: hulle is die parasiete wat teer op die werkers. Die werkers, daarenteen, is die "produsenteklas" wat alle rykdom konstrueer met hulle arbeid. Daarom sê mnr. Mbeki die volgende oor 'n toekomstige Suid-Afrika waarin die werkers sal heers:

· "Ons is die produsente van rykdom.
· Ons produseer hierdie rykdom tot ons eie voordeel om deur onsself, die    produsente, toegeëien te word.
· Die doel van hierdie produksie sal wees die toenemende bevrediging van die     materiële en geestelike behoeftes van die volk.
· Ons sal die res van die maatskappy en maatskaplike aktiwiteit so inrig, in opvoeding en kultuur, in die regsdomein, op militêre gebied, in ons internasionale verhoudinge, en so meer, om met hierdie doeleindes ooreen te stem." (Africa - the time has come, bl. 22.)

Hierdie doktrinêre uitspraak deur mnr. Mbeki is weliswaar vir die eerste keer in 1978 te Ottawa, Kanada, gelewer, dog hy het verkies om dit so onlangs as 1998 te publiseer, waaruit ons kan aflei dat die rewolusie - ná die konsepsie van Marx en Engels - steeds vir hom geldigheid besit.

Enkele weke gelede het mnr. Mbeki tydens die Oliver Tambo-gedenklesing weereens teruggeval op die "Afrika-rewolusie" om die spesiale taak van die Afrika-intellektueel te verduidelik. Volgens hom bestaan daar die gevaar dat die Afrika-intellektueel ná "nasionale bevryding" kan verval in 'n klasse-alliansie met ander kleinburgerlikes (lees: die blanke middelklas) wat aspireer na persoonlike rykdom, eie sosiale status, en someer. So 'n intellektueel sou hom hierdeur definieer as 'n "hervormer" eerder as 'n "rewolusionêr", wat dan die tweede fase van die rewolusie, d.i. "die fundamentele sosiale transformasie" van Suid-Afrika, in die gevaar sou stel. Daarom moet die oproep tot rewolusie herhaal word en die kleinburgerlike klasse-alliansies vermy word.

Binne die klassieke denke van die SAKP - en mnr. Mbeki verskil hierin geensins van hulle nie - stem klas en ras in Suid-Afrika ooreen. Trouens, in Africa - the time has come, praat mnr.Mbeki asof hy 'n werker is bloot omdat hy swart is. Die konseptuele probleem van die bestaan van blanke werkers, veral Afrikaners, is deur beide die SAKP en mnr. Mbeki opgelos met behulp van Lenin se frase "arbeidsaristokrasie". Die blanke werkers is dus geen ware lede van die proletariaat nie, maar van 'n arbeidsaristokrasie wat hulle bondgenote van die bourgeoisie of burgery maak.

Interessant is nou dat mnr. Mbeki in die Oliver Tambo-lesing van 11 Augustus waar hy vir Tony Leon 'n "wit politikus" noem, die nie-swart deel van die Suid-Afrikaanse bevoking tipeer as 'n "uitlanderheersersklas" (foreign ruling class). Die volle aanhaling lui as volg:

"In ons situasie, as gevolg van die kolonialisme van 'n spesiale tipe, het die oorwinning van die nasionale bevrydingstryd nie gelei tot die vertrek van die uitlanderheersersklas nie."

Die Engels lees só: In our situation, because of the colonialism of a special type, the victory of the national liberation struggle did not result in the departure of the foreign ruling class.

Diegene wat die huidige geding rondom ras en rassisme in isolasie beskou, begryp eenvoudig nie die onderliggende rewolusionêre dinamiek van mnr. Mbeki en die ANC se denke nie. Mnr. Mbeki se verdeling tussen die "twee nasies" waarvan hy gereeld praat (nou weer op 11 deser) verteenwoordig nie net 'n rasseverdeling nie, maar ook 'n klasseonderskeid waar die swart werkersklas die rewolusionêre groep is, en die blanke groep die "uitlanderheersersklas". Onder ideale omstandighede sou die uitlanderheersersklas reeds vertrek het, maar vanweë die "kolonialisme van 'n spesiale tipe" (weereens 'n baie ou SAKP-begrip) wat Afrikaners en ander blankes skynbaar inheems gemaak het, is hulle dus moeiliker om van ontslae te raak.

Ras is dus bloot 'n soort kapstok om die rewolusionêre beweging aan te hang. 'n Mens kan die stryd teen sogenaamde "rassisme" sien as deel van die "herstel van die trots, die identiteit en die selfvertroue van die Afrika-meerderheid" (in die Tambo-gedenklesing) wat mnr. Mbeki ook hartstogtelik bepleit. Vandaar die belang van kwessies soos subliminale rassisme, die erkenning van Afrikakultuur, -wetenskap, -kuns, en -tegnologie op gelyke voet met dié van die Weste, en om byvoorbeeld 'n Afrika-oplossing te vind vir VIGS. Om dus die gefundeerdheid van Westerse denke oor VIGS te aanvaar, teenoor ander teorieë, is opsigself rassisties want dit ontken die Afrikaan se vermoë om self oor VIGS te triomfeer sonder die Westerse manier van dink.

Maar die herstel van swart of Afrikatrots is nie die einddoel nie. Dit is slegs die middel tot die uiteindelike rewolusie, asook 'n soort voorspel tot die rewolusie, wat in mnr. Mbeki se woorde 'n "kwalitatief nuwe" tydvak moet inlui.

In Afrikaans is daar die uitdrukking, "'n jakkals verhaar maar hy verander nie van kleur nie," iets wat 'n mens by uitstek op politieke partye maar ook op allerlei ander organisasies sou kon toepas. Elke party of organisasie beskik oor 'n identiteit en kultuur wat oor baie jare gevorm is, en dit is baie moeilik om dit te verander. Enige menslike hulpbronnekonsultant weet dit, en as 'n mens na die huidige regering se reeks beleide kyk, is dit ook duidelik dat rewolusionêre omvorming of "transformasie" steeds die kern vorm van ANC-denke. Trouens, die term "transformasie" is lank voor die huidige bewind dit gepopulariseer het, in Suid-Afrika deur ons marxistiese denkers gebruik as 'n eufemisme vir "rewolusie".

Terwyl die ANC onder internasionale druk (en ná die vir hom traumatiese induiestorting van die ou Oosbloklande) die ekonomiese rewolusie met gepaardgaande nasionalisering laat vaar het, is dit asof die rewolusionêre ywer nou op ander gebiede meer intens werksaam is as wat andersins die geval sou gewees het. Die terugkeer na die verlore paradys, om die horlosie terug te draai na die jaar nul - wat uiteindelik die droom is van elke ware rewolusionêr - kom telkemale na vore.

Die idee dat Suid-Afrika 'n "nuwe nasie" nodig het, wat onderliggend is aan die regering se nasiebouprojek, is natuurlik 'n ander voor-die-handliggende rewolusionêre impuls. Die modus vivendi wat Suid-Afrikaners uit diverse kulture en agtergronde oor eeue heen gevind het waarin ons in relatiewe vrede en voorspoed met mekaar saamleef, is fundamenteel verkeerd en "bederf". Daarom moet 'n "nuwe nasie" na vore kom wat gesuiwer sal wees van die "apartheidserfenis". (Apartheid self het sulke mitiese afmetings aangeneem dat ek soms wonder hoe veertig miljoen Suid-Afrikaners lewend uit die hel gekom het.)

In een van Etienne Leroux se interessantste romans, met die titel 18-44, skryf hy, "Die soldaat van die staat het sy naam met swier geteken. En die nuwe lewe het begin." Ná ons "onderhandelde rewolusie" à la Alistair Sparks van 1992, het die gebrek aan 'n militêre oorwinning deur die ANC dit moelik gemaak om die "nuwe lewe" onmiddellik te laat begin soos dit die geval is tydens 'n klassieke rewolusie soos die Franse van 1789 of die Russiese van Oktober 1917. Die Franse rewolusionêre was so begeesterd met die idee van 'n "nuwe lewe" dat hulle letterlik van jaar nul af begin tel het, die Christelike kalender uitgegooi het en vir ten minste 'n dekade of twee in terme van die nuwe rewolusionêre kalender gewerk het. In ons geval, vanweë die "wonderwerk'' van 'n vreedsame oorgang, het die "nuwe lewe" vir 'n tyd uitgebly en is die rewolusionêre proses uitgestel en verplaas na die gebiede wat mnr. Mbeki hierbo noem, naamlik die "opvoeding en kultuur, in die regsdomein, op militêre gebied, in ons internasionale verhoudinge, en so meer, om met hierdie [rewolusionêre] doeleindes ooreen te stem."

Op onderwysgebied het ons die heruitvinding van die skool gehad soos benoem deur "Kurrikulum 2005", inderdaad 'n kurrikulum van die toekoms - met funeste gevolge vir ons kinders en die matriekslaagsyfer. Afrikaans en die Afrikaanse kultuur wat so nou verweef is met die voorgeskiedenis van Suid-Afrika moes plekmaak vir "nuwe Engels", 'n eienaardige herontplooiing van ou koloniale ideale van 'n eentalige nasionale kultuur wat moes inskakel by dié van Engeland. Iemand wat in die Gautengse Onderwysminister, Mary Metcalfe, se kantoor gewerk het, het onlangs teenoor my genoem dat al die onderwysraadgewers afkomstig was uit vorige kolonies van Engeland soos Australië, Nieu-Seeland en Kanada, wat blindweg geglo het, "Engels is beter," ongeag die praktiese uitvoerbaarheid of plaaslike omstandighede.

Op kultuurgebied is ons bekend met die toemaak van die Staatsteater en simfonieorkeste, die vyandigheid teenoor "Eurosentriese kuns", die verguising van ons argitektoniese erfenis soos dit tans in Johannesburg geskied met die Blank____-tentoonstelling waar subtiele en kunssinnige argitekte soos Gawie Fagan of Willie Meyer as nazi's en fasciste uitgekryt word, presies soos dit in die ou Sowjet-Unie gedoen is.

Voeg hierby Lenin se bydrae tot die leer van rewolusie, wat veral die rol van die Party priviligeer as "voorhoede van die rewolusie" en dit is duidelik dat, sy skynbare instemming tot kapitalisme ten spyt, die ANC-jakkals nog steeds rooierig van kleur is. Want as lede van die Party tydens "transformasie" alle instellings inneem, soos die staatsdiens, die weermag, die sentrale bank, die regbank asook die grondwetlike hof, die besture van staatsmaatskappye en groot privaatondernemings, die staatsbeheerde radio en televisie, en dit agterna "inrig" ter wille van die "nuwe lewe" met sy insgelyks nuwe waardes en maniere van doen, dan het ons ook maar Marx en Lenin se uitgestippelde paadjie geloop in 'n "nasionalisering met ander middele". Ongeag mnr. Manuel se konserwatiewe fiskale en monetêre beleid.

Boontoe