|
|
||
| chronologie
|
Dan Roodt Die toekoms van Afrikaans Referaat
gelewer by die gelyknamige bespreking, gereël deur die S.A.
Akademie vir Wetenskap en Kuns, aan die R.A.U. op Woensdag 13
September 2000. Ek gaan nou baie onbeskof wees en glad nie oor die onderwerp praat nie. Behalwe om te sê dat as ons almal gedink het Afrikaans gaan ‘n blink toekoms tegemoet, dan was daar nie ‘n Stigting vir Afrikaans, ‘n Tabema, ‘n Taalsekretariaat, ‘n Groep van 63, ‘n Vrydaggroep en les bes, ‘n Praag nie (Indien ek iemand uitgelaat het, moet u dit asseblief nie op uself betrek nie, maar op my soms argelose omgang met name). Indien ons rustig geslaap het oor die toekoms van Afrikaans sou ons seker nie vanaand hier vergader het met so ‘n onderwerp onder bespreking nie. Trouens, die grote Naspers het ‘n kommunikasiekonsultant by name mnr. Bertie du Plessis aangestel wat, na sy oorwoë mening, bevind het dat ons toekoms onvermydelik Engels gaan wees, en dat ons enigste hoop is om Afrikaans te behou as ‘n mindere etniese kenteken, ‘n soort lapelwapen wat jy kan aanspeld om te sê, “ek was daar”, dit is my oorsprong, en ek praat hoogstens deesdae ‘n kombuistaal of komtuistaal of sitkamerdialek of wat mens dit ookal wil noem. Ons is almal in meerdere of minderde mate bewus van wat aangaan in die skole, in besighede, aan universiteite, op die TV, die stroom emigrante, ens., ens. En natuurlik moet daardie bewustheid verhoog word en moet dit haarfyn bestudeer en ontleed word sodat ons op hoogte kan bly van die proses waarin Afrikaans hom bevind. Maar ek sou sê, tensy omstandighede binnekort drasties verander, is daar net een moontlike konsensus, en dit is: Afrikaans gaan sy gat sien. En ‘n mens kan byvoeg, in daardie taal wat ons almal gepraat het in die tyd toe daar nog enkelmedium-Afrikaanse skole was: sonder ‘n spieël. Afrikaans gaan sy gat sien, en al word ons nou hoe die bliksem in saam met Boetman, dit is ‘n feit soos ‘n koei. U kan sien dat ek hier nou sommer ‘n klomp boerse metafore gebruik, en dit is nie my gewone styl nie, maar by gebrek aan iets beters, wil ek nou maar op hierdie trant voortgaan. En kom ons vergeet nou vir ‘n oomblik van Afrikaans, en gesels liewer ‘n bietjie oor ‘n paar ander dinge, soos die sielkunde, die filosofie, die geskiedenis. Sommer so “padlangs”, om nou nog ‘n eenvoudige uitdrukking te gebruik. Die idee van ‘n pad, of paaie, om op reis te wees, het my nog altyd gefassineer. Daar is iets omtrent die mense wat Afrikaans praat wat ook met reis en vertrek en kruispaaie te make het. Hulle het uit alle windrigtings gekom: sommige uit Europa, uit Holland, Frankryk, Duitsland, Skotland, Engeland, ander weer uit die Ooste, uit Maleisië, Mauritius, Indonesië, tot onlangs was daar baie Indiër-Suid-Afrikaners met Afrikaans as huistaal, en dan, natuurlik, het baie Afrikaanssprekendes ook uit die inheemse bevolking gekom, die Khoe en die San, ens. Hulle het mekaar hier aan die onderpunt van hierdie vasteland gevind, en ‘n nuwe taal en ‘n nuwe kultuur geskep. Hulle het met mekaar getrou, daar was bloedvermenging, en so het ons almal inheems geword. In dit wat W.A. de Klerk in sy boek oor die Afrikanergeskiedenis[1], die “heroïese tydperk” van die negentiende eeu, noem, het hulle ook dikwels die pad gevat en getrek. Eric Walker, in sy boek oor die Groot Trek (en ek gaan nou al my beginsels oorboord gooi en dit in Engels aanhaal, maar ek belowe dit is die laaste keer dat ek u ore gaan seermaak), beskryf dit as volg: “The Great Trek is the central event in South African history. The folk who went out of the Cape Colony a hundred years ago went because their ideas and mode of life were threatened by changing circumstances. They gained a fifty years’ respite in the interior. Thereafter their mode of life was steadily broken down by new and incompatible forces, but their ideas, confirmed and invigorated during those fifty years of grace, have permeated the Union of South Africa and extended their influence as far north as Kenya. The Trekkers were a people with little political experience but with a flair for politics. They undertook to found a State and society in the wilderness, and they did it. Some of their ideas were prophetic. Generals Smuts and Hertzog, both Afrikaners, have been among the most prominent exponents of the post-war Dominion status, but in all essentials their ideas on that score were anticipated in 1840 by the Boers of republican Natal.”[2] En dan, ‘n bladsy of twee verder, sê Walker, “The Great Trek was a journey. It was a journey inspired by a very definite spirit and intention, and it had lasting and widespread results. That is why it is worth writing about.”[3] Hierna gaan Walker in op die betekenis van enkele Afrikaanse woorde, die verskil tussen ‘n “kuier” en ‘n “tog” byvoorbeeld, asook die betekenis van die woord “trek” wat eksodus beteken, maar ook verkenning, ‘n swerftog na die onbekende. Vandaar die titel van ‘n gewilde Amerikaanse wetenskapfiksiereeks, Star Trek. Die Nederlanders is verstom daaroor dat geen woord van Nederlandse afkoms ooit, soos hulle dit stel, “de internationaal gehaald hebben”, en tog is daar vele Afrikaanse woorde wat mense wêreldwyd gebruik en iets nuuts aan hulle woordeskat toevoeg, woorde soos “trek”, “spoor”, “strandloper” (onlangs koop ek op ‘n uitverkoping ‘n Britse roman met die titel, The strandloper), “kommando”, en natuurlik, helaas, “apartheid”, naas “trek” miskien die internasionaal bekendste Afrikaanse woord. Steeds op die gebied van
wetenskapfiksiefilms (ek is seker mnr. Bertie du Plessis dink nou al
reeds hoe onvermydelik agtergehaal deur globalisering ook my eie
denke is, as ek my metafore soek in die imperiale kultuur van die wêreld
se grootste en mees suksesvolle Empaaier, die Amerikaanse, maar gee
kans, gee kans, hier volg nou-nou ‘n boerse wending): in
vele verhale in dié genre, soos byvoorbeeld die Star Wars-reeks
van George Lucas, veg ‘n klein groepie oorblywende rebelle
wat iewers op ‘n verlore en onbekende planeet wegkruip, verbete
teen die groot Empaaier, die Donker en Bose Empaaier. Wat maak hulle so verbete, waarom gee hulle nie sommer oor nie? In ‘n ander wetenskapfiksiefilm, The Matrix, het ons dieselfde situasie waar ‘n handjievol vrye geeste hulself teen die magtige rekenaarnetwerk verset. Mense is heeltemal verslaaf deur die Matriks, en word as biologiese batterye geteel, en kunsmatig aan die lewe gehou in baddens waar die elektrisiteit wat hul liggame produseer, afgetap word deur middel van ingeplante kabels aan hul rugstring en ander plekke. Maar natuurlik gaan ‘n mens wat as slaaf of dan as battery vir sy elektroniese meester, sy hele lewe lank in ‘n swart bad deurbring tussen miljoene ander menslike slawe, op ‘n stadium ophou funksioneer vanweë ‘n gebrek aan stimulasie. Daarom verskaf die Matriks aan die mensslaaf ‘n virtuele ervaring, ‘n kunsmatige lewe wat hy in sy kop beleef en wat vooraf geprogrammeer is sodat dit vir hom voel asof hy iewers aan die einde van die twintigste eeu leef, en ‘n normale bestaan voer. Op een stadium in die film verraai een van die rebelle sy makkers omdat die stryd, die onaangenaamheid van die werklikheid, die gebrek aan lekker kos, vermaak, die lewensgevaar, die stres, vir hom een te veel word, en hy verkoop dan sy mede-rebelle aan die Matriks in ruil daarvoor dat hy weer teruggeplaas word in sy proefbuisbestaan, in die bad, en weer sy ongerepte virtuele bestaan kan hervat. En natuurlik, sy belangrikste voorwaarde: met dien verstande dat hulle sy geheue herprogrammeer sodat hy niks van die werklikheid en sy geskiedenis as rebel kan onthou nie, en dus die illusie van die virtuele werklikheid as die enigste ware ervaring kan beleef. ‘n Mens kan vir ure aangaan om hierdie interessante gegewe te bespreek, dog die punt wat ek hiermee wil maak, is bloot die volgende: soms is daar mense wat die virtuele werklikheid, die globale ervaring wat elektronies aan ons gebring word vanuit die hart van die Amerikaanse Ryk, verkies bo die outentieke, bo die eie (onthou u nog daardie uitdrukking, uit ons voorgeskiedenis, die eie), wat soms minder aantreklik skyn te wees, maar indien mense altyd die maklike uitweg gekies het, dan is ek seker het weinig mense in die verlede oorleef, en het weinig tale en kulture oorleef. In Shakespeare se tyd het die keuse om in Engels te skep, en nie in Frans of Latyn nie, waarskynlik ewe onaantreklik, ewe onsinnig, voorgekom as om dit vandag in Afrikaans te doen. Wat inspireer die malles, die rebelle, die vegters, die trekkers, die bittereinders? Op ‘n keer het iemand aan my verduidelik dat daar vier menslike persoonlikheidstipes is, en dat elke persoon eintlik ‘n mengsel van al vier is. Ons kan ook mense klassifiseer in elkeen van die vier kategorieë omdat hy of sy dan oorheers word deur een van die persoonlikheidstipes. Synde iemand wat die sielkunde maar met ‘n sekere mate van skepsis benader – ek verkies die sterk literêre en filosofiese inslag van die psigoanalise – het ek al die geleerde terme vergeet, maar snaaks genoeg het die Engelssprekende persoon wat dit aan my uitgelê het, ‘n paar platvoerse Afrikaanse woorde toegevoeg as ‘n soort aide-mémoire en, natuurlik, het dié by my vasgesteek. Ons het gepraat van Afrikaans wat sy gat gaan sien sonder ‘n spieël, maar as ons nou wel ‘n spieël byderhand het, en ons draai dit so ‘n bietjie na boontoe, dan meen ek ons gaan in die debat rondom ons politieke situasie, die taalsituasie, by die werk, by die skool, en waar ookal, iets van die volgende teëkom. Noem dit dan maar vier verskillende gatte. Die eerste kategorie is die soort persoon wat baie te sê het, die kollig op homself wil hê, maar as hy klaar die aandag op hom het, dan het hy nie die uithouvermoë om die ding deur te voer nie. Blykbaar leen hierdie persoonlikheidstipe hom uitmuntend tot die beroep van “verkoopsman” of, natuurlik, in ‘n deftiger benaming, “konsultant”. Hy kan hoogstens iemand ompraat om die handtekening op die kontrak te plaas, die kommissie te verdien en daarmee sy paaiement op sy spoggerige motor te betaal. U en ek ken sulke mense: hulle praat groot, hulle spog, hulle maak grappe, ens., en binne ons sielkundige klassifikasiestelsel staan hulle tipe bekend as die windgat (WG). Elke onderneming, elke beweging, het sy dosis windgatte nodig, maar dit is nie genoeg nie. Dan is daar die persoon wat weer pynlik gedissiplineerd is, netjiese hare, skoon maar vervelige klere, en wat die reëls volg, nooit uit sy spoor trap nie, en ook vir ander die leviete voorlees. Hy gaan die grondwet nagaan, klagtes by PANSAT indien, maar vir hom is dit ‘n kwessie van reëls en wette en regulasies. Blykbaar word sulke mense graag rekenmeesters, en binne ons tipologie word hulle die pyn-in-die-gat genoem (PiG). ‘n Derde persoonlikheidstipe is dié van die muisvaal, klerikale persoon wat gesag sonder teëspraak aanvaar, en soos Jan Cilliers se osse geduldig, gedienstig, gedwee aanstap in die lewe. Hierdie soort mens kyk wat die ander rondom hom maak en doen dieselfde. Uiteraard gaan hy of sy geen stryder word nie, alhoewel iewers aan die einde van die stryd, as dit lyk asof hy aan die verloorkant gaan wees, hy dalk ‘n ommeswaai mag ondergaan en mag inval by die wense en bevele van sy potensieel nuwe meester. Hierdie tipe noem ons die papgat of banggat. As hy of sy boonop lui is, dan kan ons na hulle verwys as slapgatte. En as ‘n mens nou so rondom jou kyk na die golf van Engels wat oor ons spoel, en niemand sê ‘n woord nie, dan is dit duidelik dat ons in Afrikaans ‘n hele horde papgatte, banggatte en slapgatte het. Waar gaan ons hulp vandaan kom, wie gaan die leiding neem en die ding aanpak en deurvoer? Wel, gelukkig is daar nog ‘n vierde persoonlikheid, iemand soos ‘n Boeregeneraal van ouds, ‘n De Wet, Smuts, Hertzog, De la Rey, Botha, wat gaan veg al is die magtigste Ryk op aarde nou ook teen hom. En al verloor hy nou ook aan die einde, dan kan niemand van hom sê dat hy (of sy; want deesdae meen ek daar is vrouegeneraals ook) nie probeer het nie. En as hy wen? Ja, dink net daaraan, dan is die Kaap, by wyse van spreke, weer Hollands. U het almal reeds geraai wie ons laaste gat is, die dapper ou wat die pad voor hom uitgestippel sien, en ongeag die gevolge, hom gaan loop tot aan die einde toe en hopelik ‘n klein groepie mede-rebelle, mede-stryders, met hom gaan saamneem. Sy naam is Hardegat (HG), en die Afrikaanse geskiedenis is vol sulke mense. Dit is hoekom daar vandag Afrikaanse woorde is wat daar iewers in die globale kultuur ronddryf. En as Eric Walker reg is, dan is dit boonop die rede waarom Suid-Afrika vandag bestaan, omdat ‘n paar geïnspireerde hardegatte dit in hul doppe gekry het om iewers in die binneland ‘n republiek te gaan vestig. As ons daaraan dink, is dit in die huidige opset ‘n totale anakronisme, maar hierdie plek staan steeds bekend as die “Republiek van Suid-Afrika”. 31 Mei is geen vakansiedag meer nie, maar hulle noem hierdie uitrafelende stuk aarde steeds ‘n “republiek”. Op ‘n latere stadium mag dit alles getransformeer word tot Oeboentoeland of Tswane of wat ookal, maar tans is daar nog steeds die spore (en hier moet u ook die volle rykheid van die woord “spoor” in Afrikaans begryp) van ‘n paar hardebaard hardegatte rondom ons sigbaar. Ek weet ek dwaal baie ver af, maar ek het reeds aan die begin gewaarsku dat ek, soos dit die aspirant-hardegat betaam, nie by die onderwerp gaan bly nie. Want sien, Afrikaans gaan om meer as net taal, of jy gaan “baked beans” sê of “sousboontjies”. (Groete vir Andy Warhol.) Onlangs het ek afgekom op ‘n aanhaling van die Amerikaanse taalkundige Edward Sapir wat ons daarop attent maak dat “die werklikheid tot ‘n groot mate opgebou [word] deur die taalgewoontes van die groep.” Die werklikheid word opgebou deur die taalgewoontes van die groep. Dink ‘n bietjie daaraan. Hoe sou die Suid-Afrikaanse werklikheid gelyk het sonder Afrikaans? Hoe gaan dit lyk indien my aanvanklike hipotese korrek is, naamlik dat Afrikaans sy gat gaan sien? Moet geen fout maak nie, taalverandering is een van die mees radikale veranderings wat mense kan ondergaan omdat jou hele werklikheid daardeur gewysig word. Waar Europese tale vergaan het, was dit net as gevolg van bloedige oorloë, uitwissing, volksmoord, onderwerping, verknegting. En in plekke soos Ierland en die Baskiese dele van Frankryk en Spanje is daar vandag nog steeds voortslepende geweld. Myns insiens gaan die verdwyning van Afrikaans uit Suid-Afrika die kohesie van hierdie maatskappy so radikaal beïnvloed dat dit uitmekaar gaan spat. Weens ‘n gebrek aan tyd kan ek nie nou ingaan op die empiriese getuienis wat reeds hieroor geboekstaaf is nie. Dit bring my by iets anders, by N.P. van Wyk Louw se bekende definisie van Afrikaans. Hy het só opgesom: “Afrikaans is die taal wat vir Wes-Europa en Afrika verbind; dit suig sy krag uit dié twee bronne; dit vorm ‘n brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika – die soms nog so ónhelder Afrika; hulle is albei groot magte, en wat daar groots aan hulle verenig kan ontspruit – dít is miskien wat vir Afrikaans voorlê om te ontdek.”[4] Dit is sekerlik geen polities korrekte definisie nie, want deesdae maak mense beswaar teen die idee dat Afrika “nog so ónhelder” of, in ‘n minder diplomatiese formulering, “donker” is. Maar soos dit ‘n goeie hardegat betaam, gaan ek my nie daaraan steur nie, want ek dink ons is lankal verby die punt waar ons moes wonder of ons taal polities korrek klink of nie. Die punt is egter dat Afrikaans ‘n brug slaan tussen twee baie verskillende en onversoenbare wêrelde. Hierdie bouwerk waaruit die reële bestaan, binne Sapir se definisie, hierdie Afrikaanse werklikheid, maak dit op ‘n manier moontlik om tegelyk Europa en Afrika te verstaan binne ‘n nie-hegemoniese, nie-dominante struktuur. Ek weet dit begin nou meer filosofies klink, en nou sal daar diegene wees wat vra, “Ja, maar wat het dit nou met die prys van eiers of van Amazon.com se aandeel op die NASDAQ-beurs te make?” En my antwoord is eenvoudig: alles. Voordat ek verder verduidelik, moet ek dit beklemtoon dat Europa (die Weste, die aandland) en Afrika (die donker kontinent, met sy verskrikkings – ja, daar is verskrikkings in Afrika, onthou maar vir Kurtz se uitroep in Heart of Darkness, asook Rwanda, Ethiopië, ons eie difekane en Kwazulu-Natal tot onlangs) totaal onversoenbaar is. Dit gaan om radikale andersheid, “paradigma-onmeetbaarheid” in die taal van ‘n Thomas Kühn of Paul Feyerabend. N.P. van Wyk Louw verskaf in sy epiese gedig, Raka, ‘n konsptuele model vir dit waarvan hy praat as hy sê Afrikaans is ‘n “brug” tussen twee wêrelde, onversoenbare wêrelde soos ons pas gesien het. Die vorm van Raka is geheel en al “van Afrika”, die verhaal van ‘n stam wat nie eens in Suid-Afrika afspeel nie, maar iewers in ‘n ekwatoriale oerwoud, en al die verwysings is na ‘n pre-tegnologiese wêreld, waar die slyp van assegaaie en vuurmaak die hoogste vorme van tegnologiese ontwikkeling is, ‘n soort ongerepte Afrika dus. Desnieteenstaande, is die inhoud van die gedig, sy begrippe en boodskap, geheel en al Westers. Dit gaan om die problematiek van die enkeling, die eensame leiersfiguur wie se visie nie deur sy mense begryp word nie, en uiteindelik kom die hele stam tot ‘n val as hulle ingeneem word deur Raka en terugkeer na die dierlike oertoestand wat hy simboliseer. ‘n Mens sou ‘n hele filosofiese analise oor die gedig kon skryf, wat allerlei vergelykings met Freud se Lustprinziep en Realitätsprinziep sou kon insluit, Raka en Koki synde vergelykbaar met dié twee beginsels. Verder is die hele problematiek van die gedig uit en uit ontleen aan Nietzsche en die verwysings na ras en bloed daarin moet na aanleiding van Nietzsche se leer aangaande die übermensch begryp word. Wat egter ter sake is, is dat die gedig die begin is om ‘n paradoksale “brug” tussen Afrika en die Weste te skep. Myns insiens het Bantoe-onderwys – en ek besef dat ek hier weer iets sê waaroor mense my gaan kruisig, maar wat maak dit saak? – dieselfde probeer, naamlik om vir mense binne hul eie Afrikataal wat vol nie-logiese, nie-rasionele beelde en metafore is, Westerse beginsels aangaande logiese denke, wiskunde, wetenskap, ens., te leer. Bantoe-onderwys is natuurlik verwerp, en tans is ons besig om mense met behulp van Engels te globaliseer. Maar nou, en dit is hoe my denke oor hierdie kwessie tans begin vorm kry, skep Engels as uitsluitlike voertuig van die modernisme, van wetenskap en tegnologie, ‘n soort konseptuele en epistemiese apartheid wat veel erger is as om aparte toilette of tuinbankies te gebruik. Nie net word die onoorbrugbare gaping tussen die Westerse wêreld (in die sin van ‘n werklikheid) en die Afrikawêreld bevestig nie, dit word selfs in beton gegiet. Wat gebeur nou, in ‘n Engelse Suid-Afrika? Nie net vergaan Afrikaans as moontlike brugtaal nie, maar die Weste, in die vorm van Engels, neem oor. Ons almal gaan te lekker globaliseer, en DSTV kyk en Internet en Microsoft en Intel en wat ookal. (Iemand skryf ‘n ruk gelede aan my ‘n eposboodskap waarin hy beweer dat Afrikaans verdien om uit te sterf want ons het ge-apartheid en ge-broederbond terwyl die res van die wêreld ge-intel en ge-microsoft het; hier volg nou my antwoord ook aan hom.) Dus die Weste behaal oplaas die hegemonie waarvan Lord Milner gedroom het, behalwe dat dit nie meer die Britse Ryk is nie, maar nou die Amerikaanse. Wonderlik. Drink jou Coke en eet jou McDonald’s. Maar nou vind ons die volgende probleem: Afrika is sterwend, maar nog nie heeltemal dood nie. Iewers leef daar nog iets van die Afrikataal en –kultuur. En globalisering, die inligtingsrewolusie, roep ‘n kontrarewolusie op. Hierdie teen-omwenteling heet: terugkeer na die oorsprong. Nou is dit nie meer Koki wat moeisaam probeer uitstyg na ‘n hoër wêreld nie, maar Raka wat terugkeer in al sy primitiewe, dierlike geweld. Maak geen fout nie, met stimulering van verengelsing en globalisering, is daar reeds ‘n terugkeer na die oorsprong aan die gang in Suid-Afrika. Die Afrikane het nog nie begin om Engels te verwerp nie, maar hulle verwerp reeds die Westerse medisyne, wetenskap, logiese denke, rasionale politiek, verdraagsaamheid en alles wat daarmee saamhang. Kyk maar vir mnr. Robert Mugabe, of ons eie mnr. Mbeki se menings oor VIGS en MIV. Afrika gaan sy uur van wraak op die Weste hê, en dit gaan soet wees. Afrikanisme, Afrika-renaissance, Afrika-rewolusie, alles terme wat ons daagliks hoor, gaan om ‘n verwerping van die Westerse denkmodel en ‘n radikale terugkeer na Afrikadenke. Maar, in die afwesigheid van ‘n brugtaal soos Afrikaans, ‘n halfweghuis waar mense kan vertoef in hul trek na ‘n ander vorm van kennis en wêreldbeskouing, gaan dit ‘n terugkeer wees na die primitiewe, na die dierlike, na die Raka-beginsel. Koki is reeds dood, en ons gaan verlang na hom. Teenoor globalisering vind ons dus die opkoms van ‘n neo-primitiewe beweging wat wêreldwyd aan’t oplaai is. Dooie tale gaan ontdek word, ou rites wat mense skaars kan onthou, gaan as’t ware uit die dode opgewek word, op die internet begin sirkuleer en nuwe bekeerlinge vind onder die identiteitlose menigte, die miljarde reg rondom die aarde. Waarskynlik klink dit alles vir u baie kripties, en as dit wel so klink, vra ek om verskoning. Laat my dus terugkom na die boerse bekende, en ons hardegatte. Die hardegatte van die Afrikanergeskiedenis het hulle teen twee magte verset, teen die Ryk of Empaaier, en teen mense soos Dingaan en Silkaats wat ‘n primitiewe denkwêreld verteenwoordig het. Piet Retief het gedink hy sluit ‘n kontrak met Dingaan, maar Dingaan het gedink hy is ‘n towenaar en toe maak hy hom dood. Dit is wat ek bedoel met “radikale andersheid” of “paradigma-onmeetbaarheid”. Indien hulle ‘n brugtaal gehad het soos Van Wyk Louw se sprokie oor Raka sou hulle dalk iewers met mekaar kon gepraat het, en sou die Slag van Bloedrivier nie nodig gewees het nie. Feit is egter dat dit wel plaasgevind het, en goddank die Voortrekkers het gewen, sodat die Groot Trek die sukses was wat Eric Walker reeds aan ons verduidelik het. Ek
weet ek skeer nou baie vinnig oor dinge, maar ek wil dit onder almal
se aandag bring dat Afrikaans, die taal, maar ook die monumentale
kultuur en geskiedenis wat ons hier geskep het, meer is as ‘n
keuse oor “baked beans” en “sousboontjies”. Dit gaan
om oorlewing; in Afrikaans is die kodetaal vir ons oorlewing op
hierdie kontinent vervat. Ek wil hierdie sin weer herhaal:
in Afrikaans is die kodetaal vir ons oorlewing op hierdie
kontinent vervat. Dit klink hiperbolies, en ek besef dit. Aan die ander kant raak ek by die dag meer oortuig daarvan. Maar ek wil vanaand nog verder gaan en hierdie argument tot op sy uiterste voer. Nie net ons nie, maar die hele wêreld is tans gevange in ‘n stryd teen twee groot magte: die mag van die Empaaier wat stadigaan alles inpalm tot aan elke uithoek van die aarde, enersyds, en die opkomende mag van ‘n neo-primitiewe kontrarewolusie met sy “terugkeer na die oorsprong”, na fundamentalisme, argaïsme en vergange, uitgediende ideë, rituele, bygelowe en gelowe in voorvadergeeste, towerkrag, ens., andersyds. Ons, en ons hardekwasvoorouers, het die ervaring van hierdie tweeledige stryd teen twee baie uiteenlopende vyande, die een oënskynlik draer van beskawing en vooruitgang, maar ook van vernietiging, die ander draer van ‘n primitiewe wêreld wat verdien om onder te gaan maar hardnekkig bly voortbestaan. Indien ek reg is, het ons niks om van die res van die wêreld te leer nie, en gaan hulle binnekort by ons moet kom leer hoe om hierdie probleem die hoof te bied. ‘n Kennis van Afrikaans gaan in hierdie nuwe stryd om oorlewing (en ek praat uiteindelik nie van nasionalistiese voortbestaan “as volk” nie, maar van fisieke oorlewing) nie net ‘n luukse wees nie, maar ‘n noodsaaklikheid. Trouens, ek sou so ver gaan om dit as ‘n lewensmiddel te beskryf. Daarom, as Afrikaans sy gat sien, is die skrif aan die muur, miskien nie net vir Suid-Afrika nie, maar vir die hele wêreld. My voorstel is: kom ons wees hardegat, kom ons veg vir Afrikaans soos daar nog nooit vir ‘n taal op aarde geveg is nie. Ons hele beskawing mag daarvan afhang. |