|
|
||
| chronologie
|
Dan Roodt ‘n Mymering oor Afrikaanse leiers ‘n Mens
maak partykeer rare ontdekkings op jou eie boekerak. Soms val
jou oog op ‘n boek waarvan jy self vergeet het dat jy dit besit,
of andersins doem ongevraagde herinneringe op as iets soos ‘n ou
skooljaarblad skielik onder ‘n stapel kunsboeke uitskuif.
Dit was inderdaad gister die geval met my. Ek figureer
hoegenaamd nie in die betrokke jaarblad nie, want dit was die
vyftigste herdenking van die skool se bestaan, en ruimte is eerder
afgestaan aan die huidige hoofseun, asook hoofmeisie van die
Meisieskool, en diverse Springbokke en ander BBP’s wat die skool
in sy vyftigjarige bestaan opgelewer het. Juis vanweë die
herdenking, bevat die jaarblad ook boodskappe van die Die Direkteur
van Onderwys, die Administrateur van Transvaal, die Voorsitter van
die Beheerraad, en selfs die destydse Minister van Onderwys, ene
J.P. van der Spuy. Dit alles maak daarvan ‘n fassinerende
tydsdokument. Wat my
nou opval is die naïewe verwagtinge wat al hierdie mense gekoester
het oor die blink toekoms, nie net van die skool nie, maar ook van
die Afrikaner, sy taal en sy kultuur. Prof. P.J. Nienaber,
voorsitter van die Beheerraad het die volgende te sê: “Die skool se hoeksteen is gelê deur
genl. J.B.M. Hertzog. Helpmekaar bly die hoeksteen van die
vormingsplek van groot staatsmanne van die toekoms, want ons is
geanker in ons volk se tradisies; groot geloofsmanne, groot
onderwysmanne, want ons glo in Christelike en Nasionale onderwys;
groot sportmanne, want ons glo in die Romeinse leuse: ‘n
gesonde gees in ‘n gesonde liggaam. In die skoolsaal is daar
‘n galery van ons seuns wat in die verlede gepresteer het; oor
vyftig jaar sal die galery groter en indrukwekkender wees.” “Groot
Afrikaanse staatsmanne” wat die skool sou oplewer? Ek ken
nie sulkes nie. My twee beste vriende op skool – dit was
‘n seunskool – het albei reeds geëmigreer: een is ‘n
advokaat of “barrister” in Londen, en die ander ‘n reklameman
in Melbourne. Daar was wel ‘n Afrikaanse akteur of twee, en
‘n aantal sakemanne, dokters, ens., maar van die staatsmanne het
die skool bedroë afgekom. Dit het nou by my die volgende
reeks gedagtes laat ontstaan. As ek die
wêreldvreemde optimisme van die skooljaarblad vergelyk met die
moeras waarin Afrikaners tans verkeer, die pessimisme,
emigrasiepraatjies en donker gedagtes oor die toekoms, dan wonder ek:
wat presies het verkeerd geloop? Hoe het ons hierin beland, en
waarom kon dit nie anders gewees het nie? Ek dink al maande,
indien nie jare nie, oor hierdie probleem, en het al gewonder oor
die strukturele probleme van die Afrikaanse kultuur, die verwydering
tussen skrywers en politici, tussen die kerk en die mense, tussen
wit en bruin, en watnog, maar kon tot dusver nie ‘n bevredigende
antwoord vind nie. Maar
miskien is die antwoord voor die hand liggend, en staan dit geskryf
in die skooljaarblad wat ek sekerlik nie in standerd sewe toe dit
verskyn het met dieselfde insig as nou kon lees nie. Dit het
naamlik te make met die idee dat ‘n skool, of dan ‘n gemeenskap
in die breër sin, “staatsmanne” moet oplewer. Ek weet
dat daar onlangs al beweer is dat die gebrek aan leierskap onder
Afrikaners tans ‘n voordeel is omdat dit hulle sal vrywaar van
verdere politieke foute, maar hierdie logika is myns insiens foutief.
As jy klaar politieke foutiewe gemaak het as gevolg van swak
leierskap, dan het jy soveel te meer beter mense nodig om die
gevolge daarvan te hanteer. Met al
die sportfoto’s in die jaarblad van Springbokke wat die skool
opgelewer het, en someer, kon ek ook nie help om te dink dat ‘n
klein gemeenskap soos dié van Afrikaanssprekendes kwalik
gouemedalje-wenners by die Olimpiese Spele gaan oplewer op dieselfde
skaal as byvoorbeeld Amerika nie. En soos daar
atletiekkampioene is wat slegs af en toe verskyn, so is daar
“politieke kampioene” of staatsmanne in die taal van P.J.
Nienaber wat nie so klokslag verskyn as wat hy dit sou wou hê nie.
My ou skool het hulle nie opgelewer nie, en ook nie Afrikanerdom as
sodanig nie. In elk geval nie in die onlangse tyd nie. In baie
opsigte is die politieke spel ook maar ‘n kompetisie teen
mededingers, en as jy nie die regte kaptein en spanlede het nie,
daardie grootkampioene wat die medaljes kan inpalm nie, dan kom jy
maar bedroë daarvan af. In my tyd was my ou skool die
kampioenskool op baie gebiede in Johannesburg en die
“Sentraal-rand” soos dit genoem is, en ons kon ons skaars indink
hoe dit moet voel om by die byeenkomste laaste te eindig met net
‘n paar punte op die telbord. Tog was daar sulke skole wat
altyd laaste geëindig het. Sedertdien
het Afrikaanssprekendes natuurlik gewoond daaraan geraak om laaste
te eindig in politieke kompetisies in Suid-Afrika. Geen groep
word daagliks meer vertrap en verguis as juis hulle nie. Hul
taal en geskiedenis, hul skole, hul tradisies, hul bates, noem maar
op, is alles in die visier van die maghebber. Al waaraan hulle
kan dink om hieraan te ontkom, is om te emigreer of om Engels te
word. Dit was
egter nie altyd so nie. In W.A. de Klerk se boek wat
ongelukkig in Engels geskryf is, The puritans in Africa, en
wat ek vryelik kan aanbeveel as waarskynlik die beste oorsigtelike
geskiedenis van die Afrikaner wat daar tot dusver geskryf is, noem
hy die “tydvak van die generaals” ná die Tweede Vryheidsoorlog.
Toe het ‘n hele aantal talentvolle leiers die onmoontlike reggekry
en ‘n verslane en verarmde groep mense weer laat opstaan, en ‘n
entente bewerkstellig met die magtige Britse Ryk om darem vir hulle
ruimte te laat in Suid-Afrika. Danksy die genialiteit van
Smuts, asook Louis Botha, en die bydrae van Hertzog, het Afrikaners
polities gedomineer vir byna die hele twintigste eeu in Suid-Afrika.
Hulle het hierdie land geskep. Sommige sou beweer dit was ‘n
rampspoedige oorheersing, maar alles is relatief. Vergeleke
met die res van Afrika waar die Britse, Franse, Belgiese en
Portugese kolonialisme veel droewiger nalatenskappe gebaar het, is
ons steeds uitstekend daaraan toe. My ou
skool is in die tyd van Smuts en Hertzog opgerig, die eerste
Afrikaanse hoërskool in Johannesburg. Oor die afgelope tien
jaar het dit blykbaar allerlei krisisse beleef, en is nou
geprivatiseer en, in terme van getalle, slegs ‘n skadu van sy
vorige self. Die Meisieskool het verengels en staan nou bekend as die Rand
Girls’ High School. Omdat ek skool gehaat het, sal lesers my
al hierdie skynbaar irrelevante inligting vergewe, maar dit behoort
duidelik te wees waarop ek afstuur. Die generaals, wat gelouter uit die oorlog tevoorskyn gekom
het, kon hierdie heropstandingsbeweging aanvoer, sodat dit na alle
vlakke toe uitgekring het, ook na skole en ander instellings. Ek hou
allermins van die term “leierskap” omdat dit so ‘n geurtjie
het van menslike hulpbronnekonsultante wat seminare vir maatskappye
organiseer. Nietemin is leierskap, of gebrek daaraan, die
sleutel om die insinking in Afrikaans te verstaan, en die swak
skikking van 1994 wat sedertdien ‘n albatros om ons nek geword het,
is bloot die simptoom daarvan, nie die ware oorsaak van ons probleme
nie. Wat is
die eienskappe van ‘n groot leier, van ‘n “staatsman” soos
die skooljaarblad sou sê? Ek dink dit wissel soos wat
omstandighede verander. In tye van oorlog moet mense uiteraard
sterk en daadkragtige leiers hê wat ook strategies en militêr kan
dink. Te veel daarvan, iemand soos Napoleon byvoorbeeld, kan
ook weer sy eie probleem skep. Dit gaan om die
“konjunktuur” of tydsgewrig waarin ‘n mens jou bevind.
Ek sal nou die eienskappe skets van wat ‘n Afrikaanse leier vandag
behoort te hê, dog vergun my nog ‘n opmerking oor die leiers van
die twintigste eeu. Myns
insiens was die enigste twee politieke leiers wat iets beteken het
in die twintigste eeu onder Afrikaners Smuts en Verwoerd, met
Hertzog as ‘n buiteperd. (Miskien voel ek bloot genoop om sy
naam te noem omdat hy my ou skool se hoeksteen gelê het; daar is
sprake dat die gebou nou na ongeveer tagtig jaar of so afgebreek
gaan word omdat dit te naby aan die vervallende middestad van
Johannesburg is.) Smuts was
by verre die mees briljante politieke figuur wat Suid-Afrika nog
opgelewer het, maar ook hy het fundamentele foute begaan. Ek
dink dat enige politieke leier terugskouend foute begaan, maar
uiteindelik hang dit van ander af om daardie foute om te keer of
in voordele te omskep. Een van Smuts se grootste foute was om
nie te kan insien dat Afrikaans die potensiaal het om in ‘n
volwaardige kultuurtaal te ontwikkel nie; daarom het hy in Engels
geskryf. Dit is al iets van ‘n gemeenplaas om dit nog te
noem, maar hy is so verlei deur sy toenemende internasionale statuur
en aansien (Kanselier van Cambridge, asook aanvoerder van die
Geallieerde Lugmag tydens die Tweede Wêreldoorlog, meen ek, en een
van die stigters van die VN) dat hy sy oog van die bal afgehaal het
en die 1948-verkiesing verloor het teen ‘n veel mindere figuur,
D.F. Malan. Gestel Smuts het vír Afrikaans gekies en die
soort reaksionêre Afrikaner-nasionalisme van die NP koudgesit met
‘n kosmopolitiese, verdraagsame en ekspansiewe Afrikaansheid?
Hoe anders sou alles nie verloop het nie! Nie net sou
die Kaap Hollands gewees het nie, Suid-Afrika sou heel waarskynlik
vandag Afrikaans gewees het, in plaas van Engels. Die
tweede Afrikaanse figuur wat uitstaan, is natuurlik Verwoerd.
Vandag word hy allerweë afgekraak as ‘n fascis, maar ek meen
diegene is verkeerd. Verwoerd was sekerlik ‘n radikale
denker, en wou Suid-Afrika omvorm na sy meesterplan, maar soms is
radikalisme nodig. In die sewentigerjare was Engeland byna op
haar knieë, maar die radikalisme van ‘n Margaret Thatcher het die
plek van ondergang gered, en vandag is dit een van die wêreld se
welvarendste lande. Dit het moed en oortuiging gekos om dit
reg te kry, en sy is insgelyks verguis en is steeds geen gewilde
figuur nie, dog elke juppie in Londen wat vandag in ‘n Porsche
rondry kan sy sterre dank dat sy op die toneel verskyn het in ‘n
tyd toe Engeland se toekoms meer na dié van ‘n Portugal, Wes-Europa
se armste land, gelyk het as na die Engeland van vandag. ‘n
Kwessie wat almal sekerlik intrigeer, is wat sou gebeur het indien
Verwoerd langer geleef het? Vanuit ANC-geledere word sy
sluipmoord gesien as die begin van die einde van apartheid, en dus
as die insident wat uiteindelik die huidige bewind op die troon sou
plaas, wat ietwat simplisties is. Nietemin is daar tog ‘n
element van waarheid daarin in dié opsig dat Verwoerd ‘n uiters
talentvolle, sommige beweer selfs briljante, man was wat dalk anders
sou gereageer het op internasionale druk, die Soweto-onluste, en die
daaropvolgende gebeure in Suid-Afrika as sy opvolgers.
Waarskynlik sou hy insgelyks met hervormings begin het, maar met sy
kenmerkende radikalisme sou hy moontlik die landkaart nog verder
verander het en die uiteindelike eenheidstaat vir goed afgeweer het.
Met Vorster en P.W. Botha het die Afrikaanse politieke leierskap
reeds sy laagtepunt bereik, en die klein bang mannetjie De Klerk was
bloot die laaste in ‘n reeks van patetiese figure wat so min van
die wêreld en veral van hul politieke vyande verstaan het, dat
hulle uiteindelik in ‘n drukgang geplaas is waarvan die einde
voorspelbaar was. Die post-Verwoerdiaanse tydvak was besonder
kompleks met elemente van die Koue Oorlog in die vorm van Kubaanse,
Russiese en Oos-Duitse teenwoordigheid in suidelike Afrika, die
internasionale afkeer aan apartheid, verdere dekolonisering in die
res van Afrika en ‘n gepaardgaande kulturele relatiwisme in die
Weste. In Afrikaans self was daar ‘n opwindende
moderniseringproses aan die gang met die Sestigerbeweging, ‘n
bloeiende filmbedryf, en die opkoms van die “burgerstand”
waarvan W.A. de Klerk praat. Voeg daarby nog die stedelike
terreur en onrus van die tagtigerjare, iets van ‘n burgeroorlog in
Natal tussen die ANC en Inkatha waarin 20 000 mense dood is, en dit
is ‘n pot-pourri van giftige elemente wat selfs ‘n groot figuur
sou kon laat struikel, wat nog te sê die drie dwerge Vorster, Botha
en De Klerk. Nou sit ons natuurlik met die spreekwoordelike
gebakte pere. Dit is
verstaanbaar dat baie Afrikaners – en hulle is nie net regses wat
“nee” gestem het in die referendum nie – De Klerk met wrewel
bejeën, want op ‘n manier het hy hulle in ‘n erger posisie
geplaas as wat hulle militêr oorwin sou gewees het. Trouens,
as ‘n mens luister na die ANC-retoriek, dan wás dit ‘n militêre
oorwinning en nie slegs ‘n “onderhandelde revolusie” soos
Alistair Sparks dit gestel het nie. Om uit ‘n neerlaag op te
staan, is altyd ‘n baie moeilike situasie, en ‘n mens vra jou af
of die Duitsers sonder Konrad Adenauer weer hul voormalige plek in
die wêreld sou kon ingeneem het. Min kon
die bydraers tot my ou skooljaarblad vermoed dat die rooskleurige
toekoms wat hulle vir Afrikaans en Afrikaners in die vooruitsig
gestel het, binne twintig jaar sou eindig in ‘n de facto-neerlaag
waar ons nou nog sit met “oorlogskuld” in die vorm van
ongespesifiseerde “vergoeding” wat vir apartheid betaal moet
word. Moreel en polities is ons blykbaar skadeloos gestel, en
kan ons bloot, in die woorde van die Broederbond en van Ken Owen,
“onsself nuttig maak vir die meerderheid”. Wat sou
‘n meer versiende leier gemaak het in De Klerk se situasie tydens
die vroeë negentigs? Met die voordeel van terugskouing is dit
altyd makliker, maar myns insiens moes die grootskeepse vrylatings
in 1991 en 1992 veel later plaasgevind het, en moes die ANC/SAKP
eers ideologies vernietig gewees het met die ongelooflike meevaller
van die ineenstorting van die Oosbloklande. Die ANC sou binne
‘n paar jaar al sy logistieke en geldelike steun uit daardie oord
kwyt gewees het, en met sy tande getrek, sou hy so mak soos ‘n
lammetjie om die onderhandelingstafel kom sit het. Samehangend
hiermee moes die destabilisering van die tuislande en die res van
die gewelddadige konflik in swart woonbuurtes en in Kwazulu-Natal
nooit toegelaat gewees het nie, en die ongelooflike munt wat die ANC
uit Boipatong geslaan het, is in retrospektief verbysterend, want
agterna het De Klerk en sy segsman Roelf Meyer eintlik oorgegee in
‘n situasie wat Z.B. du Toit tereg dié van “Boere sonder planne”
genoem het. Die
ergste by verre was egter die intellektuele onopgewassenheid van De
Klerk en die res van die NP’s. Hulle het hoegenaamd nie die
ander kant verstaan nie, terwyl hulle clichés wat oor jare geen
ontwikkeling ondergaan het nie, met die hulp van die plaaslike en
internasionale media van die tafel gevee is, en hulle voor die fait
accompli geplaas is van die eenheidstaat en “wenner vat als”.
En is die wenner nie net besig om als te vat nie! Die feit
dat ons vandag soos kabouters op die internet dinge soos PRAAG aan
die gang moet hou, dat daar misdaad en plaasmoorde is, dat plekname
verander, dat plaaslike owerhede binnekort allerlei onheilige dinge
gaan begin aanvang met eiendomsbelasting, dat mense emigreer, ens.,
is alles te wyte aan die erbarmlike strategiese foute van De Klerk
en sy trawante. Boetman is die bliksem in, en hy praat vir ons
almal. Dog
gedane sake het geen keer. Die slag is gelewer en Afrikaanse
belange het die onderspit gedelf. Die uitdaging is om vanuit
die situasie van ‘n de facto-neerlaag verder te gaan, en weer op
te staan soos dit al voorheen gedoen is. Maar sonder leierskap
– om nou weer die Menslike Hulpbronnemense se gunstelingwoord te
gebruik – gaan dit nie moontlik wees nie. Ná die
Franko-Pruisiese oorlog van 1870 toe sy ‘n vernederende neerlaag
teen die uitgeslape Bismarck gely het, was ‘n groot land soos
Frankryk ook blykbaar in ‘n toestand van algehele skok en ellende,
selfvertwyfeling, werkersoproer, ekonomiese stagnasie wat eers
ongeveer ‘n dekade of twee later herstel. Die herstel sou
nooit kon plaasvind indien ‘n aanvanklik onbekende advokaat by
name Léon Gambetta nie op die toneel verskyn het en nuwe lewe in
die Franse politiek geblaas het nie. Hy het waaghalsig uit die
hande van die Pruise ontsnap in ‘n ballon, en soos ‘n ware
bittereinder nooit die Franse kapitulasie aanvaar nie. Hy het
Franse eenheid voorgestaan, en ná 1871 gehelp om die Derde
Republiek tot stand te bring. As ek so tuur na die horison,
dan sien ek nie enigeen wat vir Afrikaans en die Afrikanerdom ‘n
Gambetta kan wees in hierdie tye nie. Wat van
Tony Leon en die DA? Ek is bevrees as iemand wat saam met Tony
gestudeer het, saam klasgedraf het in staatsleer, saam op die
studenteraad gedien het, en by al die agting wat ek het vir sy
bedrewenheid as professionele politikus, kan ek hom nie in hierdie
rol sien nie. Buitendien dink ek nie hy het die nodige
aanvoeling vir die Afrikaanse geskiedenis nie, vir die verborge
vonke van grootsheid daarin wat net aangeblaas moet word om weer in
‘n vuur uit te slaan nie. Die DA is myns insiens ‘n soort
portmanteau-party, vir al die mense sonder ‘n party. Wie anders is daar? Die AB, BMW en ander reste van
Afrikanerdom se Era van Middelmatigheid? Nee wat, ek is
bevrees hulle vind dit al moeilik om by te bly in hul rol as
skoothondjies vir mnr. Mbeki, en om al die nuwe slagspreuke van die
base aan te leer, dus sal enigiets meer hulle na prozac laat gryp. Ek wil
liewer nie eens ‘n sekere onlangse NP-leier se naam noem wat
deesdae optree as ‘n soort tweede-in-bevel in die DA nie, en af en
toe oor die radio gehoor kan word as hy sekere eenvoudige idees
vanuit die ANC-kamp oor “nasiebou” en dergelike herhaal asof hy
hulle self uitgedink het nie. In polities korrekte kringe sou
mens seker die opstellers van die Tuiste-vir-almal-skuldbelydenis
ingesluit kon hoor binne die beskikbare universum van Afrikaanse
leiers, dog hul enigste politieke oplossing sou wees dat ons ons
moet neerlê by die wil van ons oorheersers. Op ‘n manier
het hulle hul reeds versoen met die neerlaag en afskeid geneem van
die Afrikaanse geskiedenis as synde “besmet” en “immoreel”.
Met hulle kan ons seker wees dat ons van die wal in die sloot sal
beland. Wat van die bruines? Wel, ek sou wou hoop dat hulle
minder deurtrek is van Calvinistiese skuldmanie en dalk groter
helderheid aan die dag sou kon lê, maar ek is bevrees die huidige
burgemeester van Kaapstad beïndruk my kwalik as ‘n tweede Jan
Smuts. Wat van
die sakegemeenskap, wat hulle ook taamlik gereeld met die politiek
bemoei? Ek twyfel of sakemense gewoonlik die kwessies goed
verstaan. Hulle volg eerder ‘n politieke rigting as
wat hulle dit skep. Dieselfde bedrywe wat onder
apartheid wapens vir die Weermag vervaardig het, is nou aktief in
swart bemagtigingsinisiatiewe met ANC-mense op hul direksies.
Uiteindelik is ‘n sakeman ‘n huursoldaat; wat tel is die wins en
verlies, niks meer, niks minder nie. So ‘n persoon sou nooit
die gevaarlike en buitensporige arena van die Suid-Afrikaanse
politiek kon betree en nie binnekort fyngemaal daaruit kom nie.
Of hy sal swig die eerste keer as iemand vir hom sê, “dit sou te
veel geld kos”. By my
kennelik oorsigtelike en waarskynlik onvolledige lees van die
Afrikaanse geskiedenis, kan ek nie dink aan ‘n tyd toe hierdie
groep mense so volslae leierloos was nie. Dit is nie eens ‘n
geval dat hulle oor swak leiers beskik nie, hulle hét nie leiers
nie. Desnieteenstaande was daar op geen ander stadium so ‘n
intense behoefte aan verbeeldingryke, intelligente, en waagmoedige
leierskap as juis nou nie. Om uit die huidige verknorsing te
kom, is miskien die grootste uitdaging wat daar nog ooit in hierdie
land aan Afrikaanssprekendes gestel is. Dit gaan nie vanself
gebeur nie, en hoe langer dit uitgestel word, hoe moeiliker gaan dit
wees. Die
gemeenplasige opvatting van ‘n leier in Afrikaans as synde een of
ander Messiasfiguur is miskien deel van die probleem. Dit is
nie nodig om ‘n Moses te wees nie, net ‘n Gambetta of ‘n
Smuts. Gambetta was blykbaar ‘n goeie orator, soos baie
Franse leiers, maar Smuts was sover ek kan onthou geen goeie spreker
nie. Met sy vlymskerp verstand en begrip van sake kon hy egter
die juiste analise doen en deur subtiele uitoefening van mag die
gewenste resultate verkry. Waarskynlik het sy Cambridge-opvoeding ook gehelp, want dit
het hom ‘n sekere gesofistikeerde allure gegee waarsonder
staatsmanskap, om nou weer saam met die jaarblad te praat, nie
moontlik is nie. Die feit dat die burgemeester van Kaapstad
dit kortkom, maak dat hy waarskynlik nooit sal kan aspireer na
groter dinge nie. Ook Vorster, Botha, en De Klerk, die
dwerglike driemanskap, het ‘n sekere “kru” aanskyn gehad wat
hulle onbeholpe laat voorkom het. Jasser Arafat kon die wêreld
en selfs die ANC oortuig van die noodsaaklikheid van tuislande; P.W.
Botha nie. Waarby kom dit? Daar is subtiele eienskappe
aan leierskap wat ook met voorkoms, ‘n sekere styl, ens. te make
het. As Eugène TerreBlanche homself ‘n Afrikaner noem,
takel dit die begrip af; as Van Zyl Slabbert dit doen, is dit min of
meer neutraal. Ons het iemand nodig wat respek by mense kan
afdwing as hy die woord gebruik. En dan
uiteindelik, amper ‘n bysaak, maar soos op alle gebiede van
menslike optrede kan niks daarsonder nie, moet ‘n leier ook oor
kennis beskik. In Amerika of Europa kan hy of sy wegkom met
glimlag-vir-die-kameras-en-vra-maar-vir-jou-gehuurde-konsultant as
dit oor iets moeiliks gaan, maar in ‘n land soos Suid-Afrika met
die graad van politieke risiko wat hier bestaan, moet so ‘n
persoon liefs nogal ingelig wees oor wêreldsake, oor die ekonomie,
oor geskiedenis en veral die denkwyse van sy opponente. Dit
sou beteken dat hy belese sou moes wees in Karl Marx, Kwame Nkrumah
en W.E.B Dubois, asook Amerikaanse rasseteorie en watnog.
Kortom, so ‘n persoon moet liefs hoogs gekultiveerd wees in die
ware sin van die woord. ‘n onlangse Europese politikus wat
hierdie aspek van leierskap volmaak verpersoonlik het, was natuurlik
François Mitterand. Ook hy het baie foute gemaak, en feitlik
niks van ekonomie verstaan nie, maar sy onbesproke kennis het hom
‘n gedugte leier gemaak. Gegewe
die agteruitgang van die universiteite, verlaging in standaarde, ens.,
is kultuur in die breë sin van die woord, dit wil sê as
“verworwe kennis” deesdae so skaars soos hoendertande.
Daar is in elk geval geen kursus wat mens kan gaan volg in “die
leiersprofessie vir klein en oorwonne volke” nie. Dit is
iets wat byna mirakelagtig uit die gene van die mense self moet
verskyn. Ek blaai maar deur my jaarblad en verwonder my aan al die skoon en hoopvolle gesigte. En ek tuur na die horison... As ons net nie so lank hoef te wag dat ons al dermate uit ons geboorteland uitgewerk is dat ons die plek vanuit die see sal moet inneem en Afrikaans soos Wallies of Hebreeus weer uit grammatikaboeke sal moet laat herleef nie. |