|
|
||
| chronologie
|
Het
Afrikaners ‘n skuldlas uit die verlede? of die geskiedenis gee jou
‘n skop op jou sitvlak. James
Joyce se karakter Stephen Dedalus in sy beroemde roman Ulysses
sê in ‘n gesprek met mnr. Deasy, ‘n skoolhoof, oor die Ierse
geskiedenis die volgende: “Die
geskiedenis is ‘n nagmerrie waaruit ek probeer wakkerskrik.”
Terwyl hy dit sê, kom die geluide van ‘n skoolrugbyoefening na
hulle toe aan deur die venster. Die fluitjie blaas vir ‘n
drie wat gedruk word. As ‘n nagedagte dink Stephen Dedalus
dan by homself, “En sê nou daardie geskiedenis gee jou ‘n skop
op jou sitvlak?” Wie van
ons kan nie vandag Stephen Dedalus se woorde met instemming herhaal
nie: “die geskiedenis is ‘n nagmerrie waaruit ons probeer
wakkerskrik”? Dit is veral die geval as ons dink aan die
hele geding rondom skuld wat tans op ons losgelaat word, ook deur
ons taalgenote. “Apartheid was ‘n misdaad teen die mensdom. Julle het apartheid geskep. Daarom is julle skuldig aan
‘n misdaad teen die mensdom.” Hierdie simplistiese sillogismes
is die bouwerk van die nagemerrielogika wat ons teister. Dit is
sekerlike die maklike – nee, die fasiele – opsie om jou te berus
in die skuldideologie wat van bo af deur al die oud-Broederbonders,
die “verligtes” waarteen Chris Louw fulmineer, die propagandiste
van die staat, die internasionale media, ens., aan ons opgedring
word. Volgens hulle behoort ons ons in ons skuld te berus, en
ons eie politieke en intellektuele magteloosheid te aanvaar.
Om nie wakker te word uit die nagmerrie nie, is dus die aangewese
weg. Dog net
as ‘n mens wegsluimer en jou lyf so ruk-ruk as al die onaangename
skelwoorde waarmee jy as misdadiger teen die mensdom uitgekryt word
op jou reën, gee die geskiedenis jou daardie spreekwoordelike skop
op die sitvlak. Jy kom agter dat jy vandag hoegenaamd nie in
‘n veelrassige utopie leef soos wat almal sê nie. Jy begin
‘n paar ou koerante en boeke – selfs geskiedenisboeke – lees
en jy kom agter dat, ja, die hele ding nie so eenvoudig is as wat
dit aan jou voorgehou word nie. Jy waag dit selfs om te sê
dat apartheid geen misdaad teen die mensdom was nie.
Onmiddellik word jy uitgekryt as ‘n ketter, ‘n rassis, ‘n
regse, maar jy laat jou nie van stryk bring nie. Intuïtief
streef jy na wakkerheid, want die nagmerrie waarin jy jou bevind
word al hoe ondraagliker. André
Brink of iemand het jare gelede gesê dat ‘n mens niks goeds oor
apartheid kon sê nie, want dit is dieselfde as om te sê dat Hitler
ook goeie paaie gebou het. Hierdie soort vergelykings, en die
konstante en werklik vergesogte gelykstelling van apartheid met
nazisme en volksmoord, waarvan veral die WVK-verslag vol is, is
egter deel van die probleem. Om wakker te word uit ons
nagmerrie, moet ons op ‘n slag erken dat daar ‘n werklikheid in
Suid-Afrika is wat nie noodwendig uit Duits te vertale is nie.
Die reële, veral in ‘n plek soos Suid-Afrika, is ‘n glibberige,
ontwykende ding, en indien ons net ‘n bietjie nader daaraan kan
kom, dan is elke skop van watter aard ook al die moeite werd. Een so
‘n skop was my onlangse boekie met die titel, Om die
Waarheidskommissie te vergeet. Daarin lewer ek ‘n
intense pleidooi dat ons moet glo in ons eie onskuld. Maar ook
dat daar ‘n dringende behoefte is om ons geskiedenis te
herinterpreteer. Ons mag nie meer toelaat dat ons geskiedenis
oorheers word deur ongevraagde stereotipes, halwe waarhede en selfs
blatante onwaarhede nie. Al kos dit wat, al loop mens die
risiko om jou eie reputasie deur die modder gesleep te sien, is dit
nou die oomblik om waagmoedig en onverskrokke vir ‘n slag iets
soos die waarheid te praat. Nie die transendente,
godsdienstige waarheid waarvan Biskop Tutu en sy trawante praat nie,
maar bloot die historiese waarheid, wat op empiriese navorsing
behoort te berus. ‘n Week gelede by Stellenbosch tydens ‘n
soortgelyke bespreking, het Jannie Gagiano dieselfde pleidooi vir
empiriese navorsing oor die verlede gelewer. Wat ek
nou hier gaan sê, sal waarskynlik deur sommige geïnterpreteer of
wangeïnterpreteer word as ‘n apologie vir apartheid.
Montesqieu, meen ek, het gesê dat ‘n skrywer die slegte gewete
van sy tyd behoort te wees. As ‘n mens na die geskiedenis
van halsstarrige skrywers in Afrikaans kyk, van Eugène Marais wat
deur Paul Kruger verbied is om sittings van die Volksraad by te woon,
regdeur tot by die Sestigers wat deur die bank kritiek gelewer het
op die kleinlike apartheidsmaatreëls van destyds, dan is dit
duidelik dat die Afrikaanse tradisie ten minste ewe veel ruimte bied
vir dit wat Nietzsche “ontydgenootlike denke” genoem het. Chris
Louw het vir ons gedemonstreer dat diegene wat apartheid uitgedink
het en dan veral die kleinlike diskriminerende maatreëls wat mense
verbied het om hotelle en strande te gebruik, of bankies in parke,
nou weer eens die voorstanders is van politieke erfsonde en die
ideologie van skuld. Op dié manier poog die eertydse Afrkaner-establishment
om ons toekoms te kaap ter wille van hul eie tydelike gewin en
aansien by die maghebber van tans. Ek is egter oortuig dat die
Willem de Klerks en die Willie Esterhuyses reeds mee afgereken is en
inderdaad geen geloofwaardigheid meer het by die breë Afrikaanse
bevolking nie. ‘n
Groter probleem is diegene - en dan veral die hordes internasionale
opportuniste -wat reeds om ‘n verskeidenheid bedenklike redes
hulself met apartheid bemoei het. Hulle dra by om die mites
oor ons verlede in stand te hou. Ek is bevrees dit gaan meer
as een skop verg om hulle van die toneel te laat verdwyn.
Dit waarteen ek my baie sterk uitspreek in my opstel oor die
Waarheidskommissie, naamlik die gelykstelling van apartheid met
nazisme, is een van die grootste klugte van ons tyd wat ons reeds
geweldige skade berokken het en ‘n groot klomp Afrikaners van hul
eie tradisie en selfs van hul eie land vervreem het. Dit is
ook die onderliggende veronderstelling van die pro-skuldfaksie.
‘n Onderdeel van die gelykstelling van apartheid met nazisme is
dat apartheid gekleurde mense in Suid-Afrika in so ‘n mate
benadeel het dat hulle as’t ware sit met ‘n geweldige agterstand
wat nou op kunsmatige wyse “ingehaal” moet word. Dit
verteenwoordig onder meer die regverdiging, nie net vir regstellende
aksie nie, maar ook vir oproepe tot ‘n radikale herverspreiding
van rykdom in Suid-Afrika, betaling van vergoeding, ens. Vir die
ontydgenootlike denker, vir die nugtere ontleder van die
Suid-Afrikaanse geskiedenis, gaan die argumente van die pro-skuldfaksie,
van mense soos Antjie Krog en Carl Niehaus en hul abortiewe
Tuiste-vir-almal-veldtog, eenvoudig nie op nie. ‘n Onbevange
kyk na ons verlede en na apartheid lewer ‘n heel ander prentjie op
as die een wat gewoonlik in sulke emosionele – nee, histeriese –
terme geskilder word. As iemand
wat tydens die hoogty van internasionale anti-apartheid in Europa
gewoon het, kan ek onomwonde sê dat anti-apartheid so ‘n skewe
beeld van Suid-Afrika voorgehou het dat dit net in terme van
psigopatologie verstaan kan word. Dit was ‘n psigose wat
gevoed is uit die vele probleme met immigrasie en etniese
naasbestaan regoor die wêreld, ofte wel die interne politiek van
baie Westerse lande. Ook die Wes-Europese Kommunistiese Partye,
wat met hul rug teen die muur baklei het in die doodsnikke van die
sosialistiese droom, het in anti-apartheid ‘n handige handperd
gevind om hulself ‘n legitimiteit te probeer gee wat hul eie
ideologie lank nie meer gebied het nie. Indien
die NP-verligtes en hul blufspel Oom Apartheid was, dan wasAntie
Apartheid nie veel beter nie. Ook sy is aangevuur deur ‘n
byna fantasmagoriese voorstelling van die Suid-Afrikaanse
werklikheid, wat vandag steeds ‘n rol speel in die konflikte wat
hul afspeel op die terreine van taal, grond, en beheer oor
hulpbronne. Antie Apartheid is myns insiens ‘n veel
gevaarliker kalant as Oom Apartheid, juis omdat dit op eg koloniale
wyse aanvanklik vanuit die buiteland deur Suid-Afrikaanse bannelinge
en hul oorsese bondgenote gevoer is en toe sedert 1994 in ‘n
moralistiese stuiptrekking ter plaatse op ons losgelaat is.
Soos ek in my opstel oor die WVK betoog, is anti-apartheid bloot die
spieëlbeeld van apartheid, die Doppelgänger daarvan, en
behoort dit in ‘n groot mate tot dieselfde paradigma. Anders as
wat die Waarheidskommissie en oningeligte buitelanders wil beweer,
was apartheid geen variant van nazisme nie, maar in baie opsigte
soortgelyk aan hedendaagse opvattinge soos regstellende aksie wat
ook differensieer tussen rasse en groepe. Apartheid het, by
die bekende negatiewe aspekte wat ons al tot vervelens toe gehoor
het, en wat dikwels geheel en al oordryf word, ook heelwat positiewe
elemente bevat. Weer eens, wil ek geen apologie lewer vir
apartheid as sodanig nie, maar ter wille van billikheid en om die
skuldpsigose finaal die nekslag toe te doen, moet sekere dinge
beklemtoon word: 1)
Soos Hermann Giliomee onlangs aangetoon het, was die grootste
enkele bydrae van apartheid dat dit Suid-Afrika tydens ‘n kritieke
fase van ons kontinent se geskiedenis gevrywaar het van die vergrype
van Afrika-bevryding en allerlei rampspoedige ekonomiese
eksperimente wat gelei het tot intense armoede, burgerlike konflik
en selfs burgeroorloë. Dit ly by my geen twyfel dat indien
algemene stemreg vóór die val van die Berlynse muur ingestel sou
gewees het, Suid-Afrika maklik die paadjie van Mosambiek of Angola
kon geloop het. ‘n Land soos Angola beskik inderdaad oor
geen staat meer nie, kan kwalik belastings invorder en geen basiese
dienste aan sy bevolking lewer nie. 2)
Onder apartheid is die onderwysstelsel vir swartmense
drasties uitgebrei en tot net voor die Soweto-onluste het die
destydse Bantoe-onderwys veel beter resultate met minder geld behaal
as die huidige stelsel, in weerwil van ongelyke besteding. Volgens dr. Katherine Heugh, ‘n opvoedkundige van die
Universiteit van Kaapstad, was die matriekslaagsyfer selfs tydens
1976 toe die onderwys in Soweto ontwrig is, ongeveer 83% teenoor die
huidige 50% of minder. 3)
Onder apartheid is inheemse Afrikatale ontwikkel soos in geen
ander land in Afrika nie. Afrikaners het grootliks bygedra om voorgeskrewe boeke vir
swart skole in die inheemse tale te ontwikkel, en daar was op ‘n
stadium pakhuise vol van hierdie boeke. Dit is bekend dat die
swart leerlinge van Soweto in 1976 Afrikaans verwerp het, dog min
mense dra kennis dat hulle van hierdie datum af ook onderrig in hul
eie tale afgesweer het, wat ‘n rampspoedige periode van mislukking
en hoë druipsyfers onder swart leerlinge ingelui het. Deel
van die ontwikkeling van Afrikatale het behels die sogenaamde
“Radio Bantoesenders” van die ou SAUK wat gewilde programme in
plaaslike tale uitgesaai het. Onder apartheid is die meeste
van hierdie tale insgelyks gepromoveer tot televisietale. Aan
die einde van apartheid was daar slegs ses inheemse Afrikatale,
Afrikaans uitgesonder, wat op televisie gebruik is, waarvan vier in
Suid-Afrika. 4)
Twee van die beste aanwysers van mense se welvaart is die
kindersterftesyfer en die gemiddelde lewensverwagting van ‘n
bevolking. Die ou Sowjet-Unie het fiktiewe ekonomiese
statistiek gepubliseer ten einde die illusie van welvaart te skep,
maar in die laaste dekades van kommunisme het die kindersterftesyfer
begin styg en die gemiddelde lewensverwagting begin daal, wat dit
duidelik gemaak het dat toestande besig was om te versleg. Net so kan geen mate van propaganda oor die Suid-Afrikaanse
verlede ontken dat die kindersterftesyfer onder swartmense tydens
apartheid dramaties afgeneem het nie. Volgens statistieke wat
ek onlangs raakgeloop het, het dit op die Witwatersrand, byvoorbeeld,
vanaf 1949 tot 1961 gedaal van 280 per duisend tot 62 per duisend,
‘n duidelike verbetering. Weer eens volgens Hermann Giliomee,
was die lewensverwagting van swart Suid-Afrikaners in die laaste
dekade van apartheid ongeveer 68 jaar, wat goed vergelyk het met
vele Westerse lande, en ver bokant die meeste lande in Afrika en
Suid-Amerika verkeer het. Sedertdien het VIGS natuurlik
hierdie syfer laat daal. 5)
Die Palestynse ambassadeur in Suid-Afrika het onlangs beweer
dat alles wat hy oor apartheid hoor, klink soos die paradys,
vergeleke met die situasie van die Palestyne. ‘n Tuisland
soos die Transkei wat benewens ‘n nominale onafhanklikheid,
regstreekse begrotingshulp van die sentrale regering ontvang het,
asook landbouhulp, opleidingsprogramme, ens., sou vir vele volke ter
wêreld, waarby hedendaagse Afrikaners ingesluit kan word, iets van
‘n utopie verteenwoordig. Die voormalige Transkei was veel
groter as menige land in Wes-Europa met ‘n veel kleiner bevolking;
boonop beskik dit oor vrugbare grond, goeie reënval en ‘n
natuurskoon wat dit ‘n potensiële toeristeparadys maak.
Hierdie vorm van etniese outonomie waarna vele van die staatlose
volke op aarde smag, is egter binne die verwronge denke van
anti-apartheid beskryf as die ekwivalent van nazisme en volksmoord.
Die tuislandontwikkelingskorporasies het insgelyks miljarde rande,
in vandag se terme, bestee aan landelike ontwikkeling, opleiding,
infrastruktuur, en in vele tuislande swart ondernemers en sakemanne
gevestig wat vandag toe nog hul ondernemings bedryf. 6)
Weliswaar was swartmense onder apartheid tweedeklasburgers.
Die swart Amerikaanse ekonoom Thomas Sowell skryf egter iewers dat
dit beter is om ‘n tweedeklasburger in ‘n land met wet en orde,
asook min of meer goeie administrasie, te wees, as om deur te gaan
vir ‘n eersteklasburger in ‘n land waar daar verval, korrupsie
en wanorde heers. Swartmense uit vele buurlande van
Suid-Afrika het tydens die sogenaamde apartheidsjare dieselfde
afleiding gemaak, en met hulle voete gestem vir apartheid en teen
die tirannie van uhuru in hul eie lande. Onder apartheid moes
Suid-Afrika probeer om immigrasie na die land te keer, terwyl
Oos-Duitsers so desperaat was om uit hul werkersparadys te ontsnap
dat hul regering dit goedgedink het om ‘n betonmuur met gewapende
wagte tussen hulle en hul taalgenote in Wes-Duitsland op te rig.
Die kontras kan nie groter wees nie, en sê iets aangaande die
werklike aard van apartheid en kommunisme. Indiër-Suid-Afrikaners,
wat ook nie eiendom in sekere gebiede kon besit nie, het dit
reggekry om dieselfde opvoedkundige en lewenstandaard as blankes te
bereik onder apartheid. Dit toon aan in welke mate die beperkings op mense om hul eie
welvaart te verbeter onder apartheid eintlik veel minder was as wat
die meeste mense sou wou toegee. 7)
Onder apartheid was slegs 7% van werkkategorieë onderworpe
aan werkreservering, hoofsaaklik in die mynboubedryf, iets wat terug
te voer is na die 1922-staking toe die SAKP dit óók voorgestaan
het. Onder die huidige regstellende aksie is 100% van
arbeidskategorieë onderworpe aan rassekwotas, wat aantoon dat die
ingryping in die arbeidsmark tans veel radikaler en omvattender is
as onder apartheid. 8)
Die toestand van die openbare gesondheidsektor was veel beter
as nou, en ‘n hospitaal soos Baragwanath in Soweto het ‘n veel
beter diens aan sy pasiënte gelewer as tans. Suid-Afrika
gaan tans deur ‘n hele aantal radikale veranderinge wat sommige al
as ‘n revolusie bestempel het. In enige so ‘n situasie is
daar ‘n revolusionêre voorhoede wat poog om die bates van die
vorige élite vir homself op te eis of te konfiskeer, ten einde
sigself as die nuwe élite te vestig. Die huidige élite het
dus ‘n materiële belang daarby om die skuldideologie in stand te
hou. Tydens
‘n onlangse besoek aan Kuba, het die Minister van Buitelandse
Sake, mev. Nskosasana Dhlamini-Zuma, haar as volg uitgelaat oor
kritiek op Kuba se swak menseregterekord en gebrek aan
veelpartydemokrasie: “Wat is belangriker? Dat mense stemreg het, of dat
hulle beter lewensgehalte behoort te hê?” Uit die mond van
‘n ANC-minister vind ons dus die volmaakte regverdiging vir
apartheid. As iemand
wat nooit vir die NP gestem het, of ‘n ondersteuner van apartheid
was nie, is dit miskien maklik vir my om te praat. Ek is egter
van mening dat selfs ondersteuners van apartheid, gegewe die verlede
van relatiewe voorspoed, ontwikkeling, asook oordrag van rykdom
vanaf blankes na swartmense, kwalik rede het om aan ‘n oordrewe
skuldkompleks te ly. Selfs Minister Dhlamini-Zuma stem hiermee
saam. Dan Roodt KOMMENTAAR DEUR DIE GROEP VAN 63 OP DR. DAN ROODT SE UITSPRAKE OOR APARTHEID BY DIE KKNK Die Groep van 63 het
met skok en ontsteltenis kennis geneem van dr. Dan
Roodt,
woordvoerder van PRAAG, se uitsprake oor apartheid tydens ‘n
debat oor
kollektiewe skuld en Afrikaners op 12 April by die Klein
Karoo Nasionale
Kunstefees (KKNK). Johann Rossouw Tel: 083-459-6364 |