|
|
||
| chronologie
|
‘n
Resensie oor die régime se propaganda Een
van die dae gaan ek iets skryf oor Etienne Leroux se novelle 18-44
waarin ‘n 44-jarige “knolskrywer” op ‘n dag ‘n brief
ontvang van ‘n 18-jarige inconnue, mej. X.
Die boek is vol heerlike subtiliteite wat ‘n vorige geslag
akademiese eksegete kwalik kon raaksien, en dit sou my genot verskaf
om my eie leesplesier met my lesers te deel. Ek voel ek is nou
reg daarvoor aangesien ek ook onlangs 44 geword het. In
hierdie dae sou mens seker moes praat van me. X, en ek het so-een in
my lewe waarmee ek toevallig getroud is, en miskien is dit minder as
toeval dat sy ook onlangs ‘n geesdriftige briefskrywer geword het.
Ek was net besig om aan 18-44 en die epistolêre verhouding tussen
die knolskrywer mnr. Y
en sy mej. X
te dink, toe ek op hierdie winterse Sondag die 1,7 miljoenste
eksemplaar van ‘n publikasie onder my neus gedruk kry saam met die
grootste Afrikaanse koerant, getitel “THE GREAT DEBATE – Unity,
Diversity and Race in South Africa”. Mej. X, waar is jy? Pleks van die “brief in jou
ongevormede handskrif” waarvan Leroux se knolskrywer mnr. Y praat,
en waarvan “iets hom verhinder om dit in die snippermandjie gooi”,
is daar die oninspirerende prosa van ‘n aantal mense wat, indien
dit van hul skryfstyl afgehang het, maar liefs op Robbeneiland
agtergelaat kon gewees het. Dit alles in die Koningin se taal,
want soos ek iewers daarin lees verteenwoordig die Afrikaner “die
vyand”. Dit
bekommer my nou alreeds geruime tyd dat sekere mense in die geledere
van die huidige bewind te veel van Afrikaners en selfs van Afrikaans
hou. Dit is baie sleg vir die moreel van taalaktiviste, onder
andere. Om myself dus as “vyand”, hopelik ‘n “vyand
van die staat” in Sowjet-jargon, getipeer te sien, het my
onmiddellik in ‘n beter stemming geplaas en ek het die prosa van
die régime met belangstelling begin lees. En, soos my lesers
teen dié tyd al kon vermoed, terstond besluit dat ‘n resensie in
die goeie ou taal van die verdrukker onafwendbaar sou wees om reg te
laat geskied aan hierdie besonderse literêre gebeurtenis waarin
daar, wat genoem word “essays” aan die volk daarbuite gebring
word, met kwalik bedekte revolusionêre ywer, soos ook moontlik
gemaak deur die vriendelike borgskappe van, o.a. Vodacom, Sanlam,
Avis, Shell, MTN, Anglo American en Eerste Nasionale Bank. Wat
dit natuurlik weer van hul kliënte sal verhaal, dit is nou u en ek.
Terloops, ek wonder waarom Sanlam ‘n propagandastuk in Engels borg
aan Afrikaanse lesers, of kan die ideologies suiwere sentimente
eenvoudig nie in Afrikaans uitgedruk word nie? ‘n
Mens vermoed dat die borge vrywillig verplig is om die sak te skud,
want te oordeel aan die subtiliteite van hierdie “debat”, is die
versoek seker met die spreekwoordelike AK 47 gerig.
“Debat” verkry hier nogal ‘n nuwe betekenis, want die laaste
keer toe ek aan sulke swart humor blootgestel is, was tydens ‘n
besoek aan Berlyn toe die muur nog gestaan het, en ek tot ‘n
voller begrip van die woord “demokraties” in die Deutsche
Demokratische Republik, ofte wel DDR, moes kom. Geen wonder mnr. Jakes Gerwel, wat insgelyks ‘n bydraer is
tot die onderhawige bydrae tot The Great Debate, was so
aangedaan toe die muur geval het nie, want daarmee het vorme van
“vrye debatvoering” onder die wakende oog van ‘n Mauerschutzer
of muurskutter voortydig tot ‘n einde gekom. Behalwe
uiteraard in Suid-Afrika, waar hierdie soort eenrigting-propaganda
wat met ‘n megafoon in jou oor geskree word, steeds deurgaan vir
“debat”. In ons verdrukkerstaal is dit natuurlik ietwat
anders gesteld, maar teen die tempo waarteen ons uit Suid-Afrika
gerangeer word as “die vyand” hoef ons gelukkig nie meer deel
van hierdie “Suid-Afrika” te voel waarin “demokratiese debat”
in die DDR-sin met komplimente van die staat voor ons uitgestal word
nie. ‘n
Mens sou so ver kon gaan as om te sê dat swart humor die
wesenskenmerk is van dié besonderse opus waaraan vele van ons
bekende politici en openbare figure meegewerk het, want reeds in die
voorwoord van die redakteur, Mnr. Mac Maharaj, bereik dié vorm van
makabere selfsatire ‘n apoteose met die titel “Let’s not talk
past each other”. Die
intelligente leser het reeds gesnap dat daar geen gevaar is dat ons
verby mekaar gaan praat nie, want daar word nie van ons verwag om
iets te sê nie. Soos mnr. Maharaj
dit stel, “The
aim of this special supplement is modest: we hope to
facilitate the debate and the process that will unite our
communities so that we realise the goal of a secular state and a
non-sexist, non-racial society.” (bl. 2) Daar
is reeds besluit dat ons onsself sal verenig onder die waardes en
wense van die régime, en die uitgehandigde program verteenwoordig
die “debat”. Die Speaker van die Parlement, wat onlangs in
die nuus was omdat die eurosentriese konsep van ‘n onpartydige
speaker haar nie langer aanstaan nie, en sy openlik partydig is vir
haar party wat in elk geval van die parlement ‘n rubberstempel van
die uitvoerende gesag gemaak het, gaan verder in die vrye
uitwisseling van menings wat hier geskied deur ons daaraan te
herinner dat, “Our
country remains littered with place names which reflect the
nomenclature of white superiority.” Hiermee
moet ons ons seker gereed maak dat Hoedspruit meer as sy hoed gaan
verloor, want laasgenoemde het mos onlangs gevorder tot ‘n
“apartheidsimbool” wat onverwyld uit die dorp verwyder moes
word. En wat van al die ander plekname waarin blanke baasskap
vergestalt is, soos Bloemfontein of Naboomspruit of Langebaan of wat
ook al? Straf die blomme en die spruite! Onderliggend aan hierdie kriptiese
verwysing na blanke baasskap moet ons seker verstaan dat enige
pleknaam in die verdrukkerstaal binnekort die onderspit gaan delf
soos Voortrekkerstraat nou pas in Bloemfontein vernoem is na die
duisendste “Nelson Mandela Avenue”. Gerwel
self berei as’t ware die weg voor deur die ANC-nasie in te lig dat
daar in die geledere van Afrikaanse taalstryders ‘n
“sentimentele swaai na regs is”. Pasop vir die regse gevaar! En Suid-Afrika is nie eens beskerm deur ‘n
goeie ou “anti-fascistischse Schandmauer” soos dié van Berlyn
waaroor hy so getreur het nie. Hy
gaan voort deur te praat van die bui onder die taalstryders as “predominantly
one of insecurity, distrust and insular mobilisation”. Gegewe
die literatuur waaraan ons blootgestel word, is dit waarskynlik geen
wonder nie, behalwe dat ek by die lees daarvan al hoe minder
“onseker van myself” voel en al hoe meer wantrouig en
mobiliseerbaar vir enige aksie wat die verdrukkerstaal in die gesig
van hierdie ou has been-apparatsjieks gaan gooi totdat hulle
daarin stik. Dieselfde
tandewys vir die Boere kom voor by mnr. Mandla Langa wat ek op ‘n
stadium in Duitsland meegemaak het toe dié nog insgelyks iewers aan
die verkeerde kant van die Muur weggekruip het in ballingskap.
Volgens hom het apartheid in Afrikaans “die volmaakte voertuig
gevind om die brutaliteit daarvan te verwoord”. Met ander
woorde daar is iets aan die taal self wat per se “brutaal” is,
‘n gedagte wat hy aan die einde van sy opstel ietwat weerspreek,
dog ook nie heeltemal nie, as hy bevoeg: “Afrikaans
is an African language, nourished in our backyards, sometimes by
people who resemble us, and is part of our pain. That is why,
when it refuses to become another one of our languages – and
allies itself with sentiments alien to this soil – our sense of
betrayal is all the more acute.” (bl. 6) Dink
daaraan as jy volgende keer oor Heidegger of Descartes skryf in
Afrikaans, en nie oor ubuntu nie, want jy is besig om nie die
Afrika-bloed-en-bodem-logika te eerbiedig nie. Die idee dat
Afrikaans “een van ons tale moet word” beteken sekerlik ook dat
dit ‘n agtergestelde posisie teenoor Engels moet aanvaar, ‘n
letterlike agterplaastaal, en dat ons dieselfde houding moet inneem
van “om jou eie taal op universiteit te wil sien, is verdelend vir
die nasie. ” ‘n
Mens sou gedink het dat die rassisme-tema teen dié tyd al uitgeput
moes gewees het, maar blykbaar is die narcisme van die swart élite
wat na hul eie huid staar ‘n bron van onuitputlike fassinasie.
Mnr. Jon Qwelane is van mening dat, in weerwil van die enkele wittes
wat tronk toe is aan die kant van die ANC, daar nogtans ‘n
“kollektiewe blankedom” bestaan wat swartmense tot hul voordeel
uitgebuit het. Hieronder tel elke witte wat nie die besondere
voorreg gesmaak het om saam met lede van die revolusionêre
voorhoede ‘n gevangenissel te deel nie. Vir my is die mees
enigmatiese sin in Qwelane se stuk die gedagte dat “the oppression
of blacks continues unabated” wat hy koppel aan die vertrek van
sekere maatskappye se hoofkantore na Londen. Tans verkeer die
hele Suid-Afrikaanse nomenklatura, waaronder ‘n hele vliegtuigvol
ministers en die President, vrywilliglik in Londen, dus het mnr.
Qwelane tog sekerlik begrip vir die aantrekkingskrag van die plek?
Of andersins berus sy stellings op ‘n verhewe logika wat ek te dom
is om te verstaan. Daar
is selfs ‘n paar “token” Afrikaanse bydraers tot die magnum
opus op koerantpapier wat die land getref het: Antjie Krog,
Chris Louw en Van Zyl Slabbert. Ek dink nie Gerwel sal homself
as Afrikaans wil definieer nie, want hy is so ‘n fanatiese
nasiebouer dat hy seker spyt is Microsoft het nie al lankal menslike
taal met ‘n bietjie sagteware vervang nie, sodat hy die Borg se
slagspreuke uit Star Trek saam met ‘n gekollektiviseerde
groep semi-robotte kan prewel: “We
are the Borg. We will assimilate you. Resistance is futile.” Beide
Chris Louw en Van Zyl Slabbert is uiters versigtig om nie aanstoot
te gee nie, maar ek het nooit geweet die woord “revolusie”
figureer so sterk in eersgenoemde se woordeskat nie. Louw dra
nogtans die idee oor dat daar iets van ‘n vervreemding by
Afrikaners bestaan, omdat ons nie “ons revolusie” gehad het nie.
Toemaar Chris,
dit kom nog. Hierteenoor “tender” Antjie Krog nog steeds vir haar datsja in ‘n
niksseggende stuk wat eindig met die inligting dat sy Mandela se
outobiografie in Afrikaans vertaal het. Geen wonder die
dame raak meer en meer introspektief en mistiek nie: sy is
besig om die Qunu-orde te stig en eersdaags gaan kloosters soos
paddastoele oor die land verrys waar al die nonne die Bybel gaan
wegsmyt en lang meditasies en bybelstudiesessies gaan deurbring met Long
walk to freedom. Tussen
die oproepe tot Afrika-revolusie en selfs ‘n naamsverandering vir
Robbeneiland deur, kom ‘n mens onder die indruk dat denke by ons
maghebbers min of meer bestaan uit gister se opgewarmde clichés,
alles aangebied in ‘n styl wat herinner aan Josef-Stalin-skryf-in-die-Randburg-Sun. Solank jy net “non-racial” en “non-sexist” sê, kan
jy maar jouself skuldig maak aan werklike fascisme en etniese haat
aanblaas teen minderhede, soos die stelling van ene Rehana Rossouw
van die Mail & Guardian dat een of ander groep
Afrikaner-illuminati steeds ons ekonomie beheer “Black
control of the economy is still minute compared to white (and
Afrikaner) control... [D]espite black political power
and the ever-diminishing number of Afrikaner faces in the House of
Assembly, the impression is created that Afrikaners still control
this country.” Ek
kan dit nie eers meer regkry om by ABSA of Sanlam in Afrikaans
gehelp te word nie, dog die Afrikaner-Illuminati beheer steeds die
land. Klink vir my baie na wat die nazi’s van die Jode gesê het:
al sien jy hulle nie, is hulle oral in beheer. Met
sulke “debat” wag daar donker dae op ons. Maar dit voel
lekker om weer gehaat te word, en die verdrukkerstaal is weer op sy
pos, ná die illusie dat Afrikaans nou weer aanvaarbaar was in
Suid-Afrika. Afrikaans en Afrikaners het nog altyd net goed
gedoen as hulle ‘n sterker mag moes opponeer. En: dink
net wat die apparatsjieks gaan doen as hulle eendag agterkom watse
hewige debat daar in dié taal woed, maar miskien sal hulle dit ‘n
ander naam gee, want is die betekenis van die woord “debat” nie
nog ‘n voorbeeld van baasskap à la Frene Ginwala nie? Nog
‘n naam om van die aardbol te verwyder? Dan
Roodt |