Regstellende aksie is onbillik en onregverdig
deur Dan Roodt
Hierdie verteenwoordig 'n repliek op twee artikels deur Daniël Kriel en Chris Landsberg, gepubliseer in Rapport van 27 Januarie 2002. Albei is geskryf in reaksie op 'n rubriek in Rapport van 20 Januarie deur die huidige skrywer. (Kliek op onderstreepte skakels na Rapport.)
Terwyl daar in die
VSA ‘n lewendige debat oor regstellende aksie gevoer word, ‘n debat wat
toenemend deur die teenstanders daarvan gewen word, word dit in Suid-Afrika
beskou as taboe om jou daarteen uit te spreek, anders loop jy die risiko om as
‘n rassis en ‘n renegaat uitgekryt te word.
Regstellende aksie is vandag ‘n groter heilige koei as enige aspek van
die ou NP-beleid.
Die enigsins
negatiewe reaksie op my rubriek (Rapport 20 Januarie) deur mnre. Daniël
Kriel en Chris Landsberg verbly my in dié sin dat ons ten minste nou opgehou
het om voor te gee dat daar ‘n nasionale konsensus oor die kwessie bestaan.
Veral onder jong blankes waarvan honderdduisende die land reeds verlaat
het as ‘n regstreekse gevolg van regstellende aksie – meer SA ballinge as
wat daar ooit onder apartheid was – heers daar ‘n graad van moedeloosheid en
‘n gevoel van toekomsloosheid wat nie onderskat moet word nie.
Mnr. Kriel beweer dat
regstellende aksie by maatskappye neerkom op “‘n normale sakebesluit”.
Indien ondernemings so oortuig was van die wonderlike nuwe
sakegeleenthede en –uitdagings wat RA bied, waarom vind die regering dit nodig
om dit by wyse van baie streng wetgewing af te dwing? As
die beweging na rassevoorkeure so byna spontaan plaasvind, waarom ag die
Departement van Arbeid dit nodig om honderde en selfs duisende amptenare aan te
stel om maatskappye te intimideer en te polisieer, en word daar gereelde
“vorderingsverslae” verlang?
Feit is dat die
beleid van rassekwotas gepaard gaan met boetes en ander dwangmaatreëls wat in
wese ons ekonomiese vryheid inperk en dreig om van Suid-Afrika ‘n meer totalitêre
land te maak as wat dit ooit onder apartheid was.
Daar was groepsgebiede, maar geen swart of Indiërsakeman is ooit gedwing
om ongekwalifiseerde Afrikaners in sy onderneming aan te stel nie.
Ten minste het die ou NP van die wortel (subsidies) gebruik gemaak om sy
grensnywerhede te probeer vestig, en nie die stok (dwangmaatreëls) soos die ANC
nie.
Beide mnr.
Kriel en mnr. Landsberg is ten
gunste van rassekwotas, want soos dit gestel word, maak “tradisionele meriete
by aanstellings nie meer sin nie”. Die
beswaar hierteen is dat dit onder normale omstandighede al uiters moeilik is om
te bepaal watter maatstawwe by aanstellings en bevorderings behoort te geld,
sonder dat dinge soos kwalifikasies, opleiding en ervaring inderdaad oorboord
gegooi word.
Hier in Johannesburg
het ek al verneem van min of meer ongeletterde swartmense wat in baie hoë poste
by maatskappye aangestel word teen ontsaglike salarisse bloot omdat hulle
byvoorbeeld goeie regeringskonneksies het.
Die manier waarop staatskontrakte deesdae toegeken word, nie op grond van
“tradisionele” kriteria soos prys en dienslewering nie, maar op grond van
regstellende aksie en ander politieke kriteria, lei noodwendig tot
ondoeltreffendheid en selfs korrupsie. Sakemense
synde wie hulle is, d.i. amorele mense wat deur die winsmotief gemotiveer word,
gaan nie skroom om omkoopgeld, onder-die-tafel-kommissies, en dergelike te
betaal om by hulle doelwit uit te kom nie.
Daar is reeds tekens dat regstellende aksie sover dit openbare tenders
aanbetref, afstuur op een groot stelsel van geïnstitusionaliseerde korrupsie
waar swart tussengangers miljoene rande ontvang deur bloot hulle name te voeg op
maatskappybriefhoofde en dergelike maneuvers om ‘n politiek korrekte front
voor te hou.
Miskien ly ek soos
mnr. Kriel sê aan ‘n “eng benadering en tonnelvisie”, laasgenoemde synde
een van die soort sinnelose clichés (soos “om uit jou gemaksone te kom”)
wat sommige sakemense gebruik wat nie tyd het om boeke te lees om hul woordeskat
aan te vul nie. Hy meen ook dat die
“fokus op ‘n hoofsaaklik blanke mark, aangevuur deur tradisionele
eurosentriese bemarkingsveldtogte... nie meer goed genoeg is nie.” Ek kan net dink dat hy beïndruk moet wees deur die onlangse
voorbeeld van die onverskrokke ABSA wat soos die Permanente Bouvereniging voor
hom die “nuwe uitdaging” aanvaar het om aan mense geld te leen wat dit nie
kan of wil terugbetaal nie. Hiermee
het ABSA se aandeelhouers en deposante inderdaad nog ‘n paar miljard rand
geskenk aan hierdie “nuwe leners” wat reeds op soveel ander gebiede voordele
soos behuising, waterverskaffing en telefoondienste ontvang wat direk en indirek
deur die belastingbetaler gesubsidieer word.
Voeg hierby nog die groot bedrogprobleem wat blykbaar by banke en ander
instellings sy kop uitgesteek het sedert rassekwotas ‘n werklikheid geword
het, en ons verstaan dat die koste van sake doen in Suid-Afrika eksponensieel
gestyg het. Ons reggestelde
polisiediens waar mens soms jou eie klagstaat moet opstel omdat jy andersins
elke woord sal moet spel vir die persoon wat dit afneem, toon baie goed watter
groot voordele dit vir ‘n land inhou as hy doeltreffendheid in die verre
tweede plek stel benede rassevoorkeure sodat misdadigers hul vryheid kan opeis
ten koste van die gewone burger. Nou
onlangs het KLM aangekondig dat hy nie meer waardevolle vrag na Suid-Afrika wil
vlieg nie, omdat die veiligheid daarvan nie verseker kan word nie.
Verbaas dit nog dat ons maatskappye verkies om in die buiteland te
noteer, te belê en ook daar sake te doen, eerder as hier by ons?
Dit wil sê diegene onder hulle wat nou nie aandeelhouersfondse sien as
risikokapitaal om die wêreld ‘n beter plek te maak nie, met opbrengs maar
‘n bysaak.
Self betwyfel ek dit
sterk of regstellende aksie enige morele meriete het, omdat mense wat gal braak
oor apartheid en rasseverdrukking soos mnr. Landsberg net eenvoudig nie die
moeite doen om geskiedenis te lees nie. Daar
is geen blanke groep ter wêreld, die Skandinawiese lande inkluis, wat meer
gedoen het om swartmense op te hef, van behuising, skole en hospitale te
voorsien, as Suid-Afrikaanse blankes en veral Afrikaners nie.
Die feit dat dit met paternalisme gepaardgegaan het of dat hulle soms nie
in dieselfde krietketspan wou speel nie, maak geen duit verskil aan hierdie
historiese en ekonomiese werklikheid nie.
Mnr. Landsberg, onthou net dit: volgens ingeligte bronne het die Suid-Afrikaanse regering en daarom die hoofsaaklik blanke belastingbetaler onder apartheid meer geld bestee aan tuislandontwikkeling as wat al die agentskappe van die Verenigde Nasies op al die arm lande ter wêreld uitgegee het sedert die Tweede Wêreldoorlog. Dit was reusebedrae, veral in vandag se geld. Die ontwikkelingskomponent van apartheid was die heel eerste regstellende aksieprogram, en wat nie die verlangde effek gehad het soos sê maar die Amerikaanse Marshallplan in Europa ná 1945 nie.
Die politiek
korrekte weergawe van regstellende aksie is ewe duur of nog duurder as dié
onder apartheid. Selfs die
rykste land op aarde, Amerika, steier daaronder. Soos
Dinesh d’Souza dit stel in sy boek The end of racism,
“Die Amerikaanse
werksmag word gekorrupteer deur die nuwe ideologie van rassevoorkeure, wat
onberekenbare kostes aan produktiwiteit opdring. Hierdie kostes kan nie net eenvoudig bereken word met
verwysing na die $30 miljard wat maatskappye jaarliks bestee aan
oorbruggingsopleiding, of die bykomende miljarde wat maatskappye jaarliks
verloor as gevolg van onderprestasie nie. Nóg
kan dit beperk word tot die ongeveer $100 miljard wat die tydskrif Forbes
beraam as die koste van federale, staats- en private rasgebaseerde
beleidsrigtings. Veel eerder is die
koste van diversiteit (lees: regstellende aksie, D.R.) die koste van verlaagde
standaarde oor ‘n breë front, sodat maatskappye opeindig met werknemers wat
tot minder in staat is, swak spanwerk, en verlaagde produktiwiteit.”
Die blote geldelike
koste van regstellende aksie in Amerika, waar ‘n raps meer as tweehonderd
miljoen blankes en Asiërs poog om dertig miljoen swartmense op dieselfde
ekonomiese en opvoedkundige peil as hulself te bring, is dus omstreeks 100
miljard dollar per jaar, ‘n bedrag gelykstaande aan Suid-Afrika se Bruto
Nasionale Produk. Sommige skrywers
beweer verder dat ongeveer 50% van Afro-Amerikaners een of ander vorm van
staatshulp of –subsidie ontvang, die sogenaamde welfare.
Soos ‘n Amerikaanse
vriend van my, wat toevallig ‘n paar jaar in Suid-Afrika gewoon het, opgemerk
het: “Regstellende aksie is ‘n
kranksinnige luukse wat ons kan bekostig omdat ons die rykste land ter wêreld
is met ‘n BNP van agt triljoen dollar. Vir
julle gaan dit ekonomiese selfmoord beteken.”
By die
Suid-Afrikaanse Reserwebank het die hoeveelheid werk nie toegeneem sedert 1994
nie. Nietemin het die werksmag
gestyg van 1200 tot 2000, en gaan dit glo verder vermeerder word tot 3 000.
Om regstellende aksie te akkomodeer, het die land se sentrale bank dus
meer as dubbel soveel personeel nodig, omdat “tradisionele meriete” soos
opleiding en ervaring nie meer geld nie. Wat
by die SARB gebeur, is waarskynlik ‘n mikrokosmos van wat elders in die
ekonomie aan die gang is, waar blankes nie sonder meer afgedank kan word nie
omdat hul kundigheid steeds benodig word, maar waar ‘n groter massa swartmense
veral in die hoër poste aangestel word, wat vir ons verduidelik waarom die
“nuwe mark” vir luuksegoedere in Suid-Afrika inderdaad hoofsaaklik uit
swartmense bestaan.
Suid-Afrika se vier
miljoen blankes is reeds die armste mense van Europese afkoms ter wêreld, met
die uitsondering van dele van Oos-Europa waar ‘n ander gelykheidsideaal tot
onlangs met ywer nagevolg is. Daar
bestaan ‘n soort nasionale mite dat dieselfde middelklasmense wat spook om hul
motor- en huisafbetalings, asook skoolfooie net-net te kan betaal, oor ‘n
geheime bron van rykdom beskik waarmee hulle die meer as dertig miljoen
swartmense in Suid-Afrika van ‘n regstellende aksieprogram gaan voorsien wat
met dié van Amerika kan vergelyk. Dit
beteken min of meer vyftien miljoen mense op welfare, met behuising,
water, telefone, skole, gesondheidsorg, al die basiese geriewe waarsonder ons
hulle hul menswaardigheid sou ontsê. Ons
kan net sowel droom daarvan om ‘n ruimteprogam soos dié van NASA te hê, of
‘n vloot met vliegdekskepe om met dié van die VSA mee te ding. Of hoekom nie
‘n ekstra $50 miljard dollar (die helfte van ons BNP) om sommer net gou die
terroristeprobleem in Afghanistan te gaan uitsorteer, soos wat die Kongres ná
11 September gestem het nie? Hoeveel
langer gaan ons onsself hieroor om die bos lei?
As mnr. Landsberg
praat van die onhoudbare ongelykheid in Suid-Afrika, veronderstel ek hy bedoel
die ongelykheid tussen wit en swart. Maar
wat van die ongelykheid tussen swart en swart?
Die GINI-koëffisiënt tussen ryk swartes en arm swartes is hoër as dié
tussen wit en swart. Rus daar nie ook ‘n verantwoordelikheid op die groot getal
swart pasrykes wat hul welvaart so opsigtelik adverteer, om ook by te dra tot
die opheffing van hul eie mense nie? Toe
die helfte van Afrikaners onder die broodlyn geleef het in die Dertigerjare, het
hulle van Engelse verwag om hulle “reg te stel”, of aangedring op kwotas vir
die aanstelling van Afrikaners op die besture van die mynhuise en groot
winkelgroepe? Nee, hulle het self
hulle eie mense gehelp. By
Volkskas, wat tans deel is van genoemde ABSA met sy afrosentriese reklame en
waar mens nie meer in Afrikaans gehelp kan word nie, was daar weeklikse
kollektes onder die werknemers vir hul volksgenote wat nie werk gehad het nie.
Hoeveel begunstigdes van regstellende aksie sou vandag bereid wees om
dieselfde te doen? Dit is soos die
Onderwysdepartement wat dit self nie regkry om die swart skole te laat werk nie,
en nou van die model C-skole verwag om elkeen so ‘n skool “aan te neem”
(sogenaamde twinning) sodat ons oorwerkte, onderbetaalde Afrikaanse
onderwysers nou ook swart onderwysers se werk kan gaan doen.
Die verlaging van
standaarde aan universiteite is so erg dat, volgens ‘n brief in Die Burger
verlede jaar, die hoof van Opvoedkunde aan die Universiteit van Kaapstad sou gesê
het dat hulle deesdae Magistergrade toeken aan mense wat onder die vorige
bedeling sou gesukkel het om standerd agt te haal. Dan kry ons nog gevalle soos 'n personeellid van die
Oranjehospitaal in Bloemfontein wat vereis dat blanke vroulike sielkundestudente
hom nie in die oë kyk as hulle met hom praat nie, iets
wat nie in sy kultuur geduld word nie. Afroseksisme
en Engels word op ons studente afgedwing tesame met regstelling, maar indien
blankes sou kla oor swart tafelmaniere wat hulle ongemaklik laat voel by
multikulturele etes, sou dit sekerlik afgemaak word as wit rassisme.
'n Ander geval waar kultuurkonflik tot konsternasie gely het, was by 'n Johannesburgse aksepbank waar 'n swart amptenaar in die korporatiewe finansieringsafdeling nie van twee weke se verlof teruggekeer het nie, maar wel ná twee maande. Nie net was hy ses weke laat nie, maar hy het ook 'n bees se galblaas met droë bloed en ander organiese materiaal rondom sy kop gedra wat glo soos 'n reusekondoom gelyk het. Hy is intussen geroep deur die voorvaders. 'n Kloof het in die bank ontstaan tussen Indo-Europeërs aan die een kant, en swartmense aan die ander kant, oor die insident. Volgens die swart personeel kan niemand dit verhelp as jy deur die geeste geroep word nie, terwyl die res gemeen het hy werk in 'n Westerse omgewing met eurosentriese reëls en dat hy hulle behoort na te kom. Die Britse hoof van die bank se kommentaar oor sy hooftooisel was, "ons is almal dieselfde, al verskil ons kulture, maar dis 'n kwessie van higiëne". Die betrokke persoon is nie afgedank nie, omdat niemand kans gesien het om die turksvy van verskillende paradigmas aan te pak nie. Die vraag of mens korporatiewe finansiering kan beoefen en eurosentriese - dikwels Europese en Britse - kliënte kan te woord staan met 'n galblaas om jou kop, is nooit beantwoord nie.
Regstellende aksie,
soos die hersonering van munisipaliteite om woonbuurtes waar niemand vir dienste
betaal nie in te sluit by dié wat wel betaal, verkry dikwels die aanskyn van
‘n bloedsuiery waar diegene wat ontvang dit as ‘n soort aangebore reg
beskou. Apartheid, of die
stereotipe daarvan, verskaf die legitimerende mite vir hierdie bloedsuiery.
Mnr. Landsberg wil
uiteindelik beweer dat regstellende aksie die prys is wat blankes moet betaal
vir vrede in Suid-Afrika. Dit
geskied dus met ‘n geweer teen ons koppe.
In ‘n ander sin verteenwoordig regstellende aksie “oorlogskuld” wat
Afrikaners moet betaal, ná hulle by die onderhandelingstafel, en nie op die
slagveld nie, oorwin is. Dit is
‘n blanko tjek wat mnre. De Klerk en Roelf Meyer namens ons almal uitgeskryf
het, en iemand gaan vir ons die nulle invul.
Volgens mnr.
Landsberg skep regstelling stabiliteit, wat ‘n rasseoorlog verhoed.
‘n Mens kan ook argumenteer dat die beleid onrealistiese verwagtings
aanwakker van toekomstige regstellings wat, soos by plaasmoorde, rassegeweld
aanstook. As poste van blankes
afgevat kan word, waarom nie ook grond en besittings soos in Zimbabwe nie?
Soos München 1938 bewys het, kan die kort-termynvermyding van konflik en
toegewings aan onregverdigheid op die duur lei tot grootskaalse oorlog.
Afrikaner-swakheid sedert die vroeë negentigerjare het die persepsie by
die ANC geskep dat hy maar kan maak wat hy wil, sonder dat daar ‘n teenreaksie
of opstand sal wees. Regstellende
aksie is onbillik en onregverdig en druis in teen die gelyke behandeling van
elke burger onder ‘n demokrasie.
In baie opsigte
vergelyk die posisie van blanke Suid-Afrikaners reeds met dié van Griekse slawe
in Rome. Hulle was beskaafde,
opgeleide mense wat polities en militêr ontmagtig is.
Hulle moes die kinders van die Romeine oplei, en hul kundigheid ter
beskikking van hul meesters stel, terwyl hulle self verlief moes neem met hul
ondergeskikte stand. ‘n Vriend
van my met ‘n doktorsgraad is eers afgedank (“reggestel”) en vervang deur
‘n buitelandse swarte, en ná ‘n periode van werkloosheid is hy tans ‘n
minderwaardige opleier vir sy nuwe base, wat natuurlik swart is. Hierdie hoogs opgeleide en gekultiveerde man is in ‘n
neutedop besig om sy nuwe base te leer lees en skryf in Engels, wat een en almal
baie verantwoordelike posisies beklee, groter salarisse as hy verdien, ens.
Vele jong en
nie-so-jong blankes vorm deesdae deel van ‘n nuwe verskynsel wat die ANC
geskep het en wat nêrens elders ter wêreld bestaan nie: opgevoede werkloses. Daar
bestaan ‘n aanvraag vir hul kundigheid in die ekonomie, maar hulle behoort tot
die verkeerde ras.
Die moraliteit van
regstellende aksie is ‘n komplekse probleem wat liefs in boekvorm
geargumenteer moet word, met breedvoerige verwysing na die Suid-Afrikaanse
geskiedenis, asook gegewens oor belastings en besteding uit die verlede sover
dit die verskillende rassegroepe betref. In
wese verskil die teorie oor historiese skuld en ‘n “ongelyke speelveld”
(kwalik ‘n Afrikaanse term) wat mnr. Landsberg propageer, egter nie van die
argument oor vergoeding aan Afrika weens kolonialisme wat in Durban deur die wêreldgemeenskap
verwerp is nie.
Vele swartmense in
die VSA het hulle al uitgespreek téén regstellende aksie omdat dit negatief
reflekteer op diegene onder hulle wat op eie meriete sukses behaal.
Thomas Sowell, die skrywer van Race and Culture wat deur radikale
Afro-Amerikaners as ‘n “verraaier” beskou word, laat hom as volg uit oor
oproepe om regstellende aksie in Maleisië, Sri Lanka, Indië, Afrika en die
VSA:
“Die gemene deler
in hierdie hoogs verskillende samelewings blyk te wees, nie slegs nydigheid
jeens ander groepe se sukses nie, maar ook die vrees vir ‘n onvermoë om met
hulle mee te ding, gepaard met ‘n pynlike verleentheid om so sigbaar
‘onderverteenwoordig’ – of afwesig – te wees in prestigeryke professies
en instellings. Om hieraan te
remedieer binne ‘n polities relevante tydshorison, vereis nie net bykomende
geleenthede nie, maar geoormerkte voordele wat direk uitgedeel word op ‘n
rasse- of etniese basis.”
Onderliggend aan
regstellende aksie is dus nie net ‘n versugting na ‘n “gelyke
geleenthede” nie, maar ook ‘n vrees dat daar nie meegeding sal kan word nie al
is daar gelyke geleenthede. Vandaar
die “geoormerkte voordele” wat in Suid-Afrika die vorm aanneem van
“verteenwoordigend van die bevolkingsamestelling”. Weer eens is die kontras met die Afrikaans-Engelse geval
helder: Afrikaners was, selfs toe
hulle arm en ongeleerd was, nie
bang om met Engelse mee te ding nie, al het laasgenoemde hulle as “dom en
minderwaardig” beskou. Die vrees
om met hardwerkende, gedissiplineerde wittes met hul Calvinistiese,
eurosentriese werksetiek, te moet meeding, verteenwoordig sekerlik die helfte
van die beweegrede agter rassevoorkeure.
Nog ‘n swart
skrywer, Daniel Etounga-Manguelle van Kameroen, is van mening dat Afrikane ‘n
“kulturele aanpassingsprogram” soortgelyk aan die strukturele
aanpassingsprogramme van die Wêreldbank nodig het, juis omdat afguns op ander
se sukses so ‘n integrale deel van die Afrikakultuur uitmaak.
Volgens hom “is Afrikasamelewings soos ‘n voetbalspan waarin, as
gevolg van persoonlike rusies en ‘n gebrek aan spangees, een speler nie die
bal wil aangee aan ‘n ander nie uit vrees dat hy ‘n doel mag aanteken.” Om blanke doele te keer, is swartmense bereid om Suid-Afrika
te laat verloor in die groter ekonomiese wedstryd teen ander lande waar slegs
die beste speler vir die span gekies word, ongeag sy ras of afkoms.
In die praktyk neem die beleid van regstellende aksie by ons ook toenemend die vorm aan van etniese oorheersing. Die Griek mag geletterd en beskaafd wees, maar die Romein is die enigste volwaardige burger. Ek vermoed dat die geslag wat tans op die skoolbanke is, nie vir altyd net Grieke wil wees nie.
Verwysings
Sowell, Thomas. Race and culture - a world view. New York: Basic Books, 1994.
Etounga-Manuelle, Daniel. "Does Africa need a cultural adjustment program?" in Harrison, L.E. en Huntington, S.P. Culture Matters - how values shape human progress. New York: Basic Books, 2000.
D'Souza, Dinesh. The end of racism - principles for a multiracial society. New York: The Free Press, 1995.