Die Derde Britse Besetting

deur Dan Roodt

Verlede jaar tydens Mbeki se besoek aan Brittanje, was daar een foto van ons bedeesde president wat langs Liesbet die Tweede in haar koets ry wat my intuïtief laat dink het dat hy tog maar ‘n onderdaan van die Ryk gebly het.

Ook die vertrek van Suid-Afrikaanse maatskappye na Londen en die verskuiwing van beheer oor ons ekonomie na die City is ‘n verdere leidraad dat Engelse invloed in Suid-Afrika geweldig toegeneem het.

Vir baie Afrikaners wat nog net in geskiedenisboeke gelees het van Engelse hovaardigheid of ‘n verbod op hul taal in skoolklaskamers, gee die huidige bestel ‘n gevoel van déjà vu.  Die huidige Minister van Onderwys, Kader Asmal, ‘n kwasi-Brit wat probeer pukka praat in Pretoria, het hom ten doel gestel om ons kinders te assimileer deur die reste van Afrikaneridentiteit, hetsy wat godsdiens betref, hetsy m.b.t. geskiedenis of onderrigmedium, uit die skoolstelsel te weer.  Die arrogansie van die man herinner sterk aan die Britse lords van weleer vir wie geen prys ooit te hoog was om Suid-Afrika volkome binne die Engelse invloedsfeer te bring nie.

Die Eerste Britse besetting het geduur van 1795 tot 1803, en is vir net minder as drie jaar onderbreek deur die Bataafse bewind van Kommissaris-Generaal Jacob de Mist en Goewerneur Jan Willem Janssens (20 Februarie 1803 tot 10 Januarie 1806).  Ná 1806 is die Kaap volkome oorgeneem deur die Britte, totdat Suid-Afrika onafhanklik geword het in 1910.  Intussen was daar die onafhanklike republieke in die Transvaal en die Vrystaat, wie se soewereiniteit onwettiglik beëindig is deur die Tweede Vryheidsoorlog.  Sommige sou wou beweer dat ons eers werklik soewereiniteit terug ontvang het in 1961 met republiekwording onder Verwoerd.  In elk geval is die geskiedenis besig om hom te herhaal, want oor die afgelope driehonderd-en-vyftig jaar (dis vanjaar weer eens ‘n ronde getal sedert Van Riebeeck voet aan wal gesit het aan die Kaap) het plaaslik gebore burgers nog altyd gesukkel om hulself te bevry van koloniale invloed vanuit die metropool te Amsterdam of Londen.  Tans ervaar ons ‘n soort Derde Britse Besetting waardeur Engeland indirek regeer via sy koloniale vasalle wat Engels praat, Engelse klere dra, whiskey drink, en vir alle praktiese doeleindes deel is van “multi-kulturele Brittanje” soos wat Tony Blair dié land nou onlangs amptelik getipeer het.

Miskien klink my teorie vergesog, want is ons dan nie in die tydvak van Afrika-nasionalisme en -bevryding nie?  Oorweeg egter die volgende:  tydens die oorgang in die vroeë negentigerjare was Ambassadeur Renwick van die Verenigde Koninkryk aktief betrokke by die aanvanklike samesprekings tussen die NP en die ANC.  Daar is selfs gerugte dat die Britse geheime diens, MI6, sterk meegewerk het om die destydse bewind die “paradigmaskuif” te laat maak, Mandela vry te laat en die res is, om ‘n gepaste anglisisme te gebruik, geskiedenis.

Dink ook daaraan dat die groepie ANC-ballinge wat besig was om weg te kwyn in Oos-Europese hoofstede in die ban van hul kommunistiese ideologie kwalik die mag in Suid-Afrika sou verower het as hulle nie bygestaan is deur die magtige Britse anti-apartheidsbeweging onder Eerwaarde Trevor Huddlestone nie.  Trouens, sonder logistieke en finansiële steun vanuit die Britse Arbeidersparty sou daar nooit veel meer as ‘n handvol betogers op Trafalgarplein voor Suid-Afrikahuis opgedaag het nie.

Die invloed van Eerwaardes en Engelse predikante op die Suid-Afrikaanse politiek is natuurlik legendaries, vanaf dr. John Philip wat bereid was om leuens te versprei in Engeland oor die optrede van plaaslike burgers teenoor die inheemse bevolking, tot mense soos Biskop Tutu of dr. Beyers Naudé wat ewe seer die gehate wit Suid-Afrikaner in die beskuldigdebank geplaas het.  Reeds voor die Rivoniaverhoor in 1964, het die ANC/SAKP probleme ondervind om hul abstrakte idees oor revolusie en klassestryd aan hul volgelinge oor te dra, en dit is eers toe daar spesifiek oorgegaan is tot ‘n anti-Afrikaanse strategie soos verwoord deur die “kill a Boer, kill a farmer”-slagspreuk, dat daar enige roeringe onder die massas plaasgevind het.

Vele van die onlangse rasseinsidente, soos byvoorbeeld die Angelina Zwane-geval waar ‘n fratsongeluk plaasgevind het toe ‘n swart baba deur ‘n blanke kleinhoewebewoner doodgeskiet is, herinner aan die beste tye tydens dr. John Philip se teenwoordigheid aan die Kaap toe elke Kaapse burger voorgestel is as ‘n sadis wat naturelle mishandel.

Die propagandistiese wanvoorstelling van plaaslike blankes en veral Afrikaners in die Britse metropool ten einde intervensie vanuit daardie oord te ontlok, loop soos ‘n goue draad deur ons geskiedenis.  Dit was so in die 1830s en dit was ook so in die 1980s.  As mens kyk na Britse naturellebeleid in Suid-Afrika, dan is stemreg verskeie kere toegestaan aan swart- of bruinmense wanneer laasgenoemde opgevorder kon word teen die inheemse wittes, en is dit weer weggeneem as dit nie meer van nut was nie.  Die Engelse het nog altyd geglo dat hulle met lis en diplomasie die swartes kon manipuleer om hul doel te dien.

Die manier waarop ons regering ‘n gat in die kop gepraat is om Anglo, De Beers en SA Brouerye na Londen te laat verskuif, is waarskynlik een voorbeeld van dit wat Napoleon “perfide Albion” oftewel “listige Engeland” genoem het.  Die naïewelinge wat ons regeer, wie se kennis van ekonomie en finansies ontleen is aan negentiende-eeuse Duitse of Russiese handboeke deur Marx en Lenin, kon onmoontlik al die implikasies van dié skuif verreken het.  Die ongekende bloeitydperk wat die Engelse taal, kultuur, opvoedkunde en finansies onder die ANC-bewind binnegegaan het, dui aan dat die pogings van Ambassadeur Renwick nie tevergeefs was nie.  ANC-wantroue jeens plaaslike ekonomiese rolspelers word vergestalt deur Mbeki se komitee van buitelandse ekonomiese raadgewers terwyl daar ‘n tiental Afrikanerekonome bestaan wat hom veel beter sou kon adviseer.  Dit spreek vanself dat die privatisering van Telkom, soos ook die rand se onlangse induiestorting, groot voordele inhou vir die Londense banke.  Plaaslike talent kom nie in aanmerking vir groot privatiseringstransaksies nie, en aangesien die Duitse en Switserse banke Suid-Afrika deur die sanksiejare gehelp het, kan mens redelik seker wees dat hulle ook bedroë daarvan sal afkom.

Soos ons almal weet, beskik Suid-Afrika tans oor ‘n etniese regering van Xhosas waarby ‘n aantal Zoeloes gekoöpteer is.  Albei behoort tot die onderling verstaanbare Nguni-taalgroep, waarvan die sprekers reeds anderhalf eeu onder Brits-koloniale en veral sendelinginvloed verkeer, afkomstig uit die Oos-Kaap en Natal.  Swart volke wat in die verlede onder die Afrikaner-invloedsfeer was en nie noodwendig ‘n antipatie teenoor Afrikaans het nie, soos die Sothos of Tswanas, is min of meer volkome van die mag uitgesluit, soortgelyk aan Afrikaners self.  Marthinus van Schalkwyk se onlangse maneuver waar hy die erg verswakte NNP as koalisievennoot by die ANC gevoeg het, verteenwoordig eintlik die patetiese bevestiging van Afrikaneroorheersing onder die Derde Britse Besetting wat in 1994 begin het.  Dit sou wensdenkery wees om te dink dat daar hoegenaamd enige invloed op die huidige bewind langs hierdie weg verkry sou kon word.

‘n Kritiek op bogaande analise sou kon wees dat dit as “anti-Engels” of "anti-Brits" opgeneem kon word.  Kom ons dink ‘n bietjie verder hieroor.  Die geskiedenis van Britse bemoeienis in Afrika is nie illuster nie.  Daar is geen enkele oud-Britse kolonie soos Kenia, Zambië of Zimbabwe wat vandag hoegenaamd suksesvol is in enige sin, hetsy polities, hetsy ekonomies, nie.  Britse koloniale dryfkrag is boonop vanuit Suid-Afrika georganiseer en gefinansier!  ‘n Mens hoef bloot aan Rhodes se beroemde “Kaap tot Kaïro”-wens te dink.  Vir Kitchener was die Boere bloot nog ‘n inheemse ras wat hy kon uitdelg ná sy Soedanese ekspedisie.

Sendelingopvattinge van gelykheid in die negentiende eeu het groot onstabiliteit veroorsaak, iets wat ook in Amerika tot probleme aanleiding gegee het en sover ek verstaan een van die aanleidende oorsake was vir die Amerikaanse Vryheidsoorlog.  In dié verband het W.A. de Klerk al gewys op die ooreekomste tussen die Amerikaanse Onafhanklikheidsverklaring (Declaration of Independence) en Retief se Manifes.  Vandag sit ons met begrippe wat vanuit “liberale” Amerika oorgeneem is, soos onder meer dié van “gelykheid van uitkomste”, asook ‘n hele visie van “multikulturele Engelsheid” wat net so oorgeneem is vanuit die dampkring van die Britse Arbeiders.  Mbeki is bloot ‘n Blair met ‘n swart vel.

Die parallelle tussen die oorgang in Suid-Afrika en in Zimbabwe is ook te ooglopend om nie raak te sien nie.  Ná Lancasterhuis het die kreet van Ian Smith en die res van die Rhodesiese blankes opgegaan dat hulle “uitverkoop” is, omdat die skyn van onderhandeling slegs deur die listige Engeland geskep is ten einde die mag volkome aan Mugabe te oorhandig.  Twintig jaar later kan ons die resultaat van Britse diplomasie in daardie land aanskou.  Net so het De Klerk, gerugsteun deur Britse beloftes en versekerings, die belofte gedoen dat daar ‘n tweede referendum sou plaasvind, dat daar magsdeling sou wees, wigte en teenwigte, en die ander mooi woorde waarmee die publiek gesus is.  Hiervan het dadels gekom, en hoewel ons in naam geen Britse kolonie meer was sedert Uniewording nie, het ons “gedekoloniseer” à la Lancasterhuis met ‘n holderstebolder-magsoorgawe aan die sterkste bende aan die oorkant.  Dit alles sodat Engeland ons voortaan behoorlik kan kom herkoloniseer.

Daar is egter iets soos plaaslike Engelsheid, en ek wil dit nie in twyfel trek dat vele van ons Engelse inheems is nie.  In die vroeë dae ná die aankoms van die 1820-setlaars was daar spontane samewerking tussen Boer en Brit in die aangesig van die Xhosagevaar en ervaring van plaaslike toestande het die nuwe aankomelinge vinnig genees van koloniale illusies van naturelle-onskuld soos dit deur die sendelinge voorgehou is.  Vyftig persent van plaaslike Engelssprekendes praat ook Afrikaans, luister na die Afrikaanse radio, kyk na Afrikaanse TV en as ons beter koerante gehad het, sou hulle waarskynlik ook ons koerante gelees het.  Baie Afrikaners het met Engelse ondertrou en in daardie opsig is daar moeilik ‘n lyn te trek tussen die twee groepe.

Teenoor die vyftig persent wat verinheems is, is daar ‘n groep van upper class-stedelinge wat steeds ‘n sterk band met die metropool aanvoel en waarvan baie reeds geëmigreer het.  ‘n Groot deel van die plaaslike Engelse intelligentsia ly boonop aan ‘n geheel en al koloniale uitkyk, en beskik oor geen onafhanklike denkvermoë nie.  Hulle is die ware erfgename van die Britse Sendelinge wat in plaaslike blankes die verpersoonliking van boosheid sien, en met oorgawe die soort logiese absurditeite bedryf wat ‘n mens byvoorbeeld in die Menseregtekommissie se rasseteorieë aantref.  Dit is altyd met genoegdoening wat ek konstateer in welke mate ‘n instelling soos die Menseregtekommissie met sy oordrewe swart-nasionalistiese sin vir blanke boosheid, afhanklik is van die Universiteit van Kaapstad - asook ander tradisioneel Engelse universiteite - se navorsers.  Sonder die intellektuele hulp van die Engelse intelligentsia sou die ANC nooit aan bewind gekom het nie.  Benewens die soustrein-nomenklatoera van Xhosas en Zoeloes wat ons regering uitmaak, is daar veral in die meer tegnokratiese posisies ‘n groot aantal Engelse intellektuele van die koloniale tipe teenwoordig wat as aardig besoldigde “konsultante” besig is met die finale weerwraak op Afrikaners en Afrikaans.  Sommige van hulle is selfs adjunk-ministers.

Iewers ná 1948 het dit tot ‘n seksie van die Engelse intelligentsia deurgedring dat die enigste manier waarop die mag herower kon word, via swartmense was.  Dit was geen nuwe idee nie, en het geheel en al ingepas by die Sendelingideologie.  Eerder as wat die vroeë sendelinge bloot daarop ingestem was om swartes te kersten, het die bevoorregte posisie ná aan ‘n stamhoof wat hulle beklee het, ongekende mag en voordele gehad.  Sommige sendelinge het benewens hul handel in religieuse konsepte, ook in die mark vir goedere betrokke geraak.  (Die manier waarop Sendelinggeskrifte en –ideologie oor die afgelope twee, drie dekades heraangepas en gesekulariseer is deur die sogenaamde revisionistiese Marxiste soos Van Onselen, is ‘n studie op sigself werd.)  Niemand behoort die haat en frustrasie te onderskat wat die NP-oorwinning in 1948 onder die koloniale Engelse komponent, veroorsaak het nie.  In die algemene atmosfeer van histerie en apokalips wat die vrees vir ‘n republikeinse en Afrikaner-oorheersde Suid-Afrika ontketen het, is die Torch Commando gestig, bestaande uit oud-soldate en veral Natallers.  Natal, wat geensins beswaar had teen NP-segregasiebeleid nie, was nogtans in die greep van separatistiese gevoelens omdat die gedagte aan ‘n republiek en die verlies aan die naelstring met Engeland eenvoudig een te veel was.  Veral die akademici, asook sommige skrywers soos Gordimer, het hulself vervreem gevoel van Afrikanerbeheerde Suid-Afrika en die aanvang van ‘n giftige anti-Afrikaanse literatuur is gemarkeer deur die satiriese werk uit die pen van ‘n immigrante-historikus wat nie lank daarna sou emigreer nie, When Smuts goes deur Arthur Keppel-Jones.  Laasgenoemde werk wemel van ‘n byna rassistiese geloof in die agterlikheid en aangebore nazistiese geneigdheid van Afrikaners en Boere.  Dit kan as ‘n soort literêre manifes van die Torch Commando gesien word.  Nadine Gordimer skryf iewers dat sy sedert haar geboorte gevoel het dat haar vaderland “iewers oorsee” was, maar dat die ANC-bewindsoorname vir haar ‘n tuiskoms was omdat sy vir die eerste keer die land “haar eie” kon noem.  Met Afrikaners in die regering het sy haarself geheel en al vervreem gevoel, hunkerend na die ontwykende metropool.  Die manier waarop Suid-Afrika oor die afgelope sewe jaar geherintegreer is binne die Statebond en ‘n groter, sielkundige Britse Ryk, en wat me. Gordimer en ander besing, is ‘n sleutel tot die identiteitsverskuiwing wat die land ondergaan het.  Selfs in Afrikaanse koerante is daar van die bruin rubriekskrywers wat liries raak oor Britse kultuur en die strelende invloed daarvan op Suid-Afrika.

Die huidige bewind is daarom paradoksaal gegrond op anti-Afrikaanse ressentiment ofte wel wrewel.  ‘n Mens kom dit oral teë, van straat- en pleknaamveranderings tot Asmal se begeerte om Afrikaners te verBrits en hulle in te lyf by ‘n Blairistiese Arbeider-empaaier van wellewende polities-korrektes.  Die ergste hiperbole van die Sendelingvoorstelling van ons geskiedenis het nou amptelike dogma geword.  Nou onlangs in die Kaap het ek die simboliese bevestiging gehad van my status as onderdaan van die Derde Britse Besetting toe ‘n Xhosa-vrou my in die McDonalds te Groenpunt uitgeskel het omdat ek dit durf waag het om Afrikaans te praat.  “Do you speak Xhosa?  Your language is nothing!  Nothing!  The whole world speaks English!” het sy op my geskree.

Dit is dikwels op alledaagse vlak, daar waar die tuig skawe, dat ‘n mens die duidelikste onder die indruk kom van die tydvak waarin jy leef.  Die manier waarop honderdduisende goedgekwalifiseerde Afrikaanse jongmense vandag gedwing word om weens regstellende aksie vuilwerk in Engeland te gaan doen, is tekenend van hoe die wiel gedraai het.  Die swaartepunt van Suid-Afrika het weer eens, soos twee keer vantevore, na Engeland verskuif.

Vele van die Engelse onderhandelaars aan ANC-kant in die vroeë negentigs soos Joe Slovo of Arthur Chaskalson was jongmense tydens die 1948-verkiesing wat die onverwagte Afrikaner-oorname insgelyks as ‘n ramp moes beleef het.  Jare van opgekropte Engelse frustrasie, veral onder intellektuele, met die dom en agterlike Boere in die regering, is met tipiese Britse lis in ‘n volmaakte strategie ingebed waarmee die ou Britse en Milner-ideaal van “nasiebou” heringestel is.  Die nuwe grondwet was nie net van die Westminster-tipe nie, dit was ook bedoel om Westminster se invloed in Suid-Afrika te laat geld deur ‘n radikale identiteitsverskuiwing te bewerkstellig terug na 'n “Britse Suid-Afrika”.

1994 was die weerwraak vir 1948.  Op TV en elders is die krane oopgedraai om Afrikaners te beswadder en hul geskiedenis belaglik te maak.  In een reeks op die SAUK is Dingaan voorgestel as ‘n goeie man wat net sy grondgebied teen Trekkerimperialisme wou verdedig, geen woord gerep oor Blauwkrantz en Weenen nie, en die Traktaat voorgehou as ‘n bedrogspul.  In ‘n ander uitsending is Verwoerd voorgestel as ‘n soort Eichmann, dít terwyl Verwoerd binne ‘n kort tyd swart skole in Suid-Afrika laat verdubbel het, en hy net soveel vir swart behuising gedoen het.  Die rol wat onvernoegde Engelssprekendes speel by al hierdie aksies om Afrikaans en Afrikaners te ondermyn, is gewis.  Die fotograaf David Goldblatt wat al voorheen Afrikaners as uiters agterlik en byna verstandelik vertraag voorgestel het, het ‘n nuwe werk by name The Structure of Things Then die lig laat sien waarin Afrikanerargitektuur as totalitêr en fascisties voorgestel word.  In ‘n groot tentoonstelling wat boonop gefinansier is met geldelike bydraes van die Nederlandse regering, die sogenaamde “Blank”-tentoonstelling, is die ou bekende Torch Commando-roete gevolg deur alle kuns en argitektuur deur Afrikaners voor te stel as ontleen aan die nazisme.  Alles vanaf die gebou van die Randse Afrikaanse Universiteit tot die subtiele inheemse argitektuur van Gawie Fagan, is vir ongeveer ‘n jaar lank in die Museum Africa in Johannesburg afgekraak as outoritêr, rassisties, nazisties en ‘n poging van Afrikaners om hulself in ‘n “laager” toe te messel.  Sogenaamde bruin letterkundiges soos proff. Jakes Gerwel en Hein Willemse was ook die afgelope tyd op die voorpunt om die Afrikaanse letterkunde, miskien die enigste werklike stuk kultuur wat nog ooit uit Suid-Afrika gekom het, te verdoem as rassisties, sektaries en mankgaande aan “transformasie”.  In verskeie Engelse koerante het daar oor die afgelope aantal jare erg jingoistiese artikels verskyn waarin Afrikaanse kunstefeeste aangeval en belaglik gemaak word, waaronder weer eens ‘n stuk deur ‘n bruin skrywer, ene Zebulon Dread, in die Weekly Mail & Guardian verlede jaar wat Afrikaner-besoekers aan die KKNK te Oudtshoorn as dierlik en walglik voorstel.  Laasgenoemde artikel het heelwat reaksie en klagtes uitgelok, maar die algemene gevoel is dat die hoeveelheid anti-Afrikaanse propaganda onder ‘n wraaksugtige neo-Britse bewind eintlik te veel is om af te weer, sodat die meeste Afrikaners maar genoeë neem met hul stereotipering en verguising in koerante, boeke, oor die radio en op TV.

Soos wat die land finansieel uitgemergel word met die groot uitvloei van kapitaal wat tans plaasvind, moet ons noodwendig verarm.  ‘n Rand is werklik net agt Amerikaanse sent werd, en enigeen wat glo dat “die interne waarde van die rand” hoër is soos wat Tito Mboweni beweer, leef in ‘n gekkeparadys.  Oor die kulturele verwoesting wat daar die afgelope paar jaar plaasgevind het soos wat die pax brittanica ‘n woestyn skep, is daar al baie geskryf.  Maar dit is in die oplewing van wanorde, morele verval soos te sien is in die vlaag kinderverkragtings, en misdaad wat die kognitiewe dissonansie van ons koloniale bestaan die duidelikste na vore kom.

“Kognitiewe dissonansie” is aanvanklik gemunt met betrekking tot toestande in die voormalige Oos-Europa waar staatspropaganda die gewone burger daagliks ingelig het dat hy in ‘n werkersparadys woon, veel beter daaraan toe is as sy eweknie in die kapitalistiese Weste en dus dankbaar behoort te voel as hy iets te ete kry of ‘n paar skoene kan koop, al kan hy nie ‘n skoen in sy nommer kry nie.  In weerwil van hierdie “beheerde werklikheid”, kan mense nooit volkome gebreinspoel word om nie die probleme rondom hulle raak te sien nie.  Dit is dan wanneer kognitiewe dissonansie intree, wanneer daar ‘n verskil tussen die ideologiese voorstelling en die ervaring van die werklikheid intree.

Ná my lesing van die geskiedenis, het wanorde, misdaad, moord en verkragtings nog altyd gevolg op sterk Brits-koloniale intervensies in Suid-Afrika.  Tydens die Tweede Vryheidsoorlog is naturelle bewapen om die anti-Boeremagte te versterk, en dit het uitgeloop op plundery en seksuele aanranding van Boervroue deur swartes.  Tydens die meer “filantropiese” fases aan die Kaap, was lakse wetstoepassing en selfs uitbuiting van die regstelsel deur oneerlike naturelleklaers dikwels aan die orde.  Omdat Britte blind is vir kultuurverskille in ons land, word ‘n stelsel afgedwing wat ewe “dissonant” is as dié wat in die voormalige Sowjet-Unie gegeld het.

In die dertigerjare van die vorige eeu het Afrikaners slegs agt persent van die ekonomie beheer, en dit was landbougebaseerd.  Die res was in Engelse hande.  Soortgelyk aan die Franse, het Afrikaners die openbare sektor gebruik om langtermyn-entrepreneuriële projekte soos Yskor en Sasol aan te pak wat op die duur die basis gevorm het van groot plaaslike nywerhede wat motorvervaardiging insluit.  ‘n Voorspelde gevolg van aggressiewe regstellende aksie in Suid-Afrika gaan wees dat die oorblywende groot maatskappye, dit wil sê dié wat nog nie na Engeland verhuis het nie, weens wanbestuur en korrupsie mettertyd ná aan bankrotskap gedryf sal word en só blootgestel sal wees aan oornames van buite.  Met ‘n rand wat reeds ná aan twintig rand vir ‘n pond huiwer, gaan dit die maklikste ding ter wêreld wees vir Londen om weer volkome beheer oor ons ekonomie te verkry, net soos wat dit ná 1902 die geval was.

Op ‘n sekere vlak moet ons die Britte bewonder.  Afrikanereerlikheid het nog altyd net uitgeloop op ongewildheid, terwyl die Xhosa-werknemer van McDonalds se uitspraak getuig van haar bewondering vir Groot Brittanje.  Een van die verstommendste prestasies van die Britse Ryk was die verowering van die Indiese sub-kontinent met slegs 1800 man, asook 2000 Indiese huursoldate, en sonder om ‘n skoot te skiet.  Sover dit haar verhoudinge met Suid-Afrika betref, mag Swart Bevryding die beste ding wees wat nog ooit met Engeland gebeur het.  Ná alles het die Tweede Verowering sonder ‘n skoot plaasgevind tydens dit wat daardie erg Britse Suid-Afrikaner, mnr. Alistair Sparks, ‘n “onderhandelde revolusie” of oorgawe genoem het.