deur Dan Roodt
Verlede jaar tydens
Mbeki se besoek aan Brittanje, was daar een foto van ons bedeesde president wat
langs Liesbet die Tweede in haar koets ry wat my intuïtief laat dink het dat hy
tog maar ‘n onderdaan van die Ryk gebly het.
Ook die vertrek van
Suid-Afrikaanse maatskappye na Londen en die verskuiwing van beheer oor ons
ekonomie na die City is ‘n verdere leidraad dat Engelse invloed in Suid-Afrika
geweldig toegeneem het.
Vir baie Afrikaners
wat nog net in geskiedenisboeke gelees het van Engelse hovaardigheid of ‘n
verbod op hul taal in skoolklaskamers, gee die huidige bestel ‘n gevoel van déjà
vu. Die huidige Minister van
Onderwys, Kader Asmal, ‘n kwasi-Brit wat probeer pukka praat in Pretoria, het
hom ten doel gestel om ons kinders te assimileer deur die reste van
Afrikaneridentiteit, hetsy wat godsdiens betref, hetsy m.b.t. geskiedenis of
onderrigmedium, uit die skoolstelsel te weer.
Die arrogansie van die man herinner sterk aan die Britse lords van weleer
vir wie geen prys ooit te hoog was om Suid-Afrika volkome binne die Engelse
invloedsfeer te bring nie.
Die Eerste Britse
besetting het geduur van 1795 tot 1803, en is vir net minder as drie jaar
onderbreek deur die Bataafse bewind van Kommissaris-Generaal Jacob de Mist en
Goewerneur Jan Willem Janssens (20 Februarie 1803 tot 10 Januarie 1806).
Ná 1806 is die Kaap volkome oorgeneem deur die Britte, totdat
Suid-Afrika onafhanklik geword het in 1910.
Intussen was daar die onafhanklike republieke in die Transvaal en die
Vrystaat, wie se soewereiniteit onwettiglik beëindig is deur die Tweede
Vryheidsoorlog. Sommige sou wou
beweer dat ons eers werklik soewereiniteit terug ontvang het in 1961 met
republiekwording onder Verwoerd. In elk geval is die geskiedenis besig om hom te herhaal, want
oor die afgelope driehonderd-en-vyftig jaar (dis vanjaar weer eens ‘n ronde
getal sedert Van Riebeeck voet aan wal gesit het aan die Kaap) het plaaslik
gebore burgers nog altyd gesukkel om hulself te bevry van koloniale invloed
vanuit die metropool te Amsterdam of Londen.
Tans ervaar ons ‘n soort Derde Britse Besetting waardeur Engeland
indirek regeer via sy koloniale vasalle wat Engels praat, Engelse klere dra,
whiskey drink, en vir alle praktiese doeleindes deel is van “multi-kulturele
Brittanje” soos wat Tony Blair dié land nou onlangs amptelik getipeer het.
Miskien klink my
teorie vergesog, want is ons dan nie in die tydvak van Afrika-nasionalisme en
-bevryding nie? Oorweeg egter die
volgende: tydens die oorgang in die
vroeë negentigerjare was Ambassadeur Renwick van die Verenigde Koninkryk aktief
betrokke by die aanvanklike samesprekings tussen die NP en die ANC.
Daar is selfs gerugte dat die Britse geheime diens, MI6, sterk meegewerk
het om die destydse bewind die “paradigmaskuif” te laat maak, Mandela vry te
laat en die res is, om ‘n gepaste anglisisme te gebruik, geskiedenis.
Dink ook daaraan dat
die groepie ANC-ballinge wat besig was om weg te kwyn in Oos-Europese hoofstede
in die ban van hul kommunistiese ideologie kwalik die mag in Suid-Afrika sou
verower het as hulle nie bygestaan is deur die magtige Britse
anti-apartheidsbeweging onder Eerwaarde Trevor Huddlestone nie.
Trouens, sonder logistieke en finansiële steun vanuit die Britse
Arbeidersparty sou daar nooit veel meer as ‘n handvol betogers op
Trafalgarplein voor Suid-Afrikahuis opgedaag het nie.
Die invloed van
Eerwaardes en Engelse predikante op die Suid-Afrikaanse politiek is natuurlik
legendaries, vanaf dr. John Philip wat bereid was om leuens te versprei in
Engeland oor die optrede van plaaslike burgers teenoor die inheemse bevolking,
tot mense soos Biskop Tutu of dr. Beyers Naudé wat ewe seer die gehate wit
Suid-Afrikaner in die beskuldigdebank geplaas het. Reeds voor die Rivoniaverhoor in 1964, het die ANC/SAKP
probleme ondervind om hul abstrakte idees oor revolusie en klassestryd aan hul
volgelinge oor te dra, en dit is eers toe daar spesifiek oorgegaan is tot ‘n
anti-Afrikaanse strategie soos verwoord deur die “kill a Boer, kill a
farmer”-slagspreuk, dat daar enige roeringe onder die massas plaasgevind het.
Vele van die onlangse
rasseinsidente, soos byvoorbeeld die Angelina Zwane-geval waar ‘n fratsongeluk
plaasgevind het toe ‘n swart baba deur ‘n blanke kleinhoewebewoner
doodgeskiet is, herinner aan die beste tye tydens dr. John Philip se
teenwoordigheid aan die Kaap toe elke Kaapse burger voorgestel is as ‘n sadis
wat naturelle mishandel.
Die propagandistiese
wanvoorstelling van plaaslike blankes en veral Afrikaners in die Britse
metropool ten einde intervensie vanuit daardie oord te ontlok, loop soos ‘n
goue draad deur ons geskiedenis. Dit
was so in die 1830s en dit was ook so in die 1980s. As mens kyk na Britse naturellebeleid in Suid-Afrika, dan is
stemreg verskeie kere toegestaan aan swart- of bruinmense wanneer laasgenoemde
opgevorder kon word teen die inheemse wittes, en is dit weer weggeneem as dit
nie meer van nut was nie. Die
Engelse het nog altyd geglo dat hulle met lis en diplomasie die swartes kon
manipuleer om hul doel te dien.
Die manier waarop ons
regering ‘n gat in die kop gepraat is om Anglo, De Beers en SA Brouerye na
Londen te laat verskuif, is waarskynlik een voorbeeld van dit wat Napoleon
“perfide Albion” oftewel “listige Engeland” genoem het.
Die naïewelinge wat ons regeer, wie se kennis van ekonomie en finansies
ontleen is aan negentiende-eeuse Duitse of Russiese handboeke deur Marx en
Lenin, kon onmoontlik al die implikasies van dié skuif verreken het.
Die ongekende bloeitydperk wat die Engelse taal, kultuur, opvoedkunde en
finansies onder die ANC-bewind binnegegaan het, dui aan dat die pogings van
Ambassadeur Renwick nie tevergeefs was nie.
ANC-wantroue jeens plaaslike ekonomiese rolspelers word vergestalt deur
Mbeki se komitee van buitelandse ekonomiese raadgewers terwyl daar ‘n tiental
Afrikanerekonome bestaan wat hom veel beter sou kon adviseer.
Dit spreek vanself dat die privatisering van Telkom, soos ook die rand se
onlangse induiestorting, groot voordele inhou vir die Londense banke.
Plaaslike talent kom nie in aanmerking vir groot
privatiseringstransaksies nie, en aangesien die Duitse en Switserse banke
Suid-Afrika deur die sanksiejare gehelp het, kan mens redelik seker wees dat
hulle ook bedroë daarvan sal afkom.
Soos ons almal weet,
beskik Suid-Afrika tans oor ‘n etniese regering van Xhosas waarby ‘n aantal
Zoeloes gekoöpteer is. Albei
behoort tot die onderling verstaanbare Nguni-taalgroep, waarvan die sprekers
reeds anderhalf eeu onder Brits-koloniale en veral sendelinginvloed verkeer,
afkomstig uit die Oos-Kaap en Natal. Swart
volke wat in die verlede onder die Afrikaner-invloedsfeer was en nie noodwendig
‘n antipatie teenoor Afrikaans het nie, soos die Sothos of Tswanas, is min of
meer volkome van die mag uitgesluit, soortgelyk aan Afrikaners self.
Marthinus van Schalkwyk se onlangse maneuver waar hy die erg verswakte
NNP as koalisievennoot by die ANC gevoeg het, verteenwoordig eintlik die
patetiese bevestiging van Afrikaneroorheersing onder die Derde Britse Besetting
wat in 1994 begin het. Dit sou
wensdenkery wees om te dink dat daar hoegenaamd enige invloed op die huidige
bewind langs hierdie weg verkry sou kon word.
‘n Kritiek op
bogaande analise sou kon wees dat dit as “anti-Engels” of "anti-Brits"
opgeneem kon word. Kom ons dink
‘n bietjie verder hieroor. Die
geskiedenis van Britse bemoeienis in Afrika is nie illuster nie.
Daar is geen enkele oud-Britse kolonie soos Kenia, Zambië of Zimbabwe
wat vandag hoegenaamd suksesvol is in enige sin, hetsy polities, hetsy
ekonomies, nie. Britse koloniale
dryfkrag is boonop vanuit Suid-Afrika georganiseer en gefinansier! ‘n Mens hoef bloot aan Rhodes se beroemde “Kaap tot Kaïro”-wens
te dink. Vir Kitchener was die
Boere bloot nog ‘n inheemse ras wat hy kon uitdelg ná sy Soedanese
ekspedisie.
Sendelingopvattinge
van gelykheid in die negentiende eeu het groot onstabiliteit veroorsaak, iets
wat ook in Amerika tot probleme aanleiding gegee het en sover ek verstaan een
van die aanleidende oorsake was vir die Amerikaanse Vryheidsoorlog.
In dié verband het W.A. de Klerk al gewys op die ooreekomste tussen die
Amerikaanse Onafhanklikheidsverklaring (Declaration of Independence) en Retief
se Manifes. Vandag sit ons met
begrippe wat vanuit “liberale” Amerika oorgeneem is, soos onder meer dié
van “gelykheid van uitkomste”, asook ‘n hele visie van “multikulturele
Engelsheid” wat net so oorgeneem is vanuit die dampkring van die Britse
Arbeiders. Mbeki is bloot ‘n
Blair met ‘n swart vel.
Die parallelle tussen
die oorgang in Suid-Afrika en in Zimbabwe is ook te ooglopend om nie raak te
sien nie. Ná Lancasterhuis het die
kreet van Ian Smith en die res van die Rhodesiese blankes opgegaan dat hulle
“uitverkoop” is, omdat die skyn van onderhandeling slegs deur die listige
Engeland geskep is ten einde die mag volkome aan Mugabe te oorhandig.
Twintig jaar later kan ons die resultaat van Britse diplomasie in daardie
land aanskou. Net so het De Klerk,
gerugsteun deur Britse beloftes en versekerings, die belofte gedoen dat daar
‘n tweede referendum sou plaasvind, dat daar magsdeling sou wees, wigte en
teenwigte, en die ander mooi woorde waarmee die publiek gesus is.
Hiervan het dadels gekom, en hoewel ons in naam geen Britse kolonie meer
was sedert Uniewording nie, het ons “gedekoloniseer” à la Lancasterhuis met
‘n holderstebolder-magsoorgawe aan die sterkste bende aan die oorkant.
Dit alles sodat Engeland ons voortaan behoorlik kan kom herkoloniseer.
Daar is egter iets
soos plaaslike Engelsheid, en ek wil dit nie in twyfel trek dat vele van ons
Engelse inheems is nie. In die vroeë
dae ná die aankoms van die 1820-setlaars was daar spontane samewerking tussen
Boer en Brit in die aangesig van die Xhosagevaar en ervaring van plaaslike
toestande het die nuwe aankomelinge vinnig genees van koloniale illusies van
naturelle-onskuld soos dit deur die sendelinge voorgehou is.
Vyftig persent van plaaslike Engelssprekendes praat ook Afrikaans,
luister na die Afrikaanse radio, kyk na Afrikaanse TV en as ons beter koerante
gehad het, sou hulle waarskynlik ook ons koerante gelees het.
Baie Afrikaners het met Engelse ondertrou en in daardie opsig is daar
moeilik ‘n lyn te trek tussen die twee groepe.
Teenoor die vyftig
persent wat verinheems is, is daar ‘n groep van upper class-stedelinge
wat steeds ‘n sterk band met die metropool aanvoel en waarvan baie reeds geëmigreer
het. ‘n Groot deel van die
plaaslike Engelse intelligentsia ly boonop aan ‘n geheel en al koloniale
uitkyk, en beskik oor geen onafhanklike denkvermoë nie.
Hulle is die ware erfgename van die Britse Sendelinge wat in plaaslike
blankes die verpersoonliking van boosheid sien, en met oorgawe die soort logiese
absurditeite bedryf wat ‘n mens byvoorbeeld in die Menseregtekommissie se
rasseteorieë aantref. Dit is altyd met genoegdoening wat ek konstateer in welke
mate ‘n instelling soos die Menseregtekommissie met sy oordrewe
swart-nasionalistiese sin vir blanke boosheid, afhanklik is van die Universiteit
van Kaapstad - asook ander tradisioneel Engelse universiteite - se navorsers.
Sonder die intellektuele hulp van die Engelse intelligentsia sou die ANC
nooit aan bewind gekom het nie. Benewens
die soustrein-nomenklatoera van Xhosas en Zoeloes wat ons regering uitmaak, is
daar veral in die meer tegnokratiese posisies ‘n groot aantal Engelse
intellektuele van die koloniale tipe teenwoordig wat as aardig besoldigde
“konsultante” besig is met die finale weerwraak op Afrikaners en Afrikaans.
Sommige van hulle is selfs adjunk-ministers.
Iewers ná 1948 het
dit tot ‘n seksie van die Engelse intelligentsia deurgedring dat die enigste
manier waarop die mag herower kon word, via swartmense was. Dit was geen nuwe idee nie, en het geheel en al ingepas by
die Sendelingideologie. Eerder as
wat die vroeë sendelinge bloot daarop ingestem was om swartes te kersten, het
die bevoorregte posisie ná aan ‘n stamhoof wat hulle beklee het, ongekende
mag en voordele gehad. Sommige
sendelinge het benewens hul handel in religieuse konsepte, ook in die mark vir
goedere betrokke geraak. (Die
manier waarop Sendelinggeskrifte en –ideologie oor die afgelope twee, drie
dekades heraangepas en gesekulariseer is deur die sogenaamde revisionistiese
Marxiste soos Van Onselen, is ‘n studie op sigself werd.) Niemand behoort die haat en frustrasie te onderskat wat die
NP-oorwinning in 1948 onder die koloniale Engelse komponent, veroorsaak het nie.
In die algemene atmosfeer van histerie en apokalips wat die vrees vir
‘n republikeinse en Afrikaner-oorheersde Suid-Afrika ontketen het, is die
Torch Commando gestig, bestaande uit oud-soldate en veral Natallers.
Natal, wat geensins beswaar had teen NP-segregasiebeleid nie, was nogtans
in die greep van separatistiese gevoelens omdat die gedagte aan ‘n republiek
en die verlies aan die naelstring met Engeland eenvoudig een te veel was.
Veral die akademici, asook sommige skrywers soos Gordimer, het hulself
vervreem gevoel van Afrikanerbeheerde Suid-Afrika en die aanvang van ‘n
giftige anti-Afrikaanse literatuur is gemarkeer deur die satiriese werk uit die
pen van ‘n immigrante-historikus wat nie lank daarna sou emigreer nie, When
Smuts goes deur Arthur Keppel-Jones. Laasgenoemde
werk wemel van ‘n byna rassistiese geloof in die agterlikheid en aangebore
nazistiese geneigdheid van Afrikaners en Boere.
Dit kan as ‘n soort literêre manifes van die Torch Commando gesien
word. Nadine Gordimer skryf iewers
dat sy sedert haar geboorte gevoel het dat haar vaderland “iewers oorsee”
was, maar dat die ANC-bewindsoorname vir haar ‘n tuiskoms was omdat sy vir die
eerste keer die land “haar eie” kon noem.
Met Afrikaners in die regering het sy haarself geheel en al vervreem
gevoel, hunkerend na die ontwykende metropool.
Die manier waarop Suid-Afrika oor die afgelope sewe jaar geherintegreer
is binne die Statebond en ‘n groter, sielkundige Britse Ryk, en wat me.
Gordimer en ander besing, is ‘n sleutel tot die identiteitsverskuiwing wat die
land ondergaan het. Selfs in
Afrikaanse koerante is daar van die bruin rubriekskrywers wat liries raak oor
Britse kultuur en die strelende invloed daarvan op Suid-Afrika.
Die huidige bewind is
daarom paradoksaal gegrond op anti-Afrikaanse ressentiment ofte wel
wrewel. ‘n Mens kom dit oral teë,
van straat- en pleknaamveranderings tot Asmal se begeerte om Afrikaners te
verBrits en hulle in te lyf by ‘n Blairistiese Arbeider-empaaier van
wellewende polities-korrektes. Die
ergste hiperbole van die Sendelingvoorstelling van ons geskiedenis het nou
amptelike dogma geword. Nou onlangs
in die Kaap het ek die simboliese bevestiging gehad van my status as onderdaan
van die Derde Britse Besetting toe ‘n Xhosa-vrou my in die McDonalds te
Groenpunt uitgeskel het omdat ek dit durf waag het om Afrikaans te praat.
“Do you speak Xhosa? Your
language is nothing! Nothing!
The whole world speaks English!” het sy op my geskree.
Dit is dikwels op
alledaagse vlak, daar waar die tuig skawe, dat ‘n mens die duidelikste onder
die indruk kom van die tydvak waarin jy leef.
Die manier waarop honderdduisende goedgekwalifiseerde Afrikaanse
jongmense vandag gedwing word om weens regstellende aksie vuilwerk in Engeland
te gaan doen, is tekenend van hoe die wiel gedraai het.
Die swaartepunt van Suid-Afrika het weer eens, soos twee keer vantevore,
na Engeland verskuif.
Vele van die Engelse
onderhandelaars aan ANC-kant in die vroeë negentigs soos Joe Slovo of Arthur
Chaskalson was jongmense tydens die 1948-verkiesing wat die onverwagte
Afrikaner-oorname insgelyks as ‘n ramp moes beleef het.
Jare van opgekropte Engelse frustrasie, veral onder intellektuele, met
die dom en agterlike Boere in die regering, is met tipiese Britse lis in ‘n
volmaakte strategie ingebed waarmee die ou Britse en Milner-ideaal van
“nasiebou” heringestel is. Die nuwe grondwet was nie net van die Westminster-tipe nie,
dit was ook bedoel om Westminster se invloed in Suid-Afrika te laat geld deur
‘n radikale identiteitsverskuiwing te bewerkstellig terug na 'n “Britse
Suid-Afrika”.
1994 was die
weerwraak vir 1948. Op TV en elders
is die krane oopgedraai om Afrikaners te beswadder en hul geskiedenis belaglik
te maak. In een reeks op die SAUK
is Dingaan voorgestel as ‘n goeie man wat net sy grondgebied teen
Trekkerimperialisme wou verdedig, geen woord gerep oor Blauwkrantz en Weenen
nie, en die Traktaat voorgehou as ‘n bedrogspul.
In ‘n ander uitsending is Verwoerd voorgestel as ‘n soort Eichmann, dít
terwyl Verwoerd binne ‘n kort tyd swart skole in Suid-Afrika laat verdubbel
het, en hy net soveel vir swart behuising gedoen het.
Die rol wat onvernoegde Engelssprekendes speel by al hierdie aksies om
Afrikaans en Afrikaners te ondermyn, is gewis.
Die fotograaf David Goldblatt wat al voorheen Afrikaners as uiters
agterlik en byna verstandelik vertraag voorgestel het, het ‘n nuwe werk by
name The Structure of Things Then die lig laat sien waarin
Afrikanerargitektuur as totalitêr en fascisties voorgestel word.
In ‘n groot tentoonstelling wat boonop gefinansier is met geldelike
bydraes van die Nederlandse regering, die sogenaamde
“Blank”-tentoonstelling, is die ou bekende Torch Commando-roete gevolg deur
alle kuns en argitektuur deur Afrikaners voor te stel as ontleen aan die
nazisme. Alles vanaf die gebou van
die Randse Afrikaanse Universiteit tot die subtiele inheemse argitektuur van
Gawie Fagan, is vir ongeveer ‘n jaar lank in die Museum Africa in Johannesburg
afgekraak as outoritêr, rassisties, nazisties en ‘n poging van Afrikaners om
hulself in ‘n “laager” toe te messel.
Sogenaamde bruin letterkundiges soos proff. Jakes Gerwel en Hein Willemse
was ook die afgelope tyd op die voorpunt om die Afrikaanse letterkunde, miskien
die enigste werklike stuk kultuur wat nog ooit uit Suid-Afrika gekom het, te
verdoem as rassisties, sektaries en mankgaande aan “transformasie”.
In verskeie Engelse koerante het daar oor die afgelope aantal jare erg
jingoistiese artikels verskyn waarin Afrikaanse kunstefeeste aangeval en
belaglik gemaak word, waaronder weer eens ‘n stuk deur ‘n bruin skrywer, ene
Zebulon Dread, in die Weekly Mail & Guardian verlede jaar wat
Afrikaner-besoekers aan die KKNK te Oudtshoorn as dierlik en walglik voorstel.
Laasgenoemde artikel het heelwat reaksie en klagtes uitgelok, maar die
algemene gevoel is dat die hoeveelheid anti-Afrikaanse propaganda onder ‘n
wraaksugtige neo-Britse bewind eintlik te veel is om af te weer, sodat die
meeste Afrikaners maar genoeë neem met hul stereotipering en verguising in
koerante, boeke, oor die radio en op TV.
Soos wat die land
finansieel uitgemergel word met die groot uitvloei van kapitaal wat tans
plaasvind, moet ons noodwendig verarm. ‘n
Rand is werklik net agt Amerikaanse sent werd, en enigeen wat glo dat “die
interne waarde van die rand” hoër is soos wat Tito Mboweni beweer, leef in
‘n gekkeparadys. Oor die
kulturele verwoesting wat daar die afgelope paar jaar plaasgevind het soos wat
die pax brittanica ‘n woestyn skep, is daar al baie geskryf.
Maar dit is in die oplewing van wanorde, morele verval soos te sien is in
die vlaag kinderverkragtings, en misdaad wat die kognitiewe dissonansie van ons
koloniale bestaan die duidelikste na vore kom.
“Kognitiewe
dissonansie” is aanvanklik gemunt met betrekking tot toestande in die
voormalige Oos-Europa waar staatspropaganda die gewone burger daagliks ingelig
het dat hy in ‘n werkersparadys woon, veel beter daaraan toe is as sy eweknie
in die kapitalistiese Weste en dus dankbaar behoort te voel as hy iets te ete
kry of ‘n paar skoene kan koop, al kan hy nie ‘n skoen in sy nommer kry nie.
In weerwil van hierdie “beheerde werklikheid”, kan mense nooit
volkome gebreinspoel word om nie die probleme rondom hulle raak te sien nie.
Dit is dan wanneer kognitiewe dissonansie intree, wanneer daar ‘n
verskil tussen die ideologiese voorstelling en die ervaring van die werklikheid
intree.
Ná my lesing van die
geskiedenis, het wanorde, misdaad, moord en verkragtings nog altyd gevolg op
sterk Brits-koloniale intervensies in Suid-Afrika. Tydens die Tweede Vryheidsoorlog is naturelle bewapen om die
anti-Boeremagte te versterk, en dit het uitgeloop op plundery en seksuele
aanranding van Boervroue deur swartes. Tydens
die meer “filantropiese” fases aan die Kaap, was lakse wetstoepassing en
selfs uitbuiting van die regstelsel deur oneerlike naturelleklaers dikwels aan
die orde. Omdat Britte blind is vir
kultuurverskille in ons land, word ‘n stelsel afgedwing wat ewe
“dissonant” is as dié wat in die voormalige Sowjet-Unie gegeld het.
In die dertigerjare
van die vorige eeu het Afrikaners slegs agt persent van die ekonomie beheer, en
dit was landbougebaseerd. Die res
was in Engelse hande. Soortgelyk
aan die Franse, het Afrikaners die openbare sektor gebruik om
langtermyn-entrepreneuriële projekte soos Yskor en Sasol aan te pak wat op die
duur die basis gevorm het van groot plaaslike nywerhede wat motorvervaardiging
insluit. ‘n Voorspelde gevolg van
aggressiewe regstellende aksie in Suid-Afrika gaan wees dat die oorblywende
groot maatskappye, dit wil sê dié wat nog nie na Engeland verhuis het nie,
weens wanbestuur en korrupsie mettertyd ná aan bankrotskap gedryf sal word en só
blootgestel sal wees aan oornames van buite. Met ‘n rand wat reeds ná aan twintig rand vir ‘n pond
huiwer, gaan dit die maklikste ding ter wêreld wees vir Londen om weer volkome
beheer oor ons ekonomie te verkry, net soos wat dit ná 1902 die geval was.
Op ‘n sekere vlak moet ons die Britte bewonder. Afrikanereerlikheid het nog altyd net uitgeloop op ongewildheid, terwyl die Xhosa-werknemer van McDonalds se uitspraak getuig van haar bewondering vir Groot Brittanje. Een van die verstommendste prestasies van die Britse Ryk was die verowering van die Indiese sub-kontinent met slegs 1800 man, asook 2000 Indiese huursoldate, en sonder om ‘n skoot te skiet. Sover dit haar verhoudinge met Suid-Afrika betref, mag Swart Bevryding die beste ding wees wat nog ooit met Engeland gebeur het. Ná alles het die Tweede Verowering sonder ‘n skoot plaasgevind tydens dit wat daardie erg Britse Suid-Afrikaner, mnr. Alistair Sparks, ‘n “onderhandelde revolusie” of oorgawe genoem het.