Interne en eksterne emigrasie

deur Dan Roodt

L.W.  Hierdie verteenwoordig enkele gedagtes wat ek in Oktober 2000 neergepen het toe ek en Carel van der Merwe pas van Vlaandere en Nederland teruggekeer het, en wat onlangs bygewerk is om onderstaande kort opstel te vorm.

My onlangse terugkeer na Suid-Afrika het via Nairobi geskied waar ons Sondagoggend die vuilerige strate gaan verken het.  Wat opval is die baie bedelaars, ou Toyotas en die uitsiglose gevoel wat die bevolking by mens wakkermaak.  Die hele Afrika suid van die Sahara is een lang verhaal van mislukking en verval, geweld en korrupsie, alles dinge waarmee ons daagliks in Suid-Afrika gekonfronteer word.

Afrika het ‘n bevolking van 700 miljoen mense, en verteenwoordig 1% van die wêreld se handel.  Die totale BNP van Afrika suid van die Sahara is min of meer gelyk aan dié van België, een van die kleinste lande in Wes-Europa met ‘n bevolking gelykstaande aan een honderste van die kontinent s’n.  Ekonomiese statistieke vertel egter nie alles nie; daar is ook dinge soos kultuur, letterkunde, geskiedenis.  In Breestraat in Johannesburg kon ‘n mens glo op ‘n stadium Afrikakuns koop wat uit die museums van Kinshasa geroof is.  Die enigste werklike versamelings Afrikakuns word in die Weste aangehou, omdat die kontinent self nog nooit veel omgegee het vir die bewaring van sy eie erfenis nie.

So is dit ook tans met Afrikaans, en daardie kultuur wat ons meen ons hier opgebou het en tot onlangs vertroetel het.  Afrika het geen erg daaraan nie, en waarskynlik sal Afrikaans iewers in die toekoms slegs in Europese musea bestaan.  Meer en meer kry ek die gevoel dat die wêreld wat ons gedink het ons s’n is, vir altyd verby is.

Politiek het iets daarmee te make, maar ook nie alles nie.  Ons verlies aan politieke mag is voorafgegaan deur ‘n demografiese oorheersing soos die wêreld seker nog nie gesien het nie.  Vooruitskattings oor bevolkingsgroei in Suid-Afrika was nog altyd hopeloos te konserwatief.  Benewens die besonder hoë natuurlike bevolkingsaanwas, is Suid-Afrika boonop meer en meer onderworpe aan onwettige immigrasie vanaf die res van Afrika.  Dit is dus letterlik ‘n geval van enkele miljoen mense wat hulself probeer handhaaf teenoor honderde miljoene.

Die Afrikaanse taal en kultuur, hoewel geografies gewortel in Afrika, is in baie opsigte deelagtig in ‘n Wes-Europese erfenis van linguïstiese, literêre en dramatologiese skepping wat al die reëls van die eeue-oue Westerse kultuurvorme eerbiedig, en bloedweinig te make het met die orale tradisie van Afrika.  Die nuwe hoof van die Afrikaanse departement aan die Pretoriase Universiteit, Hein Willemse, wil kennelik ook die mondelinge tradisie van Afrika in Afrikaans invoer, maar dit is ‘n idiosinkratiese projek.  Afrikaans het voortgekom uit ‘n geskrewe tradisie; trouens die eerste baringspyne van die taal was ‘n soort spel- en skryfhervorming.  Die taal is deurdrenk van verwysings na die protestantse Christelike wêreld, en die Afrikaanse poësie wemel van verwysings na die Bybel, ‘n teks wat al meer as tweeduisend jaar bestaan.

Ek het reeds voorheen laat blyk dat ons besig is om ‘n revolusie deur te maak, wat pas maar eers begin het en wat hom toenemend radikaliseer as ‘n Afrikanisering op elke moontlike gebied.  Vladimir Nabokow, die Russiese skrywer, was deel van ‘n groep wit Russe waarvoor daar ná die Russiese revolusie geen plek in sy geboorteland meer was nie; die tragedie van Rusland was ook onkommunikeerbaar aan ‘n Westerse intelligentsia wat in vervoering was oor Lenin en Stalin, en eers baie later begin lont ruik het.  Die ooreenkoms van die huidige Afrikaanse wêreld wat besig is om in duie te stort as gevolg van, enersyds, emigrasie en, andersyds, plaaslike intimidasie deur die revolusionêre Afrikabewind met dié van Nabokow en sy mede-aristokrate, is frappant.  In Nabokow se bittersoet romans met hul melancholiese heenwysings na ‘n vergange wêreld is daar waarskynlik veel van ‘n toekomstige Afrikaanse nostalgie oor ‘n voorspoediger deel van die Suid-Afrikaanse geskiedenis te bespeur, ‘n tyd toe kinders in die strate op fietse kon ry, daar opera in die Staatsteater was en die Afrikaanse letterkunde landwyd aan goed funksionerende universiteite gedoseer is.

Toenemend lyk dit asof daardie wêreld nooit weer gaan terugkeer nie.  Pleks van hul eie lot te beheer, word Afrikaanssprekendes vandag hoogstens verdra deur ‘n almagtige regering wat die “meerderheid” verteenwoordig.  In ‘n sekere sin is daar vir hulle voorlopig plek as die intellektuele slawe van die nuwe orde, wat broodnodige tegniese kennis moet verskaf vir die “opheffing” van die meerderheid.  In eie reg is daar geen logiese rede waarom hulle hoegenaamd hier moet wees nie, synde “setlaars” binne die heersende ideologie.

‘n Gedagte wat reeds geruime tyd by my spook is dat ons elk geval besig is om te migreer in Afrikaans.  Diegene wat steeds in Suid-Afrika woon, word meer en meer gekonfronteeer met ‘n vreemde wêreld waarvan die waardes bepaal word deur ‘n swart rasgebaseerde nasionalisme.  Die “ander land” waarvan Karel Schoeman gepraat het, is besig om voor ons gestalte te kry, en dit is ‘n plek waar die argitektuur gaan lyk soos een of ander Las Vegas-casino, die letterkunde soos Down second avenue deur Ezekiel Mphalele, die TV-nuus soos die TV-nuus, die teater soos swart musiekblyspele en die koerante soos Beeld wat jou vertel alles gaan goed al daal die rand en is jy jou lewe nie veilig nie.  Hierdie land het so min met die Suid-Afrika waarin ons grootgeword het, te make as Switserland met Boeroendi.

Tydens my onlangse besoek aan die Lae Lande het ek by heelwat geleenthede oud-Suid-Afrikaners teëgekom, ‘n tragiese verskynsel as mens daaraan dink dat dié mense verkies het om in ‘n ander kultuur op te gaan omdat hulle hul ontuis in hul geboorteland gevoel het.  Kan ‘n mens hulle egter blameer?  Waarskynlik ervaar hulle die aanpassings wat hulle moes maak om in Nederland of Vlaandere te kan oorleef, minder radikaal, minder ontwrigtend as die gedwonge migrasie na die “ander land” wat ons tans in Suid-Afrika self ervaar.

Hoe ons ook al daarna kyk, of ons eksterne of interne emigrante is, ons sal nooit weer die vertroude Suid-Afrika van ons kinderdae terugkry nie, daarvoor was die demografiese en ander veranderinge in Suid-Afrika eenvoudig te groot.  Dit herinner my weer eens aan die uitspraak van G.D. Scholtz in sy boek met die profetiese titel, ‘n Swart Suid-Afrika? uit 1964, naamlik dat die blankes en by uitbreiding die Afrikaners hulself slegs kon handhaaf teenoor ‘n swart meerderheid as gevolg van Westerse dominansie in die res van die wêreld.  Vanweë die geo-strategiese kwyning van die Weste, sou blanke oorheersing in Suid-Afrika ook onvermydelik aan sy einde kom.

‘n Verdere opmerking wat ook al dikwels gemaak is deur verskeie mense, is dat Afrikaners die laaste beduidende groep Westerlinge is wat oorgebly het in ‘n oorwegend nie-Westerse omgewing.  Die Franse pieds noirs, wat op daardie stadium ‘n groep amper so groot soos Afrikaners verteenwoordig het, moes in die vroeë Sestigerjare binne ‘n maand terugkeer Frankryk toe ná Algerynse onafhanklikheid.  Baie van hierdie mense het in drie geslagte nie hul eertydse land van herkoms besoek nie, en het ook in ‘n mate ‘n “plaaslike kultuur” ontwikkel, hoewel miskien nie so omvattend soos die Afrikaners met hul eie taal, kookkuns, letterkunde, ens. nie.  Elders ter wêreld het alle Westerlinge teruggekeer na hul lande van herkoms, en slegs klein groepies handelaars of gesekondeerde maatskappy-amptenare het oorgebly, sonder enige politieke of territoriale aansprake in die betrokke lande waar hulle woonagtig is.

Afrikanisering in Suid-Afrika is, soos gesê, in die eerste plaas die gevolg van die ontsaglike demografiese verskuiwing wat daar plaasgevind het met die groei van Suid-Afrika se swart bevolking van twee miljoen in 1900 tot 32 miljoen in 2000, met verdere versnelde immigrasie vanuit ander Afrikalande oor die afgelope aantal jare.  Bewerings word gemaak van vier miljoen onwettige immigrante in die land, maar selfs al was dit die helfte van die syfer, is die tendens nogtans duidelik dat die land wat Afrikaners gedink het hulle s’n was, toenemend nie meer aan hulle behoort nie.  Dit is sekerlik een van die ironieë van die Suid-Afrikaanse geskiedenis dat Westerse medisyne en higiëne ‘n skielike toename van die nie-Westerse bevolking - veral ná 1950 toe daar begin is om georganiseerde gesondheidsorg aan swartmense te verskaf in die naam van “gelyke maar afsonderlike ontwikkeling” - veroorsaak het wat uiteindelik die Westerlinge se afgang sou meebring.

Die Kanadees-Duitse sosioloog, Heribert Adam, het nie te lank gelede nie die stelling gemaak dat Afrikaners deesdae in Suid-Afrika ‘n “interne diaspora” verteenwoordig omdat hulle versprei tussen nie-Afrikaners woon sonder dat hulle ‘n meerderheid in enige enkele gebied vorm.  Dit is natuurlik nie heeltemal korrek nie, maar daar is tog ‘n element van waarheid daarin.

Toynbee het gesê dat beskawings altyd in mededinging of in opposisie met betreklik ongunstige omstandighede gebou word.  Indien die omstandighede radikaal verbeter, is daar ‘n gevaar van dekadensie; indien omstandighede so versleg dat alle aandag op blote oorlewing moet val, lei dit insgelyks tot ‘n toestand van verval of stagnasie soos byvoorbeeld dié van die Eskimo’s wat in sulke ongunstige klimaatsomstandighede moet leef dat hul natuurlike vindingrykheid net-net genoeg is vir oorlewing en nie om ‘n beskawing tot stand te bring nie.

In die stryd wat Afrikaners oor die afgelope drie eeue gevoer het teen vlae van wanorde, diefstal en plundery, asook territoriale stryde, droogte en veesiektes, om nie van die Groot Trek en die twee Vryheidsoorloë te vergeet nie, was daar die “ongunstige omstandighede” wat hulle aangespoor het tot weerstand en die skep van ‘n voortreflike beskawing, groot letterkunde, ‘n musiek- en teatertradisie wat met dié van vele kleiner Westerse lande kan vergelyk, Romeins-Hollandse regstelsel, ens.  Dit mag egter wees dat die toestand van “interne diaspora” van tans hom nie meer leen tot die skep of instandhouding van ‘n beskawing nie, en dat hulle gedoem is om onder te gaan of om soos ander Europese emigrantegroepe terug te keer na hul lande van herkoms.  Albei uitkomste kom op dieselfde neer, omdat dit die verlies en/of vernietiging van hul beskawing, hul taal, kuns, leefwyse en geskiedenis, impliseer.

Die ondergang van alle beskawings vervul ons met ‘n intense gevoel van tragedie.  Dit mag wees dat Afrikaners ‘n tragiese volk is wat die onmoontlike probeer regkry het, naamlik om in ‘n nie-Westerse omgewing te probeer oorleef toe Westerse invloed in Afrika aan’t kwyn was.  Of die wonderwerk kan gebeur dat hulle as’t ware hergroepeer om nie meer in die diaspora te verkeer nie - en sodoende ‘n herlewing te begin beleef om in weerwil van hul getalleminderheid ‘n ekonomiese,  politieke en kulturele invloed uit te oefen op hul subkontinent.  Ook volgens Toynbee, is alle beskawings geskep deur minderhede waarvan die invloed uitgegaan het op omliggende meerderhede. 

In daardie geval ly dit geen twyfel dat Suider-Afrika daarby sou baat nie, en sou ontkom aan die Mugabeagtige eindspel wat nou so uiters voorspelbaar lyk met die opkoms van ‘n aggressiewe en destruktiewe afrikanisme wat oral rondom ons sigbaar is in naamveranderings, “terugkeer na die oorsprong”, herlewing van primitiewe gelowe, en someer.

Dat so ‘n oplewing egter ‘n geweldige, indien nie bomenslike, uitdaging aan Afrikaners stel nie, is ook min of meer ‘n uitgemaakte saak.