Die Goudgoggas byt seer

deur Johann Wingard 

Opsomming: Deur van disinformasie gebruik te maak het mynmagnate, wat die geheimsinnige finansiële wêreld van die mynwese verteenwoordig, oftewel die Goudgoggas, die Britse nasie en Parlement mislei en is die Anglo-Boereoorlog op die Transvaalse Republiek afgedwing.  Tydens die sestigerjare is Afrikaanse grootgeld ingenooi om deel van daardie mag te word.  Sedertdien het die Afrikanerpolitiek drasties verander deurdat die strategiese belange van die Goudgoggas in alliansie met Afrikaanse grootgeld, reëlreg gebots het met Afrikanerdom se wil om as ‘n volk voort te bestaan.   Dieselfde tegniek van “uitlander grievances” voor die ABO is in die tagtigerjare gebruik om “black grievances”in die laat sewentigerjare  te versin en op te stook wat tot die dekade van onrus gelei het.  Uiteindelik is ‘n totale magsoorgawe hierdeur bewerkstellig.  Die Goudgoggas en hul Afrikaanse grootgeldvennote se belange het oorleef, maar Afrikaners se selfbeskikkingsreg is begrawe.  Sal dit weer kan herleef soos na Uniewording?

 

Tydens die Anglo-Boereoorlog

 

Gedurende die afgelope drie jaar is die Anglo Boere Oorlog binne die nuwe Suid-Afrika herdenk.  Nuwe perspektiewe is aan daardie bepalende gebeurtenis gegee en die rol wat swartmense en Europese avonturiers gespeel het is ook onder die loep geplaas.  Hoewel die oorlog goeie dekking geniet het, is die vooroorlogse perspektief binne- en buitelands afgeskeep. Die amptelike redes vir die ABO is weer deur etlike kommentators aangevoer as uitlandergriewe, mynwerkers wat die stemreg wou hê.

 

In 1987 het Ivor Benson, die bekende Suid-Afrikaanse joernalis en politieke ontleder, wat vir die twee Londense koerante The Daily Express en The Daily Telegraph, geskryf het, ‘n artikel ‘The siege of South Africa’[1] geskryf waarin hy hierdie stelling weerlê.  Hy verwys onder meer na Luitenant Generaal Sir William Butler, wat op 18 Desember 1898 – d.w.s. kort voor die uitbreek van die ABO,  vanuit Kaapstad aan die Koloniale Sekretaris geskryf het:

 

"Al die politieke vrae en byna al die inligting wat vanaf Kaapstad uitgestuur word, word deur ‘n kolossale sindikaat, wat ek voorheen beskryf het, verwerk met die doel om disinformasie te versprei."[2]

 

Generaal Butler, wat verskeie persoonlike besoeke aan die Transvaalse Republiek gedoen het om die uitlandergriewe, die meeste van hulle Britte wat deur die nuutgevonde goudvelde aangelok was, te ondersoek.  Sy slotsom was dat daardie “uitlander grievances” ‘n moedswillige leuen en ‘n roekelose versinsel was.

 

Een van die mees gerespekteerde skrywers op sy dag, J.A. Hobson, ‘n man wat die Transvaalse Republiek verskeie male voor die oorlog besoek het, skryf: [3]

“Ons veg sodat ‘n klein internasionale oligargie van mynbase en spekulante die mag in Pretoria kan bekom.  Elke Engelsman behoort te weet en te besef dat die ekonomiese en politieke lot van Suid-Afrika, nou en in die toekoms, in die hande van daardie mense sal bly, sommige van hulle van vreemdelingherkoms, wie se roeping finansies is en wie se roepingsbelange nie Brits is nie.”

Hobson se insig en sy ontleding van propaganda en disinformasie kan veral gesien word in sy boek “The Psychology of Jingoism,” en wat toe reeds vergelyk kon word met George Orwell[4] se latere studie oor hierdie onderwerp in sy boek “Nineteen Eighty Four.”

 

Nog ‘n skrywer wat blykbaar deur geskiedskrywers misgekyk is, is L. March Phillips,[5]‘n offisier van die Rimington's Scouts, wat vir etlike jare voor die uitbreek van die ABO in die Transvaal gewerk het. Dit is wat hy daaroor sê:

“Sover dit die uitlanders en hul griewe aanbetref, sal ek nie ‘n tree ry of ‘n enkele skoot skiet vir al die griewe wat ontdek en versin was nie.  Die meeste uitlanders (d.w.s. myners en werkers aan die rand) het geen griewe gehad nie.  Ek weet waarvan ek praat, want ek het tussen hulle gewoon en gewerk.  Ek het gesien hoedat Engelse koerante van hande verwissel het en die uitbundige gelag wanneer daardie kostelike griewe in die telegramme van die Times verskyn het…  Ons moes die Londense koerante lees om uit te vind wat ons griewe werklik was; dikwels van oorsake waarvan ons nog nooit gehoor het nie.  Ek het nooit ‘n enkele werker ontmoet wat ‘n myl van die pad sou stap vir ‘n stem nie, en ek het met duisende daaroor gepraat.

Benson beweer dat wat Butler, Hobson en ander kritici van die Milner-beleid gesien het, ‘n nuwe historiese verskynsel was:

 

“Britse leiers het bedrieglike wanvoorstelling op ‘n kolossale skaal ten koste van hul eie mense en parlement gepleeg met die uitsluitlike doel om hulle by ‘n beplande oorlog in te sleep.  Vir die eerste maal in die Britse geskiedenis word ‘oneervolle gedrag’ as ‘n instrument van imperiale beleid gebruik.”

 

Die enormiteit en astrante misbruik van die media en die openbare bedrog wat deur hulle gepleeg was om die internasionale openbare mening destyds teen die Transvaalse Republiek te draai, het vir die eerste maal in die geskiedenis ‘n volskaalse oorlog en vernietiging van ‘n soewereine land veroorsaak.  Almal weet hoedat die wapen van disinformasie en propaganda daarna verskeie kere vir dergelike vergrype tydens die wêreldoorloë verantwoordelik was. Soos hierdie feite na vore gekom het, so het die besef ook begin posvat dat hierdie verskynsel  gedurende die tagtigerjare in Suid-Afrika herhaal was.

 

In 1979 skryf Thomas Pakenham in sy uitstekende Boek “The Boer War,[6]”:

“Eerstens loop daar ‘n dun goue draad deur die geskrif, ‘n draad wat deur die goudgoggas, oftewel die Randse miljoenêrs, geweef is wat die rykste goudmyne ter wêreld beheer.  Tot dusver het geskiedskrywers aangeneem dat nie een van die goudgoggas direk belang gehad het om oorlog te maak nie.  Maar hulle was beslis direk betrokke… Ek het bewys gevind van ‘n informele alliansie tussen Sir Alfred Milner, die Hoë Kommissaris en die firma van Wernher-Beit, die dominante Randse Mynhuis.  Dit was hierdie alliansie, glo ek, wat aan Milner die moed gegee het om die oorlog te verhaas.”

Benson konkludeer in sy 1986 artikel dan as volg in sy eie woorde:

 

“Then it was the alleged denial of political rights to the English speaking "uitlanders" which served as ammunition for massive hate propaganda and pressure, and as casus belli. Today it is the grievances of the Blacks which are called on to supply the propaganda ammunition and justify internal revolutionary activity, most of it masterminded and financed from abroad.

 

In the 1890's, as also today, demands for so-called reforms were of a kind clearly aimed not at reform but at the complete displacement of the country's existing rulers.”

 

Dit was die situasie voor en tydens die Anglo Boere Oorlog…

 

Die ABO word herhaal

Die ossewatrek van 1938 het Afrikanernasionalisme gevoed, waarna ‘n nuwe Afrikaner elite ontwikkel het.  By die "Ekonomiese Volkskongres" van 1939 word die beleid aanvaar dat ‘n groter aandeel in die Suid-Afrikaanse ekonomie vir Afrikaners verseker moet word.  ‘n Etnies gebaseerde kapitalisme het hierna ontwikkel waarvan die drie hoof rolspelers SANLAM, die  Broederbond (met sy tentakels in die Afrikaanse media, die leierskap van die staat, die veiligheidsdienste, universiteite en die sakegemeenskap) en die Nasionale Party was.

 

Deur op die snaar van Afrikanersentiment te tokkel, het Afrikaanse besighede geweldig gebaat by die oprigting van banke, bougenootskappe, ens. Regeringsbeleid het Afrikaners opgehef, wat tot gevolg gehad het dat werkloosheid laag was onder Afrikaners.  ‘n Groot deel van die jaarlikse fiskus het deur hierdie Afrikanerhande gevloei en in die koffers van  SANLAM’, VOLKSKAS, en AFRIKAANSE PERS beland.  Parastatale bedrywe soos Yskor en SASOL het die Afrikaner se geldmag verder uitgebrei en duisende werksgeleenthede gebied.  Hierdie instellings het op Afrikanersentiment gedy totdat hulle die kritieke massa bereik het waarmee enorme finansiële mag uitgeoefen kon word. Maar dit was teen ‘n prys.

.

In 1965 het Dr. Verwoerd vergeefs teen Federale Volksbeleggings se stap gewaarsku om die geheimsinnige internasionale wêreld van die mynwese te betree, aangesien die oorlewingstrategie van Afrikanerdom reëlreg met dié van die mynhuise gebots het.  Laasgenoemde het Afrikanerdom se politieke heerskappy as ‘n verbygaande ongerief beskou en aanvaar, maar een wat intussen onder beheer van die mynmagnate gebring moes word.  Die oorname van General Mining en later Union Corporation was die eerste ernstige stap vir Afrikanerdom om die enigmatiese binnekring van ‘n  domein te betree wat hulle voorheen as hul grootste vyand beskou het.

 

Die mynhuise het doelbewus ‘n gaping vir Afrikanerdom oopgelaat, om daarin opgesuig te word.   Tot almal se verbasing word aangekondig dat van kredietfinansiering gebruik gemaak sou word wat sou sorg dat die oorname deur Afrikaanse sakebelange kon slaag.  Met hierdie stap het die Goudgoggas gesorg dat Afrikaners voortaan onder ‘n vreemde juk sou trek.  ‘n Enorme skuldlas en die vooruitsig van ‘n pot goud aan die einde van die reënboog sou daarvoor sorg.

 

‘n Belangrike deel van Afrikanerdom het hulle in vennootskap met die tradisionele vyand, die finansiële wêreld van die mynwese, bevind en was verlam om hul nuwe alliansievennote op strategiese gebiede te beveg.  Soos ‘n Siamese tweeling het hulle die hart en arestelsel van die mynbou finansieringswêreld gedeel en sou in die toekoms onafskeidbaar word van sy tradisionele vyand.  Etniese Afrikaners se oorlewingstrategie was voortaan ondergeskik aan die gedeelde mynbou- en nywerheidsbelange van Afrikaanse grootgeld.  ‘n Interne stryd was onvermydelik.

 

Na die totstandkoming van Federale Mynbou en die geweldige groei van Afrikanerinstellings, het die finansiële politiek ‘n nuwe wending begin kry. ‘n Nuwe moraliteit het ontstaan.  Persoonlike eer, integriteit en die soeke na waarheid het plek begin maak vir hebsug, smag na rykdom en aansien.  ‘n Morele transformasie het plaasgevind; een waarvan pragmatisme die wagwoord was.  Finansiële oorwegings en gewin was belangriker geag as die oorlewing van ‘n Afrikanervolk of sy saak.  Dis nie of hierdie historiese wending reg of verkeerd was nie, maar slegs dat dit onvermydelik was.

 

Sommige sakelui het gevoel dat hulle op grond van die feit dat hulle die staat se belastingbasis verteenwoordig, die leiding agter die skerms aan politieke leiers kon gee.  Hul invloed en mag het daagliks gegroei en seminare, dinkskrums, bosberade, gespreksaande en strategiese beplanningsessies was aan die orde van die dag waar kultuurleiers en politici beïnvloed was.  Orals was die Broederbond teenwoordig en het dikwels die leiding geneem.  Dit het mode geword om Afrikaner nasionalisme smalend af te skaal en om meer op blankes te fokus.  Gevoed deur die stryd tussen die noordelike en suidelike koerantgroepe, het die begrippe van verligtes en verkramptes uit die Kaap aangerol om etniesgesinde Afrikaners te demoniseer, ‘n skeuring te bewerkstellig, daardie  faksie te isoleer, wat die pragmatiste in staat sou stel om die hervormingsproses te verhaas.

 

 Die internasionale gemeenskap se bekering tot die beginsel van ‘n een-mens-een-stem-demokrasie, het die belange van die Goudgoggas van buite bedreig.  Die eerste tasbare voorbeeld daarvan was die verbod op die uitvoer van sekere minerale asook ander handelsanksies.  Die vooruitsig van ‘n lang uitmergelende vryheidstryd het ‘n kultuur van pragmatisme, toegewings, akkomodasie en hervorming gebaar.

 

Niemand sal seker ooit ten volle kan besef hoe groot die invloed was wat die groot Afrikaanse sake ondernemings en - magnate op mense soos FW de Klerk, en lede van sy kabinet gehad het nie. Wat wel bekend is, is dat die Broederbond aktief meegewerk het om die weerstand van belangrike besluitnemers stelselmatig af te breek.  Deur ‘n formele netwerk van kultuurorganisasies, en ‘n informele skakelingsnetwerk kon daar in die rigting van die sogenaamde demokratisering van die land afgestuur word.  Gewetens is gesus met ‘n strategie wat Afrikaners se regte deur ‘n liberale grondwet sou waarborg.  [Een van die hoofopstellers van daardie grondwet, Prof. Francois Venter, is vandag voorsitter van die Broederbond wat sedertdien tot die Afrikanerbond (sic) herdoop is.]

 

Broederbonders het op die direksies van al die belangrike Afrikanerorganisasies en besighede gedien en was die hoofbeplanners van die Nasionale Party. Dit het nie meer oor Afrikanerdom se oorlewing gegaan nie, maar oor die behoud van finansiële mag en invloed van wêreldburgers bereid was om Afrikanerselfbeskikking in ruil aan te bied vir die behoud van hul eie geldmag.  Vir hulle was die kwessie van selfbeskikking, hetsy geografies-fisies of kultureel, onbelangrike begrippe wat hulle as ‘n regse filosofie afgemaak het, of bloot net nooit kon verstaan nie. 

 

‘n Voormalige voorsitter van die Broederbond, Prof. J.P. de Lange, het een aand teenoor skrywer opgemerk: “Die beste oorlewingstrategie vir Afrikaners is om a) met die kleurlingbevolking te versmelt en b) om sukses op finansiële gebied te behaal.”

 

Die CIA en ander westerse organisasies het die situasie goed gelees, hoewel hulle ‘n sterker weerstand uit die regse groeperings verwag het.  ‘n Program van rollende massa-aksie, moes nuutgevonde en opgekookte swart griewe aanjaag, sodat massageweld as ‘n legitieme opsie beskou kon word wat ‘n dekade van opgestookte geweld tot geweld gehad het.  Net soos voor en tydens die ABO in die vorige eeu, was disinformasie en propaganda die hoofkrag wat die wêreldmening moes verenig en wat met niks anders as ‘n algehele magsoorgawe tevrede sou wees nie.  Tydens die dekade van onrus is massa aksie, terreur, intimidasie, derdemag bedrywighede en disinformasie van buite aangevuur om die politieke situasie te destabiliseer.

 

Die versinsel van “black grievances” het sy kop uitgesteek met die Soweto onluste van 1976 en was die begin van ‘n intense program van klassieke disinformasie wat deur die buitelandse geheime dienste begin is.  Verskeie studies is van daardie gebeure gemaak en die argiewe is vol bewyse waar buitelandse mediamense fisies kwaad gestook het om insidente te skep en om beeldmateriaal daarvan te bekom.  Die destabiliserende rol en inmenging van geheime dienste, soos veral die CIA, is goed bekend en wyd geboekstaaf. Hierdie agentskappe, met hul onbeperkte finansiële bronne, was terselfdertyd direk vir die burgeroorloë in Mosambiek en Angola verantwoordelik en het Suid-Afrika selfs in Angola ingesuig en daarna weer soos ‘n warm patat gelos. 

 

Buitelandse agente was die hoofbeplanners van binnelandse opstande.  Hul klassieke metodes is die aktivering en versterking van plaaslike groepe, finansiering van NGO’s en opleiding van aktivisteleiers deur beurse ens. in die buiteland; alle middele was ingespan om die regering omver te werp met die doel om ‘n nuwe ‘demokratiese orde’ te vestig.

 

“Black grievances” is as rede vir die onrus versin en voorgehou, ten spyte van die feit dat al die swartmense regoor die wêreld nog altyd griewe gehad het.  Nêrens het hulle groter griewe gehad as juis in Afrikalande buite ons grense nie, wat hulle in groot getalle na die veiligheid van Suid-Afrika laat vlug het en as onwettige immigrante in plakkerskampe kom vestig het. 

 

Geskiedskrywers gaan dit nog moeilik vind om die omvang van die grootskaalse halssnoermoorde, intimidasie en verwoesting, wat deur aktiviste gepleeg en aangemoedig was, in verhouding met werklike legitieme griewe te bring.  Dit was ‘n deursigtige strategie om Suid-Afrika onregeerbaar te maak sodat internasionale ingryping sou volg.

 

Groot geld vanuit die buiteland, en mens vermoed plaaslik, het hierdie dekade van onrus gefinansier.  Die monoliet van Afrikanerdom het gekraak en ‘n kolossale program van propaganda wat  die wandade van apartheid as misdaad teen die mensdom tipeer het, het die Afrikanervolkie ontbind soos ‘n byeswerm, waarvan die koningin verwyder was.  Die oorwinning oor Afrikanerdom was in sig in 1990.  Tydens die dekade van onrus was Afrika-nasionalisme kunsmatig opgewek en gevoed en geweld deur die buitewêreld gelegitimiseer.  Die gevolge wat die opwekking van swart nasionalisme en die kultuur van geweld wat in die naam daarvan geskep is, daarna op die nuwe Suid-Afrika, en inderdaad op die aspirasies van die hele Afrika, sou hê, is heeltemal buite rekening gelaat. Swart griewe was geskep en gedramatiseer presies soos voorheen die geval was met die afdwing van die Anglo Boere Oorlog.  Dieselfde bedrieglike middele, motiewe en metodes is op laakbare wyse aangewend om ‘n soewereine staat omver te gooi. 

 

Die Afrikaners se politieke leierskap was net nie teen die oorreding van die binnelandse finansiële mag en teen die politieke aanslag vanuit die buiteland opgewasse nie.  Dit was die Nasionale Party wat misluk het, nie apartheid nie. Die gehate administratief-sosiale apartheid was reeds deur P.W. Botha afgeskaf. Die party kon nog veel langer die onrus met sy manne in uniform hanteer het, maar hy was van sy morele politieke basis vervreem deurdat hy sy reg tot oorlewing as ‘n party en as ‘n volk ondergeskik gestel het aan die finansiële belange van die Goudgoggas wat behoue moes bly.

 

Die feit is reeds verdiskonteer dat Afrikaner grootgeld as deel van ‘n vorige etniese kapitalisme gegroei het en waarskynlik vandag nog sterk daarop steun, toe die KP van die Nasionale Party weggebreek het.  Die Nasionale Party wat as die grootste Afrikaanse politieke party oorgebly het, het daardie groepe se visie gekondoneer en gelegitimiseer.

 

Die dekade van geweld het as volg verloop:

 

Augustus 1983: Die United Democratic Front, ‘n koalisie van vakunies, vrouegroepe en jeugorganisasies, word gestig en vanuit die buiteland befonds.

September 1984: Onluste in die Vaaldriehoek en algemene onrus in swart woongebiede.

Julie 1985: Die eerste noodtoestand word afgekondig.

Junie  1986: Die tweede noodtoestand word afgekondig gevolg deur massa arrestasies.

Oktober 1989: Die regering begin om ingeperkte ANC leiers vry te laat.

Februarie 1990: Nelson Mandela word vrygelaat.

Mei 1994: Die Afrikaners word formeel van alle mag gestroop.

 

Natuurlik was daar ontevredenheid en griewe by swartmense, en was daar ernstige sosiale probleme met die toepassing van rasse skeiding en ander apartheidswetgewing.  Maar daardie wette was reeds herroep. Die grootste grief was waarskynlik om die gehate witman se mag te vernietig. (vgl Osama ben Laden se grief teen Amerika)

 

Afrikaners het vandag ook ‘n lang lys griewe en ernstige rede om gewelddadig uiting aan daardie griewe te gee, maar sonder ‘n propaganda-masjien sal dit swaar gaan om hul saak internasionaal te legitimiseer.  Die miskenning van hul taal, onderwys en gesondheidsdienste, ‘n stelselmatige vermindering van hul getalle deur plaasmoorde en stedelike misdaad, verkragting, die effek van regstellende aksie, werkreservering en die algemene verarming van Afrikaners veroorsaak dat sy jongmense in duisendtalle die land verlaat wat families opbreek. Die nuutste is die miskenning van sy reg op sy historiese kultuurgoedere, soos sy dorps- en plekname.  Dit mag net die laaste strooi wees wat tot uitbarsting mag lei.

 

Die geskiedenis sal nog uitwys hoedat die Afrikaners, tydens hul vyftig jaar bewind, ‘n moderne, welvarende staat geskep het met ‘n gesonde ekonomie, infrastruktuur en selfversorgende landbou. Die ridders van die liberalisme, daardie kruisvaarders van demokrasie wat nog net in monokulturele lande met ‘n sterk middelklas en ontwikkelde ekonomieë suksesvol was, het gekom om die apartheidsdraak te verslaan.  Die godsdiens van liberalisme, waarin net die finansiële mag regeer, moes in die plek kom van apartheid en sy ‘filosofiese beskermer’, die Christelike godsdiens omdat dit mense kwansuis sou verontmenslik het.

 

In 1994 is die mag vreedsaam oorhandig en is die Goudgoggas en hul vennoot die SANLAM-groep, wat gesamentlik 80% van die Johannesburgse beurs beheer, se belange daardeur verseker. Die Afrikaners se selfbeskikkingsbelange was van die tafel afgevee.

 

Na die magsoorgawe het die Waarheids - en Versoeningskommissie probeer om die nasionale ego van die Afrikaners te vernietig deur ‘n gevoel van persoonlike aandadigheid aan ‘n brutale en onregverdige verlede te predik.

 

Die pad vorentoe

 

Bogenoemde ontleding van die onlangse geskiedenis en vergelyking met dié van die Anglo-Boereoorlog, is geensins bedoel om sakelui as die vark in die verhaal te tipeer nie.  Die kernpunt is dat die finansiële wêreld ander belange as etniesgesinde Afrikaners het.  Die twee groepe bevind hulle aan teenoorgestelde pole.  Die geldmag soek politieke stabiliteit vir ekonomiese groei.  Etniesgesinde Afrikaners wil teen enige prys hul vryheid hê en mag selfs bereid wees om onstabiliteit te skep om daardie doel te bereik.  Dit is nie goed teen sleg nie, maar goed teen goed, albei is reg en beginsels kan nie versaak word nie.  Hoewel bitter om te aanvaar, is dit logies en verklaarbaar waarom die meeste sakelui hulle gewoonlik van regse projekte of pogings distansieer.

 

Was gedeelde belange die rede waarom die kabinet die begrafnisdiens van Marinus Daling, SANLAM se voorsitter, op 6 Februarie 2002 bygewoon het?  FW de Klerk het langs Mbeki in die kerk gesit.  Lesley Boyd, voormalige voorsitter van Anglo American, wie se naam op die direksielys van groot Afrikaanse ondernemings verskyn, het saam met Mbeki en die groot vakbondleiers hulde aan Daling gebring. “Daling is nou weg, maar ek dink wat ons kan doen is om seker te maak dat sy droom van ‘n verenigde, vreedsame en voorspoedige Suid-Afrika werklikheid word.  Suid-Afrika het ‘n uitsonderlike Suid-Afrikaner en een van die vaders van die nuwe Suid-Afrika verloor” het Mbeki tydens die diens gesê. [7]

 

 SANLAM, die bakermat van Afrikanergrootgeld, beheer ook Media24, waarin die staat insgelyks ‘n aandeel besit.  Dit is dus nie verbasend dat die vorige mediahoof, Ton Vosloo, vir Daling opvolg nie.  Met enorme belange in mynbou,  nywerhede, bankwese en die media, kan SANLAM hoegenaamd nie bekostig om enige belang te hê in ‘n beleid wat politieke onstabiliteit moontlik tot gevolg mag hê nie.   Ton Vosloo het onlangs in ‘n televisieonderhoud op KykNet uitgebrei oor sy visie vir ‘n verenigde Suid-Afrika, die afbreek van grense tussen rasse, dat alle Afrikaanspraters een groep moet vorm en dat dit deur sy groep soos klei ingebrei sal word in die toekoms.  Hy het daarop gesinspeel dat etnisiteit, as rede vir spanning moes verdwyn en dat die media Afrikaans inklusief moet aanbied, sodat Afrikaners se gevoel van etniese isolasie sal verdwyn en Afrikaners hulle by die nuwe Suid-Afrika sal aanpas en inpas. 

 

Die onlangse verbrokkeling van Louis Luyt se breinkind, die DA en die huidige toenadering tussen die ANC en die NNP is ooglopend deur daardie groep georkestreer. (Is dit ‘n poging om die ANC-leierskap te koöpteer en om etniese spanning te voorkom?)  Louis Luyt was ‘n trotse en onafhanklike Afrikanersakeman, maar ‘n los kanon wat hom nooit met Afrikaanse grootgeld se strategieë vereenselwig het nie. Rugby, ‘n onlosmaakbare deel van Afrikanerkultuur, moes as deel van die de-etnifiseringsveldtog getransformeer word en Louis Luyt was in die pad daarvan.  Hy was selfs bereid om die ikoon van die nuwe Suid-Afrika, Nelson Mandela, in die hof te daag.  Luyt is ook nooit daarvoor vergewe nie dat hy DIE STEM voor ‘n Rugbytoets op Ellispark laat sing het midde-in die propagandaveldtog wat volstoom aan die gang was om apartheid en die beeld van Afrikaners af te kraak.  Daardie insident het duisende blanke Suid-Afrikaners se nasietrots soos ‘n towerslag weer aangewakker, met die gevolg dat dit soos ‘n skerp been in die keel van die nuwe meesters bly vassit het.

 

Ná die magsoorgawes het verskeie hooggeplaaste ANC-leiers soos Cyril Ramaphosa, Tokyo Sexwale en ander die sakewêreld betree en kitsmiljoenêrs geword.  Myn - en nywerheidsbelange is onderverdeel en ‘n nuwe swart elite in die naam van swart bemagtiging geskep.  Cyril et al is nou ook aan die naelstringe verbind, en hulle sal voortaan die Goudgoggas se belange eerbiedig en polities beskerm, presies soos dit met die Afrikaners die geval was.  ‘n Onheilige driepootalliansie, bestaande uit die Goudgoggas, Afrikaanse grootgeld en swart nasionalisme is gevorm.   Afrikaner-nasionalisme, of ‘n aandrang op volkskap speel hoegenaamd geen rol daarin nie. In daardie driepootpot is die Afrika-renaissance gebore wat nog die Afrika-Dollar en die Afrika-Unie sou baar en wat die driepootalliansie se invloed regdeur Afrika sal uitbrei.

 

Dit staan soos ‘n paal bo water dat etniesgesinde Afrikaners geen, maar zilch, simpatie of enige finansiële ondersteuning vir enige opheffingsprogramme vir Afrikaners, ooit uit die driepootalliansie sal kry nie. Inteendeel, slegs vyandskap, intimidasie, verdagmakery en wanvoorstellings deur die magtige media moet uit daardie oord verwag word. 

 

Maar dit skep ook ‘n geleentheid: vanweë die invloed wat daardie stal met die swart establishment het, word ‘n handige kommunikasiekanaal geopen.  Invloedryke behoudende Afrikaners, wat toegang tot die topbestuur van SANLAM, ABSA, News24 ens. het, kan die saak van kulturele vryheid vir die land se minderheidsvolke, as voordelig vir politieke stabiliteit aan hulle gaan verkoop, sodat ekonomiese groei daarop sal volg.  Hulle kan daarop gewys word dat die strategie van  geforseerde integrasie die prentjie heeltemal verkeerd vertolk.  Die moderne geskiedenis het op menige dele van die aardbol bewys dat dit presies die verkeerde beleid vir politieke stabiliteit is.  SANLAM en die goudgoggas moet dringend daarvan kennis neem.

 

Die enigste alternatief daarna is om tot geweld oor te gaan, en om die probleem van Afrikanerselfbeskikking te internasionaliseer.  “Nothing focusses the mind like a deadline or pain,” is ‘n revolusionêre  spreekwoord wat op hierdie situasie van toepassing sal wees.

 

Etniesgesinde Afrikaners is tans van alle finansiële en politieke mag gestroop. Hul manne in uniform sit kaalhande tuis en probeer om liggaam en siel aanmekaar te hou.  Die situasie moet dus nugter benader word om eie swakhede te verstaan.  Geloof alleen is nie genoeg nie.  Die Goudgoggas moet oorreed word om in te gryp, so nie lê daar ernstige probleme voor en kan hulle groot skade lei. 

 

‘n Onvrye volk is ‘n gevaarlike volk!

 

 7 Februarie, 2002.



[1]1 The Siege of South Africa, Ivor Benson, Paper Presented to the Seventh International Revisionist Conference. 1985

 

2.  Lt. General Sir William Butler, An Autobiography (Constable, 1911).

 

3.  J. A. Hobson, The War in South Africa (James Nisbet, 1900).

 

4.        L. March Phillips, With Rimington in South Africa.

 

5.  George Orwell, Nineteen Eighty-Four (New York: Harcourt Brace & Co., 1949).

 

 

[6] Thomas Pakenharn, The Boer War, 1979.

 

[7] Beeld 7 Februarie