Die Goudgoggas
byt seer
deur Johann Wingard
Opsomming: Deur van disinformasie gebruik
te maak het mynmagnate, wat die geheimsinnige finansiële wêreld van die
mynwese verteenwoordig, oftewel die Goudgoggas, die Britse nasie en Parlement
mislei en is die Anglo-Boereoorlog op die Transvaalse Republiek afgedwing.
Tydens die sestigerjare is Afrikaanse grootgeld ingenooi om deel van
daardie mag te word. Sedertdien het
die Afrikanerpolitiek drasties verander deurdat die strategiese belange van die
Goudgoggas in alliansie met Afrikaanse grootgeld, reëlreg gebots het met
Afrikanerdom se wil om as ‘n volk voort te bestaan. Dieselfde tegniek van “uitlander grievances” voor
die ABO is in die tagtigerjare gebruik om “black grievances”in die laat
sewentigerjare te versin en op te
stook wat tot die dekade van onrus gelei het.
Uiteindelik is ‘n totale magsoorgawe hierdeur bewerkstellig.
Die Goudgoggas en hul Afrikaanse grootgeldvennote se belange het oorleef,
maar Afrikaners se selfbeskikkingsreg is begrawe. Sal dit weer kan herleef soos na Uniewording?
Gedurende
die afgelope drie jaar is die Anglo Boere Oorlog binne die nuwe Suid-Afrika
herdenk. Nuwe perspektiewe is aan
daardie bepalende gebeurtenis gegee en die rol wat swartmense en Europese
avonturiers gespeel het is ook onder die loep geplaas.
Hoewel die oorlog goeie dekking geniet het, is die vooroorlogse
perspektief binne- en buitelands afgeskeep. Die amptelike redes vir die ABO is
weer deur etlike kommentators aangevoer as uitlandergriewe,
mynwerkers wat die stemreg wou hê.
In 1987 het
Ivor Benson, die bekende Suid-Afrikaanse joernalis en politieke ontleder, wat
vir die twee Londense koerante The Daily Express en The Daily
Telegraph, geskryf het, ‘n artikel ‘The
siege of South Africa’[1]
geskryf waarin hy hierdie stelling weerlê.
Hy verwys onder meer na Luitenant Generaal Sir William Butler, wat op 18
Desember 1898 – d.w.s. kort voor die uitbreek van die ABO,
vanuit Kaapstad aan die Koloniale Sekretaris geskryf het:
"Al die
politieke vrae en byna al die inligting wat vanaf Kaapstad uitgestuur word, word
deur ‘n kolossale sindikaat, wat ek voorheen beskryf het, verwerk met die doel
om disinformasie te versprei."[2]
Generaal
Butler, wat verskeie persoonlike besoeke aan die Transvaalse Republiek gedoen
het om die uitlandergriewe, die
meeste van hulle Britte wat deur die nuutgevonde goudvelde aangelok was, te
ondersoek. Sy slotsom was dat
daardie “uitlander grievances” ‘n moedswillige leuen en ‘n roekelose
versinsel was.
Een van die mees gerespekteerde skrywers op sy dag, J.A.
Hobson, ‘n man wat die Transvaalse Republiek verskeie male voor die oorlog
besoek het, skryf: [3]
“Ons veg sodat ‘n klein internasionale oligargie van mynbase en
spekulante die mag in Pretoria kan bekom. Elke
Engelsman behoort te weet en te besef dat die ekonomiese en politieke lot van
Suid-Afrika, nou en in die toekoms, in die hande van daardie mense sal bly,
sommige van hulle van vreemdelingherkoms, wie se roeping finansies is en wie se
roepingsbelange nie Brits is nie.”
Hobson se insig en sy ontleding van propaganda en
disinformasie kan veral gesien word in sy boek “The Psychology of Jingoism,” en wat toe reeds vergelyk kon word
met George Orwell[4] se latere studie oor
hierdie onderwerp in sy boek “Nineteen
Eighty Four.”
Nog ‘n skrywer wat blykbaar deur geskiedskrywers
misgekyk is, is L. March Phillips,[5]‘n
offisier van die Rimington's Scouts, wat vir etlike jare voor die uitbreek van
die ABO in die Transvaal gewerk het. Dit is wat hy daaroor sê:
“Sover dit die uitlanders en hul griewe aanbetref, sal ek nie ‘n tree ry
of ‘n enkele skoot skiet vir al die griewe wat ontdek en versin was nie.
Die meeste uitlanders (d.w.s. myners en werkers aan die rand) het geen
griewe gehad nie. Ek weet waarvan ek praat, want ek het tussen hulle gewoon en
gewerk. Ek het gesien hoedat
Engelse koerante van hande verwissel het en die uitbundige gelag wanneer daardie
kostelike griewe in die telegramme van die Times verskyn het…
Ons moes die Londense koerante lees om uit te vind wat ons griewe werklik
was; dikwels van oorsake waarvan ons nog nooit gehoor het nie.
Ek het nooit ‘n enkele werker ontmoet wat ‘n myl van die pad sou stap
vir ‘n stem nie, en ek het met duisende daaroor gepraat.”
Benson beweer dat wat Butler,
Hobson en ander kritici van die Milner-beleid gesien het, ‘n nuwe historiese
verskynsel was:
“Britse leiers het bedrieglike wanvoorstelling op ‘n
kolossale skaal ten koste van hul eie mense en parlement gepleeg met die
uitsluitlike doel om hulle by ‘n beplande oorlog in te sleep. Vir die eerste maal in die
Britse geskiedenis word ‘oneervolle gedrag’ as ‘n instrument van imperiale
beleid gebruik.”
Die
enormiteit en astrante misbruik van die media en die openbare bedrog wat deur
hulle gepleeg was om die internasionale openbare mening destyds teen die
Transvaalse Republiek te draai, het vir die eerste maal in die geskiedenis ‘n
volskaalse oorlog en vernietiging van ‘n soewereine land veroorsaak.
Almal weet hoedat die wapen van disinformasie en propaganda daarna
verskeie kere vir dergelike vergrype tydens die wêreldoorloë verantwoordelik
was. Soos hierdie feite na vore gekom het, so het die besef ook begin posvat dat
hierdie verskynsel gedurende die tagtigerjare in Suid-Afrika herhaal was.
In 1979 skryf Thomas Pakenham in sy uitstekende Boek “The
Boer War,[6]”:
“Eerstens loop daar ‘n dun goue draad deur die geskrif, ‘n draad wat
deur die goudgoggas, oftewel die Randse miljoenêrs, geweef is wat die rykste
goudmyne ter wêreld beheer. Tot
dusver het geskiedskrywers aangeneem dat nie een van die goudgoggas direk belang
gehad het om oorlog te maak nie. Maar
hulle was beslis direk betrokke… Ek het bewys gevind van ‘n informele
alliansie tussen Sir Alfred Milner, die Hoë Kommissaris en die firma van
Wernher-Beit, die dominante Randse Mynhuis.
Dit was hierdie alliansie, glo ek, wat aan Milner die moed gegee het om
die oorlog te verhaas.”
Benson
konkludeer in sy 1986 artikel dan as volg in sy eie woorde:
“Then it was the alleged denial of political rights to the
English speaking "uitlanders" which served as ammunition for massive
hate propaganda and pressure, and as casus belli. Today it is the grievances of
the Blacks which are called on to supply the propaganda ammunition and justify
internal revolutionary activity, most of it masterminded and financed from
abroad.
In
the 1890's, as also today, demands for so-called reforms were of a kind clearly
aimed not at reform but at the complete displacement of the country's existing
rulers.”
Dit was die situasie voor en tydens die
Anglo Boere Oorlog…
Die ossewatrek van 1938 het
Afrikanernasionalisme gevoed, waarna ‘n nuwe Afrikaner elite ontwikkel het.
By die "Ekonomiese
Volkskongres" van 1939 word die beleid aanvaar dat ‘n
groter aandeel in die Suid-Afrikaanse ekonomie vir Afrikaners verseker moet
word. ‘n Etnies gebaseerde
kapitalisme het hierna ontwikkel waarvan die drie hoof rolspelers SANLAM, die
Broederbond (met sy tentakels in die Afrikaanse media, die leierskap van
die staat, die veiligheidsdienste, universiteite en die sakegemeenskap) en die
Nasionale Party was.
Deur op die snaar van Afrikanersentiment
te tokkel, het Afrikaanse besighede geweldig gebaat by die oprigting van banke,
bougenootskappe, ens. Regeringsbeleid het Afrikaners opgehef, wat tot gevolg
gehad het dat werkloosheid laag was onder Afrikaners. ‘n Groot deel van die jaarlikse fiskus het deur hierdie
Afrikanerhande gevloei en in die koffers van
SANLAM’, VOLKSKAS, en AFRIKAANSE PERS beland. Parastatale bedrywe soos Yskor en SASOL het die Afrikaner se
geldmag verder uitgebrei en duisende werksgeleenthede gebied.
Hierdie instellings het op Afrikanersentiment gedy totdat hulle die
kritieke massa bereik het waarmee enorme finansiële mag uitgeoefen kon word.
Maar dit was teen ‘n prys.
.
In 1965 het Dr. Verwoerd vergeefs teen
Federale Volksbeleggings se stap gewaarsku om die geheimsinnige internasionale wêreld
van die mynwese te betree, aangesien die oorlewingstrategie van Afrikanerdom reëlreg
met dié van die mynhuise gebots het. Laasgenoemde
het Afrikanerdom se politieke heerskappy as ‘n verbygaande ongerief beskou en
aanvaar, maar een wat intussen onder beheer van die mynmagnate gebring moes
word. Die oorname van General Mining en later Union Corporation was
die eerste ernstige stap vir Afrikanerdom om die enigmatiese binnekring van ‘n
domein te betree wat hulle voorheen as hul grootste vyand beskou het.
Die mynhuise het doelbewus ‘n gaping
vir Afrikanerdom oopgelaat, om daarin opgesuig te word. Tot almal se verbasing word aangekondig dat van
kredietfinansiering gebruik gemaak sou word wat sou sorg dat die oorname deur
Afrikaanse sakebelange kon slaag. Met
hierdie stap het die Goudgoggas gesorg dat Afrikaners voortaan onder ‘n
vreemde juk sou trek. ‘n Enorme
skuldlas en die vooruitsig van ‘n pot goud aan die einde van die reënboog sou
daarvoor sorg.
‘n Belangrike deel van Afrikanerdom het hulle in vennootskap met die
tradisionele vyand, die finansiële wêreld van die mynwese, bevind en was
verlam om hul nuwe alliansievennote op strategiese gebiede te beveg.
Soos ‘n Siamese tweeling het hulle die hart en arestelsel van die
mynbou finansieringswêreld gedeel en sou in die toekoms onafskeidbaar word van
sy tradisionele vyand. Etniese
Afrikaners se oorlewingstrategie was voortaan ondergeskik aan die gedeelde
mynbou- en nywerheidsbelange van Afrikaanse grootgeld.
‘n Interne stryd was onvermydelik.
Na die totstandkoming
van Federale Mynbou en die geweldige groei van Afrikanerinstellings, het die
finansiële politiek ‘n nuwe wending begin kry. ‘n Nuwe moraliteit het
ontstaan. Persoonlike eer,
integriteit en die soeke na waarheid het plek begin maak vir hebsug, smag na
rykdom en aansien. ‘n Morele
transformasie het plaasgevind; een waarvan pragmatisme die wagwoord was.
Finansiële oorwegings en gewin was belangriker geag as die oorlewing van
‘n Afrikanervolk of sy saak. Dis
nie of hierdie historiese wending reg of verkeerd was nie, maar slegs dat dit
onvermydelik was.
Sommige sakelui het
gevoel dat hulle op grond van die feit dat hulle die staat se belastingbasis
verteenwoordig, die leiding agter die skerms aan politieke leiers kon gee.
Hul invloed en mag het daagliks gegroei en seminare, dinkskrums,
bosberade, gespreksaande en strategiese beplanningsessies was aan die orde van
die dag waar kultuurleiers en politici beïnvloed was.
Orals was die Broederbond teenwoordig en het dikwels die leiding geneem.
Dit het mode geword om Afrikaner nasionalisme smalend af te skaal en om
meer op blankes te fokus. Gevoed
deur die stryd tussen die noordelike en suidelike koerantgroepe, het die
begrippe van verligtes en verkramptes uit die Kaap aangerol om etniesgesinde
Afrikaners te demoniseer, ‘n skeuring te bewerkstellig, daardie
faksie te isoleer, wat die pragmatiste in staat sou stel om die
hervormingsproses te verhaas.
Die
internasionale gemeenskap se bekering tot die beginsel van ‘n
een-mens-een-stem-demokrasie, het die belange van die Goudgoggas van buite
bedreig. Die eerste tasbare
voorbeeld daarvan was die verbod op die uitvoer van sekere minerale asook ander
handelsanksies. Die vooruitsig van
‘n lang uitmergelende vryheidstryd het ‘n kultuur van pragmatisme,
toegewings, akkomodasie en hervorming gebaar.
Niemand sal seker ooit ten volle kan
besef hoe groot die invloed was wat die groot Afrikaanse sake ondernemings en -
magnate op mense soos FW de Klerk, en lede van sy kabinet gehad het nie. Wat wel
bekend is, is dat die Broederbond aktief meegewerk het om die weerstand van
belangrike besluitnemers stelselmatig af te breek. Deur ‘n formele netwerk van kultuurorganisasies, en ‘n
informele skakelingsnetwerk kon daar in die rigting van die sogenaamde
demokratisering van die land afgestuur word.
Gewetens is gesus met ‘n strategie wat Afrikaners se regte deur ‘n
liberale grondwet sou waarborg. [Een
van die hoofopstellers van daardie grondwet, Prof. Francois Venter, is vandag
voorsitter van die Broederbond wat sedertdien tot die Afrikanerbond (sic)
herdoop is.]
Broederbonders het op die direksies van
al die belangrike Afrikanerorganisasies en besighede gedien en was die
hoofbeplanners van die Nasionale Party. Dit
het nie meer oor Afrikanerdom se oorlewing gegaan nie, maar oor die behoud van
finansiële mag en invloed van wêreldburgers bereid was om
Afrikanerselfbeskikking in ruil aan te bied vir die behoud van hul eie geldmag. Vir
hulle was die kwessie van selfbeskikking, hetsy geografies-fisies of kultureel,
onbelangrike begrippe wat hulle as ‘n regse filosofie afgemaak het, of bloot
net nooit kon verstaan nie.
‘n Voormalige voorsitter van die
Broederbond, Prof. J.P. de Lange, het een aand teenoor skrywer opgemerk: “Die
beste oorlewingstrategie vir Afrikaners is om a) met die kleurlingbevolking te
versmelt en b) om sukses op finansiële gebied te behaal.”
Die CIA en ander westerse organisasies het die situasie
goed gelees, hoewel hulle ‘n sterker weerstand uit die regse groeperings
verwag het. ‘n Program van
rollende massa-aksie, moes nuutgevonde en opgekookte swart griewe aanjaag, sodat
massageweld as ‘n legitieme opsie beskou kon word wat ‘n dekade van
opgestookte geweld tot geweld gehad het. Net
soos voor en tydens die ABO in die vorige eeu, was disinformasie en propaganda
die hoofkrag wat die wêreldmening moes verenig en wat met niks anders as ‘n
algehele magsoorgawe tevrede sou wees nie.
Tydens die dekade van onrus is massa aksie, terreur, intimidasie,
derdemag bedrywighede en disinformasie van buite aangevuur om die politieke
situasie te destabiliseer.
Die versinsel van
“black grievances” het sy kop uitgesteek met die Soweto onluste van 1976 en
was die begin van ‘n intense program van klassieke disinformasie wat deur die
buitelandse geheime dienste begin is. Verskeie
studies is van daardie gebeure gemaak en die argiewe is vol bewyse waar
buitelandse mediamense fisies kwaad gestook het om insidente te skep en om
beeldmateriaal daarvan te bekom. Die
destabiliserende rol en inmenging van geheime dienste, soos veral die CIA, is
goed bekend en wyd geboekstaaf. Hierdie agentskappe, met hul onbeperkte finansiële
bronne, was terselfdertyd direk vir die burgeroorloë in Mosambiek en Angola
verantwoordelik en het Suid-Afrika selfs in Angola ingesuig en daarna weer soos
‘n warm patat gelos.
Buitelandse agente was
die hoofbeplanners van binnelandse opstande. Hul klassieke metodes is die aktivering en versterking van
plaaslike groepe, finansiering van NGO’s en opleiding van aktivisteleiers deur
beurse ens. in die buiteland; alle middele was ingespan om die regering omver te
werp met die doel om ‘n nuwe ‘demokratiese orde’ te vestig.
“Black grievances”
is as rede vir die onrus versin en voorgehou, ten spyte van die feit dat al die
swartmense regoor die wêreld nog altyd griewe gehad het.
Nêrens het hulle groter griewe gehad as juis in Afrikalande buite ons
grense nie, wat hulle in groot getalle na die veiligheid van Suid-Afrika laat
vlug het en as onwettige immigrante in plakkerskampe kom vestig het.
Geskiedskrywers gaan
dit nog moeilik vind om die omvang van die grootskaalse halssnoermoorde,
intimidasie en verwoesting, wat deur aktiviste gepleeg en aangemoedig was, in
verhouding met werklike legitieme griewe te bring.
Dit was ‘n deursigtige strategie om Suid-Afrika onregeerbaar te maak
sodat internasionale ingryping sou volg.
Groot geld vanuit die buiteland, en mens vermoed plaaslik,
het hierdie dekade van onrus gefinansier. Die monoliet van Afrikanerdom het gekraak en ‘n kolossale
program van propaganda wat die
wandade van apartheid as misdaad teen die mensdom tipeer het, het die
Afrikanervolkie ontbind soos ‘n byeswerm, waarvan die koningin verwyder was.
Die oorwinning oor Afrikanerdom was in sig in 1990.
Tydens die dekade van onrus was Afrika-nasionalisme kunsmatig opgewek en
gevoed en geweld deur die buitewêreld gelegitimiseer.
Die gevolge wat die opwekking van swart nasionalisme en die kultuur van
geweld wat in die naam daarvan geskep is, daarna op die nuwe Suid-Afrika, en
inderdaad op die aspirasies van die hele Afrika, sou hê, is heeltemal buite
rekening gelaat. Swart griewe was geskep en gedramatiseer presies soos voorheen
die geval was met die afdwing van die Anglo Boere Oorlog.
Dieselfde bedrieglike middele, motiewe en metodes is op laakbare wyse
aangewend om ‘n soewereine staat omver te gooi.
Die Afrikaners se politieke leierskap was net nie teen die
oorreding van die binnelandse finansiële mag en teen die politieke aanslag
vanuit die buiteland opgewasse nie. Dit
was die Nasionale Party wat misluk het, nie apartheid nie. Die gehate
administratief-sosiale apartheid was reeds deur P.W. Botha afgeskaf. Die party
kon nog veel langer die onrus met sy manne in uniform hanteer het, maar hy was
van sy morele politieke basis vervreem deurdat hy sy reg tot oorlewing as ‘n
party en as ‘n volk ondergeskik gestel het aan die finansiële belange van die
Goudgoggas wat behoue moes bly.
Die feit is reeds
verdiskonteer dat Afrikaner grootgeld as deel van ‘n vorige etniese
kapitalisme gegroei het en waarskynlik vandag nog sterk daarop steun, toe die KP
van die Nasionale Party weggebreek het. Die
Nasionale Party wat as die grootste Afrikaanse politieke party oorgebly het, het
daardie groepe se visie gekondoneer en gelegitimiseer.
Die dekade van geweld
het as volg verloop:
Augustus
1983: Die United Democratic Front, ‘n koalisie van vakunies, vrouegroepe en
jeugorganisasies, word gestig en vanuit die buiteland befonds.
September
1984: Onluste in die Vaaldriehoek en algemene onrus in swart woongebiede.
Julie 1985:
Die eerste noodtoestand word afgekondig.
Junie
1986: Die tweede noodtoestand word afgekondig gevolg deur massa
arrestasies.
Oktober 1989:
Die regering begin om ingeperkte ANC leiers vry te laat.
Februarie
1990: Nelson Mandela word vrygelaat.
Mei 1994: Die
Afrikaners word formeel van alle mag gestroop.
Natuurlik was daar
ontevredenheid en griewe by swartmense, en was daar ernstige sosiale probleme
met die toepassing van rasse skeiding en ander apartheidswetgewing.
Maar daardie wette was reeds herroep. Die grootste grief was waarskynlik
om die gehate witman se mag te vernietig. (vgl Osama ben Laden se grief teen
Amerika)
Afrikaners het vandag ook ‘n lang lys
griewe en ernstige rede om gewelddadig uiting aan daardie griewe te gee, maar
sonder ‘n propaganda-masjien sal dit swaar gaan om hul saak internasionaal te
legitimiseer. Die
miskenning van hul taal, onderwys en gesondheidsdienste, ‘n stelselmatige
vermindering van hul getalle deur plaasmoorde en stedelike misdaad, verkragting,
die effek van regstellende aksie, werkreservering en die algemene verarming van
Afrikaners veroorsaak dat sy jongmense in duisendtalle die land verlaat wat
families opbreek. Die nuutste is die miskenning van sy reg op sy historiese
kultuurgoedere, soos sy dorps- en plekname.
Dit mag net die laaste strooi wees wat tot uitbarsting mag lei.
Die geskiedenis sal
nog uitwys hoedat die Afrikaners, tydens hul vyftig jaar bewind, ‘n moderne,
welvarende staat geskep het met ‘n gesonde ekonomie, infrastruktuur en
selfversorgende landbou. Die ridders van die liberalisme, daardie kruisvaarders
van demokrasie wat nog net in monokulturele lande met ‘n sterk middelklas en
ontwikkelde ekonomieë suksesvol was, het gekom om die apartheidsdraak te
verslaan. Die godsdiens van
liberalisme, waarin net die finansiële mag regeer, moes in die plek kom van
apartheid en sy ‘filosofiese beskermer’, die Christelike godsdiens omdat dit
mense kwansuis sou verontmenslik het.
In 1994 is die mag
vreedsaam oorhandig en is die Goudgoggas en hul vennoot die SANLAM-groep, wat
gesamentlik 80% van die Johannesburgse beurs beheer, se belange daardeur
verseker. Die Afrikaners se selfbeskikkingsbelange was van die tafel afgevee.
Na die magsoorgawe het
die Waarheids - en Versoeningskommissie probeer om die nasionale ego van die
Afrikaners te vernietig deur ‘n gevoel van persoonlike aandadigheid aan ‘n
brutale en onregverdige verlede te predik.
Die pad vorentoe
Bogenoemde ontleding
van die onlangse geskiedenis en vergelyking met dié van die Anglo-Boereoorlog,
is geensins bedoel om sakelui as die vark in die verhaal te tipeer nie.
Die kernpunt is dat die finansiële wêreld ander belange as
etniesgesinde Afrikaners het. Die
twee groepe bevind hulle aan teenoorgestelde pole.
Die geldmag soek politieke stabiliteit vir ekonomiese groei.
Etniesgesinde Afrikaners wil teen enige prys hul vryheid hê en mag selfs
bereid wees om onstabiliteit te skep om daardie doel te bereik. Dit is nie goed teen sleg nie, maar goed teen goed, albei is
reg en beginsels kan nie versaak word nie.
Hoewel bitter om te aanvaar, is dit logies en verklaarbaar waarom die
meeste sakelui hulle gewoonlik van regse projekte of pogings distansieer.
Was gedeelde belange
die rede waarom die kabinet die begrafnisdiens van Marinus Daling, SANLAM se
voorsitter, op 6 Februarie 2002 bygewoon het?
FW de Klerk het langs Mbeki in die kerk gesit. Lesley Boyd, voormalige voorsitter van Anglo American, wie se
naam op die direksielys van groot Afrikaanse ondernemings verskyn, het saam met
Mbeki en die groot vakbondleiers hulde aan Daling gebring. “Daling is nou weg,
maar ek dink wat ons kan doen is om seker te maak dat sy droom van ‘n
verenigde, vreedsame en voorspoedige Suid-Afrika werklikheid word.
Suid-Afrika het ‘n uitsonderlike Suid-Afrikaner en een van die vaders
van die nuwe Suid-Afrika verloor” het Mbeki tydens die diens gesê. [7]
SANLAM,
die bakermat van Afrikanergrootgeld, beheer ook Media24, waarin die staat
insgelyks ‘n aandeel besit. Dit
is dus nie verbasend dat die vorige mediahoof, Ton Vosloo, vir Daling opvolg
nie. Met enorme belange in mynbou,
nywerhede, bankwese en die media, kan SANLAM hoegenaamd nie bekostig om
enige belang te hê in ‘n beleid wat politieke onstabiliteit moontlik tot
gevolg mag hê nie. Ton
Vosloo het onlangs in ‘n televisieonderhoud op KykNet uitgebrei oor sy visie
vir ‘n verenigde Suid-Afrika, die afbreek van grense tussen rasse, dat alle
Afrikaanspraters een groep moet vorm en dat dit deur sy groep soos klei ingebrei
sal word in die toekoms. Hy het
daarop gesinspeel dat etnisiteit, as rede vir spanning moes verdwyn en dat die
media Afrikaans inklusief moet aanbied, sodat Afrikaners se gevoel van etniese
isolasie sal verdwyn en Afrikaners hulle by die nuwe Suid-Afrika sal aanpas en
inpas.
Die onlangse
verbrokkeling van Louis Luyt se breinkind, die DA en die huidige toenadering
tussen die ANC en die NNP is ooglopend deur daardie groep georkestreer. (Is dit
‘n poging om die ANC-leierskap te koöpteer en om etniese spanning te
voorkom?) Louis Luyt was ‘n
trotse en onafhanklike Afrikanersakeman, maar ‘n los kanon wat hom nooit met
Afrikaanse grootgeld se strategieë vereenselwig het nie. Rugby, ‘n
onlosmaakbare deel van Afrikanerkultuur, moes as deel van die
de-etnifiseringsveldtog getransformeer word en Louis Luyt was in die pad
daarvan. Hy was selfs bereid om die
ikoon van die nuwe Suid-Afrika, Nelson Mandela, in die hof te daag.
Luyt is ook nooit daarvoor vergewe nie dat hy DIE STEM voor ‘n
Rugbytoets op Ellispark laat sing het midde-in die propagandaveldtog wat
volstoom aan die gang was om apartheid en die beeld van Afrikaners af te kraak. Daardie insident het duisende blanke Suid-Afrikaners se
nasietrots soos ‘n towerslag weer aangewakker, met die gevolg dat dit soos
‘n skerp been in die keel van die nuwe meesters bly vassit het.
Ná die magsoorgawes
het verskeie hooggeplaaste ANC-leiers soos Cyril Ramaphosa, Tokyo Sexwale en
ander die sakewêreld betree en kitsmiljoenêrs geword. Myn - en nywerheidsbelange is onderverdeel en ‘n nuwe swart
elite in die naam van swart bemagtiging geskep.
Cyril et al is nou ook aan die naelstringe verbind, en hulle sal voortaan
die Goudgoggas se belange eerbiedig en polities beskerm, presies soos dit met
die Afrikaners die geval was. ‘n
Onheilige driepootalliansie, bestaande uit die Goudgoggas, Afrikaanse grootgeld
en swart nasionalisme is gevorm. Afrikaner-nasionalisme,
of ‘n aandrang op volkskap speel hoegenaamd geen rol daarin nie. In daardie
driepootpot is die Afrika-renaissance gebore wat nog die Afrika-Dollar en die
Afrika-Unie sou baar en wat die driepootalliansie se invloed regdeur Afrika sal
uitbrei.
Dit staan soos ‘n
paal bo water dat etniesgesinde Afrikaners geen, maar zilch, simpatie of enige
finansiële ondersteuning vir enige opheffingsprogramme vir Afrikaners, ooit uit
die driepootalliansie sal kry nie. Inteendeel, slegs vyandskap, intimidasie,
verdagmakery en wanvoorstellings deur die magtige media moet uit daardie oord
verwag word.
Maar dit skep ook ‘n
geleentheid: vanweë die invloed wat daardie stal met die swart establishment
het, word ‘n handige kommunikasiekanaal geopen. Invloedryke behoudende Afrikaners, wat toegang tot die
topbestuur van SANLAM, ABSA, News24 ens. het, kan die saak van kulturele vryheid
vir die land se minderheidsvolke, as voordelig vir politieke stabiliteit aan
hulle gaan verkoop, sodat ekonomiese groei daarop sal volg. Hulle kan daarop gewys word dat die strategie van
geforseerde integrasie die prentjie heeltemal verkeerd vertolk.
Die moderne geskiedenis het op menige dele van die aardbol bewys dat dit
presies die verkeerde beleid vir politieke stabiliteit is.
SANLAM en die goudgoggas moet dringend daarvan kennis neem.
Die enigste
alternatief daarna is om tot geweld oor te gaan, en om die probleem van
Afrikanerselfbeskikking te internasionaliseer.
“Nothing focusses the mind like a deadline or pain,” is ‘n
revolusionêre spreekwoord wat op
hierdie situasie van toepassing sal wees.
Etniesgesinde
Afrikaners is tans van alle finansiële en politieke mag gestroop. Hul manne in
uniform sit kaalhande tuis en probeer om liggaam en siel aanmekaar te hou.
Die situasie moet dus nugter benader word om eie swakhede te verstaan.
Geloof alleen is nie genoeg nie. Die
Goudgoggas moet oorreed word om in te gryp, so nie lê daar ernstige probleme
voor en kan hulle groot skade lei.
‘n Onvrye volk is
‘n gevaarlike volk!
7 Februarie, 2002.
[1]1
The Siege of South Africa, Ivor Benson, Paper Presented to the
Seventh International Revisionist Conference. 1985
4.
L. March Phillips, With Rimington in
South Africa.
5.
George Orwell, Nineteen Eighty-Four (New York: Harcourt Brace &
Co., 1949).
[6]
Thomas
Pakenharn, The Boer War, 1979.
[7]
Beeld 7 Februarie