deur Dan Roodt
Mnr. Mathatha Tsedu
se verdediging van naamsveranderings in die Noordelike Provinsie (Beeld 9
Februarie) wemel van onakkuraathede en onverkwiklike aannames.
Suid-Afrika het ‘n
komplekse geskiedenis wat nie sonder meer te vergelyk is met dié van ander
Afrikalande nie. Daarom is die
fasiele slagspreuke wat elders in Afrika gegeld het oor “koloniale
verowering” nie op ons van toepassing nie.
Mnr. Tsedu meen dat
die huidige Voortrekkerdorpsname in die Noordelike Provinsie “ons land as ‘n
uithoek van Europa kenmerk”. Watter
onsin! Die feit dat Afrikaans ‘n
Europese oorsprong het, maak dit nie minder inheems as enige ander taal nie.
Volgens daardie logika moet die swart tale in die land gereken word as
behorende tot die Niger-delta in Wes-Afrika waar hulle oorsprong geleë is.
Volgens Tsedu se definisie van “inheemsheid” kan slegs die
KhoiSan-mense as werklik inheems gereken word, en behoort alle Suid-Afrikaanse
plekname te verander na KhoiSan-name.
Mnr. Tsedu se
argument wemel van logiese denkfoute, onder andere die argumentum ad
misericordiam van “Afrikaanse plekname maak hom briesend”.
Indien hierdie plekname hom pyn aandoen of kwaad maak, moet hy seker
begrip daarvoor hê dat die voorgestelde naamveranderings Afrikaners nog meer
briesend maak en nog meer pyn aandoen as vir hom.
Maar plekname gaan
nie oor emosionele opswepery nie. Dit
gaan om historiese betekenisse, en die bewaring daarvan. Nou
onlangs het mnr. Mbeki
Suid-Afrikaanse belastinggeld belowe aan die regering van Mali om ou manuskripte
in daardie land te bewaar. Dog in
Suid-Afrika self wil mnr. Ramatlodi inheemse geskiedenisse soos vergestalt in
Afrikaanse plekname, vernietig.
As mnr. Tsedu beweer
dat sy “voorvaders uitgewis is in wat so te sê ‘n volksmoord was”, is hy
heeltemal reg, behalwe dat die plegers van daardie volksmoord ander swartmense
was. Tydens die Mfekane in die
1820s het Tsjaka en later Msilikatse en sy Matabeles ongeveer tweemiljoen mense
gedood in oorloë teen die binnelandse stamme.
Ook Ma Ntatisi, die Krygerkoningin van die Mantatese of Makatese, het in
die Weste van die land ‘n skrikbewind gevoer totdat sy deur die Griekwas onder
Andries Waterboer en ander verslaan is op 26 Junie 1823.
Tot net voor die Groot Trek waartydens die meeste van die huidige
plekname in die Noordelike Provinsie ontstaan het, is die grootste gedeelte van
die huidige Vrystaat en Transvaal braak gelê in ‘n fascistiese militêre
uitbreiding deur Msilikatse (sien aanhaling hieronder.)
Eerder as wat Andries
Hendrik Potgieter ‘n “koloniale veroweraar” was, was hy ‘n bevryder van
swartmense. Potgieter was die
Napoleon van die Noord-Transvaal wat alle inwoners (wit en swart) kom bevry het
van ‘n pre-feodale tirannie, volksmoord en plundery onder Msilikatse.
Sonder hom en die res van die Voortrekkers sou die volksmoord van die
Mfekane voortgeduur het. Hy het moderniteit na die streek gebring, asook stabiliteit.
Myns insiens sou dit ‘n gepaste gebaar van erkentlikheid deur die
huidige inwoners van die Noordelike Provinsie wees om hul provinsie te herdoop
tot “Potgieter” of Potgieterstaat, want sonder hom sou die gebied nooit die
vrede en ontwikkeling beleef het wat dit wel ná die Slag van Vegkop en die
strafekspedisie teen Msilikatse by sy kraal te Mosega behaal het nie.
Dit alles plaas Tsedu
se opmerkings oor Louis Trigardt in perspektief. Eerder as wat Trigardt besig was om reeds-besette grondgebied
te koloniseer, het hy en sy geselskap ‘n land binnegetrek waarin daar chaos
geheers het onder die oorblywende inwoners, en waar daar soms selfs struwelinge
ontstaan het oor wegkruipplekke teen Msilikatse en sy krygers.
Op 11 Desember 1836 maak
Trigardt juis so ‘n inskrywing in sy dagboek.
Elders in die dagboek kom Trigardt die fameuse “Knopneuse” teë, wat
só genoem is vanweë die neusversierings en tatoeërmerke wat hulle aan hulself
aangebring het. Hierdie
“Knopneuse” was Tsongas wat uit Portugese gebied na die Transvaal gevlug het
omdat hulle deur Tsjaka en Dingaan se Zoeloes daaruit verdryf is.
Soos die Voortrekkers, was hulle dus onlangse immigrante.
Dit is eenvoudig
ongelooflik hoe vandag se afrikaniste allerlei gegewens uit hul duime suig oor
‘n swart utopie wat in die Transvaal en Vrystaat bestaan het voor die koms van
die Voortrekkers. Só skryf Mathole
Motshekga in die Sunday World dat ‘n groot staat genaamd Maphungube
reeds tydens die Westerse Middeleeue in die Noord-Transvaal bestaan het.
Hoe weet hy dit, gegewe die afwesigheid van geskrewe dokumentasie?
Volgens hom is daar egter “mans en vrouens ouer as 100 jaar in Venda
wat lig op die saak kan werp”. Mnr.
Motshekga vergeet dat die Middeleeue ‘n bietjie langer as 100 jaar gelede was!
Feit is dat die
betrokke dorpe (Nylstroom, Ellisras, Pietersburg, Warmbad, Naboomspruit,
Messina, Tzaneen, Potgietersrus, ens.) deur Voortrekkers uitgelê is, wat hul
eie argitektuur en kultuur daaraan gegee het.
Hierdie is skeppings uit die verlede wat verdien om die name te behou wat
deur hul oorspronklike skeppers aan hulle gegee is.
Net soos wat ons land Westerse konvensies respekteer as dit kom by
kopiereg op publikasies of rekenaarsagteware, behoort die “outeursreg” van
oorspronklike dorpstigters eerbiedig te word.
Die pragtige N.G. Kerk in Nylstroom, in die kerksaal waarvan daar verlede
Woensdag ‘n protesvergadering teen naamsveranderings plaasgevind het, is in
1898 gebou met ‘n hoeksteen wat gelê is deur genl. Piet Joubert.
Hoe kan ‘n kerk en ‘n dorp wat die apoteose verteenwoordig van
Calvinistiese eenvoud en plattelandse Afrikanerargitektuur nou onder ‘n
afrikanistiese naam bekendstaan?
Die huidige
naamsveranderings maak geen ekonomiese sin nie, en gaan afbreuk doen aan die
betrokke dorpe se vermoëns om hulself as toeristebestemmings hier en in die
buiteland te bemark. Dit
verteenwoordig ‘n verkwisting van belastinggeld.
Maar uiteindelik het die naamsveranderings geen historiese of logiese
motivering nie; dit gaan “om te wys wie is baas”.
Om hulle “Mugabeagtig” te noem, is dus nie vergesog nie.
Die eerste
naamsverandering wat met haas deurgevoer is, dié van Potgietersrus na Mokopane,
getuig van ‘n ongelooflike onsensitiwiteit, want die naamkeuse impliseer steun
vir die bloeddorstige Batloe-hoofman, Makapan.
Laasgenoemde het in 1854 ‘n jaggeselskap bestaande uit dertien
Voortrekkermans, tesame met tien vroue en kinders, waaronder Hermanus Potgieter,
uitgemoor. Volgens getuies is
Hermanus Potgieter doodgemartel deur hom lewendig af te slag, waarna sy vel as
‘n karos gebrei is. Ook die
liggame van die ander oorledenes is voor of ná hul dood geskend.
In die daaropvolgende beleg van Makapan en sy volgelinge in ‘n grot
deur Kommandant Piet Potgieter (seun van Hendrik), is die tweede Potgieter
gedood deur ‘n koeël vanuit die binnekant van die grot.
Uit weerwraak is Makapan en sy volgelinge heeltemal uitgehonger en
blykbaar het daar uiteindelik negehonderd van hulle gesterf.
Terwyl die naam “Potgietersrus” ook na Hendrik Potgieter verwys, en
na sy rol as vredemaker in die gebied, gedenk die nuwe naam “Mokopane” een
van die ergste voorvalle van swart-wit-geweld uit die verlede.
Afrikaners in dié omgewing gaan elke dag daaraan herinner word dat een
van hul voorouers lewendig afgeslag is en sy vel vir ‘n karos gebrei is deur
Mokopane oftewel Makapan. Die
bloeddorstige reputasie van die Batloe-kaptein, wat ook ander swart stamme
aangeval en geplunder het, doen verder afbreuk aan die keuse.
Soos die onlangse
protesvergaderings op Pietersburg en Nylstroom getoon het, is die
belastingbetalers in dié dorpe vasbeslote om die naamsveranderings teen te
staan. Indien die name verwyder
word, gaan belastingboikotte volg wat in die lig van die prekêre aard van
munisipale finansies in Suid-Afrika nou onlangs, asook die kultuur van
wanbetaling wat reeds in sommige gemeenskappe heers, nog meer munisipaliteite
bankrot kan maak as wat daar reeds is.
Geen Engels-koloniale
naam soos Grahamstad of Durban is na my wete nog ooit verander sedert 1994 nie.
Die teiken van naamsveranderings is byna sonder uitsondering Afrikaanse
name. Naamsveranderings
kan uiteindelik ‘n wig tussen Afrikaners en die afrikanistiese swart élite
indryf wat die land op die pad van ‘n etniese botsing kan plaas soos wat
elders ter wêreld, ook in Afrika, al gebeur het.
‘n Mens hoop dat die provinsiale regering van die Noordelike Provinsie
dit sal insien.
* * *
“Meer
vernietigend as enige ander wat reeds genoem is, was die mag wat van Zoeloeland
weggebreek het onder Msilikatse, daar dit uit ‘n hoogs gedissiplineerde groep
mans bestaan het wat opgelei was om hulle te verlustig in die vergieting van
menslike bloed... Msilikatse was
lank en goed gebou, met deurpriemende oë en ‘n aantreklike gelaat. Sy kop was skoon geskeer behalwe waar die elliptiese ring,
die merk van die Zoeloestam, gelaat is. Sy
kleredrag het bestaan uit bloot ‘n gordel of tou rondom die middel, vanwaar
‘n aantal luiperdsterte gehang het; en as ornamente het hy ‘n enkele string
klein blou krale om sy nek gedra en drie groen stertvere van ‘n papegaai op sy
kop. So het Msilikatse gelyk, of
Mosilikatse soos die Betsjoeana hom genoem het.
Die
verskeie stamme wie se oorblyfsels die hedendaagse Bapedi uitmaak, het die
atletiese figure van die Matabeles - soos hulle die invallers genoem het - met
ontsteltenis gadegeslaan. Nog nooit
vantevore het hulle dissipline so volmaak soos dié van hierdie kaal krygers
gesien, of ‘n wapen so dodelik soos die Zoeloe-steekassegaai nie. Almal wat nie kon wegvlug nie, is uitgewis, behalwe die
mooiste meisies en party van die seuns wat uitgehou is vir draers.
Die hoop is by laasgenoemde geskep dat hulle miskien deur getroue diens
die posisie van soldate kon behaal, en uit hulle geledere het Msilikatse die
gapings gevul wat van tyd tot tyd in sy range voorgekom het.
Die land waaroor hy gemarsjeer het, was bedek met geraamtes, en letterlik
geen menslike wesens het daarin oorgebly nie, want sy oogmerk was om ‘n
woestyn tussen hom en Tsjaka te plaas.
Dit
is onmoontlik om die presiese aantal krygers van Msilikatse te bepaal, maar
hulle was waarskynlik nie meer as twintigduisend nie.
Vyftig van hulle was mans genoeg vir meer as vyfhonderd Betsjoeana.
Hulle het hierdie arme skepsels agtervolg, selfs al was daar geen buit om
te verkry nie, en het baie duisende vermoor in dieselfde gees en met ewe min
berou as wat ‘n sportman snippe skiet.
Terwyl
hierdie verskriklike oorlog gevoer is oor die grootste deel van Afrika suid van
die Zambesi, het die verbouing van grond tot stilstand gekom, en is byna alle
beeste, bokke en skape vir kos geslag. Hongersnood
het gevolg, en het die tienduisende weggevoer wat die assegaai nog nie bereik
het nie. Die aantal individue wat
van oorlog en sy gevolge omgekom het in die hele verwoeste land kan net rofweg
geskat word, maar dit moes nader aan twee miljoen gewees het as aan een.”