Sosiale omvorming as onderwysagenda – bedreiging en geleenthede
Aangebied
by ‘n Seminaar van die VCHO, 16 Maart 2002
Leendert
van Oostrum
Dit is algemeen bekend dat die Grondwet van Suid-Afrika ‘n nuwe sosiale orde ingelui het en dat die huidige regering van die land hom inderdaad sterk daarvoor beywer op ‘n wye verskeidenheid maniere wat, byvoorbeeld, regstellende aksie in die werkplek, swart ekonomiese bemagtiging, pleknaamveranderinge en herindeling van plaaslike regeringstrukture insluit.
Die meeste Christene en Afrikaners aanvaar en ondersteun selfs een of meer van hierdie inisiatiewe, mits dit op billike en regverdige manier geskied.
Daar is egter ook aanduidings van veel meer ingrypende veranderinge wat beoog en beplan word, en dat die volle mag van die staat in die stryd gewerp word om die godsdienstige en kulturele verskeidenheid in die land te homogeniseer.
In hierdie referaat word hierdie program ondersoek soos dit manifesteer in onderwyswetgewing en –beleid wat oor die afgelope jaar of twee die lig gesien het, en veral met betrekking tot die kurrikulumvoorstelle wat in Julie 2001 die lig gesien het.
Enersyds onderskei ‘n mens ontwikkelings in die rigting van multigeloofonderwys en “anti-racist multikulturalism” as onderwysdoel en –metodiek. Andersyds vind ons dat ‘n hele steierwerk van wette, regulasies en beleid ontwikkel word om elkeen in die land te dwing om aan die bepalings van hierdie program te voldoen.
Die snykant van die beleidsraamwerk is eksterne evaluering en moderering deur ‘n gesentraliseerde “Suid-Afrikaanse Kwalifikasieraad” wat sal verseker dat alle kinders in openbare en private skole en in tuisonderwys die goedgekeurde kennis, vaardighede en waardes internaliseer, demonstreer en uitleef. Die onafwendbare resultaat van hierdie regeringshandelinge sal wees om godsdienste soos die Christelike godsdiens en kulture soos die Afrikaanse kultuur onderhewig te maak aan die doelwitte en behoeftes van die staat en die regering van die dag.
Die referaat ondersoek hierdie verskynsels, maar oorweeg dan ook maniere waarop wettige en effektiewe weerstand gebied kan word teen die druk wat toenemend en met die volle mag van die staat op Christene en Afrikaners toegepas word. Ten slotte word die kinder- en gesinsregte oorsigtelik ondersoek as hefboom wat gebruik moet word in enige stryd teen onderdrukking.
Die regering van Suid-Afrika is ingestel op radikale sosiale omvorming. Hierdie stelling word uitdruklik gemaak in wetgewing, besprekingsdokumente en beleidstukke.
Uit veral die stukke van die Onderwysdepartement is dit duidelik dat die omvormde samelewing nie ruimte mag laat vir Christelike en Afrikaanse tradisie, kultuur en waardes nie. Ook nie vir Christen- en Afrikaanse kinders nie.
Die hoofwerktuig van sosiale omvorming is inderdaad die onderwys en in die onderwys die twee speerpunte van intergeloofonderwys en “anti-racist multiculturalism”.
Intergeloofonderwys bevorder ‘n geloof dat alle godsdienste ewe geldig is as maniere om God te dien. By nader ondersoek blyk dit inderdaad dat hierdie beleid ‘n nuwe geloof daarstel – die aanbidding van menseregte. Mnr Kader Asmal het dan ook op ‘n vraag in die media geantwoord dat sy “geloof” ‘n geloof in menseregte is.
Die waardes van verskillende godsdienste sal bestudeer word vir so ver hulle die regering se idee van menseregte ondersteun en daaraan onderdanig gemaak kan word.
Onderwysers word opgelei om die “priesters” van hierdie geloof te wees. Dit is veelseggend dat die Staatskennisgewing oor die rol van die onderwyser ‘n “pastorale” of “herderlike” rol aan die onderwyser toeken
Uit hierdie perspektief gesien stel die voorgestelde Curriculum 2005 letterlik die Onderwysdepartement daar as ‘n soort kerk met die onderwyserkorps as priesterorde, die sogenaamde “waardes van die grondwet” as belydenisskrif en die gesentraliseerde eksamenstelsel as kategese.
Die
tweede speerpunt van sosiale omvorming is die implementering van “anti-racist
multiculturalism”. Volgens Emelia Potenza, medeskrywer van die nuwe Curriculum
2005 se bydraes in die maandblad “The Teacher”, word veral die aanbieding
van geskiedenis deur hierdie beleid gerig.
“Anti-racist
multiculturalism” gee voor dat dit poog om rassisme uit te wis deur
rassistiese houdings en optrede aktief uit te snuffel en aan die kaak te stel.
Die
onderwysmetodiek wat aangewend word is in werklikheid ‘n soort aversieterapie.
Kinders word blootgestel aan skokverhale wat die teikenkultuur beswadder en word
verplig om deel te neem aan rolspel waarin hulle “rassistiese” situasies
uitleef.
Wanneer
die kinders behoorlik ontredderd is, word die universalistiese alternatief
aangebied as reddende uitweg.
“Anti-racist
multiculturalism” gaan, in sy huidige vorm, van die standpunt uit dat slegs
Westerse kulture in staat is tot rassistiese houdings en optrede. In Engeland en
Wallis het die onderwysowerhede bevind dat “anti-racist multiculturalism”
daartoe lei dat etniese Engelse kinders se selfbeeld en hul waardering vir hul
eie kultuur deur hierdie onderwysbeleid geknak word.
‘n
Oorsig oor die voorgestelde Kurrikulum 2005 bevestig dat die Westerse kultuur,
en bepaald die Christelike godsdiens en Afrikaanse geskiedenis vir verkettering
geteiken is.
“Sosialisering” is die proses waardeur ‘n gemeenskap sy kultuur en waardes van een geslag oordra na die volgende.
Tot vroeg in die twintigste eeu was sosialisering onder Afrikaners hoofsaaklik vertikaal – kinders het hul kultuur en waardes van hul ouers en grootouers geleer.
Met die instelling van algemene skoolplig het Die band tussen ouer en kind minder belangrik geword en ‘n “generasiegaping” het ontstaan.
Met industrialisasie en verstedeliking is die Afrikaanse samelewing, net soos ander Westerse samelewings, in ouderdomskohorte opgebreek – kleuters by kleuters, kinders by kinders, bejaardes by bejaardes, ens.
Die vertikale kommunikasie tussen generasies het getaan, en dikwels effektief verval.
Die sosialisering van Afrikaanse kinders het veel meer “horisontaal” geword. Skole, en in veel mindere mate, kerke en jeugorganisasies, het die kanale geword waarlangs kinders gesosialiseer is.
En wie die skole beheer, beheer dus die sosialisering van Afrikaanse kinders. Wie die skole beheer, beheer die kultuur en waardes wat aan Afrikaanse kinders oorgedra sal word.
Onder die huidige bedeling staan Afrikaanse skole onder die beheer van die ANC regering. Die ANC regering het dus effektiewe beheer oor die kultuur en waardes van die opkomende geslagte Afrikaners.
Oor die afgelope twee jaar het ‘n groot getal nuwe wette, beleidsdokumente en besprekingsdokumente oor onderwys die lig gesien.[1]
Die dokumente sluit in nasionale en provinsiale wetgewing en konsepwette oor onderwys (insluitende regulasies en konsepregulasies); die onderwysminister se amptelike beleidsdokumente in die Staatskoerant, uitgevaardig ingevolge sy ministeriële gesag; provinsiale wetgewing en omsendskrywes waarin nasionale beleid neerslag vind; en ministeriële uitsprake soos in die media gerapporteer.[2]
‘n Mens is nie verbaas nie, maar nogtans bietjie geskok oor die gevolgtrekkings waartoe ‘n mens moet kom. Dit blyk dat die regering ‘n duidelike stelsel beplan om die bepalings van die nasionale kurrikulum streng af te dwing. Die sentraalbeheerde stelsels van assessering, moderering en sertifisering sal onderwysers in staatskole, tuisonderwys en privaatonderwys dwing om kinders te onderrig presies volgens die kennis, vaardighede en waardes wat die nasionale kurrikulum voorskryf. Daar sal geen ruimte wees om die onderrig te “plooi” volgens die oortuigings van die bepaalde skool, ouers of gemeenskap nie. Deur ook privaat- en tuisonderwys hok te slaan, word ook kinders in openbare skole verder ingeperk, juis deur hulle 'n potensiële alternatief te ontneem.
Die Onderwysminister het reeds in die media kennis gegee dat die nasionale kwalifikasie-owerheid en die assesseringstelsel gebruik sal word om die regering se program van sosiale omvorming en die staatsideologie af te dwing.
Alle leerders sal, volgens die regering se voorgenome beleid, die Basiese Onderwys- en Opleidingsertifikaat (BOOS) aan die einde van Graad 9 moet verwerf indien hulle toelating wil kry tot enige verdere onderwys en opleiding van enige aard in Suid-Afrika. Ongeag of kinders die BOOS wil verwerf al dan nie, sal die kurrikulum vir hierdie kwalifikasie in elk geval die minimumvereistes daarstel waarvolgens alle leerders onderrig moet word.
Die hele kurrikulum vanaf Graad O tot 9 is ontwerp rondom die BOOS. Volgens aanduidings sal die sertifikaat ‘n beperkte nasionale eksamen behels. Die grootste deel van die punt sal egter op eksterngemodereerde deurlopende assessering in skole toegeken word.
Geen instansie
sal toegelaat word om ‘n leerling te aanvaar vir Graad 10 of verder, of vir
vakopleiding, of vir geakkrediteerde indiensopleiding nie, tensy daardie leerder
die BOOS verwerf het. Sulke kandidate sal ook nie mag inskryf vir die Verdere
Onderwys- en Opleidingsertifikaat (VOOS) nie. Die VOOS sal, volgens beplanning,
die huidige matrieksertifikaat vervang. [3]
Om die BOOS te verwerf sal tuisleerders
hulle moet inskryf by ‘n geakkrediteerde instelling. Die enigste
geakkrediteerde instelling waarby tuisleerders onder die ouderdom van sestien
sal kan inskryf, is staatskole.
Die staatskurrikulum sal van leerders vereis om die oortuigings van die intergeloofbeweging te bely en om die voorgeskrewe standpunte oor sake soos evolusie en die geskiedenis uit te leef indien hulle die BOOS wil verwerf.[4]
Die
Onderwysminister het dit ook reeds duidelik gemaak dat privaatonderwys aan
hierdie selfde “minimumstandaarde” sal moet voldoen sodat kinders in
privaatonderwys ook volgens die goedgekeurde staatsfilosofie onderrig word.
Tuisleerders
wat by staats- of privaatskole ingeskryf is, sal die nuwe staatskurrikulum moet
voltooi, ongeag of hulle daarbenewens ook ‘n kurrikulum van ‘n
privaatinstansie volg. Die nuwe staatskurrikulum is op 30 Julie 2001 vrygestel
vir openbare kommentaar. [5]
Amptenare van
die provinsiale onderwysdepartemente en van die SA Kwalifikasieraad sal die
eksamens, take en verslae van alle openbare en private skole inspekteer en
modereer.
Myns insiens behoort enige weerstandsaksie in die onderwys gerig word deur drie offensiewe:
· Herstel van die vertikale sosialiseringskanale deur gesinne en families te herintegreer.
· Herstel van Afrikaanse onderwys in Afrikaanse hande.
· Weerstand teen onregmatige assessering.
Ontgin die gryskrag. Bejaardes is verreweg die belangrikste draers van die godsdienstige waardes en volkskultuur.
1. Bevorder die volgehoue integrasie van bejaardes in die gemeenskap, en veral kontak tussen bejaardes en die jeug.
2. Ontmoedig die duur praktyk van aftree-oorde, behalwe vir kinderlose bejaardes en bejaardes in nood. Aftree-oorde isoleer die bejaarde as onvervangbare kultuurbron en maak hulle nutteloos vir die volk.
3. Bevorder eerder die internasionale tendens dat bejaardes huis opsit naby hul kinders en kleinkinders – verkieslik op dieselfde perseel. Hierdie model versterk die hele familie ekonomies, maar die grootste waarde lę daarin dat dit die kundigheid en ervaring van bejaardes toeganklik maak vir die jeug.
4. Gebruik die fasiliteite van Afrikaanse welsynsorganisasies om die integrasie van bejaardes by hul kinders te fasiliteer, eerder as om bejaardes afsonderlik te versorg.
Industrialisasie het die arbeid uit die gesin en die huis geneem, en daarmee saam die arbeider. Vandag word hierdie proses toenemend omgekeer. Die internasionale tendens is dat arbeid weer “huistoe gaan”. Dit skep geleenthede wat gebruik kan word.
5. Bevorder moontlikhede vir Afrikaanse mans en vroue om gedeeltelik of ten volle van die huis af te werk. Tuisbedrywe maak die arbeider en sy lewe toeganklik vir bejaardes en kinders in die huis. Dit bevorder integrasie van die gesin en dus vertikale sosialisering.
Algemene skoolplig is ‘n onlangse ontwikkeling in die geskiedenis, en kenmerkend van die industriële era wat nou aan die kwyn is. Tegnologie en sosiale omstandighede is nou bevorderlik vir die herstel van die ou tradisie van families wat hul eie kinders opvoed.
6. Bevorder tuisonderwys as onderwysopsie. Navorsing in baie lande toon dat tuisonderwys dieselfde of beter resultate lewer as goeie privaatskole op akademiese gebied, sosialisering en persoonlike ontwikkeling van kinders. Tuisonderwys behels ‘n radikale herintegrasie van die gesin en die vertikale sosialiseringskanaal. Dit neem kinders effektief weg uit die invloedsfeer van die regering en skep die optimale kombinasie van vertikale en horisontale sosialisering.
7. Ouers en grootouers moet intensief betrokke raak by die onderwys van kinders wat skoolgaan. Dit is die ouer se reg en plig om toesig te hou oor die skool en die onderwyser. Lees elke handboek en voorgeskrewe boek wat kinders gebruik. Ondersoek elke taakopdrag wat kinders uitvoer. Inspekteer toets- en eksamenvraestelle voordat kinders dit skryf. Onthou dat die professionele taak funksie ‘n onderwyser, net soos ‘n dokter s’n, se altyd onderhewig is aan die ingeligte toestemming van die ouer.
Daar
moet volgehoue druk op die regering wees om die kultuurregte van Afrikaanse
kinders in staatskole te respekteer en hom te weerhou van inmenging met die
sosialisering van Afrikaanse kinders.
1. Loods ‘n volgehoue langtermynveldtog dat ‘n Afrikaanse minister van onderwys deur Afrikaners aangewys word om Afrikaanse onderwys te bestuur.
2. Vier, byvoorbeeld, 16 Junie jaarliks as stryddag vir volksonderwys.
Die heel veiligste manier om Afrikaanse onderwys te beheer is om dit self te doen
3. Bevorder Afrikaanse privaatskole.
4. Plaas deurlopende druk op kerke en gemeentes om kerkskole op te rig en te onderhou.
Daar sal altyd ‘n groot getal Afrikaanse kinders in staatskole wees. Hulle mag nie vir die wolwe gegooi word nie.
5. Bevorder aktiewe betrokkenheid van Christene en Afrikaners by beheerliggame in staatskole.
6. Bevorder meer magte vir beheerliggame on staatskole, veral waar dit aanstelling van en toesig oor onderwysers en keuse van leermateriaal aangaan.
7. Moedig beheerliggame aan om streng eise te stel vir die leer en lewe van onderwysers wat aansoek doen vir poste in Afrikaanse staatskole.
8. Moedig kerke aan om, in samewerking met kultuurorganisasies, naskoolsentrums met ‘n Christelike inslag en Afrikaanse kultuur vir kinders in staatskole op te rig.
Onderwyseropleiding is volledig in regeringshande, en jong onderwysers word volgens sy norme opgelei. Afrikaanse onderwysers moet dus heropgelei word vir Afrikaanse skole.
9. Moedig kerke en kultuurliggame aan om kortkursusse in Christelike onderwys en Afrikaanse geskiedenis en kultuur aan te bied.
Daar
kan geen twyfel wees nie: Die huidige regering is vas van voorneme om die
nasionale kwalifikasieraad en die gesentraliseerde assesseringstelsel aan te
wend om sosiale omvorming en ‘n staatsideologie op opkomende geslagte af te
dwing.
Daar
is maniere waarop dit teëgewerk kan word.
In
die eerste plek is dit belangrik om kennis te neem dat die dwangstruktuur wat
beplan word onwettig en ongrondwetlik is vir so ver dit inbreuk maak op die plig
van ouers om kinders te rig en te lei in die uitoefening van hul
gewetensvryheid.
Verder
behels die reg op onderwys ook die reg om die onderwys te kies wat ‘n mens
ontvang. In die geval van kinders beskerm dit ook die regte en pligte van ouers
om hul kinders te rig en te lei in hierdie keuses.
1.
Bevorder die insameling en bestuur van fondse om die saak van
onderwysvryheid in die howe te verdedig en af te dwing. Alle pogings deur die
owerheid om ‘n staatsideologie deur die onderwysstelsel af te dwing kan en
moet teengestaan word.
Daar
is geen wetlike beletsel op kwalifikasiestelsels wat onafhanklik is van die SA
Kwalifikasie-owerheid nie, maar die owerheid probeer sy regmatige magte
onregmatig aanwend om alle onderwys en opleiding onder die beheer die SA
Kwalifikasie-owerheid in te dwing.
2.
Bevorder alternatiewe kwalifikasies wat onafhanklik is van die SA
Kwalifikasie-owerheid. Dit mag nodig wees om die reg om sulke kwalifikasies aan
te bied, te erken en te gebruik, in die howe af te dwing.
Die
Onderwysminister het kennis gegee dat hy die gebruik van buitelandse
kwalifikasies deur inwoners van Suid-Afrika wil verbied of bemoeilik. So ‘n
beleid is op verskeie gronde kwesbaar in die howe.
3.
Bevorder die toeganklikheid van buitelandse kwalifikasies en die gebruik
daarvan in Suid-Afrika. Tans word veral Britse en Amerikaanse kwalifikasies
binne Suid-Afrika gebruik, maar die moontlikheid van Nederlandse en Vlaamse
kwalifikasies, waar die eksamens moontlik in Afrikaans afgelę kan word, moet
ook ondersoek word.
Die
oorspronklike en primęre funksie van 'n Handves van Regte is om die burger te
beskerm teen ongeregverdigde staatsbeheer en inmenging. Dit beperk die mate
waarin 'n regering inbreuk kan maak op die vryheid van individue wat hul eie
sake volgens hul eie gewetens reël. Kortom: 'n Handves van Regte beheer die
mate waarin die regering ons lewens beheer.
'n
Fundamentele reg is dus die reg om te kies. Dit beteken dat die individu moet
besluit of iets gedoen moet word of nie, en wanneer, waar, hoe, saam met wie, en
in hoe 'n mate dit gedoen moet word. As die Staat hierdie keuses wil beďnvloed,
is die bewyslas op die Staat om te toon dat hy redelikerwys nie anders kan
optree nie.
“Vryheid van keuse” is dus nie bloot een van die goeie punte van fundamentele regte, soos die Minister van onderwys in die “Manifesto on Values, Education and Democracy” beweer nie .
Vryheid
van keuse is die hoeksteen van fundamentele regte. Indien en in die mate waarin
vryheid van keuse aan bande gelę word, word die fundamentele reg insgelyks aan
bande gelę.
Baie regeringsamptenare en ander is van mening dat kinderregte beteken dat ouers geen gesag oor hul kinders het nie. In werklikheid is die teendeel waar. Die VN Konvensie oor Kinderregte beskerm ouerlike gesag uitdruklik deur te spesifiseer dat kinders hul regte uitoefen onder die rigting en leiding van hul ouers.
Die
Staat het die plig om nie in te meng met ouerlike rigting en leiding nie, tensy
sodanige inmenging volgens die beginsels van die reg geregverdig kan word.
Ouerlike rigting en leiding word in die algemeen beskerm, maar hierdie
beskerming word uitdruklik en spesifiek beklemtoon in gevalle waar kinders hul
gewetens- en geloofsvryheid uitoefen.
In die
Suid-Afrikaanse Handves van Regte word die ouer se rol nog meer eksplisiet
gestel in die kind se reg op ouerlike sorg (Artikel 28 (1) (b)). Baie
staatsamptenare meen dat die kind se reg op ouerlike sorg beteken dat die
regering besluit watter "sorg" die kind moet ontvang, en die ouers
moet lewer.
Dit is
glad nie wat die reg beteken nie. Dit beteken wel die volgende:
1.
Ouerlike sorg moet beskerm word teen
ongeregverdigde inmenging deur die Staat.
2.
Ouers is in die heel eerste plek deur die grondwet gebind om hul kinders
se fundamentele regte te beskerm teen onwettige inmenging deur die Staat.
3.
'n Ouerlike besluit word beskou as in die beste belange van die kind,
tensy iemand aan 'n bevoegde hof bewys dat die
besluit indruis met die beste belange van die kind.
In
Suid-Afrika is die reg op onderwys 'n reg wat vir alle mense geld en nie slegs
vir kinders nie. Volwassenes het ook die reg op onderwys, en die reg op onderwys
is die reg om te kies watter onderwys ek sal ontvang; wanneer, waar, hoe en van
wie ek dit sal ontvang; en of ek inderdaad enige onderwys hoegenaamd sal
ontvang.
In die
algemeen word die reg op onderwys gerespekteer in die geval van volwassenes.
Daar word tans nie van volwassenes, selfs as hulle ongeletterd is, vereis om
enige spesifieke onderwys of enige onderwys hoegenaamd te ontvang nie.
(Volwassenes het natuurlik stemreg, wat kinders nie het nie.)
Die
Parlement het egter gekies om kinders se regte te beperk deur hulle te dwing om
tydens 'n sekere leeftyd 'n skool by te woon.
Verpligte
skoolbywoning beperk kinders se reg op persoonlike vryheid deur hulle te dwing
om op vasgestelde tye te rapporteer op 'n plek wat deur die regering vasgestel
is. Hul reg op persoonlike vryheid word beperk aangesien hulle gedwing word om
veertig uur per week take uit te voer onder toesig van 'n amptenaar wat deur die
Staat aangestel of geakkrediteer is.
Verpligte
skoolbywoning maak inbreuk op hul reg op menswaardigheid en privaatheid deurdat
hulle gedwing word om hul gedagtes bloot te lę aan amptenare wat deur die Staat
aangestel of geakkrediteer is, en daarbenewens beperk dit ook verskeie ander
regte.
In
Suid-Afrika rus daar egter, anders as in Japan en in Nederland, geen
regsverpligting op enige kind om onderwys te ontvang nie. Dit verwyder nie die
kind se reg om nie onderwys te ontvang nie, want, soos onderwysers weet
en soos kinders deur die eeue laat blyk het, kan geen kind gedwing word om
onderwys te ontvang nie, selfs as die kind elke dag 'n skool bywoon.
Verpligte
skoolbywoning kan egter inbreuk maak op 'n kind se reg op onderwys indien dit
die kind dwing om hulpbronne in die vorm van tyd, energie en materiaal te bestee
om 'n skool by te woon, en indien hierdie hulpbronne meer voordelig ingespan sou
kon word om die onderwys van die kind se keuse te ontvang, of om dit op 'n
minder onderdrukkende manier te ontvang.
Die
wetsbepalings op verpligte skoolbywoning funksioneer daarom as 'n beperking op
die kind se fundamentele regte, en kan selfs inbreuk maak op die reg op
onderwys. Gevolglik rus daar 'n streng verpligting op die Staat om te bewys dat
die wetsbepalings op verpligte skoolbywoning redelik en regverdigbaar is.
In die
praktyk is daar slegs een manier waarop die Staat dit kan bereik – hy moet
toon dat die onderwys wat 'n kind op skool sal ontvang so waardevol is dat dit
die opoffering van so baie van die kind se fundamentele regte regverdig. As die
Staat dit nie kan doen vir elke kind wat deur die wet beďnvloed word nie, kan
die Staat se wetsbepalings oor verpligte skoolbywoning slegs beskerm word deur
ander opsies te bied aan diegene wat verkies om hul onderwys op ander plekke as
in 'n skool te ontvang.
As die
Staat nie voorsiening maak vir tuisonderwys nie, word die wetsbepalings op
verpligte skoolbywoning dus self kwesbaar en kan dit deur die Grondwetlike Hof
as van nul en gener waarde verklaar word.
In
beginsel sou dit vereis dat slegs een kind moet aantoon dat hy of sy op 'n ander
plek as in 'n skool onderwys van gelykstaande of beter gehalte as die onderwys
in 'n skool kan ontvang, en dit sou dan hierdie wetgewing omverwerp. As 'n wet
daardie kind verplig om 'n skool by te woon, ten spyte van die ernstige
beperking op sy of haar regte op byvoorbeeld persoonlike vryheid, vryheid van
beweging, menswaardigheid en privaatheid, sou 'n hof die wet waarskynlik
ongrondwetlik moet bevind.
Dit is duidelik dat
die huidige regering geen steen onaangeroer wil laat om Christene en Afrikaners
deur die onderwys te onderwerp aan ‘n onderdrukkende en totalitęre
staatsideologie nie.
Daar is
desnieteenstaande ‘n groot verskeidenheid maniere waarop gemeenskappe hulself
meer weerbaar kan maak en die regte van hul kinders teen onregmatige inmenging
deur die owerheid kan beskerm.
Met die genade van
God kan dit inderdaad gedoen word – mits die wil daar is.
Afrika-Handves
oor die Regte en Welsyn van die Kind. African Charter on the Rights and
Welfare of the Child.
Afrika-Handves van Mense- en Volkeregte. African
[Banjul] Charter on Human and Peoples' Rights.
B. (R.) v. Childrens Aid Society of Metropolitan
Toronto 1995. Richard B. and Beena B. (Appellants) v.
Children's Aid Society of Metropolitan Toronto. Supreme Court of Canada File No
23298 27 January 1995.
Beleid
oor onderwys en opleiding vir volwassenes http://education.pwv.gov.za/DoE_Sites/ABET/ABET_Policy.htm
Beleid oor universiteitstoelating http://www.gov.za/gazette/notices/2000/21805.pdf
Besprekingsdokument oor die BOOS 14 Des 2000 http://www.gov.za/gazette/notices/2000/21888a.pdf
Bray E 1996. The South African Bill of Rights and its
impact on education. South African Journal of Education. Vol 16 No 3
August 1996 pp 150-158.
Brembeck CS 1975. The social functions of education. Encyclopćdia
Britannica 15th edition 6:413-417.
Burton CB 1986. Children's Peer Relationships.
ERIC Digest. ED 265 936.
Chatham-Carpenter AD 1992. Home vs. public
schoolers' relationships: differences in social networks. Paper presented at
the 78th annual meeting of the speech communication
association, Chicago, 29th October - 1st
November 1992. ERIC document reproduction service ED 361 784.
Cotton K & Wikelund KR 1989. Parent involvement
in education. (School improvement research series Close-up 6.) Northwest
Regional Educational Laboratory. [www document] URL http:// www.nwrel.org.scpd/sirs/3/cu6.html
Cotton K 1993. Nongraded primary education.
(School improvement research series Close-up 14.) Northwest Regional Educational
Laboratory. [www document] URL http://
www.nwrel.org.scpd/sirs/7/cu14.html
Davel CJ 2000 (editor). Introduction to Child Law
in South Africa. Landsdowne: Juta.
Dekker E & Van Schalkwyk OJ 1989 (editors). Modern
education systems. Durban: Butterworths.
Devenish
GE 1999. A Commentary on the South African Bill of Rights. Durban:
Butterworts.
Draft
revised National Curriculum Statement for Grades R-9 (Schools) Staatskoerant No
22559 Pretoria 8Augustus 2001 http://education.pwv.gov.za/DoE_Sites/Curriculum/New_2005/draft_revised_national_curriculu.htm
Duvenhage SCW 1973. Die opstandige student.
Potchefstroom: Pro Rege.
Fowler S, Van Brummelen, HW & Van Dyk J 1990. Christian
schooling: education for freedom. Potchefstroom: Potchefstroom University
for Christian Higher Education.
Grondwet van Suid-Afrika 1996. Grondwet van die
Republiek van Suid-Afrika, Wet 108 van 1996.
Holt J 1971. The underachieving school.
Harmondsworth: Penguin.
Internasionale Verbond op Burgerlike en Politieke
Regte. The United Nations International Covenant on Civil and Political
Rights.
Internasionale Verbond op Ekonomiese, Sosiale en
Kulturele Regte. The United Nations International Covenant on Economic,
Social and Cultural Rights.
Kalkowski P 1995. Peer and cross-age tutoring.
(School improvement research series Close-up 18.) Northwest Regional Educational
Laboratory. [www document] URL http://
www.nwrel.org/scpd/sirs/9/c018.html
Klicka CJ 1995a. The right choice: the incredible
failure of public education and the rising hope of home schooling. An academic,
historical, practical, and legal perspective. With supplementary chapters by
Greg Harris. Revised edition. Gresham, Oregon: Noble Publishing Associates.
Luthuli PC 1981. The philosophical foundations of
black education in South Africa. Durban: Butterworths.
Manasco B 1996. Factory-like schooling may soon be a
thing of the past. Reason. July 1996 pp 20-25.
Manifesto
on Values, Education and Democracy http://education.pwv.gov.za/DoE_Sites/Curriculum/Values/manifesto_on_values.htm
Nederlandse Jurisprudentie 1980. Cassatie in belang
der wet; leerplicht en bezwaren tegen de richting van het onderwijs. pp.
605-610.
Raath AWG 1995. Christian religious education and the
interim constitution. Roeping en Riglyne. Termynblad van die Vereniging
vir Christelike Hoër Onderwys. Jaargang 43 Nr 3 Desember 1995 pp 15-20.
South African Qualifications Authority Act No 58 of
1995. Soos
gewysig.
Stough L 1992. Social and emotional status of home
schooled children and conventionally schooled children in West Virginia.
Master's Thesis, University of West Virginia. ERIC document reproduction service
ED 353 079.
Suid-Afrikaanse Skolewet, Wet Nr 84 van 1996.
Sulaiman CR 1997. Returning children to an Allah
centered environment: a case for home schooling. [www document] URL http://www.ici.net/cust_pages/taadah/ trans.html
5/1/97.
Universele Verklaring van Menseregte. Universal
Declaration of Human Rights. Adopted by UN General Assembly Resolution 217A
(III) of 10 December 1948.
Van Oosten FFW 1989. The doctrine of informed
consent in medical law. Thesis for the degree of Doctor Legum at the
University of South Africa.
Van Oostrum L 1996. Home schooling - a fundamental
right. Frontiers of Freedom. A publication of the South African Institute
of Race Relations. Issue No 10 Fourth Quarter 1996 pp 20-21.
Vattimo G 1992. The transparent society.
(Translated by David Webb). Cambridge: Polity Press.
Verklaring van Wene. Vienna declaration and
programme of action. World Conference on human rights. Vienna 14-25 June
1993.
Verslag
van die werkgroep oor waardes in die onderwys http://education.pwv.gov.za/Policies_Reports/reports_2000/Values.htm
Verslag
van die Hersieningskomitee oor Kurrikulum 2005: http://education.pwv.gov.za/Policies_Reports/reports_2000/Chisholm_2005.htm
Verslag
oor onderwys in Geskiedenis/Argeologie http://education.pwv.gov.za/Policies_Reports/reports_2000/History_Archaeology_Report.htm
Visser PJ 1997. Basiese regsbeginsels oor godsdiens
in skole: die Implikasies van die Grondwet, Suid-Afrikaanse Skolewet en sekere
provinsiale onderwyswetgewing vir die verbondsouer en die Christen-opvoeder.
Ongepubliseerde referaat, aangebied tydens 'n konferensie van die Vereniging vir
Christelike Hoër Onderwys te Pretoria, 1 Februarie 1997.
VN Konvensie op Kinderregte. United Nations
Convention on the Rights of the Child 1989.
Wet op Nasionale Onderwysbeleid, Wet 27 van 1996.
Wet op Onderwys en Opleiding vir Volwassenes 52
van 2000 http://www.gov.za/gazette/acts/2000/a52-00.pdf
Wetsontwerp
op Gehaltebeheer in Basiese en Verdere Onderwys en Opleiding http://www.gov.za/gazette/notices/2001/22218b.pdf
Whitehead
JW & Bird WR 1986. Home education and constitutional liberties: the
historical and constitutional arguments in support of home instruction. Second
revised edition. Westchester Illinois: Crossway Books.
[1] Kyk geselekteerde bronnelys by http://pestalozzi.org/kurrikulum
[2] Let wel: weens gebrekkige toegang tot Afrikaanse weergawes van die betrokke dokumente maak ons vrylik gebruik van ons eie vertalings van terme.
[3] Volgens wet moet verskaffers voorsiening maak daarvoor dat elke kwalifikasie gedeeltelik of ten volle verwerf kan word deur krediet te gee vir reeds verworwe vermoëns. Hierdie bepalings is egter nog nęrens tot uitvoer gebring nie. Dit sal ook moeilik wees om af te dwing.
[4] LET WEL: Dit is waarskynlik dat sommige sleutelvereistes van die beleid deur ‘n hof ongedaan gemaak kan word indien dit die regte van ‘n leerder op onbillike wyse beperk of skend. Indien dit gebeur sal baie ander vereistes ook outomaties verval.
[5] Sien Art 51 van die SA Skolewet, 84 van 1996