Die Afrikaanse gemeenskap en opposisiepolitiek
Toespraak deur Anchen Dreyer, Lid van die Gautengse Provinsiale Wetgewer, op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, op 31 Maart 2002
Geagte Voorsitter, dames en
here, dis ‘n besondere voorreg dat die komitee my genooi het om – as ‘n
Afrikaanse lid van die amptelike opposisie – aan die lesingreeks van hierdie
lewenslustige fees deel te neem.
Die doel is om kortliks op vyf
sake te fokus:
·
Wie is die Afrikaanse gemeenskap?
·
Wie praat namens
die Afrikaanse gemeenskap?
·
Wend die Afrikaanse gemeenskap hom tans eerder
tot regeringspolitiek of tot opposisiepolitiek?
·
Hoe kan ons die verband
tussen kultuur en politiek definieer?
·
Op watter wyse beeld regeringspolitiek
die opposisiepolitiek tans uit?
Aan die einde sal ek enkele gevolgtrekkings
maak.
WIE IS DIE AFRIKAANSE GEMEENSKAP?
Afrikaners, Afrikaanssprekendes,
Afrikaanses? Of Africaners, met 'n "c" gespel? Wat maak dit saak? As
jy een wil wees, is jy dit. Dit maak nie saak of jy wit of bruin of swart is
nie, dit maak nie saak of jy Christen of Moslem of Buddhis is nie, of geeneen
hiervan nie. As jy Afrikaans praat en jy wil een wees, is jy. Vir my geld die
beginsel van vrywillige assosiasie ook hier.
En jy kan ook een wees ongeag
die keuse wat jy uitgeoefen het in die sogenaamde gly-of-bly debat oor
emigrasie. Met ander woorde, jy kan
nog steeds 'n Afrikaner wees al woon jy in London, Sydney of Texas.
Jy hoef ook nie enige spesifieke
politieke party te ondersteun om een te wees nie. Deesdae kry jy mense wat Afrikaans praat in feitlik alle
partye. Onlangs tydens 'n teepouse gedurende 'n sitting van die Gautengse
Provinsiale Wetgewer gesels 'n groepie van ons kollegas lekker in Afrikaans. Toe
ek bewustelik rondkyk na die deelnemers aan die gesprek, besef ek dat tussen die
ses van ons daar, ons ses verskillende politieke partye verteenwoordig – die
DP, FA, ANC, IVP, VF en NNP. Ek vind dit besonder opwindend.
Ek wil nie verder tyd bestee met
'n relaas oor wie of wat 'n Afrikaner is nie. Ek sien die begrip
wyd en inklusief, gegrond op vrywillige assosiasie. Vir my is dit ook
nie belangrik watter spesifieke term gebruik word om na mense wat Afrikaans as
moedertaal praat, te verwys nie. Ek gebruik meesal die term Afrikaner, al was
dit in die verlede eksklusief aangewend om sekere mense uit te sluit. Vroeër
moes jy mos wit, manlik, 'n NP-ondersteuner en lidmaat van een van die drie
susterskerke wees om te kwalifiseer. Dit het my ook uitgesluit, maar ek het
geweier om daardie definisie te aanvaar en ander mense vir my te laat besluit
wie ek is. As jy Afrikaans as moedertaal gebruik en jy identifiseer met die
Afrikaanse gemeenskap, is jy ene.
WIE PRAAT NAMENS DIE AFRIKAANSE GEMEENSKAP?
Die vraag
is: Kan ‘n regeringsparty of ‘n opposisieparty namens so ‘n
diverse groep soos die Afrikaanse gemeenskap praat?
Die NP het dit voorheen vir
hulleself opgeëis, so ook die AWB, die Vryheidsfront en selfs die AEB. Geen een
van hierdie partye het egter namens "die Afrikaner" gepraat nie, en in
die amptelike opposisie eien ons ons ook nie daardie reg toe nie. Enige
politieke party praat slegs namens daardie mense en verteenwoordig die belange
van diegene wat vir hulle gestem het. Dus,
geen politieke party praat namens "die Afrikaner" nie.
Afrikaanse mense is vandag in
groot aanvraag by omtrent al die politieke partye – ook by die PAC en die ANC.
Hulle vry almal deesdae na die Afrikaanse stem. En jy vind ook Afrikaanse mense
as ondersteuners
en selfs openbare verteenwoordigers by feitlik al hierdie partye, soos
my teedrinksessie in die Wetgewer toon.
Hierdie wye politieke verspreiding van
Afrikaners is goed en gesond, nie net vir die land en demokrasie nie, maar ook
vir die Afrikaanse gemeenskap self. Die
rede hoekom ek so sê is dat wanneer enige spesifieke kultuur-, godsdiens- of
taalgroep te sterk geassosieer word met enige spesifieke party, dan ontstaan die
risiko dat die taal, kultuur of godsdiens van daardie groep gepolitiseer kan
word. So iets is gevaarlik omdat
dit indiwiduele vryheid van politieke keuse bemoeilik, soos wat gebeur het met
Afrikaners en Afrikaans in ‘n vorige era.
'n Politisering
van kultuur-, taal- of godsdiensgemeenskappe deur 'n oorheersing van een
groep in ‘n spesifieke politieke party kan te maklik ontvlam in byvoorbeeld
anti-Joodse of anti-Moslem gevoelens, of wit teenoor swart gevoelens, wanneer
dit eintlik gaan om politieke
verskille oor sê maar die besteding van die begroting, of oor die
beskikbaarstelling van anti-retrovirale medikasie, of oor hoe om die
matriekslaagsyfer te verbeter.
In 'n multi-kulturele land met
nog steeds 'n sterk rasseverdeling soos ons s'n, is dit beter om politiek
afsonderlik te bedryf van kultuur, godsdiens en taal.
Hierdie belange moet sonde twyfel beskerm word, maar dan liewer deur bona
fide kultuur-, godsdiens- en taalorganisasies.
Dit beteken nie dat een
rassegroep of kultuurgroep hom nie met een regeringsparty of een opposisieparty
kan vereenselwig nie. Inteendeel.
Dis
byna algemene kennis en statistiese feite dat die meeste swart burgers
regeringspolitiek steun en die meeste Afrikaanse burgers opposisiepolitiek.
Maar, en ook dit is van wesenlike belang:
die huidige amptelike opposisie verteenwoordig ook Suid-Afrikaners van
baie ander taal-, kultuur- en godsdienstradisies.
Om die waarheid te sê, in
die laaste verkiesing het die DA meer swart stemme gekry as die sogenaamde swart
partye soos die PAC en AZAPO saam.
Die ondersteuning van die Afrikaanse gemeenskap sowel as ander gemeenskappe plaas 'n groot verantwoordelikheid
op die Demokratiese Alliansie as die amptelike opposisie.
Almal se taalregte moet byvoorbeeld beskerm word.
HOEKOM
VERKIES DIE AFRIKAANSE GEMEENSKAP TANS OPPOSISIEPOLITIEK?
‘n Sleutelvraag
is: Hoekom wend so baie
Afrikaanstaliges hulle tans tot opposisiepolitiek eerder as tot
regeringspolitiek?
Die feit dat die amptelike opposisie so groot Afrikaanse
steun gekry het, dui op 'n duur les wat geleer is nadat die apartheidsera tot 'n
einde gekom het. Daardie Afrikaners
wat voorheen altyd die regering van die dag ondersteun het, het gewys dat hulle geleer
het om onafhanklik politieke besluite te neem; besluite wat nie gegrond
is op etniese mobilisering nie, of in blindelingse navolging van 'n sogenaamde
volksleier nie, maar eerder op grond van landsbelang.
Die Afrikaanse gemeenskap het in baie opsigte mondig en selfstandig
geword.
Dit dui ook daarop dat die
Afrikaanse gemeenskap daarin belang stel dat die land goed regeer word. Ek praat van skoon
administrasie sonder korrupsie, 'n uitvoerende mag wat deur die parlement tot
verantwoording geroep word, 'n onafhanklike regbank, die bekamping van misdaad
en die bevordering van ekonomiese groei sodat meer werksgeleenthede kan
ontstaan. Dit beteken die bestaan
en uitbou van 'n waaksame en lewenskragtig parlementêre opposisie wat ‘n
volgende regering kan word. Dit
beteken 'n werklike vrye en onafhanklike pers wat nie altyd polities korrek moet
wees nie. Dit beteken 'n
lewenskragtige burgerlike samelewing. Dit beteken bo alles 'n verskeidenheid van
stemme en menings, en dat verskille in 'n oop gesprek uitgespreek en aangehoor
kan word waar almal voel dat hulle met ewe veel waardigheid en respek behandel
word.
Die Afrikaanse gemeenskap
verkies politieke verteenwoordigers met senuwees van staal. Dit verskil natuurlik van wat die regeringsparty wil hê.
Die
huidige regeringsparty wil sy eie opposisie kies.
So 'n opposisie moet verkieslik lam en tam wees en geen tekens van sterk
meningsverskil of aggressie toon nie. ‘n
Opposisie met permissie! Dis
werklik ironies. Dis selfs nie
tipies van alle Afrikasamelewings nie. Inteendeel.
Ek was in 2000 bevoorreg om ure
lank die verrigtinge in die parlement in die Wes-Afrika-staat Ghana te beleef.
In vraetyd het die opposisielede die betrokke ministers gepeper met vrae
en het ‘n lewendige debat ontstaan. Ek was verbaas oor die energie en krag
waarmee die opposisielede die regering aangevat het en tot verantwoording geroep
het. Geagte Voorsitter, u sal
verstaan dat die huidige Suid-Afrikaanse amptelike opposisie hou van hierdie
styl. Dit pas ook by die Afrikaanse
gemeenskap wat die opposisie steun. Wat
voorts baie interessant is, is dat die kiesers van Ghana die aggressiewe styl
van die opposisieparty, die Nuwe Patriotiese Party, onderskryf het deur die
opposisieparty enkele maande later tot regering te kies.
DIE REGTE VAN MINDERHEDE EN BELANGEGROEPE
Interessante verskille en verhoudings bestaan
tussen kultuur en opposisiepolitiek.
Die amptelike opposisie erken
die verskeidenheid van ons samelewing en verdedig
die beginsel van vryheid van keuse en die reg van elkeen tot volle
uitlewing van hulle kultuur, taal en godsdiens. Dus, die reg om onderrig
te ontvang in jou moedertaal, geld vir almal wat daardie reg wil uitoefen.
Die opposisie lewer nie net lippediens aan hierdie reg terwyl hy in die
praktyk eenvormigheid op almal afdwing nie.
Inteendeel! Die amptelike
opposisie is ondubbelsinnige demokrate wat die kultuurregte van Khanyile of
Ramaposa, Plaatjies of Van der Merwe met dieselfde oortuiging beskerm.
Dit bring ons dan by die
probleem van sekere taalgroepe waar daar nie reeds so 'n sterk bewustheid
ontwikkel het oor die belang van bv. moedertaalonderrig nie, of wat nie so sterk
georganiseerd is soos die Afrikaanse gemeenskap nie. Moet alle taalgroepe teen dieselfde
tempo voortgaan en moet dié wat reeds verder gevorder is vir die ander
wag?
Neville Alexander spreek die
mening uit dat die herstandaardisering van Afrikaans gepaard moet gaan met die
verdere standaardisering van die ander Afrikatale, omdat die een nie sonder die
ander kan gedy nie. Dit is belangrik dat die indruk nie geskep moet word dat die
Afrikaanse gemeenskap vir hulle self iets wil opeis wat hulle nie ook ander
gemeenskappe gun nie. Wanneer daar egter 'n sterk behoefte by een gemeenskap, in
hierdie geval Afrikaans, bestaan om met 'n projek voort te gaan, maar nie
noodwendig by 'n volgende gemeenskap nie, kan dit 'n remmende uitwerking op
hierdie gemeenskap plaas. Ander taalgroepe voel moontlik nie so sterk oor hulle
taal nie en wil nie noodwendig beding vir hulle taal se ontwikkeling nie. Die
beginsel van gelyke regte vir alle groepe is reg, maar dit kan nie beteken dat
almal saam ewe vinnig moet vorder nie. Die reg
behoort aan almal, maar dit is 'n groep se eie verantwoordelikheid oor hoe
en wanneer hulle daardie reg wil uitleef.
Ek glo Afrikaners kan hulle
kultuur- en taalregte uitoefen binne 'n politieke bestel wat erkenning gee aan
die verskeidenheid van ons samelewing en almal se regte tot volle uitlewing
waarborg. Die punt is egter: ‘n Opposisie
is nodig wat die beginsel van verskeidenheid verstaan en respekteer en nie bang
is om daarvoor op te staan nie.
'n Opposisieparty wat slegs een
spesifieke minderheidsgroep verteenwoordig, en dus geen kans staan om ooit 'n
alternatiewe regering te vorm nie, is aangewese op die bereidwilligheid van die
regering van die dag om gunste en gawes vir hulle volgelinge te probeer bekom. Die
amptelike opposisie verteenwoordig egter nie slegs een spesifieke
minderheidsgroep nie, maar die beginsel van verskeidenheid en die reg tot die
uitlewing van hulle grondwetlike regte vir alle mense in Suid-Afrika.
Gesteun deur 'n veelheid van minderhede kan so 'n opposisieparty later 'n
alternatiewe regering vorm.
Belangegroepe moet
duidelik onderskei word van politieke partye en speel 'n noodsaaklike rol in die
vestiging van 'n sterk burgerlike samelewing.
·
Belangegroepe
kan op verskillende
grondslae georganiseerd wees. Hulle
kan byvoorbeeld op ras gebaseer wees, soos die Black Lawyers Association, wat ek
egter nie aanbeveel nie omdat ons rasseklowe juis probeer oorbrug en omdat sulke
organisasies moontlik selfs ongrondwetlik mag wees.
Dit kan ook op taal, godsdiens, sakegrondslag, of enige ander belang
gegrond wees. Christen-Afrikaners kan ook deel wees van 'n Christenbelangegroep
wat 'n meerderheidsgroep sal wees in SA, terwyl Moslem-Afrikaners ook deel kan
wees van 'n Moslembelangegroep. Afrikaners
kan byvoorbeeld saam met sakegroepe druk uitoefen om buitelandse valutabeheer af
te skaf, of met misdaadslagoffers 'n drukgroep vorm om 'n trustfonds vir
slagoffers te vorm.
·
Die
Joodse
Raad van Afgevaardigdes in Suid-Afrika en die invloed wat hulle uitoefen
namens die Joodse gemeenskap in SA, word dikwels voorgehou as 'n model van wat
belangegroepe vir die Afrikaanse gemeenskap kan doen. Die Joodse Raad van
Afgevaardigdes is egter nie 'n politieke party nie en veg nie verkiesings nie.
Hulle tree op as waghond vir die Joodse gemeenskap en bevorder die belange van
hulle lede op ander maniere. So ook die National Association for the Advancement
of Colored People in die VSA, namens swart Amerikaners. Sulke organisasies oefen
dikwels baie invloed uit in belang van hulle lede.
·
Afrikaanse
kultuurbelangegroepe soos die ATKV, die Groep van 63 en Praag mag en behoort
inderdaad druk oefen op politieke partye om hulle sokkies op te trek om
minderheidregte daadwerklik te beskerm.
Die punt wat ek maak is dat
minderhede op verskillende manier gedefineer kan word en nie altyd kultuur of
etnies gebonde hoef te wees nie. Daar is baie moontlikhede. Ek praat nie altyd
as 'n Afrikaner nie. Soms sal ek my uitspreek as deel van die vroulike geslag
saam met ander vroue van ander taalgroepe, of as 'n professionele persoon saam
met persone van albei geslagte, ens, ens. Die moontlikhede is legio. Dit is
egter goed
vir demokrasie om so 'n verskeidenheid
van belangegroepe in 'n samelewing te hê en die burgerlike samelewing
sodoende te versterk. Dit help ook om die regering van die dag in toom te hou.
HOE REGERINGSPOLITIEK OPPOSISIEPOLITIEK PROBEER BRANDMERK
Die tyd is nou ryp om ‘n paar kritiese
opmerkings te maak oor die huidige spanning tussen opposiepolitiek en
regeringspolitiek.
In 'n demokratiese land is dit
van kernbelang dat daar 'n lewenskragtige opposisie bestaan, wat die beginsels wat ek reeds genoem het, in die
parlement kan verteenwoordig. Omdat
belangegroepe nie in die parlement dien nie kan daar sonder ‘n sterk opposisie
geen demokratiese veelpartystelsel bestaan nie. Suid-Afrikaners beleef tans die
sorgwekkende verskynsel dat die regerende party op verskillende maniere besig is
om die opposisie te probeer marginaliseer.
‘n Eerste
poging tot neutralisering van opposisiepolitiek is die volgende:
'n Gedagte wat dikwels geopper word, is dat slegs
lede van die regeringsparty heropbou en ontwikkeling van die bevolking
onderneem. Daar word voorgegee dat deelnemers aan die opposisiepolitiek,
nie betrokke wil raak nie. Ook dat hulle onverskillig staan teenoor die probleme
van die land en hulle selfs daarin verlustig. Die gedagte word geplant dat slegs
deur die ANC kan jy jou land dien of medemenslike dade uitvoer.
Feit: Dit
is 'n moedswillige
miskenning van die goedgesindheid van opposisie-ondersteuners om hulle
voor te stel as koud en ongevoelig. Tienduisende
gewone Suid-Afrikaners, baie van hulle Afrikaanssprekend, is intens betrokke by
gemeenskapsorganisasies en -aktiwiteite, waar hulle 'n onmisbare bydrae lewer
tot die gesonde funksionering van die burgerlike samelewing. Dink maar aan die
bestuursliggame van skole, die gemeenskapspolisieforums, die sportklubs, die
vroueverenigings, die kerke en die liefdadigheidsorganisasies, die
kultuurverenigings, die professionele en sake-organisasies en die
boereverenigings.
Voorbeeld: Ek het
onlangs die slagofferbystandskantoor
(victim empowerment office) by die Krugersdorpse
Polisiekantoor besoek. Hierdie
kantoor word beman deur 'n Afrikaanssprekende vrou en haar seun, wat die kantoor
self tot stand gebring het, vrywilligerberaders gewerf het, gesorg het vir borge
vir opleiding en nou in die proses is om bykomende kantore in ander
polisiestasies in die munisipale omgewing tot stand te bring – sonder enige
vergoeding. Voorbeelde van sulke Afrikaners is legio
– ware Samaritane wat
Suid-Afrikaners van alle rasse en gelowe dien en wel omdat hulle die behoeftes
van hulle landgenote eerstehands begryp.
Die politieke dimensie is hoogs
betekenisvol: Hierdie
Afrikaanssprekendes het in die laaste verkiesing teen die regering en vir
die opposisie gestem.
'n Tweede
poging van neutralisering is die propagering van die wanvoorstelling dat
opposisie-ondersteuners nie
patrioties is nie of kan wees nie, en by implikasie dislojaal is aan
Suid-Afrika en behae skep in die probleme van die land.
Feit: Diegene wat hierdie siening verkondig, verwar, soos in outoritêre
state, die land met die regerende party. Net soos in die NP-regering voor 1994 nie die hele ou
Suid-Afrika verteenwoordig het nie, verteenwoordig die ANC-regering nie die hele
nuwe Suid-Afrika nie. Suid-Afrika
is baie meer as die ANC, of enige ander party wat aan bewind mag kom.
Soos die voorwoord tot die grondwet tereg lui:
Suid-Afrika behoort aan al
die mense wat daar woon.
Wakker opposisiepolitiek speel
'n belangrike rol in die voorspoed en stabiliteit van die land deur die regering
te verplig om aan dringende nasionale probleme aandag te gee en deur
alternatiewe oplossings voor te stel. Voorts
is buitelandse beleggers slegs geneë om te belê daar waar demokratiese
beginsels geld.
Omdat baie Afrikaners waarsku
teen probleme soos wanadministrasie en misdaad, word hulle dikwels verkeerdelik
beskuldig van 'n leedvermakerige houding teenoor die land se probleme.
Die teenoorgestelde is waar: Die
Afrikaanse gemeenskap is diep besorg oor Suid-Afrika.
As Afrikaners is ons hier gebore en het hier grootgeword – ons
voorvaders is hier gebore en is hier begrawe.
Ondanks ‘n vlaag van emigrasie, wil baie van ons kinders steeds hier
bly en ontwikkel. Kortom:
Afrikaners het veel meer as eiendom in Suid-Afrika belê.
Dit is hulle emosionele vaderland. Soos
hulle groepsnaam lui, is hulle Afrikaners of Afrikaanses, dit is Afrikane.
Die Afrikaners ondersteun doeltreffende opposisiepolitiek dikwels juis
omdat hulle so patrioties en so intens verbind is tot Suid-Afrika en sy toekoms.
‘n Derde
poging tot neutralisering is om Afrikaners
as tweedeklasburgers voor te stel.
Die verdagmakery van 'n suksesvolle opposisie word verder gevoer en
spesifiek op opposisiegesinde Afrikaners gekonsentreer.
Kabinetslede prys daardie Afrikaanse organisasies wat buite die politiek
staan. Maar wee dié Afrikaners wat
hulle tot opposisiepolitiek wend!
Is dit die doel van
regeringspolitiek om verskeidenheid te erken slegs binne kultuurverband, maar
nie op die politieke speelveld nie? Indien
wel, sou dit uiteindelik kan lei tot 'n multi-kulturele
eenpartystaat. Die logiese uiteinde hiervan sou 'n diktatoriale regering
wees wat goedgunstelik kultuurverskeidenheid verdra, maar daardie guns kan
terugtrek wanneer hulle so voel. Om hierdie moontlike scenario te vermy is dit
noodsaaklik dat 'n veelpartystaat moet voortleef, waarbinne mense hulle taal-,
kultuur- en godsdiensregte uitoefen as 'n reg
en nie as 'n guns nie.
Ek sien duidelike tekens van die
ANC wat vir hulleself die reg toe-eien om Afrikaners
te klassifiseer as aanvaarbaar hoofsaaklik volgens hulle politieke
simpatieë. So asof net Afrikaners wat die seën van die ANC ontvang het, mag
voortgaan en met trots hulle plek langs ander Suid-Afrikaners in die samelewing
mag inneem.
In regeringskringe geld dikwels
steeds die negatiewe stereotipe van “die Afrikaner" wat voor 1994 ontstaan
het. Nimmereindigene
regeringsuitsprake wek die ondruk dat Afrikaners eintlik slegs op 'n soort tweedeklasburgerskap kan
reken, dat hulle nie heeltemal legitiem is nie, omdat hulle hulleself deurlopend
behoort te skaam en te verootmoedig. 'n Sielkundige klimaat het ontstaan wat slim deur deur
regeringspolitici gemanipuleer word.
Vergelyk byvoorbeeld die
ervarings van Chris Fismer met dié
van Tertius Delport. Hulle het soortgelyke agtergronde in die sin dat albei
ministers was in die vorige NP-regering. Tertius Delport sluit by die DP aan,
wat hierdeur na bewering besmet word. Maar
Chris Fismer buig sy knie in die openbaar voor die regeringsparty, kry
volbladartikels wat hom as een of ander held voorhou, en word ook deur die ANC
beloon word met 'n pos in die Dobbelraad.
Hierdie onderskeid word selfs toegepas op
beginselvaste historiese figure wat 'n bydrae gemaak het in die stryd om
'n nie-rassige demokrasie. Diegene wat op ‘n stadium vir die ANC gewerk het,
kry erkenning, maar diegene wat vir ander organisasies gewerk het, word geïgnoreer.
Byvoorbeeld:
Die ANC loof Afrikaners soos Bram Fischer, maar gee nooit erkenning aan mense
soos Sakkies Fourie en Jannie Steytler nie.
Beyers Naude word vereer met 'n straatnaam in Johannesburg, wat goed en
reg is, maar 'n versoek om vir Helen Suzman, ‘n nie-Afrikaner, te vereer, word
verwerp. Soveel vir die dubbele
maatstawwe van regeringspolitiek!
Die grondliggende boodskap wat
agteraf gefluister en die SABC se agtuurnuus haal, is dat alle goeie Afrikaners saam met die
ANC toi-toi. As ‘n Afrikaner
boonop sy liefde vir die ANC in die openbaar bely en verkieslik in die aand in
dieselfde slaapsak klim, kry hy absolusie, word sy sondes dadelik vergewe, en
word hy feitlik tot 'n heilige verklaar – selfs al dra hy ‘n politieke
kortbroek!
GEVOLGTREKKINGS
Geagte Voorsitter.
Ek onderstreep graag ses gevolgtrekkings:
·
Eerstens.
‘n Lid van die Afrikaanse gemeenskap is enige-een wat Afrikaans
praat en hom of haar vrywillig met die Afrikaanse gemeenskap vereenselwig.
·
Tweedens.
Geen enkele politieke organisasie kan namens die hele Afrikaanse
gemeenskap praat nie.
·
Derdens.
Statisties by verre die meeste
lede van die Afrikaanse gemeenskap het in die vorige verkiesing vir die
opposisie gestem.
·
Vierdens.
Die redes vir hierdie steun hou verband met die sterk strewe na
effektiewe regering en na demokratiese waardes.
·
Vyfdens.
Die belange van die Afrikaanse gemeenskap word kreatief bevorder deur
Afrikaanse belangegroepe wat buite
die regeringspolitiek sowel as buite die opposisiepolitiek staan.
·
Sesdens.
Ondanks blatante propaganda deur regeringspolitici, is die lede van die
Afrikaanse gemeenskap wat opposisiepolitiek steun, nie tweedeklasburgers nie maar
eersteklasburgers – wat Suid-Afrika liefhet met elke vesel van hulle hart.
-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------
Anchen Dreyer is 'n sweep van die Demokratiese Alliansie in die Gautengse Provinsiale Wetgewer. Sy is die Gautengse DA-woordvoerder vir Taalsake en vir Landbou, Bewaring, Omgewing en Grondsake en dien ook op die Finansieskomitee. Navrae: A Dreyer: 082 375 4400; adreyer@gautengleg.gov.za