Die doringboom se les

Dan Roodt

Toespraak gelewer ten tye van die honderdjarige afsluiting van die Tweede Vryheidsoorlog by die Brandfortse Konsentrasiekampterrein op die plaas Louvain, distrik Brandfort op 31 Mei 2002.  Mnr. Paul Zietsman word bedank vir die gegewens oor die Brandfortse kongres van 1904, waarna in die teks verwys word.

Dames en here, mede-Afrikaners,

Woede oor die kampe

Boetman is die bliksem in[1].  Maar vandag op 31 Mei 2002 is ons almal die bliksem in.  Ons het baie redes om vandag kwaad te wees.  Drie jaar gelede is Afrikaners, die inwoners van Branfort, uitgesluit uit ‘n seremonie wat op hierdie plek gehou is ter nagedagtenis aan die konsentrasiekampslagoffers van hierdie dorp.  Ons geagte president, ‘n kosmopolitiese man wat meer begaan is oor die grote Afrika as oor sy eie land, en veral die geskiedenis daarvan, het hier saam met die Vrystaatse premier die hele Afrikanerdom ‘n klap in die gesig toegedien deur as’t ware ‘n feesgeleentheid te maak van dit wat ‘n huldiging moes wees ter ere van die gestorwenes, hierdie 2000 vroue en kinders wat hul lewens afgelê het ter wille van vryheid.

Daar was ‘n tyd toe Afrikaners gedink het dat hulle uiteindelik vry was, ná soveel jare, na soveel dekades, nee eeue, van stryd.  Maar u weet en ek weet dat ons vandag helaas nie vry is nie.  Die doringdrade van die Britse konsentrasiekampe het verdwyn, maar in hulle plek het ander doringdrade gekom wat ons ewe seer inhok, ons ewe seer uitmergel en vernietig as dié van Roberts en Kitchener.  Nie so lank gelede nie het ‘n politieke leier in hierdie land van ‘n openbare verhoog af geskree, “Kill a Boer, kill a farmer” en ‘n organisasie wat bekend staan as die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het bevind dat dit geen haatspraak was nie, maar vryheid van spraak.

As ons dus praat van nuwe konsentrasiekampe wat die Afrikaner vandag bedreig, is dit die volgende:

Dis al

Dis die blond,

dis die blou :

dis die veld,

dis die lug ;

en ‘n voël draai daar bowe in eensame vlug –

dis al.

Dis ‘n balling gekom

oor die oseaan,

dis ‘n graf in die gras,

dis ‘n vallende traan –

dis al.[3]

Vandag is daar honderdduisende jong Afrikaners wat gedwing word om hul land te verlaat omdat hulle nie meer hier welkom is nie, en veral nie inpas in die nuwe rasseideaal wat vir Suid-Afrika gestel is nie, weliswaar nie meer die Britse ras nie, maar nou die mitiese Afrikaras, die ras van die Renaissance en ander grootse ideë waarmee ‘n Britse imperialis van die negentiende eeu sterk sou kon identifiseer.

Danksy ons ervaring van sy kampe, het die Ryksgedagte nog altyd vir elke Afrikaner met afgryse vervul.  Afgryse, maar ook woede.  En ná daardie traan geval het van Celliers se balling, is ek seker dat hy hom insgelyks geërger het oor die dood van sy vrou of sy kind of albei.  As mens hier op die grafsteen by die Brandfortkonsentrasiekamp die name van die agtjariges en die tienjariges en die elfjariges ingegrif sien in die swart graniet, dan vervul dit mens nogmaals met ‘n toorn en ‘n gramskap waarvoor die tyd geen balsem was nie.  Vandag nog kan ons sê, ons is nog steeds die bliksem in oor wat aan ons vroue en kinders gedoen is deur lafhartige Britse lords.

Nie net is onskuldige burgerlikes begrawe nie, maar ook ‘n volk.  In die woorde van Christiaan de Wet,

“...ek het menigmaal by die sterfbed en by die ter aarde bestelling gestaan van diegene wat my naaste aan die hart gelê het:  vader, moeder, vriend, vriendin – maar wat ek toe ondervind het, kan nie vergelyk word met wat ek ondervind het waar ek die begrafnis van my volk moes aanskou nie.”[4]

Op ‘n manier het die moderne Afrikaanse kultuur ontstaan uit hierdie woede.  Die Tweede Afrikaanse Beweging is gevoed en gekoester deur die ergernis wat gevolg het op die Tweede Vryheidsoorlog.  Toe die Boere die wapen neergelê het, soos Christiaan de Wet en sy manne hier op Brandfort, terwyl hulle ween en hul gewere stukkend slaan teen die klippe, en die uitgeteerde vroue hulle ‘n heldeontvangs bied met sierkranse by die kamp se ingang, het hulle die pen opgeneem.  Soos dit gestel is, was hulle verslaan, maar onoorwonne, en die twintigste eeu was een lang triomf van die Afrikaner se gees waarmee hierdie land verryk is soos geen ander land nog ooit op hierdie kontinent nie.

Dit het selfs in die kampe begin, met briewe en dagboeke, maar ook protesaksies deur die vroue self.  In Tant Miem Fischer se Kampdagboek Mei 1901 – Augustus 1902[5] word daar vertel hoe die vroue die woord “refugee” op kampkennisgewings uitgekrap het, en daaroor “prisoner of war” geskryf het, waarvoor hulle dan agterna deur die kampkommandant gestraf is.  ‘n Mens sou gedink het dat hierdie vroue wat saam met hul kinders soveel gely het, tevrede sou wees met vrede teen enige prys.  Maar nee, Tant Miem Fischer skryf op 1 Junie 1902:

“Vanoggend om sewe-uur is ons deur kommandant Bousfield gesê dat daar vrede is.  Vrede, vrede, maar hoe, wat ‘n vrede?  Vrede, oorwinning vir Engeland, stryd en slawerny vir ons en ons kinders?  So ‘n vrede?  O, dan nog liewer die kamp-ellende, met al sy verskrikking.  Sou die lyke in die uitgestrekte kerkhowe nie nou gelukkiger wees as ons nie?  Met so ‘n vrede – hoe, wat sal ons bestaan hierna wees, sonder hoop, sonder vertroue of geloof of gevoel?  O, dit is onmoontlik...”[6]

Daar is iets soos konsentrasiekamphumor, ‘n galgehumor, die humor van mense wat op die rand van die dood in ellende leef, in die hart van die mag van die Ryk, of dit nou die British Empire is of die Deutsche Reich.  Ekself het vir die eerste keer daarvan bewus geraak by die lees van Etty Hillesum se dagboek; sy was ‘n Nederlandse Jodin wat in Auschwitz gesterf het, maar dagboek gehou het in die Nederlandse transitokamp te Westerbork.  Sy vertel van ‘n jong Jood wie se kop amper verbrysel is teen die gevangenismuur, wat sê, “Hulle het probeer om met my kop die gevangenismuur stukkend te slaan, maar my kop was harder as die muur!”[7]

Ook in Tant Miem Fischer se joernaal skryf sy met ‘n vlymskerp pen, druipend van ironie, oor die Christelikheid van die Engelse.  Sy sê:  “As my seun daar so [in Durban] moes werk, nadat hy soos ‘n man sy plig vir volk en vaderland gedoen het, sou ek nie sy vyand, die Engelsman, s’n nie, maar die lae verraaier wat die oorsaak van sy ellende was, se nek met ware genot kon breek.  Kyk, nou is ek onchristelik.  ‘n Wonder!  Ek is al so lank onder die mees Christelike nasie, en nog so barbaars?”[8]

As sy haarself hier verwyt oor haar eie baarbaarsheid terwyl sy so lank reeds in die konsentrasiekamp met Engelse metodes gekersten word, dan het sy dit elders oor die “liefdadigheidsin” van lord Kitchener waar sy praat oor die versletenheid van die vroue en kinders se klere, hul gebrek aan seep, en dergelike meer:

“Nou, dit sal ook te veel gevra gewees het om te verwag dat lord Kitchener, met al sy liefdadigheidswerk soos die wegvoer van vroue, die afbrand van huise, die meng van meel en suiker met vitrioel, maagpoeier, ens. – sy lordskap weet alleen met wat alles – nog die Paryse modeboeke moet deursnuffel om te sien dat die Evaskleed van voor die sondeval in ons dae geheel uit die mode is.”[9]

Die toorn van die Boerevrou en haar lyding het aanleiding gegee tot die Afrikanerwoede wat byna ‘n eeu lank gebruis het, en wat in soveel literêre werke en toneelstukke geboetseer is tot iets moois en edels.  Die barbaarsheid van die Engelse kamp is dus omvorm tot kuns, tot kultuur.

Die Afrikaner is gebore in die kampe van die Britse Ryk.  Selfs vandag nog ervaar ons die pyn van hierdie geboorte.  Waarskynlik vir altyd sal ons, soos die Jode, gemerk wees deur die doringdraad.

Etty Hillesum vertel in haar dagboek oor die doringdraad dat die kampinwoners dikwels krapmerke op hul gesigte en op hul hande gehad het[10].  Sekerlik was dit ook vir die Boerevroue en –kinders die geval, om so aan die gesig en die hande gemerk te gewees het deur die doringdraad, in die kampe waarmee die Britte die twintigste eeu en sy latere gebeure sou inlui.

Die enigste verskil tussen die Dritter Reich en die British Empire is dat die een verloor het en die ander gewen het.

Die woede van Afrika

Ons leef vandag in ‘n omgekrapte tyd.  Tydens en ná die Tweede Vryheidsoorlog het ons ons pyn en lyding in poësie uitgedruk het, iets wat D.J. Opperman baie mooi opgesom het met sy beeld van die digter as balling van Ceylon wat ‘n skippie in ‘n bottel maak:

Digter

Ek is gevang

en met die stryd

êrens in die ewigheid

op ‘n Ceylon verban

 

waar al my drange

na ‘n verlore vaderland

my dag na dag geëiland

hou met horisonne en verlange,

 

en in die geel gloed van die kers

snags deur die smal poort

van die wonder elke woord

laat skik tot klein stellasies vers

 

wat groei tot boeg en mas

en takelwerk – en die uiteindelike

reis met die klein skip

geslote agter glas.[11]

Tans leef ons egter nie as ballinge op Ceylon nie, maar in die brandpunt van Afrika se drif, is ons elke dag die slagoffers van ‘n nuwe geweld, van plaasmoorde, motorkapings, rooftogte, diefstal, verkragtings.  

Die laaste keer toe ons vrouens en kinders in hul huise met gewere aangehou is, was honderd jaar gelede.  Vandag gebeur dit weer.  ‘n Vriendin skryf nou die dag vir my, ná so ‘n ervaring in ‘n voorstad van Pretoria:

“Dit was loshande die skrikwekkendste voorval waarmee ek nog tot nou toe gekonfronteer is. Die feit dat ek en my twee kinders alleen was, het die angs natuurlik intensifiseer. Die verwerkingsproses lê nou vir ons gesin voor. Ek voel effe onstabiel op die oomblik. Die een oomblik is ek woedend, net om die volgende oomblik in trane uit te bars.

Hier was tussen 6 en 8 gewapende swartes in my huis. My man het net die laaste 5 minute saambeleef. My kinders is verniel. Nou sluit ek die emosionele verwoesting uit. My seuntjie is teen die kop gekap, my dogtertjie is geskop, teen 'n granietkas gegooi en met 'n gelaaide geweer teen haar kop aangehou. Ek is rondgegooi, my hare is uitgepluk, geskop en het ook heeltyd 'n gelaaide pistool teen my slaap gehad.

Die absolute brutale, barbaarse, dierlike, arrogante geweld wat teen ons gepleeg is, is onbeskryflik. Toe die barbare vertrek, skree een vir ons: ‘Now Daddy can go back to work and the kiddies can go back to school.....’”

Soos die barbare van ‘n eeu gelede, praat ons nuwe barbare ook Engels.  Die onlangse Nobelpryswenner vir letterkunde, V.S. Naipaul, skryf in sy roman A bend in the river, oor die woede van Afrika ná ‘n bekende toneel van verwoesting:

“Die raserny van die rebelle was soos ‘n woede teen metaal, masjinerie, elektriese drade, alles wat nie tot die bos en tot Afrika behoort nie.”[12]

‘n Priester en versamelaar van Afrikakuns word in die roman vermoor, en sy liggaam geskend, hy wat so lief was vir Afrika.[13]  Dit is asof diegene wat Afrika die meeste waardeer, die eerste slagoffers van sy moordlus word.

Dit is vir ons moeilik om hierdie raserny te begryp, hierdie vernietigingsdrang wat telkens soos ‘n orkaan opsteek oor hierdie kontinent.  Die winde van verandering waarvan Harold McMillan gepraat het, het net vewoesting gebring, raserny, armoede, diktature en daardie nabootsing van die koloniale meester wat bekend staan as “volksmoord”, soos in Rwanda, Boeroendi, Ethiopië, Zimbabwe, en elders.

Dieselfde Mbeki wat hier op Brandfort die Britse oorwinning kom vier het in die geselskap van sy Hertog, het hand aan hand met die diktator Mugabe geloop net ná sy verkiesingsbedrog.  Wat sê dit vir ons?

Die Rakabeginsel

Noem dit die Rakabeginsel, die drang om te oorheers, om te vernietig, om jou drifte te laat geld.  Wanneer misdaad en geweld die norm word, soos vandag in Suid-Afrika, kan ons nog van ‘n gemeenskap praat?  Volgens die filosoof Thomas Hobbes is daardie toestand waar elkeen vir sy veiligheid slegs op homself aangewese is, soortgelyk aan ‘n oorlogstoestand.  In sy beroemde woorde, is daar,

“In so ‘n toestand, geen plek vir Arbeid nie; want die vrug daarvan is onseker:  en gevolglik geen Bewerking van die Grond nie, geen Navigasie nie, nòg gebruik vir goedere wat per See ingevoer mag word; geen uitgebreide Bouwerk nie; geen Kennis van die Aardbol nie; geen sin vir Tyd nie; geen Kunste nie; geen Lettere nie; geen Gemeenskap nie; en wat die ergste van alles is, konstante vrees, en gevaar van ‘n gewelddadige dood; en die lewe van die mens, eensaam, arm, onaangenaam, dierlik en kort.”[14]

Hoe naby die hedendaagse Suid-Afrika al aan ‘n Hobbesiaanse natuurstaat gekom het, kan diegene van ons wie se hekke al deur Raka platgeloop is die beste oordeel.

Groot Brittanje het via die kampe van Brandfort en Springfontein en Bloemfontein en Winburg en Heilbron en elders sy Ryk uitgebrei.  Rhodes was blykbaar jammer dat hy nie ook die sterre kon gaan koloniseer nie, omdat hulle net te ver is.  Die Angel-Saksiese barbaar wat ontmasker is deur die Afrikaanse prosa van die kampinwoners, het sy eweknie in die geweldenaar van vandag wat nie vrou of kind ontsien in sy gewelddade nie.  Die gebrek aan optrede van ons regering teen plaasmoorde, teen die geweld wat Suid-Afrika soos ‘n maalstroom ingesluk het, maak hom inderdaad ‘n medepligtige daaraan.  Die eerste taak van enige beskaafde regering is om sy burgers teen geweld te beskerm, presies dit wat die huidige bewind nie kan of wil doen nie.

Diegene wat teen vroue en kinders optree, soos die Britte van honderd jaar gelede, verdien om lafaards genoem te word.  Dit is ironies dat die Anglikaanse Kerk, in die persoon van Biskop Tutu, die Afrikanerdom van ‘n misdaad teen die mensdom beskuldig het in die verslag van die Waarheids- en Versoeningskommissie.  Eerder sou hy as Engelse predikant moes toegee dat Afrikaners die enigste volksgroep in Suid-Afrika is wat nog nooit ‘n volksmoord gepleeg het nie.  Ons was nog net die slagoffers daarvan.

Tydens die Mfekane van die negentiende eeu is tussen een en twee miljoen mense uitgemoor net voordat die Voortrekkers die binneland ingetrek het.  Eerder as wat ons soos die Amerikaners en die Australiërs mense met ‘n ander kultuur en vlak van ontwikkeling uitgemoor het, het ons die oorloë en onderlinge konflik wat tussen hulle gewoed het, stopgesit.  Die Britte en die swartmense is die volksmoordenaars van Afrika, nie die Afrikaners nie.  Ons is die vredemakers van Afrika.  Die enigste keer dat Louis Trichardt ‘n Vendastam aangeval het, is toe hy deur die heersende koning gevra is om hulp.  Terwyl ons voorouers dit hier in die Suide stopgesit het, het die Mfekane voortgeduur in die res van Afrika, soos tot onlangs nog in Zimbabwe, Angola, die Kongo, Rwanda, Boeroendi, Mosambiek, noem maar op.  Vir bykans ‘n honderd jaar het Suid-Afrika onder Afrikanerregering in vrede op sy eie grondgebied geleef, wat meer is as wat die meeste lande ter wêreld kan sê.  Nog nooit sedert Kitchener en Roberts se verskroeide aarde-beleid is die Suid-Afrikaanse ekonomie ontwrig deur ‘n oorlog op eie bodem nie.

Die Engelse kerk was nog altyd giftig teen die Boere en Afrikaners.  Dr. John Philip het dit as geoorloof beskou om leuens in Engeland te versprei indien hy die ingryping van Engeland teen die inheemse Boerebevolking kon bewerkstellig.  Die koloniale samewerking tussen Brittanje en die swart middelklas wat opgelei is in Engelse kerkskole het daartoe gelei dat die destydse swart élite ewe skuldig was aan die volksmoord as Engeland self.  Daar was 100 000 gewapende swartes wat aan Engelse kant geveg het, en wat gehelp het om die vroue en kinders in die kampe in te dwing.  Nie lank daarna nie het hierdie swart middelklas die ANC opgerig.  Dit is sekerlik uniek in die wêreldgeskiedenis dat ‘n sogenaamde bevrydingsbeweging nog altyd die koloniale mag en sy taal ondersteun het.

Dekadente driemanskap

By baie van ons mense is daar deesdae ‘n verslaenheid, ‘n ongeloof, ‘n gevoel van alles is verby en al wat oorbly is om druipstert op te pak na Australië, Nieu-Seeland of Kanada.  Die verhaal van die Tweede Vryheidsoorlog, van die kampe, van die heroïese herontwaking en opstand van Afrikaners gedurende die twintigste eeu het vir hulle sinloos geword, iets wat agtergelaat en moontlik selfs vergeet moet word.  ‘n Mens sien dit ook in die groeiende neiging van Afrikaanse ouers aan die Rand en in Pretoria-Oos om hul kinders na Engelse skole te stuur.  Hulle sê vir die ontslape vroue en kinders van die kampe:   “julle het verniet gely en gesterf.  Julle stryd was nutteloos.”  Toe Jopie Fourie oopoë gefussilleer is tydens die Rebellie het hy gesweer dat sy bloed die boom van sy volk sou benat en soet vrugte sou laat dra, maar ook hy was skynbaar verkeerd.  Die Afrikaner self het in die onlangse tyd hierdie boom afgekap.

Hoe het dit gebeur?  In ‘n onlangse pamflet beskryf die historikus Hermann Giliomee die “onoorwonne oorgawe” van die Afrikanerdom.  In 1902 het hulle materieel gesproke alles verloor, en het die kampe tot in die lewe van die volk ingesny, maar nogtans het mense gepraat van “verslaan, maar onoorwonne”.  Hulle is met ander woorde op die slagveld, en veral in die kampe oorwin, maar nie sielkundig nie.  In 1994 is hulle geensins militêr oorwin nie, maar psigologies het hulle die onderspit gedelf.  Dit was ‘n oorgawe soos wat die wêreld nog nie gesien het nie.  In die woorde van mnr. F.W. de Klerk, was dit ‘n “pynlike besluit”, maar wat nogtans geneem is:

“Die besluit om die reg op nasionale soewereiniteit prys te gee, is sekerlik een van die pynlikste besluite wat enige leier ooit gevra kan word om te neem.  Die meeste volke is bereid om die risiko van totale oorlog en ‘n katastrofe te loop eerder as om hierdie reg prys te gee.  Tog was dit die besluit wat ons moes neem.  Ons moes die noodsaak daarvan aanvaar om die ideaal wat ons van kindsbeen af troetel en die droom waarvoor soveel geslagte van ons voorvaders gestry het en waarvoor soveel van ons mense gesterf het, prys te gee.”[15]

In 1902 was daar volksmoord van buite; in 1994 was daar volkselfmoord van binne.  In ‘n privaatbrief skryf Breyten Breytenbach vir my die volgende:

Ons het eintlik 'n nogal rare historiese proses belewe: 'n duidelik herkenbare 'volk' het sienderoë verdwyn.”

Het die Afrikaner eenvoudig maar verdwyn soos ‘n figuur wat in die sand geskilder is, waarna die gety ingekom het om die lyne eers te laat vervaag en agterna heeltemal uit te wis?  Het dit wat begin het by Paardekraal en Majoeba eenvoudig in die supermarkte van Pretoria uitgesterf, waar mense gekies het om eerder Engelse verbruikers te wees as lede van die Afrikanervolk?

Terwyl Giliomee en ander die oorgawe en ondergang van die Afrikaner sien as ‘n gevolg van die swak onderhandelings van Afrikaners in die vroeë negentigerjare toe Roelf Meyer, Leon Wessels en Dawie de Villiers as’t ware ons toekoms weggeteken het, lê dit myns insiens veel dieper.  In ‘n neutedop was dit nie die eksterne faktore, die moeilike besluite, die internasionale druk, die halssnoermoorde in die swart woonbuurtes, die brand en opstand wat aand na aand op die wêreld se televisieskerms verskyn het, wat die destydse Afrikanerleierskap tot volkselfmoord gedwing het nie, maar ‘n inherente verandering by die Afrikaner self.  Vanaf die 1870s was daar ‘n stygende lyn in ons geskiedenis, amper soos ‘n aandeelprys wat geleidelik oor baie dekades opgaan en dan skielik binne enkele weke in duie stort soos wat die maatskappy bankrot speel hier in die negentigerjare.  Wat het in die maatskappy gebeur wat gemaak het dat Afrikanerdom Beperk bankrot gespeel het?

Die hoogtepunt van die Afrikaanse beweging was sekerlik in die sestigerjare, met die Sestigerbeweging in volle swang, Verwoerd aan bewind, volle indiensneming in Suid-Afrika, ‘n ekonomie wat teen 5% en meer per jaar groei, asook die revolusionêre agter slot en grendel ná die Rivoniaverhoor.  Enigiemand wat toe sou voorspel het dat Afrikanerdom binne dertig jaar gereduseer sou wees tot, in die woorde van die sosioloog Heribert Adam, ‘n “interne diaspora” wat soos vreemdelinge verstrooid woon tussen die egte burgers van Suid-Afrika, sou sekerlik gereken gewees het as ‘n kranksinnige.  En tog is dit wat gebeur het, vanaf die kruin van die Republiekwording op 31 Mei 1961 het ons geval tot die huidige toestand van vrees en onsekerheid, van selftwyfel en skuld.  Dit kan ‘n lang onderwerp word, die ondergang van die Afrikaner waaroor Milner, Kitchener en Rhodes in hul grafte seker ‘n vrolike kotiljons dans, maar ons kan dit as volg opsom:

Ongelukkig kon Afrikanerdekadensie nie op ‘n slegter tyd gekom het nie.  Die volk en sy kultuur was op ‘n mespunt gebalanseer tussen grootsheid en kleinlikheid, tussen Prometheusagtige moderniteit en ‘n terughunkering na landelike sekerhede.  As ons maar net beter leiers gehad het, maar helaas het die dekadente driemanskap en hul gevolg telkens reaksionêr opgetree.  Binne ‘n kort tydjie het dekadente Afrikanerdom die volgende gedoen:

Afrikanerdom het nie, soos in 1902, verloor omdat die vyand sterker en listiger was nie.  In 1990 was ons vyande swak. Ná die val van die  Berlynse muur was die ANC en die SAKP besig om weg te kwyn vanweë die omwenteling in die geledere van hul ou bondgenote, Oos-Duitsland en die Sowjet-Unie.  Ons vyande was swak, maar ons was nog swakker, en die swaksinnige onderhandelings in Kemptonpark het die kroon gespan op die verval en afdraand van twee dekades sedert Verwoerd se dood en die literêre hoogtepunt van die Sestigerbeweging.  Televisie en Amerikanisering het ons verder gerysmier totdat niemand meer omgegee het of hulle Afrikaans of Engels praat nie, en as hulle dit deurmekaar kan praat, dan nog soveel te beter.

Die goue kalf

Die Afrikaner sit vandag met ‘n geweldige identiteitskrisis, ‘n simptoom van sy dekadensie.  Onseker oor sy taal, sy geslag, sy geskiedenis, sy moraliteit, sy godsdiens of lewensuitkyk, kan hy hom net verwonder aan die vasberadenheid en beginselvastheid van sy voorouers.  Hoe het hulle dit reggekry om die wapen op te neem daar waar die moderne Afrikaner nie eens die pen kan opneem nie?  Hoe kon hulle ‘n taal ontwikkel daar waar ons nie eens een kan handhaaf nie?  Nêrens is die doodswens van die Afrikanerdom vandag sterker sigbaar as op taalgebied nie.  Oor die afgelope enkele jare het heelwat Afrikaners, moderne hensoppers, ander verbied om Afrikaans te praat of te skryf by die werk.  Daar was die Lukas Rautenbachgeval, maar ook dié van die Afrikaanse sakereuse wat uit die bloed en sweet van ‘n vorige geslag ontstaan het, en tans op die voorpunt staan van die aftakelingsproses.  Geen onderneming in Suid-Afrika doen meer om die land kultureel te koloniseer en te verengels as M-Net, wat ‘n Naspersfiliaal is nie.  Trouens, ‘n mens sou kon sê dat die Afrikaner-establishment gevorder het van dekadensie tot nihilisme.  Eers het hulle net Afrikaanse boeke verbied, nou sorg hulle dat hulle nie eens uitgegee word nie.  Eers was hulle onseker oor Afrikaans, nou verengels hulle voor die voet.

Dit is vandag algemeen om Afrikaners op straat en in winkels Engels met mekaar te hoor praat.  Ons het teruggekeer na die 1860s in die Kaap toe daar gevoel is die taal was te onbeskaafd om in die openbaar te praat.  Afrikaans verloor so vinnig veld dat dit gevaar loop om uit te sterf.  Dit is asof die aanval op die Afrikaanse moeder en haar kind deur die Britse Ryk nou eers begin vrug dra.  Deesdae kom ‘n mens in aanraking met Afrikaanse moeders wat hul kinders in Engels opvoed.  Op ‘n manier sterf so ‘n kind ook ‘n dood omdat hy daarmee afgesny word van twee milennia se verbintenis aan ‘n Germaanse taal.  Deur die najaag van status, hetsy geldelik, hetsy talig, sorg die dekadente Afrikaner dat hy die eeue-oue beginsel van getrouheid aan mens se taal, geloof of tradisie verloën.  Soos die Israeliete in Eksodus het Afrikaners vir hulle ‘n goue kalf gebou.

In Eksodus 32 lees ons, “Toe die volk sien dat Moses vertoef om van die berg af te kom, het die volk rondom Aäron versamel en vir hom gesê:  Kom, maak vir ons gode wat voor ons uit trek; want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons weet nie wat van hom geword het nie.

En Aäron sê vir hulle:  Ruk die goue ringe af wat aan die ore van julle vroue, julle seuns en julle dogters is, en bring dit vir my.

Toe het die hele volk die goue ringe afgeruk wat aan hulle ore was, en dit na Aäron gebring.

En hy het dit uit hulle hand geneem en dit met die bytel bewerk en daar ‘n gegote kalf van gemaak.  Daarop sê hulle:  Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het.”

Dit is die maklike uitweg om in oomblikke van vertwyfeling en leierloosheid vir jou ‘n afgod te maak, ‘n goue kalf waarvoor mens elke dag kan neerbuig.  Vandag is daar bier en rugby wat ook help om die aandag af te lei van die probleme waarvoor ons te staan gekom het.  In die literatuur oor nasionale konflikte in multi-etniese state, gaan die élite-groepe, juis omdat hulle materieel suksesvol is, byna nooit oor tot ‘n gewapende stryd nie.  Hulle glo dat hulle die agterlike groepe kan uitoorlê, of dat hulle ekonomies kan bly voortbestaan onder vyandige politieke régimes.  Maar dikwels begaan sulke élite-groepe ‘n groot fout, en word hulle uiteindelik òf uitgemoor òf verdryf uit hul geboorteland.  Die goue kalf bied dus net tydelike vertroosting.

Interessant in die Bybelverhaal oor die Israeliete en hulle goue kalf is dan die gebeure wat volg as Moses agterkom dat die volk afvallig geraak het.  Weer eens in Eksodus 32 lees ons:

“En toe hy naby die laer kom en die kalf en die koordanse sien, het die toorn van Moses opgevlam, en hy het die tafels uit sy hande gegooi en hulle onder die berg verbrysel.

En hy het die kalf geneem wat hulle gemaak het, en dit in die vuur verbrand en dit fyn gemaal.  Toe het hy dit op die water gestrooi en die kinders van Israel dit laat drink.”

Hierna volg ‘n burgeroorlog, want die stam van Levi het hulle rondom Moses versamel en daarna het hulle die res van Israeliete uitgedelg.  Moses rig dié verskriklike woorde tot die Leviete:

“So spreek die Here, die God van Israel:  Laat elkeen sy swaard aangord aan sy heup.  Gaan heen en weer van poort tot poort in die laer, en laat elkeen sy vriend en sy naaste doodmaak.

En die seuns van Levi het gehandel volgens die woord van Moses, en daar het van die volk op dié dag omtrent drieduisend man geval.”

Tant Miem Fischer se woorde in haar konsentrasiekampdagboek, dat sy eerder die verraaiers en die hensoppers sou wou doodmaak as die Engelse, is vandag weer vir ons relevant.  Só ook die proses van suiwering wat Moses en die Leviete met die swaard aangerig het aan Israel.  Hoewel ons dit vandag met die pen eerder as die swaard doen, want die pen is magtiger as die swaard, is ons die afgelope twee jaar reeds besig om die afvalliges in eie midde, diegene wat hul rug gekeer het op Afrikaans en die Afrikanergeskiedenis, te probeer uitdelg.  Soos baie mense uitgevind het, is daar ‘n woedende toon aan die Afrikaans wat ons deesdae skryf en praat; dit het ‘n taal vol donder en bliksem geword, amper iets uit die Ou Testament, uit die tyd van Moses.  Dit ly by my geen twyfel dat diegene met Afrikaanse harte weer eens sal seëvier oor hulle met Engelse harte of Hollandse harte nie, soos hulle nog altyd gedoen het.  Soms lyk dit net asof die geveg langer duur as wat dit behoort.

Een rede waarom die stryd vir Afrikaans en vir ons voortbestaan in hierdie land vandag so moeilik is, is omdat ons sit met ‘n pers wat eerder die goue kalf van multikulturalisme en politieke korrektheid aanhang, as beginsels wat Afrikanervoortbestaan sou verseker.  Dit is ‘n Kaapse pers, en ons weet dat Rhodes en Milner sommige Kaapse Afrikaners in die 1890s as hul goeie vriende beskou het.  Rhodes het egter gesê dat die Kaapse Afrikaners sy goeie vriende is, maar hy gebruik hulle, en as hy klaar met hulle is, dan smyt hy hulle weg.

Die doringboom

Maar so waar as padda manel dra, gaan ons nie toelaat dat die venietigingsproses voltrek word nie.  Vandag het ek as titel gekies “Die doringboom se les”, want benewens die merke van die doringdraad wat ons altyd aan die lyf sal voel, ook as dit kom by ons gebrek aan getalrykheid, is geen boom so eie aan Afrikaans en die Afrikaner soos die doringboom nie.  Dit is ‘n Afrikaboom, ‘n stekelige plant met sy eie skoonheid.  Dit is ook ‘n geharde plant.

‘n Mens sou jou egter nouliks ‘n boom kon voorstel wat die behoefte aan verdediging beter voorstel as die doringboom.  Altyd wys hy sy dorings na buite, ‘n bietjie soos die Afrikanerdom self wat sedert sy ontstaan nog altyd bedreig is deur die grote Empaaier of aanvallende swartes.  Tussen die waens van die laer, het die doringtakke beskerming gebied teen assegaaivalle, en daarsonder sou die laaste Voortrekker sekerlik uitgemoor gewees het.

Leipoldt het iewers gepraat van “die oudste doringboom in ons doringboomland”.  Meer bepaald is daar hier op Brandfort ná die verwoestende oorlog, op 1 en 2 Desember 1904 ‘n kongres gehou ná verskeie griewevergaderings regoor die provinsie, waar ‘n Boer by name J.J. Prinsloo opgestaan het en na die volk verwys het as ‘n doringboom.  “Die volk se taal is soos die bas van die doringboom. Trek jy die bas af, gaan die boom dood,” het hy bygevoeg.  Genl. Christiaan de Wet het self aan die einde van die Brandfortse Kongres kommentaar gelewer as sou hy niks oor die griewe aangaande kompensasie waaroor die kongres aanvanklik gereël is, te sê gehad het nie, maar oor taal en onderwys kon hy nie swyg nie. ”Kompensasie is ‘n saak van onuitspreeklike gewig, maar is nie in dieselfde skaal as taal en onderwys waarvan die toekoms van die volk afhang nie.”

Ander sprekers op die Brandfortse kongres het die taal beskryf as “die kern”, “die siel en lewe van die volk” en as “die teerste akkoord in die bestaan van die Afrikanerras”.  Op daardie stadium het die woorde “Dieu et mon droit” (God en my reg) verskyn op die Britse wapenskild wat op regeringsgeboue gepryk het, en mnr. D. Donaldson het bygevoeg dat hul taal hul heiligste reg was sodat Afrikaners daarop kon aandring dat Brittanje reg moes laat geskied aan die spreuk op die wapenskild.

Vermoedelik was dit hierdie skerpsinnige opmerking wat as’t ware uit die volk self na vore getree het met die opmerking deur J.J. Prinsloo op Brandfort, wat gelei het tot Totius se bekende gedig wat ek en u almal op skool geleer het in die dae toe daar nog Afrikaanse skole was:

Vergewe en vergeet

Dat gij niet vergeet de dingen die uwe

Ogen gezien hebben – DEUT. 4:9

 

Daar het ‘n doringboompie

vlak by die pad gestaan,

waar lange ossespanne

 met sware vragte gaan.

 

En eendag kom daarlanges

‘n ossewa verby,

wat met sy sware wiele

dwars-oor die boompie ry.

 

“Jy het mos, doringstruikie,

my ander dag gekrap;

en daarom het my wiele

jou kroontjie plat getrap.”

 

Die ossewa verdwyn weer

agter ‘n heuweltop,

en langsaam buig die boompie

sy stammetjie weer op.

 

Sy skoonheid was geskonde;

sy bassies was geskeur;

op een plek was die stammetjie

so amper middeldeur.

 

Maar tog  het daardie boompie

weer stadig reggekom,

want oor sy wonde druppel

die salf van eie gom.

 

Ook het die loop van jare

die wonde weggewis –

net een plek bly ‘n teken

wat onuitwisbaar is.

 

Die wonde word gesond weer

as jare kom en gaan,

maar daardie merk word groter

en groei maar aldeur aan.

 

Die merk waarna Totius verwys het, was natuurlik die merk van hierdie kampe, van die verskroeide aarde-beleid, en van die gepoogde vernietiging van ‘n Afrikaanse volk deur gedwonge verengelsing.  Maar die boompie het weer gesond geword, al was dit hoe moeilik, en hoe langsaam.  In die aanloop tot die Brandfortkongres van 1904 het ‘n briefskrywer in die koerant De Vriend die volgende beweer:

 Die volk is deur die oorlog soos ‘n graankorrel in die aarde gelê en was sterwend en ‘n mens het gedink dat dit tot niet is, maar goddank,  die volk vertoon lewe -  ‘n Nasionale lewe, sonder enige erkende leier of voorman anders as die Brandfortse Voorlopige Komitee.

Te Brandfort sal ‘n mens die eerste geluid hoor van ‘n doodgewaande volk, ‘n snik, dat die volk tot lewe teruggekeer het.”

Ook Hertzog was teenwoordig op Brandfort, en deur resolusies teen die imperiale taalbeleid is die grondslag gelê vir latere eise vir tweetaligheid en die erkenning van Afrikaans as amptelike taal.

Die vraag is vandag:  wat het ons nodig om weer, soos op Brandfort in 1904, te kan herlewe, vir die doringboompie om te kan opstaan?  Nou onlangs het spreker ‘n brief gerig aan President Thabo Mbeki, die held van die Brandfort van drie jaar gelede waarin hy gevra is om in te gryp om ons huidige grondwet gestand te doen, en Afrikaans as amptelike taal te herstel.  Ten minste in 1904 het die Britse owerheid ag geslaan op die Brandfortse kongres, want ‘n antwoord is van Londen ontvang.  Helaas, is geen antwoord nog van sy eksellensie in die Presidensie verkry nie.

Die nuwe lords

Dit wil daarom voorkom asof die hedendaagse verteenwoordigers van die ryksgedagte baie vernamer geword het as dié van honderd jaar gelede.  Hulle verwerdig hulle nie meer om op die skriftelike vertoë van hul onderdane te antwoord nie, al is dit dan een of ander niksseggende ontwyking.

Vandag, meer as ooit, leef in ons in die epog van die lords.  Volgens die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, is ‘n “lord”, benewens ‘n Britse adellike, “’n manlike persoon wat optree asof hy ‘n hoë sosiale status geniet en betreklik gemaklik lewe of nie handearbeid verrig nie:  Hy is te veel van ‘n lord om sy hande vuil te maak.”

Daar is deesdae soveel belangrike mense in Suid-Afrika dat ‘n mens jou verwonder dat iemand in ‘n staatsdepartement nog soms ‘n telefoon beantwoord.  En wanneer hulle dit doen, is dit in die taal van die Ryk, soos wat lord Milner dit vereis het.  Die verstommende geheueverlies wat die land getref het in 1994 toe alle kennis van Afrikaans skielik verdwyn het, sal miskien eendag die onderwerp wees van ‘n neurologiese studie.

Daar is diegene wat beweer dat ons nie meer die reg op ons taal het aan universiteite en in die howe nie, omdat ons so min geword het.  As ‘n getalleminderheid is ons veronderstel om ons plek te ken, so asof demokrasie een of ander vorm van etniese sensus sou wees.  ‘n Mens wonder of ‘n land soos Nigerië in die toekomstige Afrika-Unie drie keer soveel regte as Suid-Afrika gaan geniet, omdat hy oor ‘n bevolking van 120 miljoen beskik?  Die ryksgedagte wat vir Brandfort se kampe verantwoordelik was, onderlê steeds die onderdrukking van Afrikaans vandag, die beleid om ons te wil assimileer en te integreer in die nuwe Empaaier van Afrika.

Maar Afrikaners is geen gewone minderheid nie.  In sy boek A study of history, praat die historikus Arnold Toynbee van “skeppende minderhede” wie se tog na selfbeskikking die dryfveer agter die ontstaan van beskawings verskaf.  Wanneer die toestand van ‘n universele staat of Ryk bereik word, volg daar ‘n geleidelike agteruitgang en verval.  Die geskiedenis van Suid-Afrika leen hom tot ‘n Toynbeaanse analise.  Die verstommende ontwikkeling en ekonomiese vooruitgang in Suid-Afrika, asook die kulturele opbloei van Afrikanerkultuur in die twintigste eeu, kan beskryf word as een van die weinige beskawings wat Afrika suid van die Sahara nog ooit voortgebring het.  Die oorplanting van Europese beskawings op die vasteland deur koloniale moondhede het hoofsaaklik gefaal.  Zimbabwe was een van die laaste Afrikakolonies wat iets van sy vorige struktuur en ekonomiese dinamisme behou het, maar het onlangs ineengeplof om terug te keer tot ‘n land wat voedselhulp benodig, en waarskynlik sal benodig vir die afsienbare toekoms soos wat eurosentriese organisasie vir goed begin wyk voor die terugkeer na die oorsprong.

Die les van die Tweede Vryheidsoorlog is dat Suid-Afrika op daardie stadium, danksy die Afrikanerprojek, lank nie meer ‘n kolonie was nie.  Gedurende die twintigste eeu is die land met die skeppende minderheid Afrikaners aan die spits, voorsien van ‘n uitgebreide infrastruktuur en nywerheidsomwenteling rondom staal- en petrochemiese bedrywighede.  Dit alles is gedryf, nie deur die gierigheid van ‘n koloniale moondheid in Londen of Parys nie, maar deur die Afrikanerdom se smagtende strewe na die selfbeskikking wat hom ontneem is in 1902.  In Toynbee se terme, het Afrikaners egter gevorder van skeppende minderheid na oorheersende minderheid iewers in die sewentigerjare toe dit begin dekadent raak het.  ‘n Skeppende minderheid handhaaf hom deur ‘n voorbeeld te stel aan sy proletariaat, wat poog om hom na te boots.  Die tuislande was inderdaad ersarz nabootsings van Boererepublieke.  Toe die Afrikanerdom egter oorheersend begin raak, het hy die res van die land van hom vervreem, en hierna het ‘n betreklike kort periode van handhawing deur mag gevolg.  Volgens Toynbee is dit een van die tekens van ‘n beskawing se verval:

“in die geskiedenis van enige samelewing, as ‘n skeppende minderheid verval in ‘n oorheersende minderheid wat poog om deur mag ‘n posisie te behou wat dit nie meer verdien nie, dan lok hierdie verandering in die regerende element die sesessie van sy proletariaat uit wat nie meer sy heersers bewonder en naboots nie, en in opstand kom teen sy oorheersing.

...die aard van die ineenstorting van beskawings kan in drie punte opgesom word:  ‘n mislukking van skeppende krag in die minderheid, ‘n onttrekking van nabootsing deur die meerderheid in antwoord daarop, en ‘n gevolglike verlies aan sosiale eenheid in die maatskappy as geheel,” [17] aldus Toybee.

In Suid-Afrika was daar egter ook nabootsing van die ryksgedagte ter sprake, en Afrikanernasionalisme het as’t ware in mededinging met die Britse Ryk ontwikkel.  Noudat die Afrikanerdom sy skeppende krag verloor het, is die ryksgedagte besig om oor te neem, in die uur van agteruitgang.  Die nuwe lords sal probeer om hul eie ryke te vestig, net soos die Britse lords, maar sal faal, waarna die wanorde en geweld, wat die afgang en verval van alle beskawings tot dusver gekenmerk het, sal toeneem.

Maar dit hoef nie so te gebeur nie.  Die verstommende van skeppende minderhede is dikwels dat hulle in staat is om die bomenslike te verrig.  Niemand het vandag meer hoop vir Afrika nie, behalwe vir siniese hulpprogramme wat ‘n poging is om die migrasie van Afrikane na Wes-Europa en Noord-Amerika te stuit deur ‘n minimum plaaslike oorlewing te verseker.  Die feit dat beduidende getalle Afrikaners egter steeds aanbly in Suid-Afrika is ‘n aanduiding dat alle hoop op herstel van die vorige beskawing nie vergeefs is nie.  Die verengelsde Afrikaner J.M. Coetzee wat in ‘n roman die einde van die beskawings- en kersteningsproses in Suid-Afrika aangekondig het, met die woorde, “sendingwerk, wat het daarvan oorgebly, daardie reusetaak van opheffing?  Niks wat hy kan sien nie.” het na Australië geëmigreer, asof hy sodoende die boodskap van sy roman Disgrace gestand wou doen.

Afrikanergenie

Ons leef in ‘n tyd van groot pessimisme, van die ryk se laaste dae.  Die rykdom en welvaart wat geskep is in Suid-Afrika word tans verbruik.  Dit is veral te bespeur in die agteruitgang van plattelandse dorpe.  Dit is voorstelbaar dat Brandfort iewers in die toekoms nie meer Brandfort sal heet nie, dat daar slegs murasies van die huise sal oorbly, dat niemand meer sal weet wat hier gebeur het nie, nie in die konsentrasiekamp nie, nie in 1904 nie, en ook nie op 31 Mei 2002 nie.  Wat sal die aftakeling stuit?

Die filosoof Nietzsche het heelwat te sê gehad oor die wil.  In Afrikaans het ons die gesegde, “waar ‘n wil is, is ‘n weg”.  Vandag kan mens eerlikwaar nie sê of Afrikaners oor die wil om voort te bestaan beskik nie, maar ten minste het hulle die talent om dit te kan doen.  Die skeppingskrag wat Suid-Afrika uit die niet laat verrys het, kan weer opgewek word.

Deur die eeue heen was daar twee maniere waarop alle volke hul voortreflikheid besing het waarmee hulle hul mense wou inspireer om deel te neem aan ‘n nasionale taak.  Die een was die idee van uitverkorenheid wat sedert die Israeliete verby die Franse Johanna van Arkel gevorder het tot by Bloedrivier en die Gelofte.  Op 16 Desember 1838 was die Afrikaners die uitverkore volk, maar dit wil lyk asof ons nie meer die guns van God geniet nie, want ons bevind ons opnuut in ‘n Egipteland waar ons verkneg word, waar ons toestemming moet vra om Afrikaans te praat, waar ons vroue en selfs jong kinders verkrag word, waar ons besteel word en verguis word in die staatsbeheerde media.

Daar is egter ‘n tweede siening van ‘n nasie, behalwe dié van uitverkorenheid, en dit is dié van genie en van genius, die eie aard.  Jean-Jacques Rousseau het gesê dat elke volk ‘n karakter het, en dat aan ‘n volk sonder ‘n eie aard een gegee moes word.  Afrikaners is ‘n unieke groep mense, van Europese afkoms maar wat eie is aan Afrika.  Net om daardie rede verdien ons om voort te bestaan.  Maar in ‘n meer fundamentele sin, glo spreker in die genie van die Afrikanervolk.  As ‘n mens terugkyk op die twintigste eeu, na die groot hoeveelheid boeke wat hierdie klein groepie mense geskryf het, na ons vooruitgang op wetenskaplike gebied, na ons skilders en musici, dan skreeu dit ten hemele dat ons moet ondergaan, en as verstrooide individue verwelg moet word deur die Ryk wat ons so hard beveg het, hetsy die globale ryk, hetsy die mini-empaaier van die nuwe Suid-Afrika met sy folies de grandeur, sy pretensies om rykshoofstad van Afrika te word.  Ses uit elke tien toppresteerders in die matriekeindeksamen is Afrikaners, hoewel ons iets soos vyf persent van die bevolking uitmaak.  Sê dit nie vir ons iets nie?  Volgens kenners beskik ons oor die beste skole ter wêreld, waar ons weer eens die Afrikaanse kultuur sou kon oordra aan ons kinders indien die ryksadministrateurs nie so swaar op ons geleun het nie.  Moet ons avontuur hier eindig?

Afrikanergenie is ‘n faktor wat niemand nog in berekening gebring het in Suid-Afrika nie.  As ons ons kognitiewe voorsprong sou inspan teen ons vele vyande, is ons verseker van oorwinning.  Wat die skeppende minderheid tekort skiet aan getalle, maak hy op in intelligensie.  Daar is meer intellektuele in Afrikaans, meer skrywers, meer dramaturge en filosowe, as in die res van die land saam.  Revolusies word deur intellektuele gekonsipieer en uitgevoer.

In die Woordeboek van die Afrikaanse Taal word “genie” omskryf as ‘n “uitsonderlike geestelike begaafdheid, skeppingskrag en oorspronklikheid wat iemand wat daarmee bedeel is tot buitengewone prestasies op die gebied van die skeppende aktiwiteit in staat stel.”

Oor die afgelope tweehonderd jaar het ons vele genieë voortgebring, mense soos Piet Retief, Andries Petorius, Hendrik Potgieter en ander Trekkerleiers, die Boeregeneraals, waarvan sommige later groot staatsmanne geword het.  Iemand soos Smuts wat maar eers op die ouderdom van twaalf in ‘n plaasskooltjie begin skoolgaan het, het later die wêreld aan sy voete gehad.  Vir ‘n eeu lank het ons konstant skrywers en denkers van ‘n hoë standaard voortgebring, daar waar selfs groot lande nie daartoe in staat was nie.  Buitelanders beaam dat die vlak van musiekkultuur onder Afrikaners vergelyk met dié van die Duitsers.

Vryheid

Iemand het onlangs gesê dat Afrika besaai lê met modelgrondwette.  Die ou Sowjet-Unie het ook ‘n pragtige grondwet gehad, maar dit het nie sy leiers, veral Lenin en Stalin, verhoed om twintig miljoen mense te laat doodmaak nie, ook veral in strafkampe, die berugte goelags.  Solsjenitsin het boeke daaroor geskryf.

U weet en ek weet, dat ons vandag nie vry is nie, al is daar ‘n liberaal-demokratiese grondwet in Suid-Afrika, al het ons sogenaamd stemreg en vryheid van spraak.  Teenoor die sensuur van die ou Suid-Afrika, het ons nou selfsensuur.

Ons sal weer ons vryheid terugkry, maar nie met geweld en terreur soos die sogenaamde vryheidsbewegings van Afrika nie.  Ons is die vredemakers van Afrika.

Ons gaan nie nog ‘n oorlog in Afrika begin om ons vryheid te herwin nie, al het ons waarskynlik die volste reg om dit te doen.  Die Kanadese kritikus van nasionalisme, Michael Ignatieff, wat oor etniese konflikte skryf, het opgemerk:

“Waar etniese minderhede onderwerp is aan werklike tirannie, waar taal en kultuur werklik onderdruk is, is nasionale herlewings, selfs nasionalistiese opstande, beide onvermydelik en geregverdig.”[18]

Dat Afrikaans vandag in staatsdepartemente verbied word, dat Afrikaanse skole en universiteite gedwing word om te verengels, dat ons kultuur in ‘n geheel en al ongelyke verhouding teenoor die Engelse kultuur staan in Suid-Afrika, kom neer op ‘n oorlogsverklaring aan die Afrikaner.

Ons is die mees vredeliewende volk in Afrika, wat nog altyd onder groot provokasie van die koloniale moondheid vrede nagestreef het.  Beide Jan Smuts en Paul Kruger het uit hul pad gegaan om tydens die Bloemfonteinse konferensie met Milner die oorlog waarop laasgenoemde vas besluit het, af te weer.  Toevallig het die konferensie ook begin op 31 Mei 1899, en is dit ses dae later minagtend deur Milner beëindig.  Toe oorlog egter onvermydelik geword het, is dit geveg tot aan die bittere einde toe.

‘n Vorige staatspresident, een van die dekadente driemanskap, het twintig jaar gelede op ‘n stadium gewaarsku dat die tier in die Afrikaner sou wakker word.  Veel eerder is die muis in die Afrikaner opgewek oor die afgelope dekade of so.  Maar miskien het hy die verkeerde metafoor gebruik.  Daar is geen Bengaalse tiere in Afrika nie.  Maar daar is leeus.  En ons weet die leeu is die koning van Afrika.

Ons het reeds leeus onder ons gehad.  Daar was genl. Koos de la Rey, die Leeu van Wes-Transvaal.  Die leeu is ‘n moedige dier wat respek afdwing, al jag hy in klein troppe.  Ons het nog altyd teen ‘n oormag geveg, van Bloedrivier tot Cuito Canavale, en nog altyd het ons bo uitgekom, behalwe toe Engeland die vroue en kinders begin doodmaak het.

Daar is vandag baie lords in Suid-Afrika, selfversekerde mense wat bewus is van die eie mag en aansien.  Maar as die Boerekommando opstyg oor die veld, dan weet almal wat dit beteken.  En dan sal hulle hardloop soos hulle nog altyd gehardloop het.

As daar ‘n Derde Vryheidsoorlog geveg moet word, al is dit deur ‘n volgende geslag, sal die Afrikaner weer wakker word, want van ouds af is ons ‘n leeuevolk.  Maar soos gesê, ons gaan nie nog een van Afrika se vele gewapende konflikte begin nie; ons is die vredemakers.  Daar mag egter ‘n tyd en ‘n uur aanbreek wanneer dit onvermydelik sal word, en waar die beginsel van selfverdediging sal geld, en waar ons aan ander sal doen soos hulle aan ons doen.

Toorn, toorn teen die lig se doodgaan

Dylan Thomas het woedend geskel teen die dood toe hy gesê het, “Do not go gentle into that good night.  Rage, rage against the dying of the light”.   Moenie saggies daardie heerlike nag ingaan.  Toorn, toorn teen die lig se doodgaan.

Soos die vroue van die konsentrasiekampe, moet ons ons woede oor die onreg wat ons beleef nog eens konstruktief aanwend, dit omvorm tot ‘n staalharde wil.

Ons moet die hensoppers in eie geledere uitdelg soos Moses dit gedoen het, nie met die swaard nie, maar met die pen.

Ons moet nie meer tevrede wees om terug te staan vir ander nie, en moet onsself laat sien en hoor.

Ons moet weer ons simbole terugvind, soos die Oranje-blanje-blou vlag.

Ons moet weer Die Stem sing, sonder om ons te steur aan die smaad en die laster van ander wat self nog nooit ‘n volkslied kon komponeer nie.

Ons moet weer boeke skryf, boeke wat die wêreld aan die praat sal sit.  Soos Van Wyk Louw voorgestel het, moet ons ons eie “isme” die wêreld in stuur.

Ons moet nie langer ons ondergeskiktheid aanvaar nie, en aandring op ons regte, op alle gebiede.

Ons moet veral nie skuldig voel oor ons verlede nie, want ons het ‘n trotse en ‘n heroïese verlede, anders as die meeste volke in Afrika, en in Suid-Afrika.

Ons moet weer kies om in die land te bly, eerder as om soos kolonialiste weg te hardloop.

Ons moet weer Afrikaans in die openbaar praat, sonder skaamte of minderwaardigheidsin.

Ons moet ophou om hulle te verloën wat in die verlede alles opgeoffer het sodat ons vry kan wees. 

Ons moet weer standaarde stel in Suid-Afrika, want as ons dit nie doen nie, wie sal dit doen?

Ons moet losbreek uit die greep van dekadensie en sonder preutsheid of konserwatisme weer lewe volgens Afrikanerwaardes.

Ons moet ons vryheid terugwen, soos ons dit al twee keer vantevore gedoen het.

Ons moet weer waag om onsself te wees.  Ons, die doringboomvolk.

Ons sal lewe, ons sal sterwe.  Ons vir jou Suid-Afrika.

 

Bibliografie

Celliers, Jan F.E.  Bloemlesing uit die gedigte van.   Johannesburg:  Afrikaanse Pers-Boekhandel, 1948.

De Wet, C. R.  Die stryd tussen Boer en Brit – herinneringe van die Boere-generaal.  Kaapstad:  Tafelberg, 1999.

Fischer, Tant Miem... se Kampdagboek Mei 1901 – Augustus 1902.  Pretoria:  Protea Boekhuis, 2000.

Giliomee, Hermann.  Onoorwonne oorgawe.  Orania: Epog, 2002.

Hillesum, Etty.  De nagelaten geschriften van Etty Hillesum, 1941-1943.  Amsterdam:  Uitgeverij Balans, 1986.

Hobbes, Thomas.  Leviathan.  Londen:  J.M. Dent, 1949.

Ignatieff, Michael.  The warrior’s honour – ethnic war and the modern conscience.  New York:  Metropolitan Books, 1998.

Louw, Chris.  Ope brief aan Willem de Klerk.  Johannesburg:  Praag, 2000.

Naipaul, V.S.  A bend in the river. Londen:  André Deutsch, 1979.

Nietzsche, Friedrich.  Sämtliche Werke – Der Wille zur Macht.  Stuttgart, Alfred Kröner Verlag, 1964.

Opperman, D. J.  Negester oor Ninevé.  Kaapstad:  Nasionale Pers, 1947.

Steyn, J.C. in “Die taalstryd na die Anglo-Boereoorlog”, bydrae op LitNet http://www.litnet.co.za.

Toynbee, Arnold.  A study of history, vol. 1.  Londen:  Oxford University Press, 1960.



[1] Sien Louw, Chris.  Ope brief aan Willem de Klerk.  Johannesburg:  Praag, 2000.

[2] “We must appeal to England, and ask the sisters and daughters of those who have been fighting for the Empire to come out and complete that part of the work which their male relatives are unable to accomplish. Our military police had gathered the greater part of the child population into these camps and ... I feel that the opportunity during the next year of getting them all to speak English is golden”.  Aangehaal deur Steyn, J.C. in “Die taalstryd na die Anglo-Boereoorlog”, bydrae op LitNet http://www.litnet.co.za.

[3] Celliers, Jan F.E.  Bloemlesing uit die gedigte van.   Johannesburg:  Afrikaanse Pers-Boekhandel, 1948, bl. 118.

[4] De Wet, C. R.  Die stryd tussen Boer en Brit – herinneringe van die Boere-generaal.  Kaapstad:  Tafelberg, 1999.

[5] Pretoria:  Protea Boekhuis, 2000.

[6] ibid., bl. 119.

[7] Hillesum, Etty.  De nagelaten geschriften van Etty Hillesum, 1941-1943.  Amsterdam:  Uitgeverij Balans, 1986, bl. 623.

[8] op. cit., bl. 84.

[9] ibid., bl. 86.

[10] op. cit., bl. 620.

[11] Opperman, D. J.  Negester oor Ninevé.  Kaapstad:  Nasionale Pers, 1947, bl. 28.

[12] Naipaul, op.cit., bll. 88-89.  Londen:  André Deutsch, 1979.

[13] cf. ibid., bl. 90.

[14] Hobbes, Thomas.  Leviathan.  Londen:  J.M. Dent, 1949, bll. 64-65.

[15] De Klerk, F.W., soos aangehaal deur Giliomee, Hermann.  Onoorwonne oorgawe.  Orania: Epog, 2002.

[16] Nietzsche, Friedrich.  Sämtliche Werke – Der Wille zur Macht.  Stuttgart, Alfred Kröner Verlag, 1964, bl. 30.

[17] Toynbee, op.cit., band 1, verkorte weergawe, bl. 246.

[18] Ignatieff, Michael.  The warrior’s honour – ethnic war and the modern conscience.  New York:  Metropolitan Books, 1998, bl. 59.