Die Toekoms van Saampraat oor en in Afrikaans

Hermann Giliomee

            Die vergadering van die Groep van 63 vergadering gehou op 22 Junie 2002 op Stellenbosch was een van daardie gevalle van:  ‘Jy moes daar gewees het…’Soveel kommentaar is op die vergadering gelewer, veral deur mense wat nie daar was nie, dat die wat wel daar was later gewonder het of hulle dieselfde vergadering bygewoon het.

  Nietemin was die vergadering en die persverklaring wat uitgereik is, in verskeie  opsigte polities betekenisvol. As die persoon wat op die vergadering gevra is om die persverklaring op te stel en aan die pers beskikbaar te stel, wil ek graag my indrukke meedeel.

Die persverklaring kan elders op die Groep van 63 se webblad gevind word.  In `n neutedop spreek dit groot kommer uit oor die regering se voorneme om parallelmedium op al die Histories Afrikaanse Universiteite af te dwing.

 Algemene skakeling

Ek het `n kopie van die persverklaring per e-pos gestuur na die kantore van die President, die Adjunk-President en die Minister van Onderwys. Die President se segsman, Bheki Khumalo, het flink gereageer en onderneem om dit dadelik onder sy aandag te bring. Geen antwoord is ontvang van die kantore van die Adjunk-President en die Minister van Onderwys nie. Omdat ek verneem het dat oud-President De Klerk eersdaags prof Kader Asmal privaat sou ontmoet, het ek `n kopie aan die F.W. de Klerk Stigting gestuur met die versoek dat mnr De Klerk die persverklaring na goeddunke hanteer.

            Wat die buiteland betref, het ek die verklaring na die Oorlegplatform van Vlaamse Verenigings gestuur, wat vinnig gereageer het. Ek het aan die vereniging die epos-addresse van die bogenoemde politici gestuur met die voorstel dat hulle in enige reaksie veral van die Vlaamse ervaring van parallel-medium melding maak. `n Kontak wat ek het by die BBC se Afrika-diens stel belang om verslag te doen oor die aangeleentheid.  Ek het ook kontak gemaak met kennisse wat vir Britse blaaie skryf om hulle op hoogte te bring.

            Ek het `n kopie gestuur aan die Rektor van US, wat my vir `n informele gesprek in sy kantoor uitgenooi het. Ek kon die geleentheid gebruik om op te merk dat daar nie sprake was van skerp persoonlike kritiek op hom op die vergadering nie, soos wat `n persberig dit wou hê. Ons gesprek het gegaan oor die proses vorentoe.  Ek het die mening uitgespreek dat Afrikaans net sal oorleef as sekere instansies verantwoordelikheid daarvoor neem en dat die rol van die Histories Afrikaanse Universiteite, en Stellenbosch in die besonder, deurslaggewend sal wees.   

Die Rektor het opgemerk dat hy enige voorstelle van die Groep sal verwelkom as deel van die beleidmakingsproses waarmee US op die oomblik besig is.

Persdebat

Ek het die dadelik die verklaring wat deur die vergadering aanvaar is vroeg die Sondagoggend na Die Burger se adjunk-redakteur en later in die week ook na die redakteur van Rapport gestuur (Ek het nie een na Beeld  of Die Volksblad gestuur nie omdat ek gedink het Die Burger sou dit outomaties deurstuur).  Die Burger het die verklaring nie gepubliseer nie, maar in `n berig in die uitgawe van 24 Junie is daar in `n kort paragrafie daarna verwys.  My verslag hier onder oor die pers het net op Die Burger en Rapport betrekking 

           Die kommentaar  in die redakteursrubrieke in Die Burger en Rapport onderskeidelik was hoofsaaklik ongunstig oor die Groep en sy Stellenbosch vergadering. Miskien was dit deels beinvloed deur `n lesersbrief van Willie Esterhuyse aan Die Burger waarin hy verwys het na ‘oorwegend wit aktiviste wat `n aggressiewe beeld van Afrikaans skep en die indruk wek dat konfrontasie (tot in die konstitusionele hof) gesoek word.’  Hierdie brief is voor die Groep van 63 vergadering geskryf en die aanknooppunt was waarskynlik kritiek (onder meer in my rubriek in Die Burger en Beeld) op `n artikel deur Prof. Chris Brink, die Rektor van US, oor taalbeleid, wat deur Die Burger koerant as US se taalvisie’ aangebied is. (Dit was nie Prof. Brink se eie opskif nie)

            In `n rubriek in Die Burger van 28 Junie het Leopold Scholtz (een van die sprekers op die Stellenbosch-vergadering) met verwysing na die taaldebat geskryf dat die Afrikaanse gemeenskap sy streep by Stellenbosch moet trek. In die volgende dag se uitgawe het die ‘Dawie’ rubriek (Die Burger 29 Junie) ongunstig hierop gereageer en ook sterk kritiek uitgespreek op die Stellenbosch vergadering. Dit word vergelyk met `n klomp ‘wilde honde’ wat op die taaldebat  toegesak het en daar word gesuggereer dat die vergadering `n fyn georkestreerde poging van mense van elders was.

Rapport het nie oor die vergadering gerapporteer nie, maar `n opvolgberig die volgende Sondag gehad onder tendensieuse opskrif “Wit akademici moet nie ‘nasionalisme’ bysleep; Vuiste vir Afrikaans vervreem bruines’.  Hein Willemse word prominent aangegehaal: “Die taaldebat word in wese `n front waarmee `n stel politieke en sosiale afkere met die huidige Suid-Afrika veronderstel word.” Daar het `n oorsigartikel deur Johan Vosloo oor die ‘Stryd onder die Eike’ verskyn wat die verklaring wat uitgereik is geignoreer het.

In `n kritiese lesersbrief en redakteursrubriek in Rapport is daar negatief reageer op die verwysing op die vergadering na paralelle met Soweto 1976. Jaap Durand het in `n lesersbrief daarna as ‘oorlogspraatjies’ verwys.  In die persverklaring word op die volgende wyse na Soweto verwys:   

 

Die Groep van 63 spreek sy ernstige kommer uit oor die uitsprake van mnr Kader Asmal, Minister van Onderwys oor taalbeleid aan universiteite en wil die regering vriendelik vra om die lesse van Soweto 1976 in gedagte te hou en bedag te wees op die die gevare verbonde aan die afdwing van `n ongewilde en later gehate taalbeleid op instellings met al die risiko’s wat dit vir die land se stabiliteit inhou.  Die vergadering beskou dit as absurd dat ons regering studente vra om Spaans te leer ten einde  vir die mediese beroep in Kuba te studeer, maar dit as onvanpas beskou dat studente in Afrikaans vaardig raak ten einde Medies aan US te studeer

 

 

So het daar `n hele debat in die Afrkaanse pers ontstaan oor `n persverklaring wat wel later in The Citizen gepubliseer is (danksy die bemiddeling van Van Zyl Slabbert, `n Groep van 63 beskermheer) maar nie in `n Afrikaanse koerant nie.

Sommige van die persbespiegelings oor die vergadering is uit die lug gegryp. In die ‘Dawie’ rubriek in Die Burger van 29 Junie word verwys het na ‘fyn georkestreerde’ poging deur mense van elders om die taaldebat op Stellenbosch te kaap. Al probleem is: dit is nie waar nie. Die vergadering is belê lank voor die debat oor taalbeleid op Stellenbosch aktueel geword het en nie een van die sprekers op die vergadering het spesifiek na die Stellenbosch-taalkwessie verwys nie. Nietemin verwys ‘Dawie’ op 29 Junie na ‘wilde honde’ wat op die kwessie toegesak het --taal wat Die Burger twintig jaar gelede selfs nie teenoor die ANC of die wit ver regses sou gebruik het nie.

Die aantyging dat ‘wit akademici nasionalisme bysleep’ sal vreemd voorkom vir die wat wel die vergadering bygewoon het. Danie Goosen, Voorsitter van die Groep van 63’ het in sy toespraak op 22 Junie Afrikaner nasionalisme in sterk taal begrawe. Sy woorde was ‘Watter morele oordeel `n mens ook daaroor mag vel, die feit bly staan: die mite van Afrikanernasionalisme …is uitgedien.’

Die ander sprekers het eweneens prikkelende bydraes gelewer oor die wyse waarop die Afrikaanse taalgemeenskap, inklusief gedefinieer, die Afrikaanse geskiedenis en die meer onlangse verlede sinvol kan hervertolk binne die konteks van globalisme en `n demokratiese Suid-Afrika. Soos Danie Goosen dit gestel het: ‘Die Groep van 63 vra na nuwe simbole en nuwe mites in terme waarvan die Afrikaanse gemeenskap op `n skeppende wyse vir homself en sy wereld kan intree. Afrikanernasionalisme is `n dooie mite.  Dit moet met nuwe mites vervang word.’

            Sonder hierdie nuwe mites en nuwe simbole is die taak om Afrikaans in die nuwe demokratiese opset as publieke taal te bevorder en `n nuwe geslag daarvoor te inspireer `n haas onbegonne taak. En tog het Die Burger(met die uitsondering van Leopold Scholtz se rubriek) en Rapport grootliks negatief op die vergadering gereageer. Die laaste afdeling van hierdie artikel probeer hiervoor `n verklaring te soek. 

Moontlike verklarings vir die ongunstige redaksionele kommentaar

 

Daar is twee moontlike verklarings:

·        Die Groep van 63 en ander kultuurorganisasies word as ongeskik vir die taak van taalbevordering beskou

·        Suid-Afrika is nie werklik ryp vir ongestruktureerde opposisie politiek nie

 

(a) die ‘ongeskiktheid’ van die Groep van 63

Dit is my indruk dat senior redaksielede van die koerante van mening is dat die aktiwiteite van die Groep van 63 nie veel aandag verdien nie. Daar word gesê dat die koerante nie ‘veldtogjoernalistiek’ wil ‘pleeg’ nie.

 Die Groep van 63 het van die begin met sy beeld in die Afrikaanse pers gesukkel. Die Groep en Dan Roodt se PRAAG word oor een kam geskeer. Met sy keuse van beskermhere soos Van Zyl Slabbert, David Welsh en Lawrence Schlemmer en Johan Degenaar (die ander twee is ekself en Dioné Prinsloo) het die Groep tog duidelik `n bepaalde vlag, wat onteenseglik liberaal is, gehys.  Die Groep het `n heeltemal ander styl en werkmetode as PRAAG ontwikkel het: n besadigde versus robuuste styl en debat en ontleding versus openbare aksies of demonstrasies.  (Dan Roodt het egter ook indringende analises geskryf, veral sy bydrae tot die rassisme debat en het `n besondere talent vir satire--`n literêre vorm waarin daar `n groot behoefte is).   

`n Voormalige skrywer van die rubriek Pollux in Rapport het nietemin knaend  meedoënloos die indruk probeer skep dat die Groep, konserwatief, reakasionêr en polities onverantwoordelik is. Hierdie pogings het later selfs `n bisarre omvang aangeneem, maar dit het klaarblyklik by sommiges bly steek. Daar is ongetwyfeld `n persepsie dat die huidige ‘taalstryders’ of ‘taalbulle’ nie die nodige demokratiese ‘credentials’ het om oor die taalsaak te praat nie. Willie Esterhuyse het die negatiewe houding onlangs so verwoord:

 

“As die mense wat nou so passievol vir behoud van Afrikaans is in die verlede net so passievol geveg het vir rasseverhoudings, diversiteit en menswaardigheid, het hulle nie nou nodig gehad om te veg vir die taal nie.” (Eikestadnuus , 19 Julie).

 

Miskien is daar ook negatiwiteit teenoor die Groep van 63 omdat dit nie `n groot ledetal het nie. Myns insiens is dit onvanpas, want die Groep is in die veld van debatvoering en die stryd om idees en beleidsbepaling. So `n stryd word tog seker nie deur getalle gewen nie (sekerlik nie in die eerste stadium waarin ons ons tans bevind nie).

Maar die relatief klein ledetal van die Groep is waarskynlik nie deurslaggewend vir die kritici nie.  Dit word onderstreep deur die feit dat die Afrikaanse pers tot dusver min aandag gegee het aan die Aksie vir Hoër Onderwys (AHO) bestaande uit 24 Afrikaanse kultuurorganisasies, wat krities staan teenoor die Departement van Onderwys se Nasionale Onderwysplan en konstruktiewe alternatiewe voorstel. Daar was die minimum van persdekking van die vergadering wat die AHO vroeg in Junie in Centurion gehou het. En tog sluit die AHO instansies in soos die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. FAK, Transvaalse Onderwysunie, FAK, Mynwerkersunie-Solidariteit, Voortrekkers en Afrikanerbond. Alhoewel baie van die organisasies se ledetalle sedert 1994aansienlik gedaal het, is hul kollektiewe gewig nie te versmaai nie en verdien `n inisiatief soos die Aksie vir Hoër Onderwys tog seker volle steun en ten minste behoorlike persdekking.

.           Die pers het ook die bespreking geignoreer wat gehou is deur die kultuurorganisasies op 1 Junie in Bloemfontein met die Anglo-Boere-oorlog herdenking se afsluiting. Hier is die vraag bespreek of daar `n oorkoepelende Afrikaanse Raad (let wel: nie `n Afrikanerraad nie) gestig moet word wat Afrikaanse taal en kultuurbelange kan hanteer. Sedert 1994 is die gedagte van so `n Raad al deur Ton Vosloo en wyle Marinus Daling geopper (onlangs ook deur Dan Roodt en myself). Daar is sterk argumente sowel teen as vir so `n Raad.  Die enigste verwysing in Rapport was `n terloopse opmerking wat die indruk geskep het dat die vergadering eintlik `n regse inisiatief was.

            Die ironie is dat  waar daar by kritici `n tendens is om die Groep van 63 as onverteenwoordigend af te maak dieselfde mense ook nie ten gunste van `n Afrikaanse raad is wat werklik kan hoop om as verteenwoordigendende organisasie by die regering vir Afrikaans in die bresse te tree nie.

Politieke partye kry soms dieselfde behandeling. Daar was na my mening `n belangrike ontwikkeling in die laaste week van die Parlementsitting van die eerste helfte van die jaar toe die NNP teen Kader Asmal se begrotingspos gestem het, hoofsaaklik vanweë die Onderwysplan en Kader Asmal se onsensitiewe hantering van die kwessie van Afrikaans. Sover ek kon vasstel was daar geen dekking hiervan in die Afrikaanse pers nie.

Om billik te wees, moet ek opmerk dat Afrikaanse koerante ruimte gee aan rubriekskrywers (insluitende Dan Roodt en myself) om onbelemmerd oor die taalkwessie te skryf en dat rubriekskrywers en briefskrywers toegelaat word om vryelik menings uit te spreek. (Daar is klagtes oor briewe wat nie gepubliseer word nie, maar ek neem aan daar is `n ooraanbod)

Dit sal in niemand se belang wees as die Afrikaanse pers en die Groep saam met ander Afrikaanse taal-en kultuurorganisasies `n antagonistiese verhouding teenoor mekaar ontwikkel nie. Die Groep moet van sy kant sy bes probeer om beter verhoudinge met senior redaksielede van die Afrikaanse koerante te bou. Die feit dat die Groep nog steeds baie witterig, manserig en ‘outterig’ is, moet reggestel word deur aktief lede oorkant kleur-geslags-en ouderdomsgrense te werf en mense uit alle groep te nooi om op die Groep se webblad te skryf

            Ek moet dit egter beklemtoon dat deeglike, deurlopende en insiggewende beriggewing een van die belangrike tekortkomings is van die huidige poging om Afrikaans as publieke taal te bevorder. Sommige koerante is geneig om een of ander komplot of geheime agendas te vermoed en optredes in die ou verkramp/verlig terme te interpreteer.

 Daar is ook `n tendens om aktuele aangeleenthede te ‘personaliseer.’ Daar was nie op die Stellenbosch vergadering enige poging om Prof Chris Brink persoonlik te kritiseer nie. Die kritiek wat wel uitgespreek is was dat sy artikel in Die Burger die indruk gewek het dat Afrikaans aan US selfs op voorgraadse vlak teruggesnoei mag word. Daar was ook kritiek (onder andere deur myself) dat die Rektore van die histories Afrikaanse universiteite nie duidelik sterk standpunt ingeneem het teen die taalaspek van die Nasionale Onderwysplan wat mnr Asmal die geleentheid gee om te beweer dat die Rektore die plan steun.  Daarmee skep hy die indruk dat die histories Afrikaanse universitiete instem dat Afrikaans net in `n klein akademiese kampong verdra sal word. Dit maak dit moelik om steun te werf vir teenstand teen die plan, plaaslik en oorsee. (Wat US betref het, Prof Andreas van Wyk, het wel opgemerk dat hierdie aspek van die plan onkonstitusioneel is en prof Brink het aangedui dat hy oor die taalaspekte wil onderhandel). 

(b) die ‘onrypheid’ van die Suid-Afrika se demokrasie.

 

            Vir `n onbetrokke waarnemer van die Stellenbosch vergadering van 22 Junie sou dit gelyk het of dit `n klassieke uitlewing van die demokratiese stelsel is. `n Organisasie in die burgerlike gemeenskap het `n vergadering belê met die doel om `n tak te stig. Op die vergadering is `n bepaalde regeringsbeleid bespreek. Verteenwoordigers van verskillende politieke partye het lustig aan die debat deelgeneem en punte teen mekaar aangeteken (Daar was geen uitklophou nie). Niemand het die legimiteit van die regering of die staat bevraagteken nie; waarskynlik was almal op die vergadering dit eens dat die beste metode is om teen die beleid te protesteer, die Afrikaanse taalgemeenskap oor die kwessies in te lig en vertoë aan die regering te rig.

            Sowel Die Burger as Rapport het verkies om die verslaggewing die vergadering as `n militante en aggressiewe standpuntstelling uit te beeld met die kwalik versweë implikasie dat dit niks goeds vir die Afrikaanse taal of die Afrikaanse minderheid inhou nie. Terwyl daar algemene instemming is dat die ANC se beleid oor Afrikaanse as taal en oor die universiteite billik is, word daar blykbaar onder sekere meningsvormers gevoel dat protes en kritiek onvanpas is en, as dit nog van die Groep van 63 kom, onbehoorlik.

Willie Esterhuyse soek eerder ‘taalonderhandelaars’ (asof die regering se volhardende ignorering van vertoë deur Afrikaanse organisasies nie tel nie), Jaap Durand waasku dat die regering die beursie kan toeknyp van universiteite wat nie by sy beleid inval nie en Albert Venter sê die histories Afrikaanse universiteite en die Afrikaanse taal-en kultuurorganisasies het tandelose leeus geword wat in enige geskil met die regering tweede beste daarvan sal afkom. Die raad van Venter is: Minderhede moet vat wat die meerderheid hulle toedeel en hulle toespits op onderhandelings oor marginale kwessies.

            Hierdie meningsverskille binne Afrikanergeledere kom ook in die kringe van politieke wetenskaplikes voor in hul besinning oor die rol van opposisie in Suid-Afrika. Die boek Opposition and Democracy in South Africa geredigeer deur Roger Southall laat die die verskille goed na vore kom. Die vraag is: Is dit raadsaam om opposisie te bied teen die ANC as dominante party wat hoofaaklik op rasse-blokstem gekies is? Robert Schrire en heelwat ander deelnemers aan die debat sê onomwonde: Nee.  In gevalle soos Suid-Afrika kan robuuste opposisie die ANC noop om sowel die minderhede en die brose demokrasie te vernietig. Dus: “Bly stil en betaal: Dis die wet van die Transvaal.”

            Die gebrek aan toleransie vir die opposisie is nie net `n Afrika probleem nie. In sy standaardwerk Political Oppositions and Democracy in Western Europe wys Robert Dahl daarop dat demokrasie eintlik uit drie bestandddele bestaan:

Hierdie laaste reg--die reg tot georganiseerde opposisie-- is`n heel resente verskynsel. So onlangs as 1964 het slegs 30 lande in die wereld volle wetlike opposisiepartye gehad.

            In sowel Afrika as Asië is regerings se toleransie van opposisiepartye en van georganiseerde minderhede, en veral van `n  wit minderheid (in Asië veral `n Chinese minderheid) nie baie groot nie. Daar is `n steeds herhalende patron van die aanvanklike ‘versoening’ van die minderhede na onafhanklikheidswording, om `n dekade of twee later gevolg te word deur intimidasie, afrikanisering van die staatsdiens en die konfiskasie van eiendom. Zimbabwe is maar net die jongste manifestasie hiervan.

            Maar selfs in gevestigde demokrasië is die toleransie van minderheidsgroepe buite die partypolitieke stelsel nie baie goed ontwikkel nie. Lede van minderhede word gevra om aan die politiek deel te neem, maar die meerderheid begin frons die oomblik wanneer die minderhede die stelsel gebruik om sy griewe reggestel te kry. Die meerderheid laat duidelik weet dat die minderheid nie die regte prioriteite het en dat daar meerderheid behoeftes is wat veel dringender aandag verdien.

            Dit word `n bose kringloop. Die minderheid se politici kom agter dat hulle net kan vordering maak as hulle die meerderheid se belange aanspreek. Gewoonlik vaar hulle maar sleg in hul poging om steun onder die meerderheidsbevolking te werf, wat die houding laat posvat dat net die politici van die dominante meerderheid aan die griewe en kultuursake van die minderheid reg kan laat geskied. Meningsvormers onder die minderheid raai hul mense aan om liewer nie die meerderheid te antagoniseer nie. Die laaste stap is dat die minderheid onder druk kom om polities te ‘ontbind’ of `n leier uit meerderheidsgeledere  te vind. Al rol wat vir minderheidsleiers gegun word, is dié van hofnar of juigkommado.

            Alexis de Tocqueville het meer as 150 jaar gelede die dilemma van minderhede raak opgesom: “Daar word van die minderheid verwag dat hulle deel van die meerderheid moet word, maar hulle kan dit slegs doen as hulle die dinge laat vaar wat werklik vir hulle belangrik is en wat konflik tussen hulle en die meerderheid skep.” Die ervaring van minderhede die afgelope eeu is dat die afskaling van minderheidsbelange en aansprake nie die meerderheid paai nie. Dit word eerder meer aggressief in sy eise.

            En dit is presies op die punt waar ons vandag met Afrikaans staan. Ons moet die feit in die gesig staar dat die grondwet wat onder meer taalregte beskerm en die konstitusionele hof het wat alle regte beskerm, in feite bitter min beskerming aan minderhede bied. Daar is Afrikaanse meningsvormers wat oortuig is dat Afrikaans as taal skade sal lei as die Afrikaanse gemeenskap teenstand bied of as die universiteite hul rug styf maak. Hulle is waarskynlik reg dat in enige konfrontasie met die regering die minderheid tweede beste sal vaar. Ons het aan bewind `n aggressiewe dominante party wat selfs die magtige mynindustrie in die stof laat byt.

            Aan die ander kant is dit so dat die minderhede in die land nie magteloos is nie, soos wat Deon Geldnehuys in sy repons op Albert Venter aangetoon het. Kom ons kyk na ons geskiedenis. Wit, bruin en swart het in 1853 in die Kaapkolonie al vir stemreg gekry en Boererepublieke het in dieselfde dekade van die heel eerste populêre demokrasitiese stelsels in die wereld vir sy wit kiesers gevestig. Verskillende politieke tradisies is in die laaste 150 jaar opgebou. Die liberale tradisie is in SA veel sterker as in enige ander Afrika-land. Afrikaanse meningsvormers, soos Danie Goosen in die vergadering van 22 Junie, probeer om pre-nasionalistiese mites en identiteite te ontdek.

Ek dink self ons republikeinse tradisie kan hier, soos ook in die VSA, `n aantreklike alternatief bied teenoor sowel nasionalisme as `n atomistiese liberalisme. Dit is `n tradisie waarin die burger lojaal teenoor die staat is en bepaalde verantwoordelikheid vir sy/haar gemeenskap en sy belange en kultuurgoedere neem. Bruinmense het `n gemeenskapstradisie waarin kerk, skool en taal sterk op heel ander manier as in die wit Afrikaanse gemeenskap met mekaar verbind word (hoofsaaklik taal as instrument versus taal as ideniteit en instrument). Swartmense is veel langer aan verstedeliking en sekularisasie blootgestel as enige ander swart gemeenskap op die kontinent. Onlangse meningsopames toon aan dat meer as twee-derdes van swartmense sterk opposisie van opposisiepartye verlang. Die mense wat opposisie haat is die bemagtigings- en transformasie-elite en die kloof tussen hulle en die man in die straat raak by die dag groter.

            Dan het ons instellings wat sterk is. Universiteitsoutonomie staan vandag waarskynlik sterker by die histories Afrikaanse as die histories liberale universiteite.  Hierdie instellings moet oorreed word om verantwoordelikheid vir Afrikaans te neem, wat verder strek as bloot `n produk wat op markaanvraag aangebied word.

            Afrikaans staan as taal nog steeds sterk. Dit is een van `n handjievol tale wat in die twintigste eeu gestandardiseer geraak het en op alle terreine van die lewe gebruik word. Verder nog: die aandrang van die meerderheid van Afrikaans-sprekendes, wit, bruin en swart, dat Afrikaans nie as publieke taal afgeskaal word nie, is nie `n minderheidsaandrang nie.  Soos Lawrence Schlemmer in die boek Kruispad rapporteer dat meerderhede in die verskillende swart taalgemeenskappe in hul eie taal deur die regering en die sakesektor aangespreek wil word. Onderrig deur moedertaal, verder as primére onderwys geniet meerderheidsteun onder alle taalgemeenskappe.

            Onder die intellektuele elite in Afrika is menings oor demokrasie aan die verander. Dit spreek veral uit die toepsraak van die VN  Sekretaris-Generaal Kofi  Annan by die OAU Vergadering van 8 Julie in Durban. Sy toespraak is `n verdoeming van die neiging om die wil van die meerderheid op almal af te dwing. (Sover ek weet, is hierdie toespraak baie swak gerapporteer).

 Annan het hom uitgespreek teen meerderheid dominasie waar die party met 51% van die stemme die reg het om die party met 49% van die stemme te ignoreer. Volgens Annan is meerderheidsdominasie nie die Afrika-tradisie nie.

 

“In Africa the rulers listen to the ruled and the majority to the minority. Our traditions teach us to respect each other, to share power, to give every man his say, and every women hers.

Consent and consensus, achieved through long and patient discussion, are at the heart of many of these traditions. Let us keep that in mind and resist the temptation of short cuts or  solutions imposed by force.”

Volgens Annan is die enigste soort eenheid wat werklik duursam is die

een waaroor leiers onderhandel en wat volgelinge of hul verteenwoordigers met `n vrye stem bekragtig.

            Daar is geen rede waarom die Aksie vir Hoër Onderwys, bestaande uit 24 Afrikaanse organisasies, en die universiteitsbesture nie op grond van so `n model met mnr Asmal kan onderhandel nie. Dit mag wees dat die stryd vir Afrikaans as publieke taal `n deurslaggewende toets is vir ons demokrasie, of liewer die soort demokrasie wat hier gevestig word en vir al die nie-dominante tale in die land. Die stryd om Afrikaans as publieke taal moet demokraties geveg word—die reg tot sterk protes, die reg tot opposisie en die reg van die minderheid om homself te organiseer sodat dit gehoor en na geluister te word en die reg op deelname aan `n proses waar besluite nie bloot deur die meerderheid op grond van sy meerderheid koppe geneem word nie maar deur `n balans te soek tussen meerderheid-en minderheidaansprake.

            Vir die regering se poging om Nepad geloofwaardig te maak, is dit van kritiese belang dat hy demokrasie iets meer verteenwoordig as `n blote tirannie van getalle en `n magsblok in die Parlement. Laat daar geen misverstand wees nie: Die ANC se behandelinge van minderhede en van dit wat vir minderhede belangrik is, gaan een van die heel belangrikste Nepad-toetse wees. Maar dan vir dit vir die minderhede en vir die voortbestaan van Afrikaans van kritiese belang dat `n groot mate van konsensus bereik word oor wat essensieel is vir die oordrag van Afrikaans as publieke taal van hierdie na `n volgende geslag. In die sin het ons die debat verkeerdom aangepak: dit is nie soseer wat Afrikaans se regte is nie, maar wat het Afrikaans nodig om voort te bestaan en wat kan ons leer uit die lesse van taalverlplasing en taalhandhawing elders.

 Om `n redelike bekende skrywer van die Vroeg Moderne Tyd te parafraseer, is nie ons sterre nie maar wat onsself doen deurslaggewend.Solank daar die hudige verdeeldheid is en solank as wat die regering faksies teen mekaar kan afspeel,sal ons nie veel verder kom nie. Kan ons as Afrikaanse gemeenskap-wit, bruin,swart--`n gemene Afrikaanse saak en `n gemene Afrikaanse belang saam definieer en ooreenkom om dit te bevorder, al verskil ons metodes?