Afrikaans - Van Wyk Louw vir vandag: ‘n inleidende rede
Ockie van Schalkwyk
Inleidende
rede tot 'n PRAAG-oop gesprek oor N.P. van Wyk Louw, Greenfields-restaurant,
Centurion, op 11 Julie 2002.
Goeienaand en
welkom by vanaand se oop gesprek rondom die gedagtes van N.P. van Wyk Louw oor
‘n saak wat ons baie na aan die
hart lê, nl. ons Afrikanerskap. Ek vertrou dat vanaand se gesprek (die eerste
in ‘n reeks) vrugbaar sal bydra
tot ‘n beter verstaan van wie ons is, wie ons wil wees en waarheen ons oppad
is, want, Vriende, soos ons Europese eweknieë vir eeue lank al worstel met die
vraag van die mens – wat hy is, wie hy is, wat hy durf vra en wat hy durf
hoop, net so is hierdie vrae vir ons van besondere belang.
Van Wyk Louw,
die inspirasie vir hierdie aand skryf in Liberale Nasionalisme die
volgende woorde:
‘So
noodsaaklik soos die bloedsomloop vir die liggaam is, so noodsaaklik is die
sirkulasie van die gedagtes vir ‘n volk. Die sirkulasie van gedagtes: dis die
vrye uitspreek van eie mening en die aandagtige luister na die mening van ander,
sodat ‘n wisselwerking ontstaan … en mettertyd miskien ‘n wederkerige
begrip en ‘n mate van gemeenskaplike oortuiging; dit is die ‘oop gesprek’
nie alleen tussen individue nie, maar ook tussen groepe. En hiersonder is geen
gesonde politieke lewe moontlik nie.’ -
14 September 1951.
Ons leef in
‘n tyd wat die momentum van ‘n Britse Ryk se eeue-lange veragting van die
agterlike Boer in al sy elemente saamdra. Nie net is daar diegene wat afgunstig
is op die paar suksesse wat ons bereik het nie, soos Prof. Fatima Meer wat met
naakte vennyn amper daarin geslaag het om alle argief-materiaal in Afrikaans by
die SAUK te vernietig nie, daar is ook mense in ons eie midde wat aktief meewerk
om van die Afrikaner ‘n vreemdeling in sy eie land te maak.
Vanaand wil ek
nie gaan stilstaan by wie hierdie mense is nie. In filosofiese konteks is dit
eintlik ‘n irrelevante vraag. Ek
wil hê dat ons vanaand die patologie agter hierdie verskynsel moet verstaan.
Ons moet vanaand ‘n lykskouing doen op die karkas van die Afrikanergees, want
ons moet verstaan dat die Afrikaner homself hier gebring het, en dat ons nog
steeds ons eie grootste teenstander is.
Wandel saam
met my deur ‘n seleksie temas in
Van Wyk Louw se denke.
In
1959 skryf Van Wyk Louw die volgende woorde: ‘Hoe kan mens die verskynsel
‘Afrikaans’ sien?’ Hy antwoord sy eie vraag deur te sê dat daar baie
maniere is. Wat hom egter die meeste bekommer is dat daar onder Afrikaners ‘n
persepsie bestaan, soos uitgedruk in die woorde van Langenhoven, dat
‘Afrikaans
die enigste witmanstaal in Suid-Afrika is wat nie klaar van oorsee af gekom het
nie’.
Hierdie
standpunt maak Van Wyk Louw ongemaklik en hy vra tereg:
‘Stel
daardie beroemde uitspraak die enigste waarheid in verband met my taal? Is dit
ons taal se enigste onderskeie merkteken tussen die tale van die wêreld – van
Europa, Asië, Afrika?’
In
antwoord op sy eie vraag formuleer Van Wyk Louw die volgende:
‘Afrikaans
is die taal wat vir Wes-Europa en Afrika verbind; dit suig krag uit dié twee
bronne; dit vorm brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika –
die soms nog so ónhelder Afrika; hulle is albei groot magte, en wat daar
groots aan hulle vereniging kan ontspruit – dít is miskien wat vir Afrikaans
voorlê om te ontdek’
Vir talle mense
klink dit bloot na ‘frasemakery’, maar Van Wyk Louw voer aan dat ons oor
hierdie saak rustig en wetenskaplik kan gesels. Afrikaans is immers deur hierdie
pragtige land van ons gevorm en ómgevorm. Ons Europese voorsate het in die 17de
eeu ‘n land hier kom kry wat amper in elke opsig anders as hulle geboorteland
was. Dink maar aan die berge, die Karoo, die diere en ook die gans anderse mense
met hulle velerlei tale en kulture. In die woorde Van Wyk Louw moes voorsate
moes ‘n ander soort mens word, met ‘n ander leefwyse. Die verandering in
land en landskap het as’t ware
aan die nuwe wordende taal geslyp, geknee en gebrei. Nuwe woorde, nuwe
voorstellings en nuwe beelde het ontstaan sodat die nuwe taal soos ‘n
handskoen pas, oor elke riffel en vou van hierdie nuwe wêreldbeeld.
Maar Afrikaans is
meer as net ‘n taal vir landskapsbeskrywing.
Volgens Van Wyk Louw beeld ‘n egte digter ‘ook die abtrakte, die
algemeen, die gewoon-menslike met woordbeelde uit; en sy beelding kan eg wees
alleen waar dit op eie ervaring en sién berus, nie op gelese literatuur nie.’
In hierdie opsig
moet ons die mense soos Proff Ronnie Belcher, Theuns Eloff en andere daarop wys
dat Afrikaans onvervangbaar sterk staan teenoor Suid-Afrikaanse Engels.
Afrikaans is nie die taal vir die lokale nie, Afrikaans is meer as bloot ‘n
minderheidstaal, soos wat ‘n oningeligte briefskrywer in die Beeld betoog.
Afrikaans is ook die taal van die universele van die mens.
Van Wyk Louw merk
tereg op dat die ánder wortel van Afrikaans – ons Europese teelgrond ons in
staat stel om die abstraksies van
die mees verfynde denk uit te spreek. Ons staan op die skouers van lang en groot
voorgeslagte, van eeue se Dietse taalontwikkeling in Europa.
Vriende, ons het
nie hierdie taal gemaak nie, dit is aan ons gegee. Ons taak lê in die gebruik
wat ons maak en sál maak van hierdie glansende werktuig.
‘n
Maklike taak is dit gewis nie. Ons staan trouens reg binne die spervuur waar
Afrika en Europa mekaar ontmoet, en vir beide hierdie magte sal dit maklik wees
om ons te sien verdwyn in die geskiedenis, amper soos ‘n basterkind waarmee
nie een van die ouers gemaklik is nie.
Van
Wyk Louw stel ons taak soos volg:
‘En
óns taak? Eenvoudig: om nie
eensydig te dink nie; om nie blote denk, en nie blote wil te wees nie; om ons
wil-tot-voortbestaan met die dink te temper, en ons dink met die insig in die
redelose menslike wille.
So
teoreties?
Nee:
ons moet praktiese oplossings vind om albei erfenisse van Afrikaans te
bewaar.’
Natuurlik
is dit ‘n moeilike taak. Dit is ‘n taak wat vir té veel van ons eie mense
te swaar word. Dit noop ons rektore om te sê dat ‘n taal bloot ‘n stuk
gereedskap is en dat ‘n student bloot ‘n produk is wat gelewer word aan ‘n
mark. Ons is weer terug in die modernisme en die logiese positivisme van die
laat 19de en vroeg 20ste eeu wat die menslike van die mens kwantifiseer en
Europa onvermydelik op die pad van twee wêreldoorloë geplaas het.
Die
boodskap van Van Wyk Louw moet hard en duidelik uitgaan:
‘Afrikaans kan vitaal bly alleen
solank hy die draer van ons volle noodlot, van ons wete-na-albei-kante-toe bly;
solank hy konkreet en abstrak bly dink; solank as Europa en Afrika in hom lewe;
Afrika wél, maar tog ook altyd Europa.’
Afrikaans
moet ‘n eie skoonheid voortbring
In
November 1938 skryf Van Wyk Louw in Lojale Verset die volgende:
‘Daar moet in ons land ook
eenmaal ‘n skoonheid kom waardeur enkeling en volk uit hul verwarde tydgebonde
lewe tot ‘n helder ewigheid kan verhef word: uit hierdie stil land moet ook
enkeles deelneem aan die ‘verhewe gesprek’ wat die groot geeste deur die
eeue heen met mekaar voer; en al die pyn van ons volk-word moet eenmaal onder
die volkere sin kry totdat hulle sê: “Daarom dan moes dié volkie so swaar hê
en bly lewe…dat hy so ‘n skoonheid kon voortbring!” ‘
Daar
word gesê dat Van Wyk Louw kultuur vanuit ‘n estetiese perspektief benader;
‘n benadering wat ek deel. Hy voer aan dat ons hele geestelike lewe ‘ons
bestaan regverdig in soverre as dié lewe ‘n bydrae tot die rykdom van die
mensheid is’.
Téén
die mono-Weltkulturele beweging van ons tyd in voer hy aan dat ‘n volk meer as
bloot ‘n hoop mense is wat leef, verdien, voortplant en doodgaan. ‘So
iets bloot-biologies – ‘n
bredie mensvleis, ‘n biosfeer om die aarde – sou iets ontsettends en
aanstootliks wees, iets soos ‘n pak slange wat in die slangtuin agter glas
deurmekaar gekrul lê.’ Sou die wêreld ‘n armer plek wees sonder hulle?
Ek glo nie. Die mens word slegs waardevol indien hy geestelike lewe voortbring.
In
hierdie opsig is taal en kultuur van die grootste belang. Afrikaans moet die
milieu skep, ‘n vrugbare stuk aarde wat sy kinders laat groei en hulle diepste
varlange kan bevredig. Van Wyk Louw merk tereg op dat as ons nie ons
grootste geeste iets kan gee wat hy by geen ander taal kan kry nie, is ons in
die moeilikheid, want dit sal die Afrikaanse mens se geestelike ontwikkeling
knel.
In
‘n onlangse debat wat PRAAG met die joernalis, mnr. Sandile Memela gehad het,
het hy aangevoer dat Afrikaans maar ‘n klein taal is, en saam met baie ander
klein tale sal uitsterf. Hy het ‘n vraag gestel: ‘As Latyn kon uitsterf,
waarom dan nie Afrikaans nie?’ Hoewel
die vraag ons ore seermaak, moet ons tog ook dankbaar wees dat mnr. Memela die
vraag weer in die ope bring. Dit is selfs ‘n vraag waarmee Van Wyk Louw self
geworstel het. Hy het egter gewys daarop dat getalle nie die vereiste is vir die
gedy van taal en kultuur nie.
‘toe Athene sy beste werk geskep
het, was hy so groot soos een van ons Afrikaanse dorpe, maar hy het geestelik
vry en minagtend soos ‘n jong man gestaan teenoor die miljoene-ryke Egipte en
Persië waar die enkeling in die massa soos welsand versink het. Ons moet dit
eerder as ‘n genade beskou dat ons nie volkome binne een van die moderne
miljoene-ryke staan nie.’
Afrikaans
en Engels
Die
sosiale ingenieurswese waarmee die ANC van die Suid-Afrika volke ‘n
Engelssprekende nasie wil maak stel egter moeilike eise aan ons. In ‘Deurskouende
Verband’, skryf Van Wyk Louw dat ‘as Afrikaans vir die leser
vereenselwig word met die swaar-op-die-handse, die geskuntelde, die
onleesbaar-bloemryke; en Engels daarenteen met die vrye, die vlotte – die taal
waarin ‘n mens dinge kan lees wat diep in jou lewe ingryp…as dít gebeur, is
dit klaar met ons taal.’
Die
bedreiging van verengelsing in ons skole, universiteite en in ons lewensruimte
is dus veel groter as wat ons dink. As ons ons nie hierteen verset nie, doen ons
lustig mee aan ‘n volksmoord wat Milner meer as ‘n honderd jaar gelede begin
het.
Intellektuele
lewe en die Afrikaner
Vriende,
een van die groot redes vir die krisis waarin ons onsself bevind lê in die
gehalte van ons intellektueles. In Oktober 1946, nog voordat die NP aan bevind
gekom het stel Van Wyk Louw (Liberale Nasionalisme) amper wanhopig die vraag:
‘Waarom, waarom het ons nog so
min intellektualiteit? Waarom neem ons so dikwels met die uitroep in plaas van
die rede genoeë? Baie antwoorde loop deur ‘n mens se gedagte: “Is dit omdat
ons geestesgeskiedenis nog so kort is – skaars honderd jaar oud – en omdat
‘n volk nie eens kan begin dink voordat hy sy volkstaal gebruik nie?” “Of
is ons volk werklik ‘n dom volk?” “Of skeel dit aan ons ekonomiese
struktuur?” “Is dit toe te skryf aan die krampagtigheid wat ontstaan waar
soveel nasies in een staatsverband saamgepers is?
Waar geeneen werklik ‘n volk kan wees nie?” “Is ‘n intellektuele
lewe dan alleen binne die relatief homogene volke moontlik?” “Of skeel dit
aan die geringheid van ons getalle? As net een uit honderd mense werklik kan
dink, dan moet daar vanselfsprekend meer denkers in ‘n volk van honderd
miljoen as een van een miljoen wees. Maar waar was dan ten minste ons klein
klompie prinsipiële denkers? En wat dan van die klein Athene dan?” ‘
Inderdaad
relevante vrae vir ons tyd. Dit is waarskynlik ons grootste enkele probleem. Die
lae gehalte van debatvoering in Suid-Afrika word slegs oorskadu deur die lae
gehalte van joernalistiek, en as ons die joernalistiek as koorspen vir Afrikaner
se intellektuele gesondheid wil gebruik, moet ons erken dat ons gevaarlik naby
aan die hiernamaals moet wees.
Feitlik
elke voorwaarde vir die voer van belangrike polemiek word gebreek:
·
‘n
Hoë peil van intelligensie,
·
‘n
wil-tot-waarheid wat sterker is as ‘n wil-tot-oorwinning,
·
‘n
waaksame skeptisisme teenoor ‘n mens se eie versweë grondbeginsels,
·
‘n
skere noukeurigheid wat met elke punt rustig oorweeg, elke verwysing nagaan, en
heel belangrikste: ‘n oordeel tot die laaste opskort. (In ons joernalistiek
word die oordeel gewoonlik al in die opskrif gefel.)
Ons
weet dat dit bitter min gebeur dat enige van die vier elemente in ‘n mens
voorkom, wat is die kans dat al vier gelyk by één iemand teenwoordig sal wees?
Ek
sluit hiermee die inleidende rede af. Ons is immers hier om gesprek te voer, nie
na ‘n toespraak te luister nie. Op ‘n volgende geleentheid sal ons gesels
oor Van Wyk Louw se sienings rondom Afrikaner Nasionalisme en die rol van
‘lojale verset’.
* * *