Die breindrein: kan ons dit (om)keer?
Dr. Pieter Mulder, leier, Vryheidsfront
Uittreksel
uit toespraak gelewer tydens opening van VF-jeugkongres,
26 Julie 2002
1.
INLEIDING
'n Jeugkongres is vir die jeug - nie vir ouer mense nie. Daarom my dank vir die
uitnodiging en geleentheid om op hierdie wyse deel te kan neem aan die
Vryheidsfront se jeugkongres.
Dit is onregverdig om die hele wêreld se probleme op die jeug se skouers te wil
pak by so 'n geleentheid. Aan meeste van hierdie probleme kan hulle waarskynlik
niks doen nie-behalwe om daaroor te bekommer.
Aan die ander kant sal dit onverantwoordelik van julle as jeug wees om die
probleme wat julle regstreeks raak, te ignoreer. Daarom my gelukwensing met die
keuse van 'n onderwerp vir hierdie VF Jeugkongres. "Die Breindrein: 'n
Tydbom - kan ons dit (om)keer?" Dit wys die VF is nie bang om die nuwe
werklikhede van Suid-Afrika aan te pak en na oplossings te soek nie. Ek het
toevallig insae gehad in sommige van julle voorstelle oor hoe om die probleem op
te los en is beïndruk met die realisme en positiewe wyse waarop
julle na antwoorde soek. Geluk ook aan die opstellers daarvan....
2. DIASPORA
Ons sal moet vrede maak met die feit dat daar nou Suid-Afrikaners en
Afrikaners oor die hele wêreld is. (Die enigste manier om hulle uit te ken
is dikwels net die manier waarop hulle Engels praat!) Deur hierdie diaspora
as 'n feit te aanvaar, kan ons begin planne maak hoe ons die diaspora in
belang van Suid-Afrika en in belang van Afrikaans kan benut. Hoe benut ons
die internasionale ervaring en kennis wat Suid-Afrikaners tans in die
buiteland opdoen? Hoe benut ons die nuwe internasionale netwerk wat nou
ontstaan het? Israel is 'n goeie voorbeeld van hoe hierdie wisselwerking
tussen Israeli's binne en buite Israel maksimaal in belang van Israel se
voortbestaan, benut word.
Om vrede te maak met die feit dat daar Suid-Afrikaners en Afrikaners oor die
hele wêreld is, beteken nie dat ons nou emigrasie aanmoedig nie. Om soos in
die tagtigerjare se stelling hierbo (punt 2) te sê: "ons is gelukkig beter
af sonder hulle", is net eenvoudig nie waar nie. Elke geskoolde persoon wat
die land permanent verlaat is 'n ramp en 'n groot verlies vir Suid-Afrika.
Elkeen wat die land verlaat plaas meer druk op die wat agterbly om werk te
skep en die land se probleme op te los. Hierdie is ernstige probleme wat die
regering en elkeen wat kan, dadelik moet aanspreek. Daarom is dit ook
hierdie kongres se tema.
Vir elke wettige immigrant wat die land binnekom, verlaat drie die land. Dus
drie keer soveel mense verlaat die land as wat dit binnekom. Die
meerderheid van hierdie mense wat die land verlaat, is wit. Vanaf 1994 is
die jaarlikse emigrasie van kundiges uit Suid-Afrika, meer as 50% hoer as
wat dit in die tydperk van 1989 tot 1994 was. Tussen een agste en een vyfde
van alle Suid-Afrikaners met tersiêre opleiding, woon tans in die
buiteland. In 1998 het 250 000 Suid-Afrikaners met professionele opleiding
in die VSA, Kanada of Europa gewerk. 'n Interessante feit is dat daar op
hierdie oomblik meer swart akademici en professionele mense van Afrika in
die VSA werk, as in die hele Afrika saam!
Hoekom verlaat kundiges, en veral wit kundiges Suid-Afrika? Opnames toon
misdaad en regstellende aksie speel by die meeste die belangrikste rol. Dus
hoofsaaklik twee redes: Misdaad en regstellende aksie.
3.
MISDAAD
"SA is steeds die misdaadkampioen" - is die opskrif van 'n berig in
Beeld (4
Junie 2001). Die berig handel oor 'n internasionale studie na misdaad in 32
bekende lande. Suid-Afrika is die kampioen met die hoogste moordsyfer van al
die lande. In hierdie studie is dit 56 mense uit elke 100 000 wat in
Suid-Afrika vermoor word teen Amerika se 6,3 en die Europese 1,7. As na
plaasmoorde gekyk word is die syfer 273 uit 100 000. Verlede jaar is meer
mense in Suid-Afrika vermoor as wat in die Midde-Oosterse konflik tussen die
Israelies en die Palestyne dood is. In Suid-Afrika was daar 22 000 moorde
in 2000. Dit is baie meer as die 600 mense wat in dieselfde tydperk dood is
in die Midde-Oosterse konflik tussen Israel en die Palestyne. In Suid-Afrika
word ongeveer 60 mense per dag vermoor. In 'n land soos Swede word 60 mense
per jaar vermoor.
Om emigrasie om te keer moet misdaad aangespreek word. Die VF het reeds
verskeie voorstelle aan die regering hieroor gemaak. Ons het ook 'n
spesifieke plan voorgestel om plaasmoorde te beperk. Tot op datum het daar
nog maar min hiervan tot sy reg gekom.
4.
REGSTELLENDE
AKSIE
Reeds met die skryf van Suid-Afrika se nuwe grondwet het die VF aangetoon
watter probleme onbeperkte regstellende aksie tot gevolg gaan hê.
Navorsing sal toon dat in 1995, kort na Suid-Afrika die rugby wêreldbeker
gewen het, goeie verhoudinge tussen wit en swart en 'n versoeningsgesindheid
in Suid-Afrika op 'n hoogtepunt was. Daarna het dit in 'n negatiewe rigting
begin verander. By Wittes het aanvanklik die waarheidskommissie maar daarna
regstellende aksie die grootste rol hierin gespeel. Ek wil voorspel dat die
geskiedenis sal aantoon dat regstellende aksie en kwotas aan blanke kant,
die grootste skade aangerig het aan rasseverhoudinge in SA - veral by
jongmense. Jongmense wat met 'n oop gemoed en entoesiasme die nuwe
Suid-Afrika binnegegaan het.
Die twee leerlinge wat verlede jaar die beste in die land in matriek gevaar
het, kon nie een beurse kry nie - omdat hulle wit was. As 'n skool se eerste
span losskakel vir die Cravenweek rugbyspan gekies word - maar dan sy plek
aan dieselfde skool se derde span losskakel moet afstaan (soos gebeur het)
ten einde die swart sportkwota vol te maak, dan laat dit 'n letsel. Waar
hierdie skoolseun nou die sportbeurs verloor waarsonder hy nie kan gaan
studeer nie, is die letsel groter. Hy moet dit alles verduur as gevolg van
allerlei politieke argumente oor die onregte van die verlede, wat
plaasgevind het lank voor hy gebore is.
As 'n swart Malawiër 'n belangrike bestuurspos bo 'n bekwame wit
Suid-Afrikaner kry , is dit nie regstellende aksie nie maar blatante swart
rassisme. Ten einde die verhouding tussen die hoeveelheid swart en wit
bestuurders in 'n maatskappy reg te kry, word tans swart bestuurders uit die
VSA aangestel. 'n Buitelander wat op hierdie wyse bo 'n bekwame
Suid-Afrikaner aangestel word omdat die buitelander swart is en die
Suid-Afrikaner wit, is onpatrioties. Dit het niks met regstellende aksie te
doen nie maar is blatante swart rassisme.
Die VF het van die eerste onderhandelinge met die ANC af daarop aangedring
dat daar 'n afsnypunt vir regstellende aksie moet wees - byvoorbeeld vyf of
tien jaar van regstellende aksie waarna die grondwet se mooi klinkende
artikels oor geen diskriminasie op grond van ras in werking sal tree. Nou
het mooi klinkende artikels vir wit werkers hol klinkend geword sonder enige
vooruitsig dat dit in die voorsienbare toekoms gaan verander. Veertig tot
vyftig jaar is nog onlangs uitdagend in die Parlement geantwoord op 'n vraag
oor hoe lank nog.
'n Ander logiese riglyn behoort te wees dat jong mense wat te jonk was om in
die vorige bedeling bevoordeel te word, nie nou benadeel behoort te word in
die toepassing van regstellende aksie nie. Hiervan is daar geen sprake nie.
Vanjaar se eerstejaar studente het vir die eerste keer skool toe gegaan toe
mnr Mandela vrygelaat is. Vir hoe lank moet hulle nog benadeel word?
Verder behoort 'n persoon nie vir ewig en onbeperk deur regstellende aksie
bevoordeel te word nie. Hy behoort net een keer bevoordeel te word. Wat tans
gebeur is dat iemand deur regstellende aksie bevoordeel word in die
toekenning van 'n beurs; dan word hy weer deur regstellende aksie bevoordeel
in die aanbod van 'n werk. Daarna word hy verskeie kere bo ander werknemers,
wat natuurlik wit is, bevorder met regstellende aksie as argument. Hoeveel
keer nog? En vir hoe lank nog?
Van meriete in sport en meriete in die werkplek kom al minder tereg. Dit
moet rasseverhoudinge vertroebel en emigrasie aanmoedig. Dit kan net
omgekeer word deur veranderinge aan die huidige regstellende aksie maatreëls
aan te bring.
5.
'n
MOEDER-THERESA BENADERING?
Van jong Afrikaners en Blankes/wittes in Suid-Afrika word verwag om ten
opsigte van materiële goed - 'n moeder-Theresa benadering vir die toekoms
te hê. Hulle moet bereid wees om bykans alles prys te gee, hulle moet die
minste te wees, hulle toekoms, werkgeleenthede en loopbane op offer en in
Suid-Afrika bly as straf vir politieke gebeure wat gebeur het lank voordat
hulle gebore is. Dit is onpraktiese ANC regstellende aksie teorieë. Alle
jong mense, ongeag taal of kleur, wil weet hulle kan 'n suksesvolle loopbaan
in 'n land volg. Hulle wil kan droom van 'n motor koop, 'n huis bou en van
ryk word. Is dit so verkeerd?
Daarom steun baie jong mense tans die VF. Hulle sal hierdie probleme self
aanpak en oplos. In my ervaring is die ouer mense verlam en polities
hopeloos. Om vandag op van die ouer mense staat te maak, gaan nie help nie.
Die ou mense, wat hulle aftreegeld en pensioene in die ou bedeling verdien
het, is wel baie bekommerd, maar is te bang om iewers betrokke te raak of
'n probleem aan te pak. Jong mense moet hulle geld en toekomstige pensioene
in hierdie nuwe Suid-Afrika verdien. In belang van hierdie jongmene, in
belang van toekomstige goeie verhoudinge in Suid-Afrika en om 'n wenland te
kan word, moet hierdie sake dringend aangespreek word.
6.
'n
TOEKOMSDROOM?
Deur misdaad en regstellende aksie aan te spreek gaan 'n groot verskil maak
aan hoe jongmense Suid-Afrika en hulle toekoms sien. Dit kan dramatiese
verskille maak aan die hoeveelheid kundiges wat die land verlaat. Maar daar
is meer as dit nodig. Jongmense het ook oplossings en 'n toekomsdroom van 'n
suksesvolle land nodig om hulle te besiel en te motiveer. Die armste persoon
is nie die persoon sonder 'n sent nie, maar die persoon sonder 'n droom. Kan
ons so 'n oplossing, so 'n droom van 'n wenland, met ook plek vir die
Afrikanerjeug verskaf.........?