Klein
is mooi
Johann
Wingard
Die
rotsvesting Gibraltar is ‘n eeue-oue bron van spanning tussen Engeland en
Spanje. In 1970 het die rotsvesting se destydse Hoofminister, Sir
Robert Peliza, voorgestel dat Gibraltar ten volle by Brittanje ingelyf moes
word, maar die Britse Regering het sy voorstel verwerp. Sedertdien betoog die Gibraltar Liberale Party sonder enige
sukses dat Gibraltar met sy 22,000 inwoners as ‘n ministaat, soos ‘n
koninklike stadstaat of prinsdom, by die EU ingelyf moet word.
Hulle het Monaco, Liechtenstein, San Marino en Andora in gedagte.
‘n
Veelpartykomitee van die miniparlement het onlangs ‘n deeglike hersiening van
Gibraltar se grondwet gedoen om enige koloniale oorblyfsels finaal te verwyder
en om groter outonomie vir Gibraltar onder die Britse magsambreel te verkry. Hulle het egter belowe dat enige konstitusionele voorstelle
eers aan Londen gedoen sal word.
Dit
is veral Andora wat as konstitusionele model deur Gibraltane voorgehou word. Net soos Gibraltar, is Andora ook ‘n rotsvesting wat tussen
Frankryk en Spanje hoog teen die Pireneëbergreeks geleë is.
Die staatjie is onafhanklik en sy soewereiniteit is in sy bevolking van
slegs 61,000 gesetel. Daar is drie
onderwysstelsels, naamlik Andoraans, Spaans en Frans.
Maar
hoewel Spanje teësinnig ingestem het dat Andora sy onafhanklikheid kon behou
sodat dit in 1993 ‘n volwaardige lid van die VN geword het, wil Spanje nie
dieselfde toegewing teenoor Gibraltar maak nie.
Dit was op vier Oktober 1994 dat mnr.
Òscar Ribas Reig, voorsitter van die Verkose Raad van die Prinsdom van Andorra,
by die nege-en-veertigste sitting van die VN se algemene vergadering die waardes
van ministate op so ‘n helder wyse aan die wêreld voorgdra het.
Madrid
aanvaar eenvoudige nie dat Gibraltar soos Andora sy selfbeskikking kry nie en
eis dat dit ‘n integrale deel van Spanje moet
word. Klaarblyklik het
Gibraltar, ander as Andora, ‘n ekonomiese en strategiese waarde vir Spanje.
Desnieteenstaande
Brittanje en Spanje se teenkanting het die mini-regering van Gibraltar besluit
om ‘n referendum op eie houtjie aan die einde van Oktober vanjaar te hou sodat
die inwoners hul gevoel ondubbelsinnig
duidelik kan maak
Natuurlik
het sowel Londen as Madrid die rotsvesting se voorgestelde referendum
veroordeel, aangesien daar reeds langdurige Anglo-Spaanse onderhandelings
plaasvind. Anders as met die
Falklande, wil Brittanje niks doen om sy eertydse onderdane te help nie en is hy
bereid om weereens, soos soveel keer tevore in die geskiedenis, sy historiese
verantwoordelikheid ten gunste van politieke gedienstigheid en die moderne
siening van sy eiebelang te versaak.
Daar
is egter baie ander voorbeelde waar ministate wel tot hul reg gekom het en waar
hulle ‘n heilsame uitwerking op die internasionale politieke tooneel uitoefen,
veral in die wandelgange van die VN. Verwysings
na Balkanisering is dus nie noodwendig gepas wanneer Afrikaners hier te lande op
kulturele of selfs op territoriale selfbeskikking aandring nie.
Een van die mees logiese aanbevelings van die Volkstaatraad was dat die
Centurion/Pretoria-Oos gebied, waar bykans 300,000 Afrikaners woon, as ‘n
Federale deelstaat, provinsie of kultuurstreek erken moet word en waar
Afrikaners dan hul selfbeskikking in ‘n kultuurheimat of ministaat kan
uitoefen.
Òscar
Reig het met verwysing na Andora se toelating tot die VN in sy toespraak die
vraag gevra of daar in ‘n globaliserende wêreld nog plek is vir ministate,
aangesien hul blote bestaan in ‘n wêreld waar grootskaalse operasies beplan
en uitgevoer moet word, as ‘n anachronisme gesien kan word sodat ministate as
onrelevant beskou kon word. In ‘n
tyd waar die Wêreld-Handelsorganisasie aandring dat proteksionisme beëindig
moet word, waar NAFTA, APEC of die Europese Unie voorsien dat dienste of goedere
in 'n groot mate vryelik oor groot gebiede sal kan vloei, kan mens die situasie
baie maklik oorvereenvoudig en die volgehoue voortbestaan van ministate binne
magsblokke soos die EU (..of selfs die AU) bevraagteken.
Hy
het voorts gesê dat dit ‘n feit is dat die wêreld vandag na groter
ekonomiese integrasie voortsnel en dat dit al hoe belangriker geword het dat die
identiteite van ministate gerespekteer sal word.
Hierdie identiteite word anders gemeet as die grootte van ‘n staat se
bevolking, ook nie volgens die gebruik dat die meerderheid die minderheid sal
oorheers nie, want ‘n groter kollektiewe identiteit is demografies nie
belangriker as dié van ‘n kleiner groep nie.
Die wese van demokrasie bestaan uit regering deur die meerderheid, maar
gebalanseer deur respek en agting vir die minderheid. Net so moet die politiek van magsblokke op die internasionale
arena
sorg
dra dat kleiner staatjies, of minderhede, nie weens kleiner getalle as minder
belangrik, minder wys of minderwaardiger beskou word as wat hulle inderdaad is
nie.
Meer
as ‘n kwart van die VN se lede is vandag ministate wat almal dieselfde
beperkings op hul politieke opsies en ruimte vir optrede deel. Waar beslissende optredes deur die groter moondhede en
magsblokke wenslik is om stabiliteit te handhaaf, is dit ook waar dat klein
staatjies sekere inherente kwaliteite besit waarsonder die wêreld ‘n veel
armer landskap sou wees. Eienskappe
soos medemenslikheid, deernis, versoening, begrip, verdraagsaamheid, die soeke
na kompromieë, van gee en neem, is die opsies waarmee ministate hul probleme
die hoof kan bied.
Militêre
oplossings is dus nooit ‘n uitweg vir ministate nie. Net soos minderhede binne multikulturele demokrasieë, besit
ministate ‘n intrinsieke en noodsaaklike respek vir pluraliteit en wedersydse
harmonie; eienskappe wat hulle vir eie behoud moes ontwikkel.
As gevolg van hul kleiner getalle kan langtermynoplossings nie eensydig
afgedwing word nie en kan die oorsake van twispunte nie op ‘n lukrake wyse van
die tafel gevee word nie. Dis in
hierdie opsig waar groter state iets by ministate kan leer en waar leiers van
ministate gewoonlik goeie tussengangers is.
Sedert
die VSA se Viëtnam- en Rusland se Afghanistanervarings, het groot state ontdek
dat militêre mag ‘n dreigende konflik mag uitstel, maar dat dit nooit die
basis van langdurige vrede kan wees nie. Vandag moet state plek maak vir
selfbeheersing of selfbeperking. Selfs
die oorloglustige Bush-adminstrasie mag nie wettiglik sonder die VN se
goedkeuring teen Irak optree nie.
Sou
dit nie ‘n blye dag wees wanneer makrostate hulle ook deur die reëls van
ministate kon laat lei nie? Deur
voor te stel liewer as om voor te skryf, deur te onderhandel liewer as om te
dwing, deur kultuurgroepe te harmoniseer, liewer as om hulle te polariseer, deur
ander te respekteer liewer as om hulle te verneder, om saam te werk liewer as om
uit te buit en om die versoeking te weerstaan om teenstaanders se bates te
vernietig en liewer saam te werk om nuwe bates te skep.
Hierdie is die ministate se intrinsieke reëls wat daagliks belangriker
word om planeet aarde ‘n beter en vryer plek te maak. Dan eers kan die gemeenskaplike vyande soos hongersnood, MIV
en ander ernstige probleme die hoof gebied word.
Ministate besit geen militêre
mag of groot menslike of ekomiese hulpbronne nie en kan slegs deur uitnemendheid
hul plek in die staterei volstaan. Dit dwing hulle dus om die grootste respek te betoon vir
ander se kollektiewe identiteit, kultuur en waardestelsels. Die balans tussen kulture en hul vreedsame interaksies is al
wat ware vrede en harmonie tussen mense in ‘n plurale samelewing kan verseker.
Darenteen is enige poging tot gedwonge kulturele samesmelting ‘n resep
vir polarisering en onstabiliteit.
In Suid-Afrika sal dit vir die
meerderheidsregering dus onwys wees om ‘n beleid toe te pas wat ten doel het
om die minderhede te probeer assimileer of te de-etnifiseer, of om onsensitief
te wees teenoor die Afrikaners se versugting om hul eie sake te orden waar hulle
‘n natuurlike meerderheid vorm. Die
Suid-Afrikaanse samelewing kan en moet binne die ontluikende demokrasie op ‘n
meer gepaste wyse ingerig word deurdat outonomie aan minderheidsvolke soos
byvoorbeeld aan Afrikaners deur ‘n wedersydse respek en begrip op gepaste wyse
erken en gegun word. Ons land staar
tans enorme demografiese verskuiwings en omwentelings in die oë wat ernstige
toekomstige maatskaplike probleme mag baar.
* * *