Dan Roodt
Voordrag gelewer voor die Bond van Oud-Jeugbonders,
Pretoria, op 12 Oktober 2002
Een van die oudste en
mees Calvinistiese idees van die Afrikaner is die gedagte dat hy oor ‘n
roeping in Afrika beskik. Myns
insiens is dit onderliggend aan sy huidige identiteitskrisis en skynbare onmag
om vorentoe te beweeg.
Tradisioneel kan ons
hierdie sogenaamde roeping van die Afrikaner in Afrika só opsom:
In terme van streng
Calvinistiese prinsipes, beskik God oor alles in die wêreld.
Daarom het hy spesifiek die groep Europeërs wat hulself later Afrikaners
sou noem na Suid-Afrika gestuur om ‘n volk te word.
In terme hiervan is die volkskap van die Afrikaner dus iets heiligs en
onveranderliks. Die groep mense wat die volk uitmaak, is as’t ware geroepe
om hul kollektiewe identiteit in stand te hou en uit te bou. Ná die oorwinning te Bloedrivier is die Afrikaner ook gebind
in terme van die Gelofte om God se gebooie te onderhou, en jaarliks dié datum
te vier.
Daar is baie
formulerings van hierdie idee en daagliks kom ‘n mens dit nog onder ons mense
teë. Indien ek dus vir D.F. Malan
daaroor aanhaal, is dit nie omdat syne besonder tipies of beter as enige ander
definisie is nie, maar bloot omdat dit gewig dra as komende van een van die
hooffigure uit die Afrikaner se politieke geskiedenis onder wie die
verkiesingsoorwinning in 1948 sy belangrikste toetrede tot die magspel in
Suider-Afrika gesimboliseer het. W.A.
de Klerk het daardie verkiesingsoorwinning beskryf as ‘n Afrikanerrevolusie en
die meeste van u wat vandag hier sit, sou dit waarskynlik beaam.
Hier volg die aanhaling uit D.F. Malan, uit sy beroemde boek Afrikaner-volkseenheid
en my ervarings op die pad daarheen. Hy
sê:
“Glo in jou God!
Glo in jou volk! Glo in jouself!... vir die Voortrekkers... was die Groot Trek
veel meer as ‘n blote gebiedsverowering.
Vir hul immers was dit ook ‘n geloofsdaad, en die aanvaarding van ‘n
Godgegewe taak.”
Hy verwys dan na die
Gelofte en meen dat die “Suid-Afrikaanse volk” met die viering van
Geloftedag “vir alle toekomstige geslagte te kenne [wil] geee dat hy as
‘n Christelike volk geken wil wees, en dat hy hom tot daardie bepaalde
lewensrigting verbind het.”
En dan volg die
woorde wat vir ons van belang is:
“Dis met ander
woorde ‘n volk met ‘n roeping. Hy
mag en wil dieselfde ook aan geen ander volk ontsê nie, maar in sy eie geval
wil hy dit openlik erken en die verpligtinge wat daaruit voortspruit, blymoedig
aanvaar.”
Verder herhaal hy die
gedagte: “Agter ons
Suid-Afrikaanse volksbestaan en geskiedenis sit daar ‘n doel.
Daarvan moet ons as volk bewus wees, en dit na die beste van ons vermoë
probeer uitlewe.”
Hoewel Malan hier om
ooglopende politieke redes die term “Suid-Afrikaanse volk” gebruik omdat hy
sekerlik nie die Engelssprekendes daarvan kon uitsluit nie, weet ons egter dat
hy eintlik besig was om van die Afrikanervolk te praat.
Nou wil ek
sommer met die deur in die huis val, en vandag vir u sê dat ek geheel en al van
D.F. Malan verskil. Daar
is geen godgegewe plan vir die Afrikaner nie.
Hy het nie ‘n roeping in Afrika nie, en as ‘n groot klomp Afrikaners
vandag Australië en Nieu-Seeland en Kanada toe emigreer waar hulle kinders
sommer na die eerste paar jaar volkome verengels, dan demonstreer hulle daarmee
wat ek sou noem die fiksionele aard van hierdie idee.
Die roeping van die
Afrikaner is ‘n fiksie. Niks
meer en niks minder nie. Miskien
het dit op ‘n stadium ‘n doel gedien, en as ek by Bloedrivier was sou ek ook
graag wou glo dat God aan my kant was, maar ek is bevrees dit is vandag so
uitgedien soos die ossewa of die voorlaaier.
Nie net doen dit
vandag oudmodies aan nie, maar dit is ook ‘n belangrike bron van die Afrikaner
se huidige verlamming, sy onvermoë om verby sy verstrengeldheid met die res van
die Suid-Afrikaanse bevolking te dink, sy skuldkompleks, sy gevoel van
verantwoordelikheid vir ander wat sy eie heropbloei en vooruitgang onmoontlik
maak.
Apartheid was een
vorm van roepingsbewustheid. Wat
die buiteland ook al oor apartheid mag sê of dink, of dit nou ‘n misdaad teen
die mensdom was of die eerste fase van regstellende aksie, weet ons dat dit ‘n
stelsel van voogdyskap oor swartmense was wat terug te voer is na beide die
Britse koloniale beleid en die Voortrekkernaturellebeleid van die negentiende
eeu. Gedurende die hele twintigste
eeu is daar in dosyne boeke en waarskynlik honderde proefskrifte en duisende
koerant- en tydskrifartikels ‘n debat in Afrikaans en in Engels gevoer oor die
politieke regte wat swartmense toekom. Pleks
van eenvoudig aan hulle die regte toe te staan wat hulle vereis het, met
dienooreenkomstige beveiliging van Afrikanerbelange, is die koloniale beginsel
van voogdyskap (Eng. “trusteeship”) aanvaar. Verwoerd, wat die meeste gedoen het om institusionele beslag
aan apartheid of soos hy dit genoem het, “afsonderlike ontwikkeling” te gee,
was ook die persoon wat die beginsel van voogdyskap die ernstigste opgeneem het.
Niemand het meer vir swart onderwys en opleiding gedoen as juis hy nie.
Dit alles is geboekstaaf.
Anders as koloniale
Europeërs, wie se voogdyskap in ander Afrikalande dikwels beperk was tot ‘n
paar sendingstasies terwyl hulle die res van die tyd geheel en al in eiebelang
opgetree het, het die Afrikaner voogdyskap tot op die letter toegepas en ‘n
verantwoordelikheid teenoor die lot van swart Afrikane aanvaar wat alle perke
van eiebelang en redelikheid oorskry het. Selfs
die mees filantropiese Skandinawiese land het nog nooit meer as 3% van sy Bruto
Nasionale Produk aan ontwikkelingshulp in die Derde Wêreld bestee nie.
Die grote Amerika spandeer al vir baie jare heelwat minder as 1% van sy
BNP aan ontwikkelingshulp. Watter
persentasie van Afrikaner-BNP is onder apartheid aan die ontwikkeling van die
tuislande en swart onderwys bestee? Waarskynlik
heelwat meer as 3%.
Indien Afrikaners
hoegenaamd enige erkenning ontvang het vir die kolossale rol wat hulle in die
pas afgelope eeu gespeel het in die opheffing van Suid-Afrika se swart
bevolking, en nog steeds speel, sou dit miskien nog sin gemaak het.
Ons sou miskien beloon kon gewees het met allerlei internasionale pryse,
‘n reputasie kon geniet het soos dié van Moeder Teresa, as ‘n volk wat
hulself selfloos opgeoffer het vir die welvaart van ander.
Maar helaas, u weet en ek weet dat geen ander volk op aarde vir so lank
internasionaal verguis is vir die koloniale voogdyskap wat hulle so lank en so
verkeerdelik na my mening oor swartmense aanvaar het nie.
In weerwil van ‘n
algemene opleidingsvlak wat vergelyk met dié van die mees gevorderde Westerse
lande, is ons vandag die armste mense van Westerse afkoms ter wêreld, met
waarskynlik ‘n inkomste per kop wat kwalik met dié van Portugal vergelyk.
Dit alleen is getuienis van die groot opofferings wat Afrikaners in die
verlede gemaak het om die algemene welvaart van Suid-Afrika te verhoog, altyd
maar altyd ten koste van hulself.
In daardie sin was
1994 vir ons almal ‘n geweldige bevryding.
Mag Afrikaners nooit weer oor enige ander volk of volkere heers nie, en
mag ons vergeet van die fundamentalistiese Protestantse gedagte dat ons oor ‘n
roeping beskik. Vandag word
Suid-Afrika hoofsaaklik deur swartmense regeer, en dit is ons beurt om oorheers
te word. N.P. van Wyk Louw was
sekerlik een van ons mees profetiese digters, en sy gedig “Julle is die
oorheersers” uit die reeks “Gedagtes, liedere en gebede van ‘n soldaat”
is vandag vir ons geldiger as ooit:
“Júlle is die
oorheersers
en júlle die
vertrappers
van ons wat sterk is,
maar magteloos
verneder;
julle maal ons soos
koring,
julle eet ons soos
brood;
tog haat ons julle
nie:
omdat julle mens is
en die dood ook
deelagtig,
is julle ons broers;
maar julle is siek
aan die lasterlike hoogmoed.
Daarom moet julle
tot needrigheid
genees word,
gebreek word deur ons
in ons magtige
opstand
tot eenvoudige
vreugdes,
tot die
heilige lye,
tot ‘n nuwe
onmiddellikheid
van die heldere
aarde;
maar as julle dood
en ‘n vrot plek in
ons volk is,
dan sal ons
‘n mes vat
en vinnig,
genadiglik
sny deur
spiere
en vleis tot
genesing.
As mens
daaraan dink dat hierdie gedig in Oktober 1935 geskryf is, dan kan mens dit
amper nie glo nie, so tekenend van die Afrikaner se huidige situasie is dit.
Die frase « lasterlike
hoogmoed” is amper nie sterk genoeg om die reeks nydighede, beledigings,
lasterlike aantygings en gewone leedvermaak te beskryf wat die Afrikaner die
afgelope aantal jare, en veral sedert 1994 te beurt geval het nie.
Nou pas het ‘n roman deur die skrywer Zakes Mda verskyn met die titel
The Madonna of Excelsior waarin daar met die Afrikaner in sy magteloosheid
gespot word, die soveelste ou skinderstorie oor die Ontugwet dertig jaar na die
tyd opgerakel word, en ons met ‘n soort rassehaat wat aan Hitler se
anti-Semitisme herinner in al ons agterlikheid uitgebeeld word.
Maar hoewel die
Afrikaner oplaas in 1994 bevry is van sy koloniale voogdyskap, het veral die
politiek korrekte Afrikaner ‘n nuwe meulsteun om sy nek gebind.
Dié heet naamlik “uitreik na die armes, opheffing, mededeelsaamheid,
Suid-Afrikaanse nasiebou, oordrag van kundigheid en vaardighede,” en dergelike
meer. Was daar al ooit ‘n program
van kennisoordrag aan Afrikaners? Is ons deur die Britte gehelp? Het
die Raad van Anglo American ooit besluit om regstellende aksie toe te pas en
darem ‘n paar Afrikaners in sy midde op te neem? Was daar in die
Dertigerjare toe Afrikaners op hul armste was vir ons regstellende aksie in
Engelse besighede wat toe 92% van die landsekonomie beheer het?
Natuurlik is dit
almal retoriese vrae. Maar om terug
te keer na my tema van roepingsbewustheid, onderliggend aan die nuwe aandrang op
oordrag van kennis en vaardighede, uitreik na ander, en dergelike meer, is ‘n
nuwe vorm van roeping en voogdyskap. Hoe
kan ons dit omskryf? Voorheen was
dit die roeping van die meester, om goed vir sy onderdane en ondergeskiktes te
sorg, maar nou is dit die roeping van die slaaf, om sy nuwe meesters te dien.
Die spel bly dieselfde, net
die rolle is nou omgekeer.
Indien die vorige
voogdyskap vir ons minder goed uitgewerk het, gaan die huidige een rampspoedig
wees. Nie net gaan ons in die
proses verarm en kundigheid aan die res van Suid-Afrika afstaan nie, maar indien
die land as geheel nie suksesvol is nie, gaan ons ‘n tweede keer die blaam
daarvoor moet dra.
Die huidige
Suid-Afrika is vir die Afrikaner ‘n Catch-22.
Slaag dit, bewerkstellig hy eintlik sy eie ondergang, want hy gaan al hoe
verder ondertoe sak op die ranglys; slaag dit nie, gaan hy die sondebok wees.
En deur die geskiedenis weet ons wat met minderhede gebeur waarvan daar
sondebokke gemaak word.
Hoe kom ons hieruit?
Nou sal daar miskien onmiddellik stemme opgaan wat sê ons moet ‘n
volkstaat kry, of dan gewoon emigreer soos soveel individuele Afrikaners reeds
doen. Maar voordat ons enigiets
doen, moet ons myns insiens anders oor ons situasie begin dink. Ons moet alternatiewe politieke sienings van onsself
ontwikkel. Ons moet onsself van
nuuts af aan definieer. Dit waarvan
Louw hierbo praat, “om met ‘n mes vinnig, genadiglik te sny deur spiere en
vleis tot genesing” om van die vrot plek in jou volk ontslae te raak, is
essensieel indien ons hoegenaamd wil vooruitkom.
Natuurlik kan mens
die digter se beeld op allerlei maniere interpreteer. Maar vir my is die allerbelangrikste dat ons begin om in
Afrikaans politiek en godsdiens te skei.
Nou onlangs is daar
weer ‘n Afrikanerparty gestig, onder die naam “Nasionale Aksie”, let wel
nie Nasionale Party nie, want dié het mos so te sê oorgeloop na die
Afrika-Nasionale Party, die ANC, maar “Nasionale Aksie”.
Synde van nature nuuskierig, het ek vir my vriend, mnr. Cassie Aucamp, die
beginsels van die nuwe Nasionale Party, ekskuus, nuwe Nasionale Aksieparty,
aangevra. En
jou wrintiewaar, in die aanhef staan daar drie grondbeginsels waarvan twee ‘n
herformulering van koloniale voogdyskap bevat.
In die eerste grondbeginsel, stel Nasionale Aksie “Suid-Afrika
eerste”, J.B.M. Hertzog se ou slagspreuk, en erken die party “Suid-Afrika as
ons enigste vaderland en is daartoe verbind (sic) om saam met ander
Suid-Afrikaners ‘n beslissende rol te speel om ‘n beter Suid-Afrika vir
almal daar te stel.” Hiermee sê
Nasionale Aksie dus dat hy mede-verantwoordelik wil wees vir die materiële
welvaart van alle Suid-Afrikaners, iets waaroor hy en die res van die Afrikaners
hoegenaamd geen beheer het nie. Asof
dit nie genoeg is nie, belowe Nasionale Aksie in sy tweede grondbeginsel dat hy
sal “veg vir die kultuur- en taalregte van elke groep in Suid-Afrika, en
spesifiek vir die regte van Afrikaans en die Afrikaner.”
Weer eens kan ek my
nie herinner dat daar in die 350 jaar van opgetekende geskiedenis van
Suid-Afrika, d.i. sedert Jan van Riebeeck sy Dagjoernaal begin het, al ‘n
geval was waar enigeen vir die kultuur- en taalregte van Afrikaners geveg het
nie, behalwe Afrikaners self. Tans
is dit moeilik genoeg om net ‘n handjievol Afrikaners te motiveer om vir hul
eie taal en kultuur op te kom, wat nog te sê vir die magdom tale en kulture van
Suid-Afrika. Hoe gaan ‘n mens
hierdie barmhartige Samaritaanhouding uit die Afrikaner uitkry?
‘n Mens sou daaraan kon gedink om dit uit hulle te slaan, maar
ongelukkig is lyfstraf verbode in die nuwe Suid-Afrika.
Die
heel ergste van die NA se grondbeginsels is egter die derde en laaste.
Dit heet “Die NA se Christelike fondament. Die NA onderwerp hom aan die
oppergesag van God, erken die Bybel as norm en
sal sy optrede daarvolgens rig. Die NA is verbind tot geloofsvryheid.”
Hier
is ons weer terug in die Middeleeue, by die teokrasie.
Ons moet ons politiek volgens Bybelse norme bedryf, en nie volgens sekulêre
norme nie. Soos altyd in die
verlede, bly die Afrikaner in gebreke om godsdiens en politiek te skei, die
groot les van die Europese Verligting.
Nou mag daar mense wees wat vra, maar
indien ons vergeet van ons Christelike roeping in Suid-Afrika en dergelike mooi
gedagtes, wat bly dan oor? Waarvolgens
behoort die Afrikaner sy politiek te rig? Myns
insiens is dit eenvoudig. Kardinaal
Richelieu, wat ‘n Katoliek was, het gepraat van raison d’état,
waarmee hy eintlik die eiebelang van Frankryk bedoel het.
Solank dit in die Franse volk se belang was, sou hy in ‘n
godsdiensoorlog teen ‘n ander Katolieke land betrokke raak saam met
Protestante, sou hy steel, lieg en bedrieg, solank dit die Franse saak bevorder
het.
Tree op in eie belang, sou les nommer een
wees. Dit bring my natuurlik reëlreg
in stryd met die Afrikanerbond, met die redakteurs van die Nasionale
Perskoerante, en wie weet wie almal. As
mens egter nie in jou eie belang optree nie, is jy besig om iets weg te gee, of
dit nou kapitaal, kundigheid of arbeid is.
Machiavelli het in sy boek “Die Prins” baie wyse woorde gehad oor
Prinse wat guns probeer wen met vrygewigheid.
In die eerste instansie het hy gekonstateer dat ‘n Prins òf sy eie
geld en dié van sy onderdane bestee, òf dié van ander. Sy mening is dat, in die geval van sy of sy onderdane se
geld, die prins baie spaarsamig moet wees, maar indien dit gaan om ander se
geld, hy geen geleentheid om vrygewigheid te betoon, moet laat verbygaan nie.
Overgezet synde, indien dit gaan om
Afrikanerkapitaal of –kundigheid, behoort ons uiters spaarsamig, selfs vrekkig
te wees. Indien ons egter ooit in
die onwaarskynlike situasie beland waar ons die belastingbydraes van ander
groepe in Suid-Afrika of sê maar kapitaal van die Wêreldbank, IMF of oorsese
lande kan bestee, sou dit gepas wees om met groot vertoon van vrygewigheid en
welwillendheid húl fondse aan te wend.
Die rede vir hierdie strategie, is volgens
Machiavelli die volgende, en ek haal aan:
“Daar is niks wat so gou opraak soos
vrygewigheid nie, want terwyl jy dit beoefen verloor jy die mag om dit te doen,
en so word jy òf arm of verag, òf andersins, deur armoede te vermy, word jy
gierig en gehaat. En ‘n prins
moet hom daarvan weerhou, bo alles, om verag en gehaat te raak; en vrygewigheid
lei jou na albei. Daarom is dit
wyser om ‘n reputasie vir suinigheid te hê wat vir jou verwyt sonder haat
bring, as om genoop te word deur die strewe na ‘n reputasie vir vrygewigheid
om ‘n naam vir gierigheid te verwerf wat verwyt met haat veroorsaak.”
Hier skryf ‘n Italianer in 1513 iets wat
Afrikanerleiers blykbaar nog nooit gelees het nie. Nie net het die NP voortdurend onder apartheid gepoog om ‘n
goeie reputasie te koop met vrygewigheid nie, maar dié party het ook die mees
vrygewige ding in die geskiedenis gedoen deur eenvoudig die mag op ‘n
skinkbord prys te gee. Wat is
vandag die resultaat van hierdie selflose, en hoef ‘n mens nog by te voeg,
Christelike daad? Die Afrikaner
word gehaat en verag soos nog nooit tevore nie.
Vergelyk die houding wat die huidige
Suid-Afrkaanse regering tans inneem teenoor die Westerse lande.
Presies soos wat Machiavelli sê, word hulle beskou as “suinig” en
daarom verwyt. Maar nog nooit sou
ons regering of selfs die hele swart Afrika hul haat of veragting teenoor die
Weste uitspreek nie.
Rasionele eiebelang is die grondslag van
die liberalisme, en by uitbreiding van liberale demokrasie.
Indien die Afrikaner kan leer om dit op homself te betrek, kan ons net
vorder in ons politieke kultuur.
Dit impliseer ‘n volslae aflegging van
die gedagte van ‘n roeping, om goed te doen of vrygewig te wees teenoor ander.
Die houding van Afrikaners behoort te wees dat ons in die eerste plek
onsself, ons eie mense, ons eie taal en kultuur, ons eie ekonomiese vermoëns en
politieke inspraak gaan bevorder voor dié van enigiemand anders.
Indien daar hoegenaamd hulp of opheffing van ander sou plaasvind, moet
dit teen ‘n prys wees. Werk eers
uit wat die daaglikse tarief sou wees om Europeërs of Amerikaners uit te vlieg
om dieselfde bystand te kom verleen, hul verblyf in luuksehotelle te betaal,
alvorens enige Afrikaner ‘n vinger lig om enigiets te doen wat nie in sy
direkte belang en dié van sy volksgenote is nie.
Veroorsaak die gebrek aan Calvinistiese
predestinasie wat so ‘n moderne, liberale houding impliseer ‘n filosofiese
probleem? As ek iemand soos D.F.
Malan reg lees, dan val sy begrip van die Afrikanervolk plat sodra mens die
godsdienstige element daaruit haal. Maar
dit hoef nie so te wees nie. Daar
is ander maniere om aan die Afrikanervolk te dink, behalwe as ‘n entiteit wat
deur God gewil is.
Die Europese nasionalisme het tydens die Verligting ten minste twee vername konsepsies van ‘n volk gegee, waarvan geeneen verwant is aan goddelike ingryping nie. Die eerste was dié van Herder en die Duitse nasionalisme wat die taal en diversiteit voorop gestel het. Die tweede was die Franse begrip van die “nation” wat berus het op ‘n demokratiese assosiasie van individue wat elke dag as’t ware deelneem aan ‘n plebisiet om hul nasie te laat voortduur, soos wat Renan dit gestel het in sy teks “Qu’est-ce qu’une nation?” (Wat is ‘n nasie?)
Volgens Herder in sy opstel Abhandlung
über den Ursprung der Sprache is taal nie deur God geskep nie, maar deur
die mens wat skeppend gereageer het op die veelheid van dinge wat hy in die
natuur teëgekom het. Taal het sy
oorsprong in ons sintuiglike waarnemings, en van daar af ontwikkel dit in ‘n
lewende amalgaam van dinge en gebeure wat gekombineer word met die emosies wat
hulle in die mens ontketen. Taal
was vir Herder die draer van die volksgees, die sogenaamde Volksgeist.
Montesquieu het reeds voor Herder hierdie gedagte uitgespreek in sy
L’esprit des lois toe hy gepraat het van die “esprit général”, die
algemene gees van ‘n nasie. Volgens
Montesquie is daar “verskeie dinge wat mense beheers:
die klimaat, die godsdiens, die wette, die regeringsbeginsels, die
voorbeelde van vergange dinge, die morele waardes, die maniere:
daarom word ‘n algemene gees gevorm wat daaruit voortkom.”
(Aangehaal deur Finkelkraut, A. La
défaite de la pensée, bl. 14.)
Wat ons ook moet besef is dat die
verskillende sienings van volkskap van Duitse of Franse denkers op bepaalde tye
geweldig beïnvloed is deur die historiese omstandighede. Herder en ander Duitse Romantiese filosowe het geskryf in
reaksie op die verfransing van hul eie élite wat die Duitse taal misken het, en
die algemene oorheersing van Frans. Renan
het op sy beurt ‘n begrip van die nasie geformuleer wat nie gekoppel was aan
taal of afkoms nie, maar aan assosiasie. Waarom?
Omdat hy implisiet wou argumenteer dat Elsas-Lotaringe wat deur Bismarck
van Frankryk verower is in 1870 die reg gehad het om met Frankryk te assosieer,
eerder as om op grond van taal en afkoms by Duitsland ingelyf te word.
Renan gee die volgende definisie van ‘n
nasie: “’n Nasie is daarom ‘n
groot solidariteit wat daargestel word deur die gevoel van opofferinge wat die
mense gemaak het en van dié wat hulle bereid is om te maak. Dit veronderstel ‘n verlede:
die nasie word egter opgesom in die hede deur ‘n tasbare feit:
die instemming, die duidelik uitgesproke begeerte om met ‘n
gemeenskaplike lewe voort te gaan. Die bestaan van ‘n nasie is ‘n daaglikse volkstemming.”
(Aangehaal deur Finkelkraut, ibid., bl. 43)
My eie siening van die Afrikanervolk is
ontleen aan die biologie, maar dan in ‘n minder letterlike sin.
Net soos wat ons as mense die produk is van evolusie, is ons as ‘n
taal- en kultuurgroep die resultaat van evolusionêre ontwikkeling.
Die filosoof Karl Popper praat iewers van evolusionêre epistemologie in
terme waarvan die menslike denke self onderworpe is aan ‘n proses van
evolusie, van aanpassing by ‘n veranderende werklikheid.
Afrikaans het uit Nederlands gespruit, en Afrikaners as ‘n groep uit
Nederlanders, Vlaminge, Franse, Duitsers, Skotte en Engelse.
Die kans het ons van die sewentiende eeu af in hierdie land saamgegooi.
Hier het ons ‘n nuwe landskap, ‘n nuwe milieu ontdek wat baie anders
was as dié van Europa, en beide ons taal en ons denke moes daarby aanpas.
Sedertdien het ons ‘n land opgebou wat ons tot redelik onlangs nog
“ons land” kon noem, maar daar is tans onsekerheid of daar nog hoegenaamd
plek is vir die Afrikaner in Suid-Afrika. Miskien
sal ons nie as individue uit die land verdryf word soos die blanke boere uit
Zimbabwe nie, of altans nog nie, maar ek dink nie daar is enige twyfel daaroor
dat die voortbestaan van die Afrikanerdom in sy mees onlangse gedaante eintlik
onversoenbaar is met die nuwe Suid-Afrika nie.
Volgens mnr. Ton Vosloo, die voorsitter van Sanlam en die Nasionale Pers,
gee die begrippe “Afrikaner” en “volk” aanstoot in die huidige opset, en
hy behoort te weet.
Daar is vandag baie mense, ingesluit baie
Afrikaners, wat voel dat dit nie meer die moeite werd is om met die
Afrikanerprojek aan te gaan nie. Dat
ons deel moet word van hibriede, multikulturele Suid-Afrika, dat ons die Engelse
taal moet aanneem, en trou moet sweer aan die ANC-regering.
Myns insiens sou dit ‘n verskriklike fout wees.
Nie net verraai ons daarmee ons voorgeslagte, die Voortrekkers, asook die
vroue en kinders wat in die konsentrasiekampe vir ons vryheid gesterf het nie,
maar ons maak ook iets dood wat baie mooi is.
Kortom, die taal en kultuur, die gemeenskap, die nasie wat Afrikaners tot
stand gebring het, is mooier as die meeste ander dinge in Suid-Afrika. Uiteindelik is daar geen goddelike opdrag om Afrikaans en die
Afrikaner te laat voortleef nie, maar is daar ‘n estetiese imperatief wat vra
dat ons moet inspring en dit wat ons voorgeslagte tot stand gebring het, laat
herleef en verder uitbou. Net soos
‘n mens nie kan stilstaan langs ‘n pragtige gebou wat stadig maar seker
afbrand nie, so kan mens nie toelaat dat die Afrikanervolk tot niet gaan nie.
Dog kultuur, ‘n volk, is ook ‘n lewende
organisme. Net soos wat mens nie
goedsmoeds ‘n lewe neem nie, net so is dit ‘n wandaad om ‘n organisme soos
‘n volk te vernietig. Uiteindelik
gaan dit oor oorlewing. Tensy ons
ons wil om te oorleef verloor het, sal ons móét opstaan teen ons oorheersing,
dit waarvan Van Wyk Louw in sy gedig van flussies gepraat het.
Dit beteken nie noodwendig gewapende verset
nie. Maar ek dink daar is honderde
maniere waarop ons vir ons regte en belange kan stry op ‘n nie-gewelddadige
manier. Indien die huidige bewind
werklik van plan is om die Afrikaner te onderdruk, moet hy besef dat hy hom
daarmee op die pad van konfrontasie geplaas het met die enigste mense op die
Afrikakontinent wat waaragtig aanspraak kan maak op volkskap en alles wat dit
impliseer. Dit is maklik om
individue te onderdruk, maar dit is baie moeilik om ‘n volk te onderdruk.
Vroeër of later gooi hy die kettings van hom af.
Oor die afgelope dekade, en veral sedert die verbrokkeling van die ou
Sowjet-Unie, het ons gesien hoe dosyne volke wat vir eeue lank oorheers en
verdwene verklaar is, weer herrys het om hul eie grondgebied en soewereiniteit
op te eis.
Myns insiens kan die huidige onderdrukking
van Afrikaans en die Afrikaner se nasionale strewe net die proses radikaliseer
waarvolgens Suid-Afrika soos ‘n mini-Sowjet-empaaier uitmekaar gaan spat.
Waar en wanneer ons ‘n nuwe Afrikanerrepubliek gaan verkry, is nie so
belangrik nie as die wete dat dit feitlik onafwendbaar is.
Iemand het iewers gesê dat die huidige stelsel homself destabiliseer, en
ek dink daardie persoon was reg. Ons
hoef amper niks te doen nie, en die stelsel is klaar besig om te wankel.
As ons eers aktief begin om dit te ondermyn en te saboteer, weer eens
sonder om gewelddadig te raak, sal dit baie gou onder druk kom. Soos ons ten Noorde van ons grense gesien het, kan state in
Afrika wat onder druk verkeer nie sonder hulp van buite selfs hul eie bevolkings
voed nie. Anders as die Europese
moondhede wat Twee Wêreldoorloë geveg het waaraan miljoene soldate deelgeneem
het, het Afrika geen geskiedenis van ‘n vermoë om groot weermagte op die been
te bring en die ingewikkelde logistiek van volskaalse oorlog te hanteer nie.
Die grootste weermag Suid van die Sahara is tans waarskynlik die
Tutsi’s se Rwandese Patriotiese Front wat uit 20 000 soldate bestaan, en wat
sop pas uit die Kongo onttrek het. Oorloë
in Afrika bestaan uit ‘n uitgerekte reeks guerilla-aksies en strooptogte, en
omdat hulle om persoonlikhede draai, eindig hulle gewoonlik as een van die
leiers doodgeskiet word soos nou onlangs met Savimbi gebeur het in Angola.
Uiteindelik is daar geen duidelike wenner nie, en word daar vrede gemaak
totdat daar weer op ‘n dag geweld of burgeroorlog uitbreek.
Gerugte wil dit hê dat slegs 3000 lede van die Suid-Afrikaanse Weermag
tans operasioneel is.
Dit alles om te sê dat, sy brawade ten
spyt, die huidige Suid-Afrikaanse bewind beswaarlik oor die vermoë beskik om
‘n oorspronklik Europese nasie van tussen twee en drie miljoen mense soos die
Afrikaners gewelddadig te onderdruk of militêr te oorheers.
Die eerste stap na vryheid vir Afrikaners
is om baie kalm te begin om uitsluitlik in hul eie belang op te tree.
Ons behoort onmiddellik te onttrek van alle projekte wat ons vyande
sterker maak en onsself swakker. Ons
moet geen hulp van watter aard ook al aan enigiemand verskaf sonder dat dit teen
wêreldmarkpryse geskied nie. Ons
moet voortdurend ons eie veiligheid voor oë hou, gegewe die onsekerheid en
wispelturigheid van Afrikapolitiek. Geen
strategiese vermoëns, wat landboukundigheid mag insluit, moet aan ander groepe
in die land oorgedra word sonder dat daar verreikende toegewings aan ons gemaak
word nie, soos byvoorbeeld ‘n herstel van soewereiniteit en ‘n eie
grondgebied.
Ons moet veral roepingsonbewus word, en
vergeet dat ons enige hoër ideaal behoort na te streef as ons eie oorlewing en
welvaart. Gegewe die situasie
waarin ons ons bevind, is dit opsigself al uitdaging genoeg.
Apartheid is verby. Koloniale voogdyskap is verby.
Nooit weer moet ons dieselfde hoë prys vir ons vrygewigheid betaal nie.
Kom ons word selfsugtig. Kom ons kyk na onsself en na ons eie mense.