Die Afrikaner het geen roeping in Afrika nie

Dan Roodt

Voordrag gelewer voor die Bond van Oud-Jeugbonders, Pretoria, op 12 Oktober 2002

Een van die oudste en mees Calvinistiese idees van die Afrikaner is die gedagte dat hy oor ‘n roeping in Afrika beskik.  Myns insiens is dit onderliggend aan sy huidige identiteitskrisis en skynbare onmag om vorentoe te beweeg.

Tradisioneel kan ons hierdie sogenaamde roeping van die Afrikaner in Afrika só opsom:

In terme van streng Calvinistiese prinsipes, beskik God oor alles in die wêreld.  Daarom het hy spesifiek die groep Europeërs wat hulself later Afrikaners sou noem na Suid-Afrika gestuur om ‘n volk te word.  In terme hiervan is die volkskap van die Afrikaner dus iets heiligs en onveranderliks.  Die groep mense wat die volk uitmaak, is as’t ware geroepe om hul kollektiewe identiteit in stand te hou en uit te bou.  Ná die oorwinning te Bloedrivier is die Afrikaner ook gebind in terme van die Gelofte om God se gebooie te onderhou, en jaarliks dié datum te vier.

Daar is baie formulerings van hierdie idee en daagliks kom ‘n mens dit nog onder ons mense teë.  Indien ek dus vir D.F. Malan daaroor aanhaal, is dit nie omdat syne besonder tipies of beter as enige ander definisie is nie, maar bloot omdat dit gewig dra as komende van een van die hooffigure uit die Afrikaner se politieke geskiedenis onder wie die verkiesingsoorwinning in 1948 sy belangrikste toetrede tot die magspel in Suider-Afrika gesimboliseer het.  W.A. de Klerk het daardie verkiesingsoorwinning beskryf as ‘n Afrikanerrevolusie en die meeste van u wat vandag hier sit, sou dit waarskynlik beaam.  Hier volg die aanhaling uit D.F. Malan, uit sy beroemde boek Afrikaner-volkseenheid en my ervarings op die pad daarheen.  Hy sê:

“Glo in jou God!  Glo in jou volk!  Glo in jouself!... vir die Voortrekkers... was die Groot Trek veel meer as ‘n blote gebiedsverowering.  Vir hul immers was dit ook ‘n geloofsdaad, en die aanvaarding van ‘n Godgegewe taak.”

Hy verwys dan na die Gelofte en meen dat die “Suid-Afrikaanse volk”  met die viering van Geloftedag  “vir alle toekomstige geslagte te kenne [wil] geee dat hy as ‘n Christelike volk geken wil wees, en dat hy hom tot daardie bepaalde lewensrigting verbind het.”

En dan volg die woorde wat vir ons van belang is:

“Dis met ander woorde ‘n volk met ‘n roeping.  Hy mag en wil dieselfde ook aan geen ander volk ontsê nie, maar in sy eie geval wil hy dit openlik erken en die verpligtinge wat daaruit voortspruit, blymoedig aanvaar.”

Verder herhaal hy die gedagte:  “Agter ons Suid-Afrikaanse volksbestaan en geskiedenis sit daar ‘n doel.  Daarvan moet ons as volk bewus wees, en dit na die beste van ons vermoë probeer uitlewe.”

Hoewel Malan hier om ooglopende politieke redes die term “Suid-Afrikaanse volk” gebruik omdat hy sekerlik nie die Engelssprekendes daarvan kon uitsluit nie, weet ons egter dat hy eintlik besig was om van die Afrikanervolk te praat.

Nou wil ek sommer met die deur in die huis val, en vandag vir u sê dat ek geheel en al van D.F. Malan verskil.  Daar is geen godgegewe plan vir die Afrikaner nie.  Hy het nie ‘n roeping in Afrika nie, en as ‘n groot klomp Afrikaners vandag Australië en Nieu-Seeland en Kanada toe emigreer waar hulle kinders sommer na die eerste paar jaar volkome verengels, dan demonstreer hulle daarmee wat ek sou noem die fiksionele aard van hierdie idee.

Die roeping van die Afrikaner is ‘n fiksie.  Niks meer en niks minder nie.  Miskien het dit op ‘n stadium ‘n doel gedien, en as ek by Bloedrivier was sou ek ook graag wou glo dat God aan my kant was, maar ek is bevrees dit is vandag so uitgedien soos die ossewa of die voorlaaier.

Nie net doen dit vandag oudmodies aan nie, maar dit is ook ‘n belangrike bron van die Afrikaner se huidige verlamming, sy onvermoë om verby sy verstrengeldheid met die res van die Suid-Afrikaanse bevolking te dink, sy skuldkompleks, sy gevoel van verantwoordelikheid vir ander wat sy eie heropbloei en vooruitgang onmoontlik maak.

Apartheid was een vorm van roepingsbewustheid.  Wat die buiteland ook al oor apartheid mag sê of dink, of dit nou ‘n misdaad teen die mensdom was of die eerste fase van regstellende aksie, weet ons dat dit ‘n stelsel van voogdyskap oor swartmense was wat terug te voer is na beide die Britse koloniale beleid en die Voortrekkernaturellebeleid van die negentiende eeu.  Gedurende die hele twintigste eeu is daar in dosyne boeke en waarskynlik honderde proefskrifte en duisende koerant- en tydskrifartikels ‘n debat in Afrikaans en in Engels gevoer oor die politieke regte wat swartmense toekom.  Pleks van eenvoudig aan hulle die regte toe te staan wat hulle vereis het, met dienooreenkomstige beveiliging van Afrikanerbelange, is die koloniale beginsel van voogdyskap (Eng. “trusteeship”) aanvaar.  Verwoerd, wat die meeste gedoen het om institusionele beslag aan apartheid of soos hy dit genoem het, “afsonderlike ontwikkeling” te gee, was ook die persoon wat die beginsel van voogdyskap die ernstigste opgeneem het.  Niemand het meer vir swart onderwys en opleiding gedoen as juis hy nie.  Dit alles is geboekstaaf.

Anders as koloniale Europeërs, wie se voogdyskap in ander Afrikalande dikwels beperk was tot ‘n paar sendingstasies terwyl hulle die res van die tyd geheel en al in eiebelang opgetree het, het die Afrikaner voogdyskap tot op die letter toegepas en ‘n verantwoordelikheid teenoor die lot van swart Afrikane aanvaar wat alle perke van eiebelang en redelikheid oorskry het.  Selfs die mees filantropiese Skandinawiese land het nog nooit meer as 3% van sy Bruto Nasionale Produk aan ontwikkelingshulp in die Derde Wêreld bestee nie.  Die grote Amerika spandeer al vir baie jare heelwat minder as 1% van sy BNP aan ontwikkelingshulp.  Watter persentasie van Afrikaner-BNP is onder apartheid aan die ontwikkeling van die tuislande en swart onderwys bestee?  Waarskynlik heelwat meer as 3%.

Indien Afrikaners hoegenaamd enige erkenning ontvang het vir die kolossale rol wat hulle in die pas afgelope eeu gespeel het in die opheffing van Suid-Afrika se swart bevolking, en nog steeds speel, sou dit miskien nog sin gemaak het.  Ons sou miskien beloon kon gewees het met allerlei internasionale pryse, ‘n reputasie kon geniet het soos dié van Moeder Teresa, as ‘n volk wat hulself selfloos opgeoffer het vir die welvaart van ander.  Maar helaas, u weet en ek weet dat geen ander volk op aarde vir so lank internasionaal verguis is vir die koloniale voogdyskap wat hulle so lank en so verkeerdelik na my mening oor swartmense aanvaar het nie.

In weerwil van ‘n algemene opleidingsvlak wat vergelyk met dié van die mees gevorderde Westerse lande, is ons vandag die armste mense van Westerse afkoms ter wêreld, met waarskynlik ‘n inkomste per kop wat kwalik met dié van Portugal vergelyk.  Dit alleen is getuienis van die groot opofferings wat Afrikaners in die verlede gemaak het om die algemene welvaart van Suid-Afrika te verhoog, altyd maar altyd ten koste van hulself.

In daardie sin was 1994 vir ons almal ‘n geweldige bevryding.  Mag Afrikaners nooit weer oor enige ander volk of volkere heers nie, en mag ons vergeet van die fundamentalistiese Protestantse gedagte dat ons oor ‘n roeping beskik.  Vandag word Suid-Afrika hoofsaaklik deur swartmense regeer, en dit is ons beurt om oorheers te word.  N.P. van Wyk Louw was sekerlik een van ons mees profetiese digters, en sy gedig “Julle is die oorheersers” uit die reeks “Gedagtes, liedere en gebede van ‘n soldaat” is vandag vir ons geldiger as ooit:

“Júlle is die oorheersers

en júlle die vertrappers

van ons wat sterk is,

maar magteloos verneder;

julle maal ons soos koring,

julle eet ons soos brood;

tog haat ons julle nie:

omdat julle mens is

en die dood ook deelagtig,

is julle ons broers;

maar julle is siek aan die lasterlike hoogmoed.

 

Daarom moet julle

tot needrigheid genees word,

gebreek word deur ons

in ons magtige opstand

tot eenvoudige vreugdes,

tot die heilige lye,

tot ‘n nuwe onmiddellikheid

van die heldere aarde;

 

maar as julle dood

en ‘n vrot plek in ons volk is,

dan sal ons ‘n mes vat

en vinnig, genadiglik

sny deur spiere

en vleis tot genesing.

 

As mens daaraan dink dat hierdie gedig in Oktober 1935 geskryf is, dan kan mens dit amper nie glo nie, so tekenend van die Afrikaner se huidige situasie is dit.  Die frase « lasterlike hoogmoed” is amper nie sterk genoeg om die reeks nydighede, beledigings, lasterlike aantygings en gewone leedvermaak te beskryf wat die Afrikaner die afgelope aantal jare, en veral sedert 1994 te beurt geval het nie.  Nou pas het ‘n roman deur die skrywer Zakes Mda verskyn met die titel The Madonna of Excelsior waarin daar met die Afrikaner in sy magteloosheid gespot word, die soveelste ou skinderstorie oor die Ontugwet dertig jaar na die tyd opgerakel word, en ons met ‘n soort rassehaat wat aan Hitler se anti-Semitisme herinner in al ons agterlikheid uitgebeeld word.

Maar hoewel die Afrikaner oplaas in 1994 bevry is van sy koloniale voogdyskap, het veral die politiek korrekte Afrikaner ‘n nuwe meulsteun om sy nek gebind.  Dié heet naamlik “uitreik na die armes, opheffing, mededeelsaamheid, Suid-Afrikaanse nasiebou, oordrag van kundigheid en vaardighede,” en dergelike meer.  Was daar al ooit ‘n program van kennisoordrag aan Afrikaners?  Is ons deur die Britte gehelp?  Het die Raad van Anglo American ooit besluit om regstellende aksie toe te pas en darem ‘n paar Afrikaners in sy midde op te neem?  Was daar in die Dertigerjare toe Afrikaners op hul armste was vir ons regstellende aksie in Engelse besighede wat toe 92% van die landsekonomie beheer het?

Natuurlik is dit almal retoriese vrae.  Maar om terug te keer na my tema van roepingsbewustheid, onderliggend aan die nuwe aandrang op oordrag van kennis en vaardighede, uitreik na ander, en dergelike meer, is ‘n nuwe vorm van roeping en voogdyskap.  Hoe kan ons dit omskryf?  Voorheen was dit die roeping van die meester, om goed vir sy onderdane en ondergeskiktes te sorg, maar nou is dit die roeping van die slaaf, om sy nuwe meesters te dien.  Die spel bly dieselfde, net die rolle is nou omgekeer.

Indien die vorige voogdyskap vir ons minder goed uitgewerk het, gaan die huidige een rampspoedig wees.  Nie net gaan ons in die proses verarm en kundigheid aan die res van Suid-Afrika afstaan nie, maar indien die land as geheel nie suksesvol is nie, gaan ons ‘n tweede keer die blaam daarvoor moet dra.

Die huidige Suid-Afrika is vir die Afrikaner ‘n Catch-22.  Slaag dit, bewerkstellig hy eintlik sy eie ondergang, want hy gaan al hoe verder ondertoe sak op die ranglys; slaag dit nie, gaan hy die sondebok wees.  En deur die geskiedenis weet ons wat met minderhede gebeur waarvan daar sondebokke gemaak word.

Hoe kom ons hieruit?  Nou sal daar miskien onmiddellik stemme opgaan wat sê ons moet ‘n volkstaat kry, of dan gewoon emigreer soos soveel individuele Afrikaners reeds doen.  Maar voordat ons enigiets doen, moet ons myns insiens anders oor ons situasie begin dink.  Ons moet alternatiewe politieke sienings van onsself ontwikkel.  Ons moet onsself van nuuts af aan definieer.  Dit waarvan Louw hierbo praat, “om met ‘n mes vinnig, genadiglik te sny deur spiere en vleis tot genesing” om van die vrot plek in jou volk ontslae te raak, is essensieel indien ons hoegenaamd wil vooruitkom.

Natuurlik kan mens die digter se beeld op allerlei maniere interpreteer.  Maar vir my is die allerbelangrikste dat ons begin om in Afrikaans politiek en godsdiens te skei.

Nou onlangs is daar weer ‘n Afrikanerparty gestig, onder die naam “Nasionale Aksie”, let wel nie Nasionale Party nie, want dié het mos so te sê oorgeloop na die Afrika-Nasionale Party, die ANC, maar “Nasionale Aksie”.  Synde van nature nuuskierig, het ek vir my vriend, mnr. Cassie Aucamp, die beginsels van die nuwe Nasionale Party, ekskuus, nuwe Nasionale Aksieparty, aangevra.  En jou wrintiewaar, in die aanhef staan daar drie grondbeginsels waarvan twee ‘n herformulering van koloniale voogdyskap bevat.  In die eerste grondbeginsel, stel Nasionale Aksie “Suid-Afrika eerste”, J.B.M. Hertzog se ou slagspreuk, en erken die party “Suid-Afrika as ons enigste vaderland en is daartoe verbind (sic) om saam met ander Suid-Afrikaners ‘n beslissende rol te speel om ‘n beter Suid-Afrika vir almal daar te stel.”  Hiermee sê Nasionale Aksie dus dat hy mede-verantwoordelik wil wees vir die materiële welvaart van alle Suid-Afrikaners, iets waaroor hy en die res van die Afrikaners hoegenaamd geen beheer het nie.  Asof dit nie genoeg is nie, belowe Nasionale Aksie in sy tweede grondbeginsel dat hy sal “veg vir die kultuur- en taalregte van elke groep in Suid-Afrika, en spesifiek vir die regte van Afrikaans en die Afrikaner.”

Weer eens kan ek my nie herinner dat daar in die 350 jaar van opgetekende geskiedenis van Suid-Afrika, d.i. sedert Jan van Riebeeck sy Dagjoernaal begin het, al ‘n geval was waar enigeen vir die kultuur- en taalregte van Afrikaners geveg het nie, behalwe Afrikaners self.  Tans is dit moeilik genoeg om net ‘n handjievol Afrikaners te motiveer om vir hul eie taal en kultuur op te kom, wat nog te sê vir die magdom tale en kulture van Suid-Afrika.  Hoe gaan ‘n mens hierdie barmhartige Samaritaanhouding uit die Afrikaner uitkry?  ‘n Mens sou daaraan kon gedink om dit uit hulle te slaan, maar ongelukkig is lyfstraf verbode in die nuwe Suid-Afrika.

Die heel ergste van die NA se grondbeginsels is egter die derde en laaste.  Dit heet “Die NA se Christelike fondament.  Die NA onderwerp hom aan die oppergesag van God, erken die Bybel as norm en sal sy optrede daarvolgens rig. Die NA is verbind tot geloofsvryheid.”

Hier is ons weer terug in die Middeleeue, by die teokrasie.  Ons moet ons politiek volgens Bybelse norme bedryf, en nie volgens sekulêre norme nie.  Soos altyd in die verlede, bly die Afrikaner in gebreke om godsdiens en politiek te skei, die groot les van die Europese Verligting.

Nou mag daar mense wees wat vra, maar indien ons vergeet van ons Christelike roeping in Suid-Afrika en dergelike mooi gedagtes, wat bly dan oor?  Waarvolgens behoort die Afrikaner sy politiek te rig?  Myns insiens is dit eenvoudig.  Kardinaal Richelieu, wat ‘n Katoliek was, het gepraat van raison d’état, waarmee hy eintlik die eiebelang van Frankryk bedoel het.  Solank dit in die Franse volk se belang was, sou hy in ‘n godsdiensoorlog teen ‘n ander Katolieke land betrokke raak saam met Protestante, sou hy steel, lieg en bedrieg, solank dit die Franse saak bevorder het.

Tree op in eie belang, sou les nommer een wees.  Dit bring my natuurlik reëlreg in stryd met die Afrikanerbond, met die redakteurs van die Nasionale Perskoerante, en wie weet wie almal.  As mens egter nie in jou eie belang optree nie, is jy besig om iets weg te gee, of dit nou kapitaal, kundigheid of arbeid is.  Machiavelli het in sy boek “Die Prins” baie wyse woorde gehad oor Prinse wat guns probeer wen met vrygewigheid.  In die eerste instansie het hy gekonstateer dat ‘n Prins òf sy eie geld en dié van sy onderdane bestee, òf dié van ander.  Sy mening is dat, in die geval van sy of sy onderdane se geld, die prins baie spaarsamig moet wees, maar indien dit gaan om ander se geld, hy geen geleentheid om vrygewigheid te betoon, moet laat verbygaan nie.

Overgezet synde, indien dit gaan om Afrikanerkapitaal of –kundigheid, behoort ons uiters spaarsamig, selfs vrekkig te wees.  Indien ons egter ooit in die onwaarskynlike situasie beland waar ons die belastingbydraes van ander groepe in Suid-Afrika of sê maar kapitaal van die Wêreldbank, IMF of oorsese lande kan bestee, sou dit gepas wees om met groot vertoon van vrygewigheid en welwillendheid húl fondse aan te wend.

Die rede vir hierdie strategie, is volgens Machiavelli die volgende, en ek haal aan:

“Daar is niks wat so gou opraak soos vrygewigheid nie, want terwyl jy dit beoefen verloor jy die mag om dit te doen, en so word jy òf arm of verag, òf andersins, deur armoede te vermy, word jy gierig en gehaat.  En ‘n prins moet hom daarvan weerhou, bo alles, om verag en gehaat te raak; en vrygewigheid lei jou na albei.  Daarom is dit wyser om ‘n reputasie vir suinigheid te hê wat vir jou verwyt sonder haat bring, as om genoop te word deur die strewe na ‘n reputasie vir vrygewigheid om ‘n naam vir gierigheid te verwerf wat verwyt met haat veroorsaak.”

Hier skryf ‘n Italianer in 1513 iets wat Afrikanerleiers blykbaar nog nooit gelees het nie.  Nie net het die NP voortdurend onder apartheid gepoog om ‘n goeie reputasie te koop met vrygewigheid nie, maar dié party het ook die mees vrygewige ding in die geskiedenis gedoen deur eenvoudig die mag op ‘n skinkbord prys te gee.  Wat is vandag die resultaat van hierdie selflose, en hoef ‘n mens nog by te voeg, Christelike daad?  Die Afrikaner word gehaat en verag soos nog nooit tevore nie.

Vergelyk die houding wat die huidige Suid-Afrkaanse regering tans inneem teenoor die Westerse lande.  Presies soos wat Machiavelli sê, word hulle beskou as “suinig” en daarom verwyt.  Maar nog nooit sou ons regering of selfs die hele swart Afrika hul haat of veragting teenoor die Weste uitspreek nie.

Rasionele eiebelang is die grondslag van die liberalisme, en by uitbreiding van liberale demokrasie.  Indien die Afrikaner kan leer om dit op homself te betrek, kan ons net vorder in ons politieke kultuur.

Dit impliseer ‘n volslae aflegging van die gedagte van ‘n roeping, om goed te doen of vrygewig te wees teenoor ander.  Die houding van Afrikaners behoort te wees dat ons in die eerste plek onsself, ons eie mense, ons eie taal en kultuur, ons eie ekonomiese vermoëns en politieke inspraak gaan bevorder voor dié van enigiemand anders.  Indien daar hoegenaamd hulp of opheffing van ander sou plaasvind, moet dit teen ‘n prys wees.  Werk eers uit wat die daaglikse tarief sou wees om Europeërs of Amerikaners uit te vlieg om dieselfde bystand te kom verleen, hul verblyf in luuksehotelle te betaal, alvorens enige Afrikaner ‘n vinger lig om enigiets te doen wat nie in sy direkte belang en dié van sy volksgenote is nie.

Veroorsaak die gebrek aan Calvinistiese predestinasie wat so ‘n moderne, liberale houding impliseer ‘n filosofiese probleem?  As ek iemand soos D.F. Malan reg lees, dan val sy begrip van die Afrikanervolk plat sodra mens die godsdienstige element daaruit haal.  Maar dit hoef nie so te wees nie.  Daar is ander maniere om aan die Afrikanervolk te dink, behalwe as ‘n entiteit wat deur God gewil is.

Die Europese nasionalisme het tydens die Verligting ten minste twee vername konsepsies van ‘n volk gegee, waarvan geeneen verwant is aan goddelike ingryping nie.  Die eerste was dié van Herder en die Duitse nasionalisme wat die taal en diversiteit voorop gestel het.  Die tweede was die Franse begrip van die “nation” wat berus het op ‘n demokratiese assosiasie van individue wat elke dag as’t ware deelneem aan ‘n plebisiet om hul nasie te laat voortduur, soos wat Renan dit gestel het in sy teks “Qu’est-ce qu’une nation?”  (Wat is ‘n nasie?)

Volgens Herder in sy opstel Abhandlung über den Ursprung der Sprache is taal nie deur God geskep nie, maar deur die mens wat skeppend gereageer het op die veelheid van dinge wat hy in die natuur teëgekom het.  Taal het sy oorsprong in ons sintuiglike waarnemings, en van daar af ontwikkel dit in ‘n lewende amalgaam van dinge en gebeure wat gekombineer word met die emosies wat hulle in die mens ontketen.  Taal was vir Herder die draer van die volksgees, die sogenaamde Volksgeist.  Montesquieu het reeds voor Herder hierdie gedagte uitgespreek in sy L’esprit des lois toe hy gepraat het van die “esprit général”, die algemene gees van ‘n nasie.  Volgens Montesquie is daar “verskeie dinge wat mense beheers:  die klimaat, die godsdiens, die wette, die regeringsbeginsels, die voorbeelde van vergange dinge, die morele waardes, die maniere:  daarom word ‘n algemene gees gevorm wat daaruit voortkom.”  (Aangehaal deur Finkelkraut, A.  La défaite de la pensée, bl. 14.)

Wat ons ook moet besef is dat die verskillende sienings van volkskap van Duitse of Franse denkers op bepaalde tye geweldig beïnvloed is deur die historiese omstandighede.  Herder en ander Duitse Romantiese filosowe het geskryf in reaksie op die verfransing van hul eie élite wat die Duitse taal misken het, en die algemene oorheersing van Frans.  Renan het op sy beurt ‘n begrip van die nasie geformuleer wat nie gekoppel was aan taal of afkoms nie, maar aan assosiasie.  Waarom?  Omdat hy implisiet wou argumenteer dat Elsas-Lotaringe wat deur Bismarck van Frankryk verower is in 1870 die reg gehad het om met Frankryk te assosieer, eerder as om op grond van taal en afkoms by Duitsland ingelyf te word.

Renan gee die volgende definisie van ‘n nasie:  “’n Nasie is daarom ‘n groot solidariteit wat daargestel word deur die gevoel van opofferinge wat die mense gemaak het en van dié wat hulle bereid is om te maak.  Dit veronderstel ‘n verlede:  die nasie word egter opgesom in die hede deur ‘n tasbare feit:  die instemming, die duidelik uitgesproke begeerte om met ‘n gemeenskaplike lewe voort te gaan.  Die bestaan van ‘n nasie is ‘n daaglikse volkstemming.”  (Aangehaal deur Finkelkraut, ibid., bl. 43)

My eie siening van die Afrikanervolk is ontleen aan die biologie, maar dan in ‘n minder letterlike sin.  Net soos wat ons as mense die produk is van evolusie, is ons as ‘n taal- en kultuurgroep die resultaat van evolusionêre ontwikkeling.  Die filosoof Karl Popper praat iewers van evolusionêre epistemologie in terme waarvan die menslike denke self onderworpe is aan ‘n proses van evolusie, van aanpassing by ‘n veranderende werklikheid.  Afrikaans het uit Nederlands gespruit, en Afrikaners as ‘n groep uit Nederlanders, Vlaminge, Franse, Duitsers, Skotte en Engelse.  Die kans het ons van die sewentiende eeu af in hierdie land saamgegooi.  Hier het ons ‘n nuwe landskap, ‘n nuwe milieu ontdek wat baie anders was as dié van Europa, en beide ons taal en ons denke moes daarby aanpas.  Sedertdien het ons ‘n land opgebou wat ons tot redelik onlangs nog “ons land” kon noem, maar daar is tans onsekerheid of daar nog hoegenaamd plek is vir die Afrikaner in Suid-Afrika.  Miskien sal ons nie as individue uit die land verdryf word soos die blanke boere uit Zimbabwe nie, of altans nog nie, maar ek dink nie daar is enige twyfel daaroor dat die voortbestaan van die Afrikanerdom in sy mees onlangse gedaante eintlik onversoenbaar is met die nuwe Suid-Afrika nie.  Volgens mnr. Ton Vosloo, die voorsitter van Sanlam en die Nasionale Pers, gee die begrippe “Afrikaner” en “volk” aanstoot in die huidige opset, en hy behoort te weet.

Daar is vandag baie mense, ingesluit baie Afrikaners, wat voel dat dit nie meer die moeite werd is om met die Afrikanerprojek aan te gaan nie.  Dat ons deel moet word van hibriede, multikulturele Suid-Afrika, dat ons die Engelse taal moet aanneem, en trou moet sweer aan die ANC-regering.  Myns insiens sou dit ‘n verskriklike fout wees.  Nie net verraai ons daarmee ons voorgeslagte, die Voortrekkers, asook die vroue en kinders wat in die konsentrasiekampe vir ons vryheid gesterf het nie, maar ons maak ook iets dood wat baie mooi is.  Kortom, die taal en kultuur, die gemeenskap, die nasie wat Afrikaners tot stand gebring het, is mooier as die meeste ander dinge in Suid-Afrika.  Uiteindelik is daar geen goddelike opdrag om Afrikaans en die Afrikaner te laat voortleef nie, maar is daar ‘n estetiese imperatief wat vra dat ons moet inspring en dit wat ons voorgeslagte tot stand gebring het, laat herleef en verder uitbou.  Net soos ‘n mens nie kan stilstaan langs ‘n pragtige gebou wat stadig maar seker afbrand nie, so kan mens nie toelaat dat die Afrikanervolk tot niet gaan nie.

Dog kultuur, ‘n volk, is ook ‘n lewende organisme.  Net soos wat mens nie goedsmoeds ‘n lewe neem nie, net so is dit ‘n wandaad om ‘n organisme soos ‘n volk te vernietig.  Uiteindelik gaan dit oor oorlewing.  Tensy ons ons wil om te oorleef verloor het, sal ons móét opstaan teen ons oorheersing, dit waarvan Van Wyk Louw in sy gedig van flussies gepraat het.

Dit beteken nie noodwendig gewapende verset nie.  Maar ek dink daar is honderde maniere waarop ons vir ons regte en belange kan stry op ‘n nie-gewelddadige manier.  Indien die huidige bewind werklik van plan is om die Afrikaner te onderdruk, moet hy besef dat hy hom daarmee op die pad van konfrontasie geplaas het met die enigste mense op die Afrikakontinent wat waaragtig aanspraak kan maak op volkskap en alles wat dit impliseer.  Dit is maklik om individue te onderdruk, maar dit is baie moeilik om ‘n volk te onderdruk.  Vroeër of later gooi hy die kettings van hom af.  Oor die afgelope dekade, en veral sedert die verbrokkeling van die ou Sowjet-Unie, het ons gesien hoe dosyne volke wat vir eeue lank oorheers en verdwene verklaar is, weer herrys het om hul eie grondgebied en soewereiniteit op te eis.

Myns insiens kan die huidige onderdrukking van Afrikaans en die Afrikaner se nasionale strewe net die proses radikaliseer waarvolgens Suid-Afrika soos ‘n mini-Sowjet-empaaier uitmekaar gaan spat.  Waar en wanneer ons ‘n nuwe Afrikanerrepubliek gaan verkry, is nie so belangrik nie as die wete dat dit feitlik onafwendbaar is.  Iemand het iewers gesê dat die huidige stelsel homself destabiliseer, en ek dink daardie persoon was reg.  Ons hoef amper niks te doen nie, en die stelsel is klaar besig om te wankel.  As ons eers aktief begin om dit te ondermyn en te saboteer, weer eens sonder om gewelddadig te raak, sal dit baie gou onder druk kom.  Soos ons ten Noorde van ons grense gesien het, kan state in Afrika wat onder druk verkeer nie sonder hulp van buite selfs hul eie bevolkings voed nie.  Anders as die Europese moondhede wat Twee Wêreldoorloë geveg het waaraan miljoene soldate deelgeneem het, het Afrika geen geskiedenis van ‘n vermoë om groot weermagte op die been te bring en die ingewikkelde logistiek van volskaalse oorlog te hanteer nie.  Die grootste weermag Suid van die Sahara is tans waarskynlik die Tutsi’s se Rwandese Patriotiese Front wat uit 20 000 soldate bestaan, en wat sop pas uit die Kongo onttrek het.  Oorloë in Afrika bestaan uit ‘n uitgerekte reeks guerilla-aksies en strooptogte, en omdat hulle om persoonlikhede draai, eindig hulle gewoonlik as een van die leiers doodgeskiet word soos nou onlangs met Savimbi gebeur het in Angola.  Uiteindelik is daar geen duidelike wenner nie, en word daar vrede gemaak totdat daar weer op ‘n dag geweld of burgeroorlog uitbreek.  Gerugte wil dit hê dat slegs 3000 lede van die Suid-Afrikaanse Weermag tans operasioneel is.

Dit alles om te sê dat, sy brawade ten spyt, die huidige Suid-Afrikaanse bewind beswaarlik oor die vermoë beskik om ‘n oorspronklik Europese nasie van tussen twee en drie miljoen mense soos die Afrikaners gewelddadig te onderdruk of militêr te oorheers.

Die eerste stap na vryheid vir Afrikaners is om baie kalm te begin om uitsluitlik in hul eie belang op te tree.  Ons behoort onmiddellik te onttrek van alle projekte wat ons vyande sterker maak en onsself swakker.  Ons moet geen hulp van watter aard ook al aan enigiemand verskaf sonder dat dit teen wêreldmarkpryse geskied nie.  Ons moet voortdurend ons eie veiligheid voor oë hou, gegewe die onsekerheid en wispelturigheid van Afrikapolitiek.  Geen strategiese vermoëns, wat landboukundigheid mag insluit, moet aan ander groepe in die land oorgedra word sonder dat daar verreikende toegewings aan ons gemaak word nie, soos byvoorbeeld ‘n herstel van soewereiniteit en ‘n eie grondgebied.

Ons moet veral roepingsonbewus word, en vergeet dat ons enige hoër ideaal behoort na te streef as ons eie oorlewing en welvaart.  Gegewe die situasie waarin ons ons bevind, is dit opsigself al uitdaging genoeg.

Apartheid is verby.  Koloniale voogdyskap is verby.  Nooit weer moet ons dieselfde hoë prys vir ons vrygewigheid betaal nie.

Kom ons word selfsugtig.  Kom ons kyk na onsself en na ons eie mense.