Dan Roodt
Ek is bly dit gaan so goed met Max du Preez
in sy onderhoud met Johan Pienaar op Litnet [kliek
hier]. Net jammer dit gaan nie
so goed met Max se intellek nie, want sy opmerkings dat ek 'n "etniese
fascis" is, en nog erger, dat ek "van Engelse afkoms" sou wees
anders as die rasegte Boere-Afrikaner, Max du Preez, is nie naastenby in die kol
nie.
Max is 'n joernalis, wat in Suid-Afrika min
of meer beteken dat jy jou kant kies en dan die ander kant probeer swartsmeer
soveel as wat jy kan, uitkryt vir nazi's, kommuniste, moffies, vroueslaners,
kinderverkragters, diewe en skurke. Max
kon my sommer by voorbaat 'n "Rooinek" genoem het, want dit is eintlik
wat hy bedoel het met sy "Engelse afkoms".
Binne die verband van etniese skeltaal wat in Suid-Afrika gebruik word,
is om iemand soos ek 'n Rooinek te noem, veel erger as om hom 'n Kaffer te noem.
Indien die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie nie so anti-Afrikaans was
nie, sou ek dit oorweeg het om Max te gaan verkla, maar gegewe die gebrek aan
geregtigheid vir Afrikaners in die nuwe Suid-Afrika, is 'n repliek op die
Internet al toevlug waartoe ek my kan wend.
Voordat ons by ingewikkelder dinge kom wat
dalk Max se joernalistieke dualisme van wit-en-swart, boos-en-goed,
reg-en-verkeerd mag ontwrig, moet ek hom eers ontnugter sover dit my beweerde
Engelse afkoms betref. In die
eerste instansie is my volle naam Daniël François.
My oupagrootjie aan moederskant was 'n Johannes Petrus Botha wat byna
presies honderd jaar gelede in die Slag van Rooiwal op 12 April 1902 deelgeneem
het aan 'n kavalleriestormloop teen 'n volslae Engelse oormag waarin 'n derde
van die burgers omgekom het. Hy het
dit oorleef, en later 'n boekie oor sy wedervaringe in die Tweede Vryheidsoorlog
gepubliseer met die titel "Met ryperd en Mauser". Die Slag van Rooiwal was nie net die laaste formele veldslag
van die oorlog, met ander woorde waaraan slegs die bitterste van die
Bittereinders deelgeneem het nie, maar was boonop 'n heldedaad wat agterna
gesien is as dapperder as die Engelse “Charge of the Light Brigade” tydens
die Krimoorlog teen Rusland.
Ons huistaal was nog altyd Afrikaans; ek
was op die Laerskool Christiaan Beyers op Springs en op die Hoër Seunskool
Helpmekaar in Johannesburg, op een jaar na die oudste Afrikaanse hoërskool aan
die Rand wat in 1921 gestig is en waarvan J.B.M. Hertzog die hoeksteen gelê
het.
Waarom het ek aan Wits gaan studeer en nie
aan R.A.U. in daardie dae nie?
Ek was nog altyd 'n vrydenker en ná
Helpmekaar het ek gevoel ek wil die wêreld anderkant Jan Smutslaan gaan verken.
Aan Wits het ek in die Afrikaanse departement gaan studeer waar C.M. van
den Heever en N.P. van Wyk Louw eens die leisels gehou het.
Gedurende al my jare by Wits was ek uitgesproke Afrikaans, en het ek
onder groot druk van die massa Engelse studente op kampus my Afrikanerskap
gehandhaaf. Een jaar was ek en Tony
Leon saam op die studenteraad, en ek herinner my ‘n onderonsie tydens ‘n
studenteraadsvergadering waartydens ek hom van ‘n anti-Afrikaanse houding
beskuldig het.
Die feit dat Wits se eens illustere
Afrikaanse departement onder die invloed van Stellenbosse produkte soos Gerrit
Olivier en Marlene van Niekerk moes toemaak, is 'n ander treurige verhaal
waaroor daar al 'n polemiek in die blaaie van Beeld was.
In my studentedae was Afrikaans 'n
amptelike taal,anders as nou. R.A.U.
is nie lank gelede nie gestig, en 'n hele geslag Afrikaners wat nog nooit
toegang gehad het tot tersiêre onderrig nie, kon aldaar gaan studeer. Die feit dat ek en 'n handvol Afrikaners aan Wits gestudeer
het, het kwalik die bestaan van Afrikaans bedreig.
Inteendeel, duisende Engelse studente het ook Afrikaans geneem, onder
meer omdat dit verpligtend was vir regstudies.
Volgens my pa was dit in die Veertigjare verpligtend vir enige
B.A.-kursus aan Wits, maar ek kan dit vandag beswaarlik glo.
Tans word vele Afrikaanse studente aan die
R.A.U. verplig om hul vakke in Engels te neem.
Vryheid beteken om 'n keuse te hê.
Watter vryheid het Afrikaners vandag om in hul eie taal te studeer, in
die staatsadministrasie gehelp te word, in winkels Afrikaans te praat, ens.?
Max du Preez is blykbaar iemand wat in die
goeie ou dae 'n vurige Nasionale Party-ondersteuner was.
Chris Louw het selfs 'n foto in dier voege in die Insig gepubliseer.
Miskien verkwalik Max my dit dat ek dit nie was nie.
Die Broederbond-definisie van 'n Afrikaner is mos iemand wat aan die
Broederbond, NP en NG Kerk behoort het. Heel
waarskynlik is Max steeds 'n NNP-ondersteuner, want Marthinus is in die ANC se
sak, en so ook Max, die mosterd-na-die-maal linkse wat nou studentikoos die
woord "fascis" rondstrooi soos wat ons laas gedoen toe ons negentien
jaar oud was in daardie dae by Wits. Die
feit dat Max 'n bydrae skryf vir John Pilger se boek, is omtrent 'n indikasie in
watter dampkring hy homself bevind, dié van die moroniese Angel-Saksiese
sosialiste wat nou nog sukkel om Karl Marx te verstaan omdat hulle geen snars
van die Duitse kultuur of filosofiese tradisie begryp nie.
Hierdie mense het ook nog nie agtergekom dat Erich Hoenecker nie meer aan
bewind is nie. Voordat jy my van
Rooinekagtigheid beskuldig Max, moet jy ‘n bietjie voor jou eie deur vee.
Die gesig van nog ‘n konserwatiewe Afrikaner soos jy wat die lewe
blykbaar begin het met teologiese studies, wat nou die “Calvinisme sonder
God” (soos Markus de Jong altyd gesê het) van ‘n paar agterlike
soutie-linkses ontdek, is werklik te pateties vir woorde.
Skrik wakker, Max. Ons is
lankal daarby verby. Ons het die
Marxisme afgeskryf, die postmodernisme verbygesteek, en ons is nou op die
voorpunt van ‘n nuwe herwaardering van die Verligting en kritiek op Westerse
dekadensie, wat ook plek-plek oorsee begin kop uitsteek.
Afrikaners behoort niemand na te volg nie, maar hul eie oorspronklike
denke te ontwikkel.
Max is nou die soveelste persoon wat sê
dat ek behoort te emigreer. Eers
was dit daardie koekie met 'n vakuum waar haar verstand behoort te wees - wat is
haar naam tog nou weer? - wat blykbaar in 'n sepie op die SAUK-TV speel waarna
ek nooit kyk nie. O ja, Nina Swart,
so iets. Sy sou nogal betaal om my
landuit te stuur. Blykbaar besef sy
nie dat dit dalk 'n duur storie kan wees nie, want sonder 'n woonstel op die
Champ de Mars langs die Eiffeltoring wat teen so R10-miljoen plus verhandel, bly
ek net waar ek is. Toe was dit Lood
van Beeld, en nou is dit Max. Ek
kan my nie herinner dat mense in die nare ou Suid-Afrika jou landuit gejaag het
sodra jy 'n kritiese geluid gemaak het nie.
In daardie dae is ek selfs skuldig bevind onder die sensuurwet, maar
nooit wou iemand my deporteer soos Max en sy mede-konformiste van die SAUK of
Beeld nie. Hoe het die
verdraagsaamheid in die land nie agteruit gegaan nie!
Watter onliberale persoon is Max nie, wat ander stereotipeer en
gedeporteer wil sien, 'n bietjie soos Robert Mugabe se ''safe conduct to the
nearest airport". Is dit
waarom Max nou 'n Sentrum vir Demokrasie naby Jan Smutslughawe wil oprig, sodat
hy al die dissidente van die nuwe orde "demokraties" kan deporteer?
Ek veronderstel die soort "demokrasie" waaraan hy glo is van
dieselfde tipe as wat gegeld het in die Duitse "Demokratiese"
Republiek ofte wel DDR. Sy vriende van die ANC was mos almal sulke groot bewonderaars
van Oos-Europese "demokrasie", van die soort wat jou in 'n gestig of
'n strafkamp laat beland het as jy die status quo bevraagteken. Max, as ek nie die land wil verlaat nie, gaan jy my deporteer
saam met ‘n paar uitsmyters van Umkonto we Sizwe?
Verbeel ek my of is Max du Preez die groot
Afrikaner wat dit boonop “cool” vind, ‘n nuwe verskynsel?
Eers was ek onder die indruk dat hy ‘n multikulturele Suid-Afrikaner
was wat van mening was dat Afrikaans nie so belangrik was nie, en gerus maar kon
verdwyn in die belang van nasiebou en om die Nuwe Baas te behaag.
Vir iemand wat so rondborstig spog oor sy Afrikanerskap, het Max darem
‘n stereotipe opvatting van sy eie geskiedenis.
Die mite dat Afrikaners so sterk onder Duitse, spesifiek Nazistiese,
invloed gekom het in die Dertigerjare is so reg uit die Engelse stal. Beide Bunting met sy boek The rise of the South African
Reich en O’Meara in sy Volkskapitalisme het dit tevergeefs vanuit
‘n Marxistiese hoek verkondig, maar die getuienis daarvoor is maar skraps.
Daar is selfs mense wat beweer N.P. van Wyk Louw was ‘n Nazi, dog ‘n
professionele Boerehater soos Kader Asmal het onlangs die teendeel ontdek.
So daar is nog hoop vir jou ook, Max, jy moet net ‘n paar Afrikaanse
boeke begin lees in plaas van bevooroordeelde Engelse propaganda.
Lees Verwoerd, die vader van apartheid, se toesprake.
Nêrens wend hy hom tot rassebiologie om die minderwaardigheid van
swartmense te beweer nie. Kyk gerus ook na Jaap Steyn se biografie oor Piet Cillié,
waar Cillié dit onomwonde stel dat Afrikaners nooit begaan was oor die
biologiese teorie van ras nie. Ek
haal aan uit Jaap Steyn:
“Cillié skryf in Die Burger van 25
November 1952 in 'n resensie
van Ben Marais se boek, Kleurkrisis in die Weste, dat dit 'n
gedugte mobilisasie van die wetenskaplike, Christelike en
staatkundige redes gee waarom segregasie in al sy verskillende
vorms moet wyk, maar dat hy die apartheidstandpunt heeltemal
ontoereikend behandel.
Die bevindinge van die wetenskap wat Marais
interessant en
uitvoerig beskryf, is nouliks ter sake in verband met vraagstukke
van groepsverhoudinge. "'n Wetenskaplike wat aan wit en swart
kinders intelligensietoetse gee en plegtig bevind dat hul inherente
moontlikhede weinig verskil, sê aan die staatsman min wat
regstreeks nuttig is vir die reëling van betrekkinge tussen wit en
swart. [.] Hoe help dit bv. Duits-Hollandse of Joods-Arabiese en
Brits-Amerikaanse verhoudinge om te weet dat 'alle mense baie
meer eenders is as anders'? Sou Churchill en Hitler mekaar beter
gewaardeer het as 'n Unesco-verslag, onderteken deur die wêreld
se voorste geleerdes, by hulle daarop aangedring het dat hulle
biologies baie meer ooreenkom as verskil? Die propagering van
sulke 'wetenskaplike' bevindinge oor ras asof dit die goue sleutel is
in staatkundige kwessies van rasse- en volksverhoudinge, is
inderdaad so naïef en potensieel verderflik as die prediking van die
hoogste voorskrifte vir die individuele gedrag in dieselfde
omstandighede."
Cillié skryf dat die Suid-Afrikaanse blankes se opvattings nie-
rasideologies van aard is. Hy sê: "Inderdaad - hoewel die skrywer
nalaat om daarop te wys - het veral die witman in Suid-Afrika
besonder vry gebly van die rasse-mitologieë wat die wêreld nou by
wyse van reaksie op Hitler so byna sadisties vernietig. Ek ken
slegs een oubaas wat glo dat gekleurde mense Gamskinders en
ewig vervloek is, en geen samehangende, pseudo-wetenskaplike
mites oor ras word doelbewus in Suid-Afrika gepropageer nie. Die
Suid-Afrikaanse witman se houding, meen ek, is oor die algemeen
saaklik en realisties: as groep dra hy klaarblyklik 'n hoër
beskawing as die groepe rondom hom, en selfs as daar in die verre
toekoms geen verskil in beskawingspeil sou wees nie, sal hy nog
'n eiesoortige nasieskap tot die dood toe wil beskerm, soos elke
ander nasie op aarde, wetenskaplik of te nie."
Soos hy Marais se boek lees, sê Cillié, is dit een lang
argument teen integrasie as oplossing vir Suid-Afrika. "Blanke Suid-
Afrika het groter vraagstukke van blanke integrasie as byna enige
ander Westerse land. Ons is 'n behoorlike mengelmoes, wat baie
onseker aan mekaar sit. Ons het aan blanke elemente genoeg
opgeneem vir lange jare van vertering. Dié wat van ons eis om nou
ook nog aan die nie-blanke meerderheid te begin sluk, bereik niks
meer as om ons nasionale maag te laat draai en daarmee die hele
proses van blanke nasievorming in gevaar te stel nie."
Die Suid-Afrikaanse kleurslagboom het wel sommige kenmerke
van dié wat veral in die Angel-Saksiese lande aangetref is, maar
"dit het bowendien 'n praktiese en emosionele betekenis van 'n
nasionale grens tussen volke". Cillié haal klaarblyklik met
instemming van Marais se belangrike stellings aan. Een daarvan is
dat, as territoriale skeiding finaal onmoontlik is, met ander woorde
"as ons dit eenmaal aanvaar dat 'n paar miljoen nie-blankes
permanent onder ons sal woon en werk, hier gebore sal word en
hier sal sterf en geen ander tuiste sal ken nie, is daar geen eerbare
manier waarop ons as Christene en demokrate op die lange duur,
namate hulle ontwikkel, ook politieke en ander regte aan hulle kan
onthou of tot 'n betekenislose minimum sal kan beperk nie".
Cillié betoog dat die filosofiese grondslae van die Afrikaner se
houdings en gevoelens in dié sake, "hoewel nie noodwendig van sy
werklike hedendaagse beleid nie", veel stewiger is as 'n koppige
"ons sal nie".
Dan, in 1960, terwyl die groot krisis die land getref het na
Sharpeville, die buitelandse reaksie, die anargie in die Kongo, skryf
hy ook:
Ondanks sy bedenkings oor die regeringsleiers het Cillié nie
geskroom om buitelandse waarnemers skerp te kritiseer oor hul
oppervlakkige siening nie. Só het Die Burger op 14 Julie 1960 die
wêreldberoemde sir Julian Huxley tereggewys omdat hy "al die
valse, propagandistiese veronderstellings" oor die grondslae van die
beleid sommer net so gesluk het. Sonder om ondersoek in te stel,
weet hierdie groot geleerde: "ons glo in die inherente en
permanente minderwaardigheid van ander". Huxley het nie die
minste moeite gedoen het om hom op die hoogte te stel van wat
Afrikaanse geleerdes en kerkmanne werklik oor rasseverskille dink
en glo nie. "Ons weet van geeneen onder hulle, en trouens van
geen politieke leier, wat die inherente en permanente
meerderwaardigheid van die wit ras verkondig nie. Ons rassebeleid
is nog nooit gerugsteun deur pseudo-wetenskaplike teorieë en
filosofieë nie. Dit is wel gebaseer op die empiriese feite van
ongelyke beskawing, wat sir Julian Huxley self toegee. Dit is 'n
poging om die eise van selfbehoud en die beskerming van
beskaafde standaarde te versoen met die vordering en vrymaking
van die nie-blanke rasse." (Einde
van aanhalings uit Steyn se biografie, Penvegter.)
Soos jy uit hierdie aanhalings uit die hoogbloei
van apartheid kan agterkom, Max, was dit geen Nazistiese beleid van volksmoord
soos die nydige klomp plaaslike Engelse intellektuele – waarvan baie intussen
genadiglik geëmigreer het – nog al die jare beweer nie, maar eerder ‘n
stelsel van etniese skeiding soos op baie plekke ter wêreld bestaan.
Wanneer dit kom by etnisiteit, woon ons
ongelukkig op ‘n kontinent waar hierdie faktor byna daagliks aan die orde is
in burgeroorloë en konflik soos nou in die Ivoorkus. Lank voor Afrikaners op die toneel gekom het, was daar al
bloedige etniese oorloë in die binneland, veral onder Tsjaka.
In die 1980s in Natal is daar ‘n etniese oorlog onder die Zoeloes
geveg, Boipatong was ‘n etniese konflik waarvoor die ANC verkeerdelik die S.A.
Polisie geblameer het, ensomeer. Tans
word Afrikaners onderwerp aan duidelike etniese en taaldiskriminasie.
Om etnisiteit weg te wens, of te maak asof dit nie bestaan nie, is rêrig
eenvoudig. Selfs nie eens die
stokou linkses met ‘n halwe brein by Wits wat ek doerdie tyd meegemaak het,
gaan sover nie.
Ek dink nie Max het ‘n benul van wat
etniese fascisme beteken nie. Etniese
fascisme, soos Michael Ignatieff in een van sy boeke berig, is wanneer jy ‘n
ander ou wat dieselfde taal as jy praat wil gaan doodskiet omdat hy ‘n ander
pakkie sigarette rook. Dit is wat
in dele van die oud-Joegoe-Slawië gebeur het.
Mbeki met sy rasse-obsessies is ‘n veel beter kandidaat vir Max se
fascistiese attensies, maar eers sal hy meer moet uitvind oor wat dit werklik
beteken. Omdat hy graag Engels
lees, sou ek hom kon verwys na die Oxford Dictionary of Philosophy waar fascisme
in terme van drie elemente omskryf word: 1)
ekstreme nasionalisme; 2) verheerliking van die staat; 3) verheerliking
van ‘n groot leier of Führer. Mbeki
of Mugabe is veel nader aan hierdie definisie as ek, en tereg het sommige
buitelandse koerante veral vir Mugabe in daardie terme beskryf.
Ek weet nie of dit toe te skryf is aan Max
se dubbelmediumskool of sy jarelange werksaamheid by imperiale Engelse koerante
soos The Star wat eens volksmoord teen die Boere goedgepraat het nie,
maar duidelik het hy sekere bekende wanvoorstellings van Afrikaners, soos hulle
“Nazi-agtigheid” geïnternaliseer. ‘n
Goeie begin sou wees om homself hiervan te genees.
Nietemin bevraagteken ek, anders as Max,
nie sy Afrikanerskap nie, want ek is soos die meeste Afrikaners ‘n kind van
die Europese Verligting en ons glo aan verskeidenheid van menings en
verdraagsaamheid.
Waar ons paaie skei, is waarskynlik as dit
kom by die kwessie van die vooroordele teenoor Afrikaners wat Max so goed is om
te erken dat hulle wel bestaan. Hy
wil deur goeie dade sulke vooroordele omkeer.
Ook glo hy dat ons ‘n manjifieke grondwet het. Dit is allermins ‘n manjifieke grondwet, omdat die meeste
van die bepalings ondergeskik gemaak is aan die rassebevoordeling van
swartmense. Die feit dat die
grondwet ook glad nie nagekom word deur die huidige bewind nie, veral as dit kom
by taalgelykheid en nie-diskriminasie, is ‘n verdere aanduiding dat dit nie
die papier werd is waarop dit geskryf is nie.
Boonop bestaan die Grondwetlike Hof uitsluitlik deur Engelstaliges wat
vir seker ‘n anti-Afrikaanse uitspraak sou lewer indien die taalklousules van
die grondwet ooit aldaar getoets sou word.
Iets waaroor ons waarskynlik ook verskil is
oor die aard van die land waarin ons bly. My
nuwe definisie van Suid-Afrika is ‘n gewelddadige Engeland waar hulle
klassieke musiek en Afrikaans haat. Kennelik
is daar kwalik plek vir Afrikaans en Afrikaners in hierdie Engelse Suid-Afrika.
Ook nie vir mense wat af en toe ‘n simfoniekonsert of ‘n opera wil
hoor nie.
My eie verhouding tot swartmense is ook
geheel en al verander deur die nuwe Suid-Afrika.
Ek herinner my dat ek in die ou dae swartmense se geselskap opgesoek het,
dat ek in sjebiens in Alexandra gaan drink het toe dit nog teoreties onwettig
was vir blankes om die swart woonbuurtes sonder ‘n permit te besoek.
Ek het my hele “skuldige liberaal”-fase reeds twintig jaar gelede
gehad en gaan pikslaan tydens vakansies om ‘n kliniek iewers in die ou Leboa
te bou.
Ek gaan baie eerlik wees as ek sê dat
swart Afrikane my deesdae erg verveel. Ek
gun hulle hul kultuur of wat daarvan oorbly ná hulle verwestering en
verengelsing, hul idees en hul projekte vir die toekoms, maar ek wil asseblief
self so min as moontlik daarmee te doene hê.
Ek het geen begeerte om Zakes Mda se nuwe voorbeeld van etniese
letterkunde, ‘n aanval op Afrikaners genaamd The Madonna of Excelsior, te
lees nie. Ek sal nou soos Max en sy
SAUK-vriende klink as ek sê dat Mda eerder in Amerika behoort agter te bly waar
hy tans rojaal vergoed word vir die erbarmlike twak wat hy skryf, maar die man
behoort dit te oorweeg siende dat daar ‘n veel groter mark vir sy boeke in
daardie land bestaan as hier. Ek wil nie in ‘n onderneming werk waar
regstellende aksie plaasvind nie, en wil nie hê my kinders moet gedwing word om
Xhosa te leer nie. Nie eens Zakes
Mda lees of skryf Xhosa nie, en hy is ‘n Xhosa, waarom moet my kinders daarmee
opgesaal word? Hulle sal veel meer
baat vind by Frans of Duits wat hulle toegang sou gee tot ontsaglike
letterkundes, asook filosofiese en musikale tradisies wat, helaas, dié van die
Xhosas erg in die skadu stel.
Aan die ander kant kan ek goed begryp dat
die Xhosas en ander swartmense veel eerder Engels sal wil praat en lees as
Afrikaans, en ek dink Treurnicht se tentatiewe poging om Afrikaanse kultuur aan
hulle oor te dra in 1976 was misplaas en vrugteloos. Anders as ons Engelse mede-burgers, het Afrikaners geen
geskiedenis van kulturele imperialisme nie, en ek dink dit sou Afrikaans net
bederf indien ons opgesaal word met ‘n groot aantal tweedetaalsprekers
waarvoor ons moet voorsiening maak in ons opvoedkundige instellings.
Ek dink ek praat namens almal as ek sê ek
is moeg vir die Groot Swart Probleem. Die
tyd het aangebreek dat swartmense, waarskynlik met die hulp van ons Engelse
vriende wie se taal hulle in elk geval in ‘n groot mate aangeneem het, hul eie
vraagstukke oplos. Sonder
Afrikaners om hulle terug te hou soos hulle teorie dit wil hê, sal dit soveel
beter en makliker gaan.
Dit is ook ‘n mite dat Afrikaners ryk is;
ons is die armste mense van Westerse afkoms ter wêreld met ‘n inkomste per
kop wat ná aan dié van Portugal is, die armste land in Wes-Europa.
Daar is 100 000 arm Afrikaners net in die Vaaldriehoekgebied.
In Pretoria-Wes, die Moot en op plattelandse dorpe sukkel ons mense
geweldig. Ons jongmense moet die
land verlaat om werk te kry, ook omdat hulle op rassegronde van aanstellings in
Suid-Afrika uitgesluit word.
Die ANC wil sy brood aan albei kante
gebotter hê: hy wil regeer en oor
Afrikaners heers, maar terselfdertyd wil hy hê dat Afrikaners wat arm en
politiek magteloos is, die ou koloniale voogdyskap oor swartmense moet volhou en
hulle moet “ophef”. Dit kan
eenvoudig nie so werk nie. Òf die
ANC regeer self en hef self op, òf hy moet die mag abdikeer dat ons kan
teruggaan na koloniale blanke beheer en voogdyskap.
Die twee begrippe van swart meerderheidsregering en koloniale voogdyskap
is onderling uitsluitend, en Max behoort dit ook te onthou as hy fantaseer oor
“ryk Afrikaners” wat kastig ons swart medeburgers moet help om sterker te
word (sodat hulle ons meer doeltreffend kan onderdruk, wil ‘n mens byvoeg).
Ek dink die hele Suider-Afrika sal baie
beter funksioneer indien Afrikaners toegelaat word om onafhanklik van Engelse
Suid-Afrika en die res van die Afrika-Empaaier te ontwikkel.
Ons is beslis ‘n vyfde wiel aan die wa, met ons taal en ons musiek en
ons behoefte aan selfverwesenliking. Ons
vra nie veel nie, net ‘n lappie grond waarop ons kan voortgaan met ons projek
om as ‘n soewereine volk of nasionale minderheid onsself uit te leef in vrede
met ons bure. Die ou Sowjet-Unie het uiteindelik onafhanklikheid toegestaan
aan Letland, Estland en Litaue, almal lande met kleiner bevolkings as die
bestaande getal Afrikaners. Die ANC
en SAKP het in die verlede alles wat die Russe gesê en gedoen het slaafs
nagevolg, waarom kan hulle dit nie weer doen nie?
Boonop is hulle fanatiese voorstanders van ‘n Palestynse tuisland en
selfbeskikking, dus sou hulle kwalik beswaar kon maak indien Afrikaners
dieselfde vir hulself opeis.
Waarskynlik sal Max du Preez vir ‘n
rukkie verkies om met die doodgebore multikulturele projek aan te gaan, totdat
hy besef dit is tydmors en dat hy veel beter dinge kan vermag in die geselskap
van sy eie mense. Ons het
joernaliste nodig om te sorg dat die huidige neigings tot konformisme en
onderdanigheid onder Afrikaners aktief beveg word, en ek is seker jy kan net die
man wees, Max. Ek sal persoonlik
help om ‘n Vrye Weekblad op te rig. Die
afgelope tweehonderd jaar al soek ons net ‘n kleinerige Republiek van Afrikana
waar ons nie deur die Britte of die Xhosas oorheers hoef te word nie.
Dink net hoe interessant dit kan wees.
Ons sal aanmekaar debatteer, ons kinders sal Etienne Leroux en Van Wyk
Louw op die skole bestudeer, tesame met wiskunde, wetenskap, die ruimte,
biologie, vreemde tale, alles en nog wat, en dit sal voel soos ‘n kunstefees
wat 365 dae per jaar aan die gang is.
Ek verseker jou, Max, dat indien ek nie my
tyd sou moes afstaan aan politieke beuselagtighede nie, ek jou ‘n magdom
interessanthede sou kon vertel. Ons
sou kon sjampanje drink in ‘n kafee op ‘n veilige en skoon weergawe van
Kerkplein en tot in die vroeë oggendure kon filosofeer oor enigiets van die
wonder van die heelal tot die briljante toekoms van ons mense wat oplaas vry is
van oorheersing.
Kent gij dat volk vol heldenmoed en toch zo lang geknecht?
Dat vrije volk zijn wij!