Dyke teen Engels
Dan Roodt
Toespraak gelewer
op 16 Oktober 2002 by ‘n byeenkoms van die Pretoriase Werkgemeenskap van die
S.A. Akademie met as onderwerp vir bespreking, "Sal
Afrikaans in die volgende eeu kan saampraat? - Die rol van wetgewing in
Afrikaans se toekoms as wetenskap- en openbare taal"
Ek het die onderwerp
as tweeledig gesien. Die vraag of
Afrikaans sal kan saampraat impliseer ‘n vooruitskatting, ‘n soort
ekstrapolasie vanuit die taal se huidige posisie. Die tweede deel gaan oor die rol wat wetgewing mag speel in
die beskerming en herstel van Afrikaans as ‘n wetenskaps- en openbare taal.
Let wel, ek gebruik
hier doelbewus die woord “herstel” en nie “handhawing” nie, want vir
alle praktiese doeleindes is Afrikaans nie meer ‘n wetenskaps- en veral nie
‘n openbare taal in Suid-Afrika nie. Afrikaans
mag hier en daar oorleef as so ‘n taal, maar myns insiens is dit net ‘n
kwessie van tyd voordat die huidige neiging volvoer word, en Afrikaans geheel en
al uit die openbare sfeer verdwyn, en ook as wetenskapstaal uitgerangeer word.
Een van die bekendste
Afrikaanse skrywers, Karel Schoeman, het so pas sy outobiografie gepubliseer
onder die titel Die laaste Afrikaanse boek. Waarskynlik is dit die eerste keer ter wêreld dat ‘n
skrywer sy lewensverhaal onder daardie titel publiseer.
Wat sê dit vir ons?
Schoeman regverdig
hierdie titel soos volg :
“Van hierdie titel
het ek nou gebruik gemaak vir wat ek as “outobiografiese aantekeninge” wil
beskryf: nie slegs omdat dit
waarskynlik my laaste boek is nie, soos ek na 35 jaar van publikasie graag sou
wil glo, maar meer nog omdat dit vir my onwaarskynlik lyk dat daar in Afrikaans
gou of maklik weer ‘n omvangryke nie-fiksiewerk in tradisionele formaat en
deur middel van die kommersiële publikasieproses sal kan verskyn.” (Laaste
Afrikaanse boek, voorwoord.)
Schoeman is in 1939
gebore. Op bladsy 13 van Die
laaste Afrikaanse boek, sê hy met spesifieke verwysing na sy taal,
“Eers waar ek nou
oor die sestig jaar van my lewe terugkyk, besef ek tot my verrassing dat hoeseer
Afrikaans altyd deel daarvan uitgemaak het, dit teen die tyd van my geboorte
‘n nuwe en onsekere taal was wat sy plek in die Suid-Afrikaanse samelewing nog
moes probeer bepaal en hom daarin handhaaf en laat geld.
Terwyl dit omstreeks die tyd van die Eerste Wêreldoorlog reeds algemeen
in die skole en kerke aanvaar is, was dit net veertien jaar voor my geboorte dat
dit Nederlands as een van die twee amptelike tale van die Unie vervang het; eers
in 1933 is die Afrikaanse Bybelvertaling in gebruik geneem, in 1937 die
volledige berymde Psalmbundel in Afrikaans, en in 1944 die evangeliese
gesange...”
Vergeleke met die
veel ouer Europese tale, waarvan ‘n hele aantal kort ná die Renaissance reeds
as openbare en wetenskapstale gebruik is, hoewel Latyn nog vir ‘n eeu of twee
in daardie rol sou oorleef, staan Afrikaans eintlik maar in sy kinderskoene.
Die ironie is dat die meeste van ons, soos ook Schoeman self, in ‘n tyd
grootgeword het toe ons Afrikaans as vanselfsprekend aanvaar het, dat ons amper
oor ‘n soort gewaande sin vir taalgelykheid beskik het, toe ons gedink het dat
Afrikaans op die meeste gebiede gelykstaande aan Engels was.
Trouens, ek herinner my dat baie Engelssprekendes in die Sewentigerjare
bevrees was dat Engels as amptelike taal sou uitsterf, omdat dit nie meer in die
Parlement of die Staatsdiens gepraat is nie.
Toe ek op ‘n Engelse universiteit in daardie tyd gestudeer het, is daar
gereeld gepraat van die gevreesde “Afrikanerisering” van die Engelssprekende
wat self oor ‘n baie onsekere identiteit beskik het.
Intussen is die
bordjies natuurlik geheel en al verhang, veral sedert 1994, en is Afrikaans
terug by die status wat dit gehad het in die tyd van ons oupas en oupagrootjies.
Die enigste ding wat Afrikaans steeds aan die gang hou, is die
merkwaardige gestandaardiseerdheid van die taal.
Trouens, Afrikaans is byna geheel en al dialekvry en is amper meer
gestandaardiseerd as die meeste Europese tale.
Daarom bly dit hardnekkig voortbestaan op enkele universiteite, in die
media, hier en daar in howe en in skole, maar ook op daardie terreinde is die
neiging na verengelsing meedoënloos en skynbaar onafwendbaar.
Laat ons onder geen
wanindruk verkeer nie. Suid-Afrika
is tans meer as ooit in die verlede ‘n Engelse land, soos Australië,
Nieu-Seeland, Groot Brittanje of die Verenigde State.
Ek laat selfs Kanada hier uit, want Kanada beskik oor ‘n Franssprekende
provinsie met sesmiljoen inwoners, wat dit ‘n waarlik tweetalige land maak.
Ek herinner my in 1976 toe die Olimpiese Spele in Montréal plaasgevind
het, dat die Koninging van Engeland verplig was om die helfte van haar
openingstoespraak in Frans te lewer. Ons
kan ons nie voorstel dat die huidige President van Suid-Afrika ooit ‘n
toespraak in Afrikaans sou lewer nie, wat nog te sê die besoekende Koningin van
Engeland.
Indien ‘n mens min
of meer objektief na die situasie kyk, dan is dit duidelik dat Afrikaans nie sal
kan saampraat in die volgende eeu nie. Trouens,
in baie opsigte is Afrikaans reeds ‘n bedreigde taal, soos wat sekere spesies
bedreig raak wanneer hul getalle onder ‘n sekere aantal daal.
Internasionaal word ‘n taal as bedreig beskou as dit nie meer oorgedra
word aan 30% of meer van die kinders in daardie taalgemeenskap nie.
Hoewel daar geen akkurate syfers daaroor bestaan nie, weet ons dat 20% of
meer van die Afrikaanse kinders in Gauteng op Engelse skole verkeer, dat vele
ouers hul kinders van geboorte af doelbewus verengels, dat Afrikaanse studente
aan die R.A.U. byvoorbeeld uit eie vrye wil Engelse lesings bywoon omdat hulle
glo dat die taal geen toekoms meer in die beroepslewe het nie.
Of dit nou 20% of 30%
is, is ‘n gekibbel oor ‘n persentasie.
Feit is dat Afrikaans binne ‘n baie kort tyd weens die politieke
flaters van die Nasionale Party getuimel het van ‘n volwaardige openbare en
wetenskapstaal na die status van ‘n onsekere en bedreigde minderheidstaal.
In weerwil van alles wat daar oor die afgelope twee, drie jaar oor die
onderwerp geskryf is, is daar geen teken op die horison wat vir ons aandui dat
hierdie situasie aan die omkeer is nie. Indien
dit vir die volgende aantal dekades sou voortduur, kan ons redelik seker daarvan
wees dat Afrikaans nog net as ‘n mindere dialek iewers in die Noord-Kaap
gepraat sal word, maar dat die hele middelklas, wat die meeste Afrikaners
insluit, reeds geheel en al sou verengels het.
Dit bring my nou by
die rol wat wetgewing sou kon speel om hierdie proses te stuit.
In die eerste instansie sou so iets impliseer dat die regerende party,
die ANC, by die stembus uitgestem sou gewees het, en verder dat dit so ‘n
verkiesingsnederlaag sou aanvaar het, anders as Zanu-PF, en inderdaad die setel
van mag sou ontruim het. Die vraag
is egter of die grootste opposisieparty, die DA, sterk genoeg oor Afrikaans voel
om die taal by wyse van taalwetgewing te beskerm?
Myns insiens is dit twyfelagtig of die DA ‘n taalbeleid sou volg wat
baie anders as dié van die ANC sou wees, dus gryp ons hier na strooihalms.
Natuurlik het die ANC
self al male sonder tal verwys na sogenaamde taalwetgewing wat kwansuis groter
taalgelykheid sou bewerkstelling, maar alles dui daarop dat indien die ANC
hoegenaamd enige wetgewing van dié aard binne die afsienbare toekoms sou
instel, dit eerder die bedoeling sou hê om Afrikaans verder gelyk te maak met
die laer-statustale in Suid-Afrika, om sodoende nog ‘n groter afstand tussen
Afrikaans en die alfataal, Engels, te plaas.
Die Onderwysdepartement byvoorbeeld, is besig om ‘n nuwe regulasie in
te stel wat op die oog af die studie van inheemse tale wil stimuleer, maar by
nadere ondersoek die huidige praktyk op skool waar Afrikaans naas Engels
bestudeer word, die nekslag toe te dien. Binnekort,
indien dit nie reeds die geval is nie, gaan leerlinge verbied word om beide
Afrikaans en Engels as vakke op skool te neem.
Hulle sal wel Engels plus ‘n ander taal, of Afrikaans plus ‘n ander
taal mag neem, maar nie altwee nie. Omdat
Engels reeds die taal van die staatsdiens, die ekonomie, die reklamewese, sport,
en ander openbare sfere is, gaan selfs Afrikaanse kinders waarskynlik die studie
van hul moedertaal vaarwel sê om op Engels te konsentreer.
Enige tweedetaalsprekers van Afrikaans wat daar tans bestaan, gaan beslis
nie meer Afrikaans op skool bestudeer nie, en deur hierdie geforseerde
mededinging met Engels, gaan Minister Kader Asmal se Onderwysdepartement in sy
doel slaag om Afrikaans verder te reduseer tot ‘n nuttelose laestatus-patois.
Die Afrika-sosioloog
Ali Mazrui wat ‘n studie oor taalbeleid in Afrika gepubliseer het, The
power of Babel – language and governance in Africa, het myns insiens
korrek ingesien dat die beleid van die ANC-regering teenoor Afrikaans een is,
nie van taalbeplanning nie, maar van taalontplanning.
Kortom, Afrikaans word beskou as ‘n oorblyfsel uit die
apartheidsverlede wat so gou moontlik voor ons aangesig verwyder moet word.
As ons dus praat van
die rol van wetgewing in Afrikaans se toekoms as wetenskaps- en openbare taal,
dan het ons myns insiens rede om sulke wetgewing te vrees.
Soos die onderwysdepartement se beleid, gaan sodanige wetgewing daarop
gemik wees om Afrikaans nog verder af te breek, die status van die taal nog
verder te verlaag, en die taal uiteindelik te laat uitsterf.
Dit is my oorwoë
mening dat Afrikaans nie sal kan oorleef in die onbillike mededinging met Engels
nie. Indien die behoud van
Afrikaans werklik ons erns is, sal die hele taaldebat geradikaliseer moet word.
Eintlik is dit reeds te laat om ‘n taalstryd in Afrikaans te voer,
gegewe die feit dat Suid-Afrika reeds ‘n de facto Engelse land geword
het. Afrikaans sal soos ‘n feniks
uit die as moet verrys, en die enigste manier waarop dit gaan gebeur, is indien
sekere dele van Suid-Afrika volledig verafrikaans word net soos die hele land
sedert 1994 totaal verengels is. Dit
impliseer ‘n territoriale oplossing vir die taalprobleem, soortgelyk aan dié
van België of Kanada waar ‘n provinsie opsy gesit is vir die minderheidstaal.
As daar ‘n see
rondom jou is, en jy nie lus voel om te swem nie, moet jy dyke bou, soos die
Nederlanders. In beide Vlaandere en
Québec bestaan streng taalwetgewing wat die status van Nederlands en Frans
beskerm teen onderskeidelik Frans en Engels.
Dit is presies wat Afrikaans nodig het, dyke teen Engels. Dié maatreëls
heet taalbeplanning, nie taalontplanning nie.
In die gebied rondom Pretoria/Centurion behoort Afrikaans as enigste
openbare taal afgedwing te word, en behoort reklame en aanwysingsborde in Engels
verbied te word. Afrikaanse ouers
behoort nie toegelaat te word om hul kinders na Engelse skole te stuur sonder
toestemming van die provinsiale Minister van Onderwys en verpligte
beradingsessies met opvoedkundige sielkundiges wat hulle sal inlig aangaande die
negatiewe gevolge vir die kind se prestasie, asook vir die Afrikaanse gemeenskap
in die geheel nie.
Die enigste manier
waarop Afrikaans gaan ontkom aan sy huidige status as bedreigde taal, wat sou
verhoed dat Afrikaanse skrywers verdere publikasies die lig laat sien onder die
titel Die laaste Afrikaanse boek, hang af van die volgende:
Gegewe die benarde
toestand waarin Afrikaans verkeer, impliseer dit niks minder as ‘n soort
onafhanklikheidstryd nie. Om aan
die dwingelandy van Engels en Engelse verdrukking te ontkom, sal Afrikaans en sy
sprekers op sy minste kulturele outonomie moet verkry.
Ons moet ophou om ons
daaraan te steur of so ‘n oplossing politiek korrek klink of nie.
Die taalstryd het reeds gefaal, want die Engelse regering van Suid-Afrika
steur hom nie daaraan nie; klagtes en protes vanuit die Afrikaanse
taalgemeenskap se geledere rol soos water van ‘n eend se rug af.
Ons moet nou in ons eie belang optree, en eenvoudig red wat daar te redde
is.
Ons moet Engels en
gedwonge mededinging met Engels van ons afwerp, en weer vry word om ons eie taal
in ‘n eie taalomgewing te praat.
Lank voor dit in
Mosambiek gebruik is, was daar ‘n slagspreuk in Afrikaans:
die stryd gaan voort. Kom
ons radikaliseer daardie stryd, en omskep dit in ‘n stryd vir onafhanklikheid,
vir die reg om ons eie taalwette te maak, vir die reg om dyke te bou teen die
Engelse see.