Afrikaans en Nasiebou

Kas Landman

Voordrag by geleentheid van die Oop Gesprek van die Groep van 63 by die Universiteit van Pretoria op 12 Oktober 2002.

Ter aanvang:

<                  Ons, die Afrikaanssprekendes en in enger kring die Afrikaners, beleef `n krisis,  is vasgevang in `n oorlewingstryd wat op die oog af lyk soos `n soort spel.

<                  Johann Rossouw skryf onlangs (G63-poslys:Wed, 02 Oct 2002 20:27:50 +0200) “Afrikaanse kuierplekke en kunstefeeste is niks anders nie as virtuele republieke van korte duur, waar mense juis heen gaan om hul Afrikaansheid vrylik uit te leef. Natuurlik sal almal daar dink dit gaan goed, nes mens by 'n karnaval die vergeet van jou sorge ritualiseer.”

Virtuele republiekies - Aardkloppies en Oppiekoppies - is maar `n skrale werklikheidsbelewing en eintlik maar net werklikheidsontvlugting.  Virtuele republiekies dra niks by tot die instandhouding van die  intellektuele ruimte en hoër funksies van Afrikaans nie.

<                  Afrikaans is besig om sy intellektuele ruimte te verloor. Universiteite word transformeer tot niksseggende instansies. Dit werk deur van post-tersiêr tot pre-primêr.  Dit moet lei tot 'n ernstige onvermoë en `n verlamming wat uiteindelik in al die sfere van die Afrikaanse samelewing sal realiseer en al reeds realiseer..

<                  Ons moet die groter raamwerk van hierdie probleem sien en d.i. die nasiebou-projek van die Regering. 

 

Om die probleem van hierdie krisis en spel te verstaan, te formuleer en te hanteer, moet die konteks en groter raamwerk waarbinne dit gebeur, identifiseer word.  Hierdie konteks en raamwerk is die nasiebou-program van die regering.

 

In 1980 publiseer Jaap Steyn sy Tuiste in Eie Taal. Die behoud en bestaan van Afrikaans.

Aanvanklik kon hy geen uitgewer vir die werk vind nie maar toe dit uiteindelik gedruk en uitgegee is, verkoop dit baie goed. Ten spyte van die goeie verkope kom die boodskap nie deur nie.  Die Afrikaanse  elite, eintlik die Afrikaner-organisasies en instellinge was letterlik vet tevrede met hulleself.  Intussen het Tuiste in Eie Taal waarskynlik ander se gedagtes losgemaak en hulle aan die werk gesit.  Ek verwys hier na Neville Alexander en sy span van die National Language Project wat, meen ek, gefinansier is deur die Biskoppekonferensie, British Council, USA Information Service.  Dit is in die jaar 1985.

In 1989 publiseer  Neville Alexander Language Policy and National Unity in South Africa/Azania en in 1990 Die Taalbeleid van die Suider-Afrikaanse universiteit, (`n referaat wat gelewer is tydens `n konferensie oor “Die Universiteit in `n Veranderende Suid-Afrika” wat in Julie 1989 by die Universiteit van Pretoria aangebied is.)

 

Die Afrikaanse (lees Afrikaner-) organisasies en instellinge reageer eers dertien jaar later.  Eers op 3 Mei 2002 met `n Oop Gesprek wat die FAK reël oor Afrikaans in Hoër Onderwys en toe op 15 Junie 2002 met `n vergadering onder die hoof  Aksie vir Hoër Onderwys  (AHO).  Dit lei daartoe dat daar in `n verslag aan Minister Asmal vir Afrikaanse universiteite en vir Afrikaans as universiteitstaal beding word op grond van akademiese vryheid en outonomiteit.

Intussen het 2 Februarie 1990 en die oorgangsgrondwet Wet 200 van 1993 met die Afrikaansvriendelik taalbepalings (artikel 3 (2) en (9)) wat o.a. bepaal dat 

Regte met betrekking tot taal en die status van tale wat by die inwerkingtreding van hierdie Grondwet bestaan, word nie ingekort nie...

 


Intussen loop die jare aan en verskyn 

RDP WHITE PAPER DISCUSSION DOCUMENT (ongedateer p.42) met voorskrifte soos

<                   All levels of gevernment will be expected to implement a policy of affirmative action to ensure that the Public Service is

<                   representative of all the people of South Africa en 

<                  to stamp out racism wherever it persists (§ 5.6.1) en verder 

<                  to embark upon nation building....We are a single country, with a single economy, functioning within a  constitutional framework en

<                  nation-building links reconstruction and development....The key to this link is an infrastructural programme that will provide access to......... education and training for all our people.

<                   Minority control and privilege in every aspect of our society are the main obstruction to developing an integrated programme which will unleashed all the resources of our country

 

Die oorgangsgrondwet word vervang deur Act No 108,1996, die CONSTITUTION OF THE REPUBLIC OF SOUTH AFRICA wat in artikel 29.(2) bepaal

Everyone has the right to receive education in the official language or languages of their choice in public educational institutions where that education is reasonably practicable.  In order to ensure the effective access to, and implementation of, this right, the state must consider all reasonable alternatives, including single medium institutions, taking into account -

(a)            equity;

(b)            practicability; and

(c)            the need to redress the results of past racially discriminatory laws and practices.

In hierdie Grondwet het niks van artikel 3(2) en 3(9) van die oorgangsgrondwet oorgebly nie.

 

In die Final Report van die Language Plan Task Group (LANTAG) (8 August 1996. 193) OVERVIEW, RECOMMENDATIONS AND EXECUTIVE SUMMARY word die volgende beweer:

“Wat die taalvraagstuk betref, tel die tussentydse Grondwet en die nuwe Grondwet (CONSTITUTION OF THE REPUBLIC OF SOUTH AFRICA Act No 108,1996) onder die mees progressiewe staatsdokumente in die wêreld vandag, en hoewel die nuwe Grondwet in `n heel ander styl geskryf is, laat dit die fundamentele beginsels waarop `n demokratiese taalbeleid vir `n veeltalige samelewing gegrond moet word, ongeskonde.”

 

Hierdie “mees progressiewe staatsdokumente in die wêreld vandag” wat “die fundamentele beginsels waarop `n demokratiese taalbeleid vir `n veeltalige samelewing gegrond moet word, ongeskonde (laat),” het in werklikheid en in die praktyk die Afrikaanse leef- en intellektuele ruimte laat verskrompel.

 

Pim Fortuyn, die Nederlandse akademikus (en later politikus) sê in `n “politiek-economische zedenshets” aan die volk van Nederland:

“Slechts hij die weet wie hij is en waar hij vandaan komt zal sich op een zelfbewuste wijze kunnen bewegen in het internationale milieu dat aan het ontstaan is. (Fortuyn 1992.174)

 

Wat die Nederlander betref, stel hy dit so:

“Nationale identiteit  is eerst en vooral weten wie je bent, niet alleen als persoon maar ook als volk dat samenleeft in een bepaald maatschappelijk verband op een afgebakend grondgebied.  In het verenigde Europa zal het meer dan ooit nodig zijn dat we Nederlanders zijn en om ons te realiseren wat dit inhoudt.  Dat hebben we nodig om ons vrijelijk te kunnen bewegen in Europa en in de wereld.” (Fortuyn 1992.174)

 

In vergelyking met Nederland is Suid-Afrika en die Suid-Afrikaanse opset veel komplekser.

 

`n Nasionale identiteit wat saamhang met nasionale eenheid en nasiebou is onderhewig aan middelpuntsoekende en middelpuntvliedende kragte en hierdie kragte is weer onderhewig aan faktore wat dit aktiveer en bevorder of frustreer en neutraliseer.  Een van die sterkste middelpuntsoekende kragte is wedersydse agting en respek wat prakties as erkenning gerealiseer word.  Waar agting, respek en erkenning frustreer en ontken word, word die middelpuntvliedende kragte geaktiveer.  Praktiese voorbeelde van frustrerende faktore wat die middelpuntvliedende kragte aktiveer, is


;                  social engineering

;                  Minority control


;                  uitsluiting en eksklusiwiteit,

;                  eilande van (wit) bevoorregting, (privilege in every aspect of our society)


;                  enklaves van apartheid/wit afsonderlikheid


;                  representative of all the people of South Africa/Affirmative action en

;                  die access- en barrier-argumente van Asmal


;                  die ontkenning en minagting vir legitieme waardes en kwaliteite en die daarmeegepaardgaande keuring, bv. akademiese aanleg en vaardighede waaronder taalbekwaamheid.

 

Vergelyk hier wat Dawid Gericke sê:  (Dawid Gericke noem homself `n middeljarige (50) Afrikaanssprekende van Khoi-afkoms.)

“Afrikaans is die taal waarin my ma my van liefde en respek geleer het.  Dit is ook die taal waarin ek my kinders na die beste van my vermoë grootgemaak het.  Dit moet ook die taal wees waarin my kleinkinders hulle kan bekwaam as `n mechanic, nurse, dokter, ingenieur of prokureur sonder dat hulle as ontwrigters beskou word as hulle tussen “Engelse bloedjies” by die UK of enige ander opvoedkundige inrigting aandring op moedertaalonderrig.”

“AFRIKAANS, maar divers”  in INSIG, September 2002)

 

 Vergelyk hier ook wat Heilna du Plooy sê:

“Die meeste Afrikaners met wie ek in aanraking kom, soek nie 'n nuwe magsbasis nie en is verlig dat die ideologiese en politieke oorgang in die land plaasgevind het. Maar hulle wil steeds graag - en in Afrikaans - bydra tot ontwikkeling in die land.

“Hulle wil liefs in Afrikaans siek word en sake doen, liefs in Afrikaans hof toe gaan, kerk toe gaan, skool toe gaan en universiteit toe gaan en hulle gun elke ander taal 'n soortgelyke regmatige plek.

“Hulle is wel bereid en in staat om ander tale te gebruik waar dit nodig en wenslik is, maar hulle kan nie begryp waarom standpunte vir Afrikaans as ideologiese "taalstryde" afgewys word terwyl daar aan ideologiese druk ten bate van 'n ander hiperbevoorregte taal toegegee word nie.

“As ek die gevolge daarvan bedink dat die reeds teruggedringde ruimte vir Afrikaans werklik ernstig beskadig of selfs vernietig word, om welke aktiewe of reaktiewe redes ook al, sien ek daar absoluut geen voordeel vir enigiemand in nie.

.......

“Hierdie land het genoeg bitterheid om te dra sonder om willens en wetens nog nuwe bitterhede te genereer.” (Beeld, 12 Julie 2002)

 

Uit wat Dawid Gericke en Heilna du Plooy hier sê, is dit duidelik


1.                    dat `n Suid-Afrikaanse identiteit sonder Afrikaans géén Suid-Afrikaanse identiteit is nié en

2.                    dat die opvattings onderliggend aan hierdie belydenisse en behoefteverklarings nie klop met dit wat onder nation building verstaan word nie. 

As u  gevra sou word na aanleiding van die laasgenoemde punt, naamlik nasiebou, en met die relevante middelpuntsoekende en middelpuntvliedende kragte in gedagte, wat u dink  in SA of in die geskiedenis van SA oop en sensitiewe senuwees  is, wat sou u antwoord wees?

Met dié parameters gegee, dink ek dat daar twee senubane is wat sonder veel teenspraak en kompetisie aanspraak kan maak op van die voorste plekke, nl. taal en ras of kleur.  Grond is `n ander senubaan wat aanspraak maak op `n voorste plek.

Laat my toe om u in hierdie verband aan die volgende -  gerieflikheidshalwe in drie fases verdeel -  te herinner:

1. Enkele grepe uit die reeds tweehonderjaarlange taalstryd;

2. 1948 tot 1994/1996-fase;

3. en die fase 1996 en verder.

 

1. Enkele grepe uit die reeds tweehonderjaarlange taalstryd;

 

Reeds vir 200 jaar word daar doelbewus en uitdruklik pogings aangewend om `n Suid-Afrikaanse identiteit sonder Afrikaans te vestig.

Britse sendelinge (Moffat en sy skoonseun Livingston, en later Read en Van der Kemp) het vroeg reeds die evangelie in Engels gebring en so `n bepaalde status aan Engels en insgelyks `n verminderde status aan die inheemse tale, d.i. die Bantoetale, gegee.  Selfs die onvriendelikste skrywers teenoor Afrikaans moet toegee

“That the British authorities saw the importance of language is apparent from the steps periodically taken to compel the public to use English.  They applied pressure first in the schools; they extended it by proclamation to the courts from the late 1820's onwards; in 1853 they made it the exclusive language of parliament;  ...”

(Uit Wilson, M. and Thompson, L. THE OXFORD HISTORY OF SOUTH Africa, 283 - aangehaal deur Majeke, A.M.S.1994 The 1976 Soweto Uprisings: Education, Law, and the Language issue in South Africa. U M I Ann Arbor, Michigan)

In sy EDUCATION in SOUTH AFRICA (1652 - 1922) van 1925 verskaf Ernst G. Malherbe die volgende feite:

(Ter wille van tyd en ruimte word `n beperkte aantal feite hier verstrek- net enkeles van die Kaapkolonie tot 1882.)

 

1806    Die Engelse neem die Kaap oor en daar word beloof dat die bevolking taalvryheid sou geniet op alle gebiede insluitend kerk, skool, kantoor en regering.  Vir die bevordering van 'n subtiele verengelsing word Engelse en Skotse onderwysers ingevoer om die Hollandse onderwysers te vervang "by Englishmen of a superior class, as affording both the means of making the English language more general in the Colony and improving the manners and morals of the People".

1813    'n Proklamasie word uitgevaardig dat niemand in die staatsdiens opgeneem sal word wat nie Engels magtig is nie.

1822    Engels word die enigste amptelike taal en gratis Engelse staatskole wat Hollands nie eens as 'n vak aanbied nie, word opgerig.

1822    Engels word as die enigste hoftaal geproklameer.

1832    Die Charter of Justice, waardeur slegs Engels in die geregshowe gebruik mag word, word afgekondig.

]1843   Private plaasskole kan staatsondersteunde skole word, indien hulle aan bepaalde vereistes rakende Engels voldoen word.

1853    Die Kaap kry 'n "vrije konstitusie" met 'n hoër- en 'n laerhuis waarin slegs Engels gepraat mag word.  Dit bring mee dat mense van skerp verstand maar wat nie Engels kan praat nie, stom is in die vergaderings.

1859    Die Graaff-Reinet Kollege word deur die Hollands-Afrikaanse bevolking opgerig maar gebruik Engels as onderrigtaal en keur selfs die praat van Hollands af. 

1865    'n Nuwe onderwysodonnasie wat bepaal dat alle staats­ondersteunde skole slegs Engels as voertaal mag gebruik, word uitgevaardig.  Hollands word wel as 'n vak toegelaat maar op sommige skooldeure verskyn kennisgewings met die woorde:"It is forbidden to speak Dutch".

Dit is net `n kwessie van tyd voor ons sien “It is forbidden to speak Afrikaans”

1870            Pleidooie vir moedertaalonderwys val op dowe ore.  Sir Langham Dale, superintendent van onderwys,  daar is minstens ses tale in die Kaap, insluitend die inheemse tale en daarom is daar nie 'n ander keuse nie as om Engels as enigste onderrigtaal in skole te gebruik.

1872    Die owerheid handhaaf ongestoord 'n eentaalbeleid.  Vir die Elementary Teachers Certificate word Engels gestel as 'n verpligte taal en "Dutch or Kafir" opsioneel.

1873    Stigting van die University of the Cape of Good Hope (later Unisa), om as eksamineringsliggaam te dien op model van die University of London.  Dit vervang die werk van die Board of Examiners  - alles Engels.

1874            Hollands word as vak verwyder uit die program vir eksmamens vir skoolsertifikate.

1879    Die De Villierskommissie wys op die onreg wat Hollandse kinders aangedoen word omdat hulle aanvangsonderwys deur medium van Engels plaasvind.  Agitasie begin in bepaalde kringe ontwikkel.  Super­intendent Dale sê die ouers is tevrede, dus wat is die probleem?

1880            Ontwaking van Afrikanerdom weens die Transvaalse Vryheidsoorlog en die taalstryd kry vuur.  Die Kaapse Sinode en Onse Jan Hofmeyer beywer hulle dat die keuse van voertaal in skole aan die ouers oorgelaat moet word.  Die parlement gee geen aandag hieraan nie. 

1881            Taalpetisies van oor die land word by die parlement ingedien en Hollands word op 2 Junie in die parlement toegelaat.

1882    Die vakke wat vir die laer en hoër staatsdienseksamens geneem moet word, is "handwriting, copying from manuscript, arthmitic, writing from dictation and reading in the English, and also in either Dutch or Kafir languages: provided that the examination in the Dutch or Kafir languages may be dispensed with where a knowledge of either of these languages is not actually required."

 

2. 1948 tot 1994/1996-fase

 

Waldemar Bonsels se verhaal oor die ontdekkingsreis van die by Maja, Die Biene Maja  und ihre Abenteuer is hier van toepassing.  Maja kom die sprinkaan teen en hy vertel aan haar dat om hoog te kan spring  die hoogste kwaliteit en aktiwiteit in die skepping is.  Die springkaan vertel dan aan Maja hoe hy die ander dag gesien het hoe `n predikant probeer het om `n slang te beïndruk deur drie voet hoog te spring. En om aan Maja te wys dat springkane die hoogste wesens in die skepping is, spring hy en soos Bonsels dit beskryf: hupla und fort war er

 

Hierdie hoogste kwaliteit en aktiwiteit in die skepping het ook die allure van die houtperd van Troje. Wat Afrikaans betref, kan gevra word hoe dit dan gebeur het dat die houtperd Engels Troje binnegekom?  Na 1948 het om verskillende redes wit en blank  hier te lande die hoogste kwaliteit en aktiwiteit geword. Dit het gelei tot wat vandag beskryf word as enklaves van (wit) apartheid, eilande van (wit) bevoorregting wat gebaseer is op  uitsluiting en eksklusiwiteit.

 

Dit is teen hierdie agtergrond wat die toeganklikheids- (access) en skans- (barrier) argumente van minister Asmal gestel en aangevoer word.  In die NATIONAL PLAN FOR HIGHER EDUCATION van Februarie 2001 word die volgende gesê:

...although the historically white Afrikaans-medium institutions are gradually moving towards the adoption of a combination of dual and parallel-medium language strategies, language continues to act as a barrier to access at some of these institutions.

Chris Brink, rektor van die Universiteit van Stellenbosch stel dit so:

Natuurlik mag taal nie as `n “skans” teen rassetransformasie gebruik word nie....Meer swart mense as wit mense is Afrikaans magtig; ...maar enige taal, ook Engels, kan as `n skans dien. (bl. 41)

Afrikaans mag nooit weer gesien word as die instrument om uit te sluit, mense steeds te benadeel en eksklusief “wit mense” se regte te verskans nie.(bl. 42)

(‘AFRIKAANS OP UNIVERSITEIT  Uit die mond van die rektor” 

INSIG, September 2002)

(Vir lang periodes in die SA-geskiedenis was Engels vir nie-Engelstaliges `n skans - `n skans wat hulle uit geleerdheid en werk gehou het.  Ons is besig om weer so `n periode binne te gaan.)

 

Om dan met enige argument wat lyk op of herinner aan toegangsbeheer of skans, en uitsluiting dus, binne die raamwerk en konteks van die nasiebouprogram te kom soos om vir Afrikaans as medium van onderrig, studie en navorsing asook vir Afrikaanse universiteite op grond van akademiese vryheid en outonomiteit te wil beding, kom verdag voor.  Hierdie soort argumente is in dié nasieboukonteks  en die uitsluitingsverlede non-argumente en irrelevant.  Dit ondermyn gewoon die saak van Afrikaans.  Dit is klaarblyklik op grond hiervan dat iemand soos Neville Alexander as taalsosioloog en -beplanner `n fobie het vir “etniese gebaseerde taalstryde” (Alexander 2001.11).

Afrikaans kan egter baie moeilik as `n etnies-gebaseerde taal beskou word.  Daarvoor is die diversiteit binne Afrikaanssprekende geledere te groot.  Hierdie diversiteit dra ook `n ongelukkigheid en `n soort skisofreniteit oor aan Afrikaans.  Oor die identiteit van die Afrikaanssprekende laat Hein Willemse hom soos volg uit:

“In die noorde van die land was die skeidslyne op die oppervlak en duidelik waar te neem. Dit was maklik om Afrikaans te assosieer met politieke mag en sosiale vergrype, want werkgewer en werknemer het nie net verskillend gelyk nie, hulle het ook verskillende tale gepraat.

“Suiderlinge se ervaring van Afrikaans was totaal anders. In die suidelike provinsies het klaas en baas 'n taal gedeel, al het hul politieke en sosiale belange en versugtings diametraal verskil. In hierdie omgewings van gemeenskaplike taal was dit die hovaardige, kleinerende en vernederende wyse waarop Afrikaans dikwels deur die wit base gebruik is wat die sosiale afstand groter en soms byna onoorbrugbaar gemaak het.

“Dit beteken nie dat nie-wit Afrikaanssprekendes Afrikaans nie as hul eie geëien het nie.” (KL)

Hein Willemse Afrikaans sal net nie-rassig gedy Beeld-forum:1 Okt 2002

Die verwydering tussen die wit en bruin sprekers van Afrikaans bespreek Jaap Steyn in 1980 breedvoerig onder die opskrif “`n Tragiese Proses”.  Hy wys daarop dat die kwelling toe al reeds `n eeu oud was.

In 1989 laat Neville Alexander (1989.57) hom soos volg hieroor uit:

“Among so-called Coloureds, especially, there is a marked language shift taking place out of Afrikaans into English so that whereas older middle-class Coloured people speak Afrikaans to one another, they tend increasingly to rear their children in English.” (Alexander, Neville. 1989.57)

 

Die einste minister Asmal het by geleentheid  van Histories Swart Universiteite gesê: “...it was a shame that historically black institutions were not leading the world in studies on indigenous languages, the multilingual classroom and the combatting of illiteracy.”(BUSSINESS DAY, October 23 2000).  Dit is gewoon natuurlik dat taal en kleur/ras by hierdie universiteite saamgeval het wat daartoe gelei het dat hierdie universiteite as etniese universiteite gebrandmerk is. “...the indigenous African languages were to be systematically developed in order to imprison their speakers in their ethnic cultures and thus, coincidentally, to curb the rapid growth of African, and more generally, black nationalism”, aldus Neville Alexander (1990.133).

Hierteenoor was die Histories Afrikaanse Universiteite ( en skole) wit - nie om `n natuurlike rede nie maar om `n politieke rede.  Hierdie feit kan waarskynlik gereken word as een van die skadelikste faktore in die  ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans.

Dit is dan ook nie vreemd nie dat as reaksie teen die polities-segregasionistese benadering `n benadering gekom het wat polities-integrasionisties van aard is en wat as basis dien vir die toeganklikheidseis (access) en die skansargument (barrier) van minister Asmal.   Die hoogste kwaliteit en prestasie is nou representative of all the people of South Africa/Affirmative action ongeag.

As die NNP en sy taalombudsman dit onberedeneerd en sonder motivering stel

            Taal mag nooit as verskoning gebruik word om studente toegang tot 'n hoër opvoedkundige inrigting te ontsê nie

word die gekamofleerde etniese fobie (as `n middelpuntvliedende krag teen nasiebou) teen Afrikaans aangewend sonder om die werklike belang van taal as medium vir onderrig, studie en navorsing te vereken.  Sonder die inagneming van akademiese aanleg en vaardighede, waaronder taalbekwaamheid, herinner hierdie access- en barrier-argumente van Asmal maar net weer aan die sprinkaan-mite van Waldemar Bonsels.

Hiermee saam gaan ook die ander uitglipfoefies van bekostigbaarheid en haalbaarheid.

Theuns Eloff, rektor van die Potchefstroomse Universiteit, sê

“Geen historiese Afrikaanse universiteit wil studente op `n “wit eiland” laat studeer nie.  Dis kunsmatig, herinner aan apartheid en berei hulle nie voor om `n volwaardige plek in die multikulturele Suid-Afrika in te neem nie.  Universiteite het dus swart studente nodig - daar is meer as 200,000 swart Afrikane wat Afrikaans as moedertaal het en miljoene wat dit as tweede taal praat en beheers, veel beter as Engels.  Daar is verder 2,9 miljoen bruin mense wat Afrikaans as moedertaal praat.  Dus: daar is genoeg moedertaal-Afrikaanssprekendes en genoeg tweedetaal-Afrikaanssprekendes om enige histories Afrikaanse universiteit `n gebalanseerde demografie te gee - en swart mense toegang tot histories Afrikaanse universiteite te gee.” (bl. 43)

(“AFRIKAANS OP UNIVERSITEIT  Uit die mond van die rektor” 

INSIG, September 2002)

 


3. Die fase 1996 en verder.

As die belangrikste beginsels en doeleindes van die NCHE-taalbeleid in terme van die nuwe grondwet word die volgende genoem:


1.                    Om nasionale eenheid te bevorder.

2.                    Om demokrasie te verskans, wat die beskerming van taalregte insluit.

3.                    Om veeltaligheid te bevorder.

4.                    Om respek vir en verdraagsaamheid teenoor taal- en kulturele verskeidenheid te bevorder.

5.                    Om die uitbouing en modernisering van die Afrikatale te bevorder.

6.                    Om nasionale ekonomiese ontwikkeling te bevorder.

Dit is opvallend - en klaarblyklik nie toevallig nie - dat daar in die volgorde waarvolgens die belangrikste beginsels en doeleindes van die taalbeleid in terme van die nuwe grondwet genoem word, `n bepaalde `n hiërargie af te lees is.  Nasionale eenheid is belangriker as demokrasie en veeltaligheid.


Dieselfde verslag stel dit dan ook dat

<                  “English has in democratic South Africa become the national language of politics and record. It remains the language of diplomacy and international commerce.”

<                  “Our political institutions are national ones and not designed to serve the interests of any one group. Our schools are also a national resource, not belonging to any one group of people but to all.”

Daar is dus nie plek of ruimte vir `n Afrikaanse, `n Zoeloe, ens. skool  of universiteit nie.  Die NCHE (1996.378) stel dit so:

“let it be stressed, since in the spirit of nation building, we would want to avoid any built-in aligning of institutions on language lines.” 

 

In die Values, Education and Democracy - Report of the Working Group on Values in Education (MULTILINGUALISM VALUES EDUCATION AND DEMOCRACY) (bl.7)

word gesê:

“Schools and activities can be planned in such a way that mother-tongue education facilitates learning for our children, without ‘‘ghettoising’’ them into ethnic groups or leading to linguistic apartheid.”

Hierdie built-in aligning of institutions on language lines word gesien as tribalism wat `n remmende krag teen nation building is.

 

Om terug te keer na die “virtuele republiekies” waarna Johann Rossouw verwys en die belydenis en behoefteverklaring van Dawid Gericke en Heilna du Plooy: 

1.            Afrikaans, die toekoms van Afrikaanse instellings en Afrikaans as deel van die nasionale identiteit van Suid-Afrika


<                                          kan nie net speel-speel realiseer in die “virtuele republiekies” en


daarom kan Afrikaans, die toekoms van Afrikaanse instellings en Afrikaans as deel van die nasionale identiteit van Suid-Afrika


I.                     nie aan taalosse*, taalkwene, freeriders* (ook die met kitare en skaam hare)*, joiners en hensoppers toevertrou of selfs net oorgelaat word nie.

*sien BRONNELYS onder.

2.            In `n e-skrywe op die G63-poslys skryf Danie Goosen

“Ons gaan dié illusies (rassistiese eenheid en almag) nie deurbreek solank as wat ons nie ons status as 'n etniese minderheid aanvaar nie en solank as wat ons nie op 'n demokratiese wyse en aan die hand van die hoogste politieke ideale wat dit onderlê gaan intree vir ons eie wêreld nie.”

In die lig van die nasiebou-ideaal is die vraag nou:

Kan die wyse waarop `n minderheid homself as `n minderheid definieer, beteken dat die  minderheid homself in terme van die nasiebouprogram neutraliseer en buite die spel plaas?

Is art. 185 bedoel om te dien as `n misleidende konstrukt om hierdie neutralisering in die hand te werk ?

3.            Die tyd het aangebreek dat die Afrikaanse gemeenskap en in enger kring, die Afrikaner, die ontontwykbare werklikheid van nasiebou in die oog moet kyk en onwrikbaar moet verklaar en eis: 

`n Suid-Afrikaanse identiteit sonder Afrikaans is geen Suid-Afrikaanse identiteit nie.

Geen SA identiteit/nasie sonder Afrikaans nie.

Suid-Afrika is nié maar net nóg `n Australië, nóg `n New Zealand, nóg `n Kanada, ens. nié.

 

*************************************

BRONNELYS

“AFRIKAANS OP UNIVERSITEIT  Uit die mond van die rektor”

INSIG, September 2002)

“AFRIKAANS, maar divers”  in INSIG, September 2002)

Act No 108,1996, CONSTITUTION OF THE REPUBLIC OF SOUTH AFRICA

Alexander, Neville. 1989. Language Policy and National Unity in South Africa/Azania

Cape Town: BUCHU BOOKS, P O Box 2850 Cape Town 8000

Alexander, Neville. 1990. The Language Question in Schrire, Robert A.1990. Critical Choices for South Africa. Cape Town. Oxford University Press

Alexander, Neville. 1990. DIE TAALBELEID VAN DIE SUIDER-AFRIKAANSE UNIVERSITEIT, IDASA OCASIONAL PAPERS

`n Referaat wat gelewer is tydens `n konferensie oor “Die Universiteit in `n Veranderende Suis-Afrika” wat in Julie 1989 by die Universiteit van Pretoria aangebied is.

Beeld 1 Oktober 2002  Brief freerider

In vakbondterminologie word daar verwys na freeriders.  Dit is werkers wat nie lede is van die vakbond nie maar wat voordeel trek uit dit wat die vakbond beding.  Op `n ander terrein neem `n mens hierdie freeriders ook waar: hulle is die mense wat voordeel trek uit die waaksaamheid van karoppassers op parkeerterreine maar geen fooitjie aan die karoppassers gee nie.

`n Mens kan dit jou goed voorstel dat die struggle teen apartheid ook sy kwota freeriders gehad het net soos wat die apartheidsisteem sy kwota freeriders gehad het - en, net soos die huidige en die vorige taalstryde freeriders gehad het.

Maar nou lyk dit vir my dat “die gevleuelde woorde van die jong rockmusikant Karen Zoid” (Hein Willemse in Beeld van 1 Oktober)  Ek voel sterk oor die taalstryd in die sin dat ek niks daarmee te doen wil hê nie die motto geword het van die freeriders van die taalstryd.

Beeld-forum: 8 Okt 2002 Net taalosse juig oor Maties se plan Hermann Giliomee
            “Taalosse is mense wat Afrikaans as openbare taal en op universiteitsvlak wil kastreer en min daaroor bekommerd is of dit nog vir 'n volgende geslag studente beskikbaar is. Al waaroor dit vir hulle gaan, is die parogiale oorweging om genoeg studente vir hul kursusse te kry. “

Beeld 12 Oktober 2002  Karen Zoid ontbloot haar

“Zoid wat bekend is om besonder energieke vertonings waar mikrofone en kitare wild rondgeswaai word, het aan die begin van haar optrede oor die verhoog tot reg voor die kamera gestap, haar broek oopgeknoop en haar skaamhare gewys.”

Bonsels, Waldemar. 1977. Die Biene Maja und ihre Abenteuer. Molden

Du Plooy, Heilna. Mense wat verskil kan ook saamstem. (Beeld, 12 Julie 2002)

Final Report  Language Plan Task Group (LANTAG) (8 August 1996) OVERVIEW,

Fortuyn, Pim. 1992. Aan het volk van Nederland.

De contractmaatschappij, een politiek-economische zedenschets

Roterdam. Tekstverwerking Tekstbureau Elberse

Giliomee, Hermann.  Net taalosse juig oor Maties se plan Beeld-forum  8 Okt 2002

Malherbe, Ernst G. 1925. EDUCATION in SOUTH AFRICA (1652 - 1922)

Cape Town and Johannesburg. Juta & Co., LTD.

NATIONAL PLAN FOR HIGHER EDUCATION, February 2001, Recommendations and executive summary

RDP WHITE PAPER DISCUSSION DOCUMENT (ongedateer )

REPORT of the NATIONAL COMMISSION ON HIGHER EDUCATION

 A FRAMEWORK FOR TRANSFORMATION (NCHE)    

Rossouw, Johann. 2002  (G63-poslys:Wed, 02 Oct 2002 20:27:50 +0200)

Steyn, J.C. 1980. sy Tuiste in Eie Taal. Die behoud en bestaan van Afrikaans.

                        Kaapstad. Tafelberg Uitgewers beperk

Values, Education and Democracy - Report of the Working Group on Values in Education (MULTILINGUALISM VALUES EDUCATION AND DEMOCRACY)

Willemse, Hein.  Afrikaans sal net nie-rassig gedy Beeld-forum:1 Okt 2002

Wilson, M. and Thompson, L. THE OXFORD HISTORY OF SOUTH Africa, 283 - aangehaal deur Majeke, A.M.S.1994 The 1976 Soweto Uprisings: Education, Law, and the Language issue in South Africa. U M I Ann Arbor, Michigan)

 

***************************************************