Oorsig: In hierdie
dokument word ‘n volk se volkeregtelike reg op territoriale selfbeskikking uit
‘n akademiese oogpunt behandel, waarna die praktiese haalbaarheid daarvan vir
die Afrikaners beoordeel word aan die hand van die politieke werklikhede binne
Afrikanergeledere en hul politici. Alternartiewe
of meelopende strategieë vir vorms van selfbeskikking word kortliks aan die
hand gedoen.
1. Die Reg op Streeksoutonomie
1.1 Die volkeregtelike reg van selfbeskikking
Uit die reg van selfbeskikking blyk dit dat ‘n volk
as eerste stap volgens die volkereg geregtig is op territoriale selfbeskikking
en wel in die vorm van regionale selfbeskikking. Omdat minderheidsvolke hierdie reg het, is die sentrale staat
verplig om hierdie reg te erken. Minderheidsvolke,
in teenstelling met minderheidsgroepe, het geen eie staat nie en deur
territoriale outonomie binne bepaalde state aan sulke minderheidsvolke te gee,
kan hul reg op selfbeskikking versoen word met die behoefte dat state nie
onnodig verdeel behoort te word nie. Prakties
vind hierdie oplossing staatsregtelik vergestalting in federale of konfederale
sisteme of deur die erkenning van verskillende vorms van plaaslike outonomie.
Sekere voorvereistes is reeds vir territoriale outonomie gestel:
Die volksgroep moet ruimtelik gekonsentreerd wees, op ‘n redelike
afgebakende gebied woon en moet die meerderheid binne hierdie gebied uitmaak.
Die outonomie wat die reg van selfbeskikking veronderstel, behoort sodanig te
wees dat die volk sy eie menseregte kan uitleef en homself polities, ekonomies,
sosiaal en kultureel kan ontwikkel.
1.2 Konstitusionele reg op
selfbeskikking:
Volgens die ooreenkoms van 21 Desember
1993 tussen die African National Congress en die Afrikanervolksfront, wat
Afrikaners op soek na selfbeskikking verteenwoordig het, is die volgende
ooreengekom:
“In our
considerations we have recognised various modes of self-determination.
It may involve the negotiation of a territorial entity which may have
various degrees of autonomy. This
may be augmented by constitutional devices securing various degrees of autonomy
over the specific affairs of that community at one or more levels of government...”
Die sterkste verpligting tot implementering van
regionale selfbeskikking is egter die Tussentydse Grondwet 200 van 1993 te vind
wat die produk van onderhandelinge was tussen die voormalige regering en die
ANC. Die tussentydse Grondwet is
gewysig deur wet 2 van 1994 om voorsiening te maak vir politieke ooreenkomste
wat deur politieke partye gesluit is. Volgens
hierdie wysiging was dit duidelik dat die bedoeling van die wetgewer was om die
gedagte vir ‘n Afrikanervolkstaat territoriaal te akkommodeer en dat die
grense van die nuut ingestelde provinsies aangepas kon word vir sodanige akkommodasie.
Die instelling van territoriale selfbeskikking is egter nooit ernstig
deur die Grondwetlike Vergadering wat die nuwe grondwet van Suid-Afrika moes
optrek ooreenkomstig die
Tussentydse Grondwet se bepalings oorweeg nie.
Van die instelling van regionale selfbeskikking vir Afrikaners is in die
Grondwet 108 van die finale Grondwet 108 van 1996 niks te vinde nie.
Omdat die instelling van territoriale selfbeskikking vir die Afrikaners
nie ernstig oorweging geniet het by die daarstelling van die nuwe grondwet nie,
is daar al op gewys dat goeie trou afwesig was in hierdie verband.
Die Afrikaner se wetlike reg tot territoriale outonomie kan egter nie
weens hierdie versuim nadelig beïnvloed word nie.
2. Die Gebied waar streeksoutonomie uitgeoefen kan word
2.1 Selfbeskikking en territorium
Selfbeskikking vir die kolonies het
beteken dat hulle onafhanklik kon word en dat hul territoriale integriteit
beskerm moes word. Dit veronderstel
dat die selfbeskikkingsubjek sekere owerheidsbevoegdhede ten opsigte van ‘n
bepaalde gebied het. Selfbeskikking
as algemene konsep veronderstel ‘n territoriale gebondenheid.
“Selfdetermination
postulates the right of a people organized in an established territory to
determine its collective political destiny in a democratic fashion and is
therefore at the core of democratic entitlement.”[2]
Dat die reg van selfbeskikking ‘n staat
se soewereiniteit affekteer, en wysig, word dan ook in die regsliteratuur erken.[3]
So verklaar Casese:[4]
“It is thus
apparent that the impact of the principle of self-determination on the legal
status of these territories entails that the
sovereign Power does not enjoy unfettered rights.
Indeed, it can only exercise its rights and powers subject to a set of
limitations which may also result in its eventual relinquishment of the legal
title over the territory.”
Beheer oor ‘n bepaalde gebied is ook
noodsaaklik vir die uitoefening van die magte wat met die reg op selfbeskikking
gepaard gaan.
“Control
over territory is essential for the creation of the normal organs of local or
regional government and may also be important in terms of economic viability or
development, but it is the symbolic aspect of controlling one’s ‘homeland’
that is the primary motivation underlying demands for an autonomous territory.”[5]
Om selfbeskikking bloot te sien as regte
wat ‘n groep mense toekom om hul eie taal en kultuur te beoefen los van enige
seggenskap oor ‘n bepaalde gebied, is om in werklikheid die reg te ontken.
Die vraag ontstaan dus hoe die reg van selfbeskikking in verband met ‘n
bepaalde gebied gebring word. Om
hierdie vraag op te los, sal gekyk moet word hoe state volgens die volkereg
owerheidsbevoegdhede oor grond verkry.
In die geval van volke wat vasgevang is in dieselfde
staat behoort die beginsels van die verkryging van staatsgesag oor territorium
aangepas te word in die lig van nuwe omstandighede. Uiteraard sal gekyk moet word na alle omstandighede en
faktore. Hierdie faktore en
omstandighede sal teen mekaar opgeweeg moet word om so ‘n billike oplossing
tussen botsende aansprake te bereik. Faktore
wat in aanmerking geneem behoort te word, sluit die historiese regte in van ‘n
bepaalde groep oor ‘n bepaalde gebied. Eiendomsreg
deur lede van ‘n groep behoort ‘n relevante faktor te wees en so ook die
tydperk wat sodanige eiendomsreg bestaan het.
Die feit of ‘n bepaalde groep voorheen staatsgesag oor ‘n bepaalde
gebied uitgeoefen het, behoort ook van besondere belang te wees.
2.2 Die regte van die Afrikaner oor die
Pretoria-Centurion-gebied
Afgesien van die tydperk 1902 tot 1910
het die Afrikaner meer as honderd-en-veertig jaar soewereiniteit
oor die grootste deel van die voormalige ZAR uitgeoefen. (Die swart
tuislande binne die Transvaal word dus hier uitgesluit deurdat territoriale
outonomie volgens staatsregtelike beginsels aan die betrokke swart volke
toegestaan was.) Indien die reg van
selfbeskikking enige betekenis hoegenaamd binne die volkereg het, beteken dit
dat die Afrikanervolk die sterkste reg op territoriale selfbeskikking binne die
historiese gebied van die voormalige ZAR het.
Immers, binne hierdie gebied het hy sy eie staat gehad, het hy
volkeregtelike erkenning as vrye volk geniet en het hy sy vryheid as individu
saam met die ander individue van sy volksgroep geniet waarna hy so lank gestreef
het. Met die uitsondering dus van
die gebiede waaroor die swart volke selfregering en selfs onafhanklikheid
volgens die Suid-Afrikaanse reg gehad het, was daar binne hierdie gebied geen
ander kompeterende eise weens die uitoefening van staatsgesag nie.
Daar is wel kompeterende aansprake in die groter gebied van die
voormalige ZAR weens fisieke besetting. Indien
‘n gebied egter so afgebaken word dat enige aansprake van ander groepe weens
fisieke besetting vermy word, behoort die Afrikaner se reg op die gebied
volkeregtelik gefundeer te kan word. Die
Pretoria/Centurion-gebied was histories die hoofstad van die ZAR.
Dit is ‘n gebied waar ander groepe geen historiese regte het nie, hetsy
weens besetting, of weens bewoning, gemeenskapskepping of die kunsmatige en
roekelose indeling van administratiewe grense om aangrensende voormalige swart
gebiede in te skakel en Afrikaners daardeur ‘n kunsmatige minderheid binne sy
eie kerngebied te maak. Hierdie
gebied behoort aan die Afrikaner waar
hy sy volkeregtelike reg op selfbeskikking kan uitoefen.
Enige poging om die Afrikaner se historiese regte op hierdie gebied aan
te tas deur die demografie van die gebied te verander, is in stryd met die
volkereg asook die reg van selfbeskikking van die Afrikaner.
3. Streeksoutonomie
3.1
Die Aard van streeksoutonomie:
Streeksoutonomie veronderstel dat
die mense wat op selfbeskikking geregtig is , beperkte owerheidsfunksies oor die
streek en sy mense verkry. Die gebied vorm nog volkome deel van die
Metropolitaanse gebied, die RSA. Die gebied moet egter sy eie owerheidsorgane kry wat met
wetgewende, regsprekende en uitvoerende bevoegdhede bedien is.
Die vraag oor hoe die outonome gebied met die provinsies moet inskakel,
is delikaat. Streeksoutonomie kan
egter beswaarlik sinvol binne die huidige provinsies funksioneer weens die
beperkte magte wat die provinsies volgens die Grondwet 108 van 1996 het.
Indien streeksoutonomie binne die huidige provinsiale stelsel moet
funksioneer, veronderstel dit dat die gebied nog minder bevoegdhede as die
provinsies moet hê. Streeksoutonomie
vir die Pretoria-Centurion-gebied behoort
dus naas die provinsies te bestaan veral in die vorm van ‘n tiende provinsie.
Dit spruit voort uit die feit dat die Afrikaners binne hierdie gebied
‘n bevolkingsgetal het wat sodanige status regverdig, dat die gebied se
ekonomiese posisie sodanige status regverdig, en sodanig is dat dit op dieselfde
vlak as die ander provinsies kan funksioneer en dat sy inwoners reeds bewys het
dat hulle sodanige bevoegdhede kan uitoefen.
In die lig van die vryheid wat die Afrikaner in hierdie gebied gehad het,
sal enigiets minder as sodanige status nie die Afrikaner se strewe na
selfbeskikking kan bevredig nie en mag dit die snellermeganisme wees waarmee sy
volkeregtelike aanspraak op totale soewereiniteit ontketen word.
Magte wat op streeksoutonome vlak
toegeken behoort te word, is alreeds in die staatsregtelike voorstelle van die
Volkstaatraad geïdentifiseer.[6]
Dit moet daardie magte insluit wat noodsaaklik is vir ‘n volk se behoud
en uitlewing van sy eie aard en kultuur. Hierdie
magte behoort uitsluitende magte te wees in die sin dat daar nie mee ingemeng
kan word deur die metropolitaanse regering nie.
Magte waaroor streeksoutonomie verkry moet word, sluit die volgende in:
Onderwys, gesondheid, welsyn, landbou, plaaslike regering, provinsiale
polisiemag, openbare media, provinsiale vervoer, provinsiale belasting,
provinsiale howe en die bevoegdheid om
‘n eie grondwet vir die gebied op te stel.
3.2 Haalbaarheid van sodanige status
binne die huidige Grondwet van 1996.
Die vraag is of die Grondwet 108 van 1996
dit nog steeds vir die Afrikaner moontlik maak om territoriale selfbeskikking te
verkry.
Die Konstitusionele hof het in die saak In
re Certification of the Constitution of the RSA, 1996[7]
van die veronderstelling uitgegaan dat dit nog moontlik sal wees.
Die Hof verklaar:
“Proponents
of a Volkstaat are free to campaign for political and constitutional changes
which would result in the forms of self-determination which they consider
appropriate, being brought about and institutionalised.”
Artikel 235 van die Grondwet verwys na
die erkenning van selfbeskikking binne ‘n territoriale entiteit in die
Republiek wat deur wetgewing tot stand kan kom.
Hierdie artikel se regskrag is onseker, maar dit is twyfelagtig of dit
enigiets beteken omdat die parlement in elk geval hierdie bevoegdheid het selfs
al sou die bepaling nie bestaan het nie. Om
territoriale selfbeskikking vir die Afrikaner tot stand te bring op die vlak van
‘n provinsie, sal die grondwet gewysig moet word.
Die parlement het hierdie bevoegdheid. Sodanige wysiging sal egter slegs
kan geskied met die toestemming van twee derdes van die lede van die Nasionale
Vergadering en met die instemming van ten minste ses provinsies in die Nasionale
Raad op Provinsies. Verder sal
enige geaffekteerde provinsie se eie wetgewer ook tot sodanige wetgewing moet
instem. Konstitusioneel het die verkryging van territoriale
selfbeskikking dus uiters moeilik geword.
‘n Mens sou natuurlik ook kon
argumenteer dat artikel 235 ‘n oorheersende bepaling is in die sin dat dit die
parlement die bevoegdheid gee om territoriale selfbeskikking in te stel ongeag
die ander bepalings van die Grondwet en dat die parlement dus nie aan die
grondwet-wysigingsbepalings gebonde is nie.
Dit is moontlik om sodanige betekenis aan artikel 235 te gee aangesien
dit eintlik geen ander betekenis het nie.
Maar in die praktyk weet ons almal dat
sou die ANC op sentrale vlak besluit om ‘n bepaalde politieke pad te loop, al
die ander regeringsvlakke daarby sal inval.
Die vraag is of territoriale selfbeskikking prakties haalbaar is binne die werklikheid van die politieke
toneel van die land, selfs al kan ons ‘n saak daarvoor in enige plaaslike of
internasionale hof uitmaak en wen.
4. Die politieke haalbaarheid van
streeksoutonomie
4.1 Onder Afrikaners:
Soos uit voorafgaande afgelei kan word is die Afrikanervolk ten volle geregtig op territoriale selfbeskikking en sal hy sodanige eis suksesvol kan handhaaf mits die nodige volkswil daartoe bestaan. Daar is egter toenemende tekens dat weens die aanhoudende demonisering van alle aspekte van apartheid, asook die Afrikaners se betrokkenheid daarby, enige vorm van selfbeskikking of die opeis van enige volkeregtelike regte deur baie Afrikaners vandag as ‘n terugkeer na apartheid bestempel word.
Verder is daar ook onmiskenbare tekens
dat politieke stabiliteit vir ekonomiese groei vir die grootgeld-magnate
verkieslik is bo die potensiële politieke spannings en onstabiliteit wat deur
opwelling van nasionalisme teweeggebring kan word.
Vir groot sakeorganisasies soos SANLAM en
sy telge, asook die Anglo American-groep is dit dus kritiek belangrik dat
Afrikaners deur ‘n proses van de-etnifisering moet gaan sodat daar in die
toekoms van ‘n Afrikaanstalige gemeenskap en nie meer van Afrikaners gepraat
sal word nie. Daar is
weinig twyfel dat hierdie strategie aanleiding tot die 1994-magsoorgawe
gelei het en nou volvoer moet word. Dat
daar ‘n werksverhouding in hierdie verband tussen die staat en die sakesektor
bestaan is gewis.[8]
Om relevant te bly het al die ou
apartheidstrukture soos die AB, die FAK, die ATKV hulle tot transformasie en
veelvolkige inklusiwiteit bekeer. Die
eertydse bakermat van die Afrikaners se volkskapitalisme, naamlik die AHI se
samesmelting met die swart sakekamers het die Afrikaners hul enjinkamer van
magskonsentrasie finaal ontneem. “Transformeer
om te oorleef” is die strategie
en daardie plan word nou ook as die enigste haalbare oorlewingsplan vir die
Afrikanervolk aangebied. Twyfel word dus daagliks gesaai of daar wel so iets as ‘n
Afrikanervolk bestaan wat gered moet word.
Dit is dan ook nie verbasend nie dat die naam van Prof. François Venter,
Broederbondvoorsitter en een van die leidende persone by die opstel van die nuwe
grondwet, genoem word as die Afrikaners se verteenwoordiger op die Artikel
185-Kommissie waar die regte van Taal – Kultuur en Godsdiensgemeenskappe
beskerm sal word en dat ‘n versoolde FAK nou die amptelike Afrikaanse
kultuurraad vir alle Afrikaanspraters gaan wees wat deur die Kommissie erken en
befonds sal word sodat sy kadawer weer lewe kan kry. Alles is dus onderhewig aan die breër begrip van nasiebou en
transformasie. Daardie Kommissie
moet glo die finale konstitusionele spyker in Afrikaner-etnisiteit se doodskis
slaan.
Die vraag is dus hoe invloedryke
Afrikaners enige inisiatief vir enige vorm van territoriale outonomie sal steun,
iets wat lynreg teen hul eie strategie is, as so ‘n inisiatief noodwendig die
herrysing van Afrikaners se eie bewustheid mag ontlok en selfs ‘n moontlike
migrasiestroom van Afrikaners kan veroorsaak en moontlik op ‘n onstabiele
verskuiwing binne die landsekonomie kan uitloop. Sterk teenstand en heftige reaksies kan dus uit daardie oord
verwag word aangesien Afrikanernasionalisme deur sowel die ANC asook die
Afrikaanse grootgeld-magnate as ‘n gemeenskaplike vyand beskou word.
Die media, wat aan hierdie groepering behoort, sal dus elke truuk speel
om ‘n herskikking van provinsiale grense deur verdagmakery en disinformasie te
verongeluk.
4.2 Onder politici
Tydens gesprekke met politici word veral die volgende argumente geopper:
q Die belastingbasis vir tweedevlak- en derdevlak-ekonomiese herverdeling sal wesenlik verklein word met ‘n tiende provinsie buite beheer van die ANC.
q Die oorkoepelende onuitgesproke beleid dat Engels die lingua franca van die hele land moet word sal benadeel word.
q ‘n Wit enklawe sal swart bemagtiging, veral t.o.v. amptenare wat Afrikaans nie magtig is nie, benadeel. (bv. Xhosa- en Zoeloepraters)
q Nasiebou sal verydel word aangesien ander etniese groeperings op dieselfde regte mag aandring, ‘n proses wat op balkanisering van die land mag uitloop.
q Territoriale selfbeskikking vir Afrikaners mag vertolk word dat daar na apartheid teruggekeer word en die mite perpetueer dat Afrikaners ‘n meerderwaardige groep in Afrika is.
q Dit mag ook vertolk word dat ten spyte van SA se liberale grondwet, die ANC–regering misluk het omdat hy nie daarin geslaag het om sy wit minderheid op ander maniere te akkommodeer nie.
q Met die uitsondering van die KP en die VF, is al die opposisie-partye heftig gekant teen enige inisiatiewe wat as rasseskeiding vertolk kan word, aangesien sulke inisiatiewe hul groeipotensiaal by ander gemeenskappe sal beduiwel.
q
Swart aktiviste kan die regering oor hierdie hoogs
emosionele saak selfs tot ‘n val bring, omdat die regering weer die Maburu,
“hul eertydse onderdrukkers,” as ‘n spesiale groep erken.
Die droom van territoriale selfbeskikking
sal uit ‘n politieke oogpunt bykans onhaalbaar wees, tensy ‘n radikale
paradigmaverskuiwing by die populiste asook by die sakesektor ontstaan; een wat
so ‘n proposisie vir hulle aanloklik sal maak.
Intussen moet daar aan ander strategieë gewerk word voordat die
geldmagnate en die ANC se gemeenskaplike strategie volvoer word om die volgende
geslag Afrikaners heeltemal te de-etnifiseer.
5. Alternatiewe strategieë vir
Afrikaners
5.1 Word deel van die meerderheid. Hierdie
NSA-opsie word deur die media, asook mense soos Prof. Willie Esterhuyse
verkondig. Daar word geargumenteer
dat etniese verdelingslyne mettertyd gaan verdwyn en dat die smeltkroesproses
van nasiebou net sowel nou reeds kan begin.
Gemeenskaplike belange soos onderwys, sport, taal en die ekonomie word
hiervoor ingespan en verskaf die filosofiese basis waarop rassisme tans as ‘n
groter misdaad beskou word as verkragting.
Baie Afrikaners het reeds op hierdie opsie besluit en voed hul kinders as
NSA-burgers op.
5.2 Emigreer.
Honderde duisende Afrkaners het reeds hierdie opsie gekies, of berei hul kinders
voor om dit te doen. Daar is reeds
groot getalle Afrikaners in Perth, Oakland, Toronto en Londen.
Sommige Afrikaners, veral op landbougebied, het aanvaar dat hulle onder
‘n swart regering sal moet werk en het besluit om die swart regering te kies
onder wie hulle dit die voordeligste kan doen.
Een so ‘n land is Zambië, ‘n ander is Mosambiek waar honderde
Afrikanerboere reeds hervestig het.
5.3 Die ANC/SAKP se geweldsopsie.
Dit is ‘n feit dat regerings slegs toegee aan druk om hul beleid te
verander wanneer sodanige druk onhoudbaar word in terme van verlies aan lewens
en bates. Hierdie opsie beteken dat
die Afrikaners, soos die swart aktiviste voorheen, ondergronds sal moet gaan en
hulself op ‘n lang, bloedige stryd voorberei. Geografiese afskeiding vind
nooit plaas sonder ‘n bloedige stryd nie.
Daarenteen is ‘n bloedige stryd ook nie ‘n waarborg vir sesessie nie,
soos baie minderheidsvolke in Europa en elders kan getuig.
5.4 Die virtuele volkstaat. Hierdie
is tans waarskynlik die haalbaarste opsie en vereis dat Afrikaners hulself moet
orden op politieke, opvoedkundige en kultuurgebiede.
Hoewel dit beteken dat hulle soos opsie een ook deel van die hoofstroom
moet word, veral die politieke hoofstroom waar hul deelname aan verskillende
politieke partye kan verseker dat Afrikaners se belange in daardie politieke
partye beskerm sal word, kan hulle deur hul eie buite-parlementêre instellings
op te rig druk op die regering van die dag uitoefen.
Sodanige druk kan deur die howe asook met buitelandse verbintenisse
toegepas word sodat die regering altyd Afrikaners se belange sal respekteer.
Hierdie strategie is die filosofiese basis vir Gemeenskapsrade op
plaaslike vlak, hier en oorsee, waaruit die te stigte Konfederale Afrikanerforum
op sentrale vlak sal opwentel. Afrikaners
hoef geen toestemming van
enigiemand te vra om homself op hierdie wyse te orden nie, maar sy vermoë om
druk uit te oefen sal direk eweredig wees aan die hoeveelheid steun wat die
struktuur onder Afrikaners sal geniet. So
‘n geglobaliseerde volkstaat hou Afrikaners deur die kuberruimte in verbinding
met mekaar en sorg daarvoor dat nie ‘n enkele Afrikaner vir die volksaak
verlore gaan nie. Tegnologie -,
handels – en werksgeleenthede kan op hierdie wyse vrylik uitgeruil en benut
word.
5.5 Politieke mobilisasie
Hierdie aksie kan as voorloper dien om geografiese selfbeskikking op ‘n
kerngebied in te stel, selfs al is dit dan aanvanklik net
op derde vlak. Dit kan
verkry word deur Afrikaners in en om Pretoria-Centurion te mobiliseer om tydens
derdevlakverkiesings vir ‘n enkele politieke party te stem.
Gelyktydig moet elke moontlike wettige middel aangewend word om die 21
setels van die voormalige tuislandgebiede weer uit te sny wat onreëlmatig vanaf
‘n ander provinsie by Pretoria ingedeel is.
Sonder die 21 setels wat die ANC in die voormalige tuislandgebiede gewen
het, kan die DA en die ANC elk 35 setels sonder ‘n verhoging in die
stempersentasie kry. Vraag is of
die DA tot so ‘n aksie sou instem, aangesien hulle wyer kyk as net Pretoria en
hoop om ‘n alternatiewe sentrale regering ook te vorm.
Die DA sal derhalwe nie hul swart steun wou inboet ter wille van Pretoria
se Afrikaners nie. ‘n Ruimte kan
derhalwe vir ‘n ander politieke party ontstaan om daardie rol in Pretoria te
vul.
5.6 Die Bonsai-volkstaatgedagte
Soos die Bonsai-boompies in elke opsig net soos die groot boom lyk, bly
hy egter klein omdat sy voedingsbron beperk word.
Bonsai-volkstaatjies kan oral verrys soos in Kleinfontein en Orania en
kan selfs mettertyd op ‘n federale basis met mekaar skakel om in mekaar se
tegnologie, handel en skoolopvoedingstelsels te deel. Afrikaners wat binne hierdie groeipunte woon bevind hulle
sodoende in ‘n groeipunt-volkstaat deurdat hul onmiddellike omgewing vir hulle
as Afrikaans vertoon. Maar soos
wanneer ‘n Bonsai-boompie se potjie tussen kakiebosse geplaas word, is sulke
groeipunte altyd deur ‘n groter vyandige omgewing omring.
Vanweë die feit dat daar aanhangers van elkeen van bogenoemde ses strategieë is, en dat elkeen glo dat sy strategie die beste sal werk, sal Afrikaners altyd verdeeld bly. Slegs opsie vier, die virtuele volkstaat, kan al die Afrikaners van oor die hele aardbol in een enkele struktuur verenig, presies net soos die Joodse Raad van Afgevaardigdes dit oor die wêreld doen.
[1]
Artikels 1 tot 3 uit die Akademiese Begronding van Streeksoutonomie
Prof Hercules Booysen 1997. Stigtingsdokument PRETCAA.
[2]
Sien Franck “The Emerging Right to Democratic Governance” 1992 (86) American
Journal of International Law 46 op 52.
[3]
Sien Jennings & Watts Oppenmheim’s Interhational Law vol 1
(1992) op 715.
[4]
Sien Cassese Selfdetermination of Peoples: A Legal reappraisal
(1995) op 188
[5]
Sien Hannum Autonomy and Selfdetermination:
The Accommodation of Conflicting Rights (1990) op 463
[6]
Sien Staatsregtelike Voorstelle van die Volkstaatraad, sesde verslag van
die Volkstaatraad, Desember 1996, par 4.3 op 12.
[7]
1996 4 SA 744 op 840
[8]
Sien Die Goudgoggas byt seer deur J.H.Wingard