Territoriale selfbeskikking vir Afrikaners: is dit ‘n praktiese Strategie?[1]

Johann Wingard, voormalige Voorsitter van die Volkstaatraad 1994-1996

Oorsig: In hierdie dokument word ‘n volk se volkeregtelike reg op territoriale selfbeskikking uit ‘n akademiese oogpunt behandel, waarna die praktiese haalbaarheid daarvan vir die Afrikaners beoordeel word aan die hand van die politieke werklikhede binne Afrikanergeledere en hul politici.  Alternartiewe of meelopende strategieë vir vorms van selfbeskikking word kortliks aan die hand gedoen.    

1. Die Reg op Streeksoutonomie

1.1 Die volkeregtelike reg van selfbeskikking

Uit die reg van selfbeskikking blyk dit dat ‘n volk as eerste stap volgens die volkereg geregtig is op territoriale selfbeskikking en wel in die vorm van regionale selfbeskikking.  Omdat minderheidsvolke hierdie reg het, is die sentrale staat verplig om hierdie reg te erken.  Minderheidsvolke, in teenstelling met minderheidsgroepe, het geen eie staat nie en deur territoriale outonomie binne bepaalde state aan sulke minderheidsvolke te gee, kan hul reg op selfbeskikking versoen word met die behoefte dat state nie onnodig verdeel behoort te word nie.  Prakties vind hierdie oplossing staatsregtelik vergestalting in federale of konfederale sisteme of deur die erkenning van verskillende vorms van plaaslike outonomie.  Sekere voorvereistes is reeds vir territoriale outonomie gestel:  Die volksgroep moet ruimtelik gekonsentreerd wees, op ‘n redelike afgebakende gebied woon en moet die meerderheid binne hierdie gebied uitmaak. Die outonomie wat die reg van selfbeskikking veronderstel, behoort sodanig te wees dat die volk sy eie menseregte kan uitleef en homself polities, ekonomies, sosiaal en kultureel kan ontwikkel.

1.2 Konstitusionele reg op selfbeskikking:

Volgens die ooreenkoms van 21 Desember 1993 tussen die African National Congress en die Afrikanervolksfront, wat Afrikaners op soek na selfbeskikking verteenwoordig het, is die volgende ooreengekom:

“In our considerations we have recognised various modes of self-determination.  It may involve the negotiation of a territorial entity which may have various degrees of autonomy.  This may be augmented by constitutional devices securing various degrees of autonomy over the specific affairs of that community at one or more levels of government...”

Die sterkste verpligting tot implementering van regionale selfbeskikking is egter die Tussentydse Grondwet 200 van 1993 te vind wat die produk van onderhandelinge was tussen die voormalige regering en die ANC.  Die tussentydse Grondwet is gewysig deur wet 2 van 1994 om voorsiening te maak vir politieke ooreenkomste wat deur politieke partye gesluit is.  Volgens hierdie wysiging was dit duidelik dat die bedoeling van die wetgewer was om die gedagte vir ‘n Afrikanervolkstaat territoriaal te akkommodeer en dat die grense van die nuut ingestelde provinsies aangepas kon word vir sodanige akkommodasie.  Die instelling van territoriale selfbeskikking is egter nooit ernstig deur die Grondwetlike Vergadering wat die nuwe grondwet van Suid-Afrika moes optrek  ooreenkomstig die Tussentydse Grondwet se bepalings oorweeg nie.  Van die instelling van regionale selfbeskikking vir Afrikaners is in die Grondwet 108 van die finale Grondwet 108 van 1996 niks te vinde nie.  Omdat die instelling van territoriale selfbeskikking vir die Afrikaners nie ernstig oorweging geniet het by die daarstelling van die nuwe grondwet nie, is daar al op gewys dat goeie trou afwesig was in hierdie verband.  Die Afrikaner se wetlike reg tot territoriale outonomie kan egter nie weens hierdie versuim nadelig beïnvloed word nie.

2. Die Gebied waar streeksoutonomie uitgeoefen kan word

2.1 Selfbeskikking en territorium

Selfbeskikking vir die kolonies het beteken dat hulle onafhanklik kon word en dat hul territoriale integriteit beskerm moes word.  Dit veronderstel dat die selfbeskikkingsubjek sekere owerheidsbevoegdhede ten opsigte van ‘n bepaalde gebied het.  Selfbeskikking as algemene konsep veronderstel ‘n territoriale gebondenheid.

“Selfdetermination postulates the right of a people organized in an established territory to determine its collective political destiny in a democratic fashion and is therefore at the core of democratic entitlement.”[2]

Dat die reg van selfbeskikking ‘n staat se soewereiniteit affekteer, en wysig, word dan ook in die regsliteratuur erken.[3]  So verklaar Casese:[4]

“It is thus apparent that the impact of the principle of self-determination on the legal status of these territories entails that  the sovereign Power does not enjoy unfettered rights.  Indeed, it can only exercise its rights and powers subject to a set of limitations which may also result in its eventual relinquishment of the legal title over the territory.”

Beheer oor ‘n bepaalde gebied is ook noodsaaklik vir die uitoefening van die magte wat met die reg op selfbeskikking gepaard gaan.

“Control over territory is essential for the creation of the normal organs of local or regional government and may also be important in terms of economic viability or development, but it is the symbolic aspect of controlling one’s ‘homeland’ that is the primary motivation underlying demands for an autonomous territory.”[5]

Om selfbeskikking bloot te sien as regte wat ‘n groep mense toekom om hul eie taal en kultuur te beoefen los van enige seggenskap oor ‘n bepaalde gebied, is om in werklikheid die reg te ontken.  Die vraag ontstaan dus hoe die reg van selfbeskikking in verband met ‘n bepaalde gebied gebring word.  Om hierdie vraag op te los, sal gekyk moet word hoe state volgens die volkereg owerheidsbevoegdhede oor grond verkry.

In die geval van volke wat vasgevang is in dieselfde staat behoort die beginsels van die verkryging van staatsgesag oor territorium aangepas te word in die lig van nuwe omstandighede.  Uiteraard sal gekyk moet word na alle omstandighede en faktore.  Hierdie faktore en omstandighede sal teen mekaar opgeweeg moet word om so ‘n billike oplossing tussen botsende aansprake te bereik.  Faktore wat in aanmerking geneem behoort te word, sluit die historiese regte in van ‘n bepaalde groep oor ‘n bepaalde gebied.  Eiendomsreg deur lede van ‘n groep behoort ‘n relevante faktor te wees en so ook die tydperk wat sodanige eiendomsreg bestaan het.  Die feit of ‘n bepaalde groep voorheen staatsgesag oor ‘n bepaalde gebied uitgeoefen het, behoort ook van besondere belang te wees.

2.2 Die regte van die Afrikaner oor die Pretoria-Centurion-gebied

Afgesien van die tydperk 1902 tot 1910 het die Afrikaner meer as honderd-en-veertig jaar soewereiniteit  oor die grootste deel van die voormalige ZAR uitgeoefen. (Die swart tuislande binne die Transvaal word dus hier uitgesluit deurdat territoriale outonomie volgens staatsregtelike beginsels aan die betrokke swart volke toegestaan was.)  Indien die reg van selfbeskikking enige betekenis hoegenaamd binne die volkereg het, beteken dit dat die Afrikanervolk die sterkste reg op territoriale selfbeskikking binne die historiese gebied van die voormalige ZAR het.   Immers, binne hierdie gebied het hy sy eie staat gehad, het hy volkeregtelike erkenning as vrye volk geniet en het hy sy vryheid as individu saam met die ander individue van sy volksgroep geniet waarna hy so lank gestreef het.  Met die uitsondering dus van die gebiede waaroor die swart volke selfregering en selfs onafhanklikheid volgens die Suid-Afrikaanse reg gehad het, was daar binne hierdie gebied geen ander kompeterende eise weens die uitoefening van staatsgesag nie.  Daar is wel kompeterende aansprake in die groter gebied van die voormalige ZAR weens fisieke besetting.  Indien ‘n gebied egter so afgebaken word dat enige aansprake van ander groepe weens fisieke besetting vermy word, behoort die Afrikaner se reg op die gebied volkeregtelik gefundeer te kan word.  Die Pretoria/Centurion-gebied was histories die hoofstad van die ZAR.  Dit is ‘n gebied waar ander groepe geen historiese regte het nie, hetsy weens besetting, of weens bewoning, gemeenskapskepping of die kunsmatige en roekelose indeling van administratiewe grense om aangrensende voormalige swart gebiede in te skakel en Afrikaners daardeur ‘n kunsmatige minderheid binne sy eie kerngebied te maak.  Hierdie gebied behoort aan die Afrikaner  waar hy sy volkeregtelike reg op selfbeskikking kan uitoefen.  Enige poging om die Afrikaner se historiese regte op hierdie gebied aan te tas deur die demografie van die gebied te verander, is in stryd met die volkereg asook die reg van selfbeskikking van die Afrikaner.

3. Streeksoutonomie

3.1  Die Aard van streeksoutonomie:   Streeksoutonomie veronderstel  dat die mense wat op selfbeskikking geregtig is , beperkte owerheidsfunksies oor die streek en sy mense verkry. Die gebied vorm nog volkome deel van die Metropolitaanse gebied, die RSA.  Die gebied moet egter sy eie owerheidsorgane kry wat met wetgewende, regsprekende en uitvoerende bevoegdhede bedien is.  Die vraag oor hoe die outonome gebied met die provinsies moet inskakel, is delikaat.  Streeksoutonomie kan egter beswaarlik sinvol binne die huidige provinsies funksioneer weens die beperkte magte wat die provinsies volgens die Grondwet 108 van 1996 het.  Indien streeksoutonomie binne die huidige provinsiale stelsel moet funksioneer, veronderstel dit dat die gebied nog minder bevoegdhede as die provinsies moet hê.  Streeksoutonomie vir die Pretoria-Centurion-gebied  behoort dus naas die provinsies te bestaan veral in die vorm van ‘n tiende provinsie.  Dit spruit voort uit die feit dat die Afrikaners binne hierdie gebied  ‘n bevolkingsgetal het wat sodanige status regverdig, dat die gebied se ekonomiese posisie sodanige status regverdig, en sodanig is dat dit op dieselfde vlak as die ander provinsies kan funksioneer en dat sy inwoners reeds bewys het dat hulle sodanige bevoegdhede kan uitoefen.  In die lig van die vryheid wat die Afrikaner in hierdie gebied gehad het, sal enigiets minder as sodanige status nie die Afrikaner se strewe na selfbeskikking kan bevredig nie en mag dit die snellermeganisme wees waarmee sy volkeregtelike aanspraak op totale soewereiniteit ontketen word.

Magte wat op streeksoutonome vlak toegeken behoort te word, is alreeds in die staatsregtelike voorstelle van die Volkstaatraad geïdentifiseer.[6]  Dit moet daardie magte insluit wat noodsaaklik is vir ‘n volk se behoud en uitlewing van sy eie aard en kultuur.  Hierdie magte behoort uitsluitende magte te wees in die sin dat daar nie mee ingemeng kan word deur die metropolitaanse regering nie.  Magte waaroor streeksoutonomie verkry moet word, sluit die volgende in: Onderwys, gesondheid, welsyn, landbou, plaaslike regering, provinsiale polisiemag, openbare media, provinsiale vervoer, provinsiale belasting, provinsiale howe en die bevoegdheid  om ‘n eie grondwet vir die gebied op te stel.

3.2 Haalbaarheid van sodanige status binne die huidige Grondwet van 1996.

Die vraag is of die Grondwet 108 van 1996 dit nog steeds vir die Afrikaner moontlik maak om territoriale selfbeskikking te verkry.

Die Konstitusionele hof het in die saak In re Certification of the Constitution of the RSA, 1996[7] van die veronderstelling uitgegaan dat dit nog moontlik sal wees.  Die Hof verklaar:

“Proponents of a Volkstaat are free to campaign for political and constitutional changes which would result in the forms of self-determination which they consider appropriate, being brought about and institutionalised.”

Artikel 235 van die Grondwet verwys na die erkenning van selfbeskikking binne ‘n territoriale entiteit in die Republiek wat deur wetgewing tot stand kan kom.  Hierdie artikel se regskrag is onseker, maar dit is twyfelagtig of dit enigiets beteken omdat die parlement in elk geval hierdie bevoegdheid het selfs al sou die bepaling nie bestaan het nie.  Om territoriale selfbeskikking vir die Afrikaner tot stand te bring op die vlak van ‘n provinsie, sal die grondwet gewysig moet word.  Die parlement het hierdie bevoegdheid. Sodanige wysiging sal egter slegs kan geskied met die toestemming van twee derdes van die lede van die Nasionale Vergadering en met die instemming van ten minste ses provinsies in die Nasionale Raad op Provinsies.  Verder sal enige geaffekteerde provinsie se eie wetgewer ook tot sodanige wetgewing moet instem.  Konstitusioneel het die verkryging van territoriale selfbeskikking dus uiters moeilik geword.

‘n Mens sou natuurlik ook kon argumenteer dat artikel 235 ‘n oorheersende bepaling is in die sin dat dit die parlement die bevoegdheid gee om territoriale selfbeskikking in te stel ongeag die ander bepalings van die Grondwet en dat die parlement dus nie aan die grondwet-wysigingsbepalings gebonde is nie.  Dit is moontlik om sodanige betekenis aan artikel 235 te gee aangesien dit eintlik geen ander betekenis het nie.

Maar in die praktyk weet ons almal dat sou die ANC op sentrale vlak besluit om ‘n bepaalde politieke pad te loop, al die ander regeringsvlakke daarby sal inval.  Die vraag is of territoriale selfbeskikking  prakties haalbaar is binne die werklikheid van die politieke toneel van die land, selfs al kan ons ‘n saak daarvoor in enige plaaslike of internasionale hof uitmaak en wen.

4. Die politieke haalbaarheid van streeksoutonomie

4.1 Onder Afrikaners:

Soos uit voorafgaande afgelei kan word is die Afrikanervolk ten volle geregtig op territoriale selfbeskikking en sal hy sodanige eis suksesvol kan handhaaf mits die nodige volkswil daartoe bestaan.  Daar is egter toenemende tekens dat  weens die aanhoudende demonisering van alle aspekte van apartheid, asook die Afrikaners se betrokkenheid daarby, enige vorm van selfbeskikking of die opeis van enige volkeregtelike regte deur baie Afrikaners vandag as ‘n terugkeer na apartheid bestempel word.

Verder is daar ook onmiskenbare tekens dat politieke stabiliteit vir ekonomiese groei vir die grootgeld-magnate verkieslik is bo die potensiële politieke spannings en onstabiliteit wat deur opwelling van nasionalisme teweeggebring kan word.

Vir groot sakeorganisasies soos SANLAM en sy telge, asook die Anglo American-groep is dit dus kritiek belangrik dat Afrikaners deur ‘n proses van de-etnifisering moet gaan sodat daar in die toekoms van ‘n Afrikaanstalige gemeenskap en nie meer van Afrikaners gepraat sal word nie.  Daar is  weinig twyfel dat hierdie strategie aanleiding tot die 1994-magsoorgawe gelei het en nou volvoer moet word.  Dat daar ‘n werksverhouding in hierdie verband tussen die staat en die sakesektor bestaan is gewis.[8] 

Om relevant te bly het al die ou apartheidstrukture soos die AB, die FAK, die ATKV hulle tot transformasie en veelvolkige inklusiwiteit bekeer.  Die eertydse bakermat van die Afrikaners se volkskapitalisme, naamlik die AHI se samesmelting met die swart sakekamers het die Afrikaners hul enjinkamer van magskonsentrasie finaal ontneem.   “Transformeer om te oorleef”  is die strategie en daardie plan word nou ook as die enigste haalbare oorlewingsplan vir die Afrikanervolk aangebied.  Twyfel word dus daagliks gesaai of daar wel so iets as ‘n Afrikanervolk bestaan wat gered moet word.  Dit is dan ook nie verbasend nie dat die naam van Prof. François Venter, Broederbondvoorsitter en een van die leidende persone by die opstel van die nuwe grondwet, genoem word as die Afrikaners se verteenwoordiger op die Artikel 185-Kommissie waar die regte van Taal – Kultuur en Godsdiensgemeenskappe beskerm sal word en dat ‘n versoolde FAK nou die amptelike Afrikaanse kultuurraad vir alle Afrikaanspraters gaan wees wat deur die Kommissie erken en befonds sal word sodat sy kadawer weer lewe kan kry.  Alles is dus onderhewig aan die breër begrip van nasiebou en transformasie.  Daardie Kommissie moet glo die finale konstitusionele spyker in Afrikaner-etnisiteit se doodskis slaan.

Die vraag is dus hoe invloedryke Afrikaners enige inisiatief vir enige vorm van territoriale outonomie sal steun, iets wat lynreg teen hul eie strategie is, as so ‘n inisiatief noodwendig die herrysing van Afrikaners se eie bewustheid mag ontlok en selfs ‘n moontlike migrasiestroom van Afrikaners kan veroorsaak en moontlik op ‘n onstabiele verskuiwing binne die landsekonomie kan uitloop.  Sterk teenstand en heftige reaksies kan dus uit daardie oord verwag word aangesien Afrikanernasionalisme deur sowel die ANC asook die Afrikaanse grootgeld-magnate as ‘n gemeenskaplike vyand beskou word.  Die media, wat aan hierdie groepering behoort, sal dus elke truuk speel om ‘n herskikking van provinsiale grense deur verdagmakery en disinformasie te verongeluk.

4.2 Onder politici

Tydens gesprekke met politici word veral die volgende argumente geopper:

q       Die belastingbasis vir tweedevlak- en derdevlak-ekonomiese herverdeling sal wesenlik verklein word met ‘n tiende provinsie buite beheer van die ANC.

q       Die oorkoepelende onuitgesproke beleid dat Engels die lingua franca van die hele land moet word sal benadeel word.

q       ‘n Wit enklawe sal swart bemagtiging, veral t.o.v. amptenare wat Afrikaans nie magtig is nie, benadeel. (bv. Xhosa- en Zoeloepraters)

q       Nasiebou sal verydel word aangesien ander etniese groeperings op dieselfde regte mag aandring, ‘n proses wat op balkanisering van die land mag uitloop.

q       Territoriale selfbeskikking vir Afrikaners mag vertolk word dat daar na apartheid teruggekeer word en die mite perpetueer dat Afrikaners ‘n meerderwaardige groep in Afrika is.

q       Dit mag ook vertolk word dat ten spyte van SA se liberale grondwet, die ANC–regering misluk het omdat hy nie daarin geslaag het om sy wit minderheid op ander maniere te akkommodeer nie.

q        Met die uitsondering van die KP en die VF, is al die opposisie-partye heftig gekant teen enige inisiatiewe wat as rasseskeiding vertolk kan word, aangesien sulke inisiatiewe hul groeipotensiaal by ander gemeenskappe sal beduiwel.

q       Swart aktiviste kan die regering oor hierdie hoogs emosionele saak selfs tot ‘n val bring, omdat die regering weer die Maburu, “hul eertydse onderdrukkers,” as ‘n spesiale groep erken.

Die droom van territoriale selfbeskikking sal uit ‘n politieke oogpunt bykans onhaalbaar wees, tensy ‘n radikale paradigmaverskuiwing by die populiste asook by die sakesektor ontstaan; een wat so ‘n proposisie vir hulle aanloklik sal maak.  Intussen moet daar aan ander strategieë gewerk word voordat die geldmagnate en die ANC se gemeenskaplike strategie volvoer word om die volgende geslag Afrikaners heeltemal te de-etnifiseer.

5. Alternatiewe strategieë vir Afrikaners

5.1 Word deel van die meerderheid.  Hierdie NSA-opsie word deur die media, asook mense soos Prof. Willie Esterhuyse verkondig.  Daar word geargumenteer dat etniese verdelingslyne mettertyd gaan verdwyn en dat die smeltkroesproses van nasiebou net sowel nou reeds kan begin.  Gemeenskaplike belange soos onderwys, sport, taal en die ekonomie word hiervoor ingespan en verskaf die filosofiese basis waarop rassisme tans as ‘n groter misdaad beskou word as verkragting.   Baie Afrikaners het reeds op hierdie opsie besluit en voed hul kinders as NSA-burgers op.

5.2 Emigreer. Honderde duisende Afrkaners het reeds hierdie opsie gekies, of berei hul kinders voor om dit te doen.  Daar is reeds groot getalle Afrikaners in Perth, Oakland, Toronto en Londen.  Sommige Afrikaners, veral op landbougebied, het aanvaar dat hulle onder ‘n swart regering sal moet werk en het besluit om die swart regering te kies onder wie hulle dit die voordeligste kan doen.  Een so ‘n land is Zambië, ‘n ander is Mosambiek waar honderde Afrikanerboere reeds hervestig het.

5.3 Die ANC/SAKP se geweldsopsie.  Dit is ‘n feit dat regerings slegs toegee aan druk om hul beleid te verander wanneer sodanige druk onhoudbaar word in terme van verlies aan lewens en bates.  Hierdie opsie beteken dat die Afrikaners, soos die swart aktiviste voorheen, ondergronds sal moet gaan en hulself op ‘n lang, bloedige stryd voorberei. Geografiese afskeiding vind nooit plaas sonder ‘n bloedige stryd nie.  Daarenteen is ‘n bloedige stryd ook nie ‘n waarborg vir sesessie nie, soos baie minderheidsvolke in Europa en elders kan getuig.

5.4 Die virtuele volkstaat. Hierdie is tans waarskynlik die haalbaarste opsie en vereis dat Afrikaners hulself moet orden op politieke, opvoedkundige en kultuurgebiede.  Hoewel dit beteken dat hulle soos opsie een ook deel van die hoofstroom moet word, veral die politieke hoofstroom waar hul deelname aan verskillende politieke partye kan verseker dat Afrikaners se belange in daardie politieke partye beskerm sal word, kan hulle deur hul eie buite-parlementêre instellings op te rig druk op die regering van die dag uitoefen.  Sodanige druk kan deur die howe asook met buitelandse verbintenisse toegepas word sodat die regering altyd Afrikaners se belange sal respekteer.  Hierdie strategie is die filosofiese basis vir Gemeenskapsrade op plaaslike vlak, hier en oorsee, waaruit die te stigte Konfederale Afrikanerforum op sentrale vlak sal opwentel.  Afrikaners hoef geen  toestemming van enigiemand te vra om homself op hierdie wyse te orden nie, maar sy vermoë om druk uit te oefen sal direk eweredig wees aan die hoeveelheid steun wat die struktuur onder Afrikaners sal geniet.  So ‘n geglobaliseerde volkstaat hou Afrikaners deur die kuberruimte in verbinding met mekaar en sorg daarvoor dat nie ‘n enkele Afrikaner vir die volksaak verlore gaan nie.  Tegnologie -, handels – en werksgeleenthede kan op hierdie wyse vrylik uitgeruil en benut word.

5.5 Politieke mobilisasie  Hierdie aksie kan as voorloper dien om geografiese selfbeskikking op ‘n kerngebied in te stel, selfs al is dit dan aanvanklik net  op derde vlak.  Dit kan verkry word deur Afrikaners in en om Pretoria-Centurion te mobiliseer om tydens derdevlakverkiesings vir ‘n enkele politieke party te stem.  Gelyktydig moet elke moontlike wettige middel aangewend word om die 21 setels van die voormalige tuislandgebiede weer uit te sny wat onreëlmatig vanaf ‘n ander provinsie by Pretoria ingedeel is.  Sonder die 21 setels wat die ANC in die voormalige tuislandgebiede gewen het, kan die DA en die ANC elk 35 setels sonder ‘n verhoging in die stempersentasie kry.  Vraag is of die DA tot so ‘n aksie sou instem, aangesien hulle wyer kyk as net Pretoria en hoop om ‘n alternatiewe sentrale regering ook te vorm.  Die DA sal derhalwe nie hul swart steun wou inboet ter wille van Pretoria se Afrikaners nie.  ‘n Ruimte kan derhalwe vir ‘n ander politieke party ontstaan om daardie rol in Pretoria te vul.

5.6 Die Bonsai-volkstaatgedagte  Soos die Bonsai-boompies in elke opsig net soos die groot boom lyk, bly hy egter klein omdat sy voedingsbron beperk word.  Bonsai-volkstaatjies kan oral verrys soos in Kleinfontein en Orania en kan selfs mettertyd op ‘n federale basis met mekaar skakel om in mekaar se tegnologie, handel en skoolopvoedingstelsels te deel.  Afrikaners wat binne hierdie groeipunte woon bevind hulle sodoende in ‘n groeipunt-volkstaat deurdat hul onmiddellike omgewing vir hulle as Afrikaans vertoon.  Maar soos wanneer ‘n Bonsai-boompie se potjie tussen kakiebosse geplaas word, is sulke groeipunte altyd deur ‘n groter vyandige omgewing omring.

Vanweë die feit dat daar aanhangers van elkeen van bogenoemde ses strategieë is, en dat elkeen glo dat sy strategie die beste sal werk, sal Afrikaners altyd verdeeld bly.  Slegs opsie vier, die virtuele volkstaat, kan al die Afrikaners van oor die hele aardbol in een enkele struktuur verenig, presies net soos die Joodse Raad van Afgevaardigdes dit oor die wêreld doen.



[1] Artikels 1 tot 3 uit die Akademiese Begronding van Streeksoutonomie Prof Hercules Booysen 1997. Stigtingsdokument PRETCAA.

[2] Sien Franck “The Emerging Right to Democratic Governance” 1992 (86) American Journal of International Law 46 op 52.

[3] Sien Jennings & Watts Oppenmheim’s Interhational Law vol 1 (1992) op 715.

[4]  Sien Cassese Selfdetermination of Peoples: A Legal reappraisal (1995) op 188

[5] Sien Hannum Autonomy and Selfdetermination:  The Accommodation of Conflicting Rights (1990) op 463

[6] Sien Staatsregtelike Voorstelle van die Volkstaatraad, sesde verslag van die Volkstaatraad, Desember 1996, par 4.3 op 12.

[7] 1996 4 SA 744 op 840

[8] Sien Die Goudgoggas byt seer deur J.H.Wingard