Terug na Afrika?
Johann
Wingard
Suid-Afrika
se paradoksale begeerte om na Afrikanisme terug te keer bly ‘n enigma. Voor
1880 het Afrika nog soos die primitiewe wêreld gelyk wat voor die Middeleeue
regoor die wêreld bestaan het voordat die nasiestaatgedagte posgevat het.
In die pre-nasiestaat het nie-politieke en nie-morele natuurwesens gewoon; vry om te maak soos hulle wou, slegs deur hul eiebelang en oorlewing beperk. Hul moraliteit was op dieselfde vlak as die norm wat ook vir dief- en roofbendes oor eeue heen gegeld het. Gemeenskaplike beplanning om vrede en stabiliteit te verseker, was dus ondenkbaar; voorwaar ook ‘n akkurate beskrywing van die pre-1880-Afrika wat arbitrêr daarna tussen Europa se moondhede opgedeel was.
Livingston
beweer dat, hoewel die Hobbesiaanse staat outoritêr was, dit nie totalitêr is
nie. Die Hobbesiaanse soewereine
funksies word ‘n skeidsregter wat heers sonder om bevele te gee.
Deur ‘n staat se inkomste te beperk tot invoerbelasting word sy magte
outomaties beperk tot dit wat binne ‘n beperkte begroting bekostigbaar is.
Vandag se opgeblaasde staatsdienste was dus vir Hobbes ondenkbaar.
Livingston
konkludeer dat desnieteenstaande, het Hobbes se ‘teorie van die staat’
bygedra tot die ondoeltreffende, vernietigende en bemoeisieke leviatane
wat die politieke wêreld van die afgelope byna twee eeue oorrompel het.
Vanuit die doktrine dat soewereiniteit onverdeelbaar, onweerstaanbaar en
onfeilbaar is, het die nasiestate van vandag ontwikkel.
Maar
daar is nog ‘n ander gevolg: Soewereiniteit
is altyd aan ‘n grondgebied gekoppel. Deurdat
soewereiniteit onverdeelbaar is, is grondgebied dus ook onverdeelbaar, wat tot
gevolg het dat ‘n volk binne ‘n veelvolkige nasiestaat nie van so ‘n staat
kan afskei nie. Sesessie sou
kwansuis op die territoriale versnippering van ‘n staat neerkom; op sy beurt
weer ‘n ontkenning dat soewereiniteit onverdeelbaar is.
Om hierdie rede bevraagteken moderne en post-moderne filosowe nooit die
moraliteit van sesessie nie en word hul aandag beperk tot die teoretisering en
legitimisering van die moderne nasiestaat.
Sedert 1790 tot 1990 het daar slegs enkele voorbeelde van suksesvolle vreedsame sesessies voorgekom. België het van Nederland afgeskei in 1830, Noorweë van Swede in 1905 en Singapoer van die Maleisiese Federasie in 1965.
Sedert
die val van die Berlynse muur het daar egter ‘n verandering in die
soewereiniteit van nasiestate gekom en het verskeie vreedsame sesessies
plaasgevind, soos bv. die Tjeggiese en Slowaakse Republieke wat deur sesessie
uit Tjeggoslowakye geskep is. Met
die uitsondering van Eritrea van Etiopië, was alle sesessies vreedsaam sedert
1990, ook die sesessie van Walvisbaai van Suid-Afrika na Namibië.
Dit was selfs waar van Joegoslawië waar daar slegs halfhartige weerstand
van die sentrale regering, wat deur Serwiërs gedomineer was, bestaan het toe
Slowenië en Kroasië afgeskei het. Die
huidige konflik gaan oor die Serwiese enklawes in Bosnië en Kroasië, wat nie
toegelaat word om af te skei en by Serwië aan te sluit nie.
Tony Blair se goedkeuring vir selfbeskikking aan Noord Ierland, Wallis en
Skotland is ‘n verdere bewys van die verdeelbaarheid van soewereiniteit.
Intussen
is Europa aan die opmars. ‘n Groter entiteit soos die EU is geskep, met selfs
‘n gedeelde Euro-geldeenheid, wat ‘n groot verlies aan soewereiniteit van
lidlande verteenwoordig. Die
Europese Parlement is reeds in staat om gemeenskaplike wetgewing aan te neem wat
verpligtend op ledelande is. Daar
kan dus met reg beweer word dat soewereiniteit vandag wel wesenlik verdeelbaar
geword het. ‘n Direkte
uitvloeisel van die EU is dat landsgrense sagter geword het, deurdat burgers van
een lidstaat dieselfde regte geniet as burgers van ‘n ander en dat goedere
vryelik tussen lidstate oor grense heen mag beweeg. ‘n Versagting van
landsgrense verdeel soewereiniteit nog verder.
In die toekoms sal algehele sesessie van ‘n lidstaat vanaf die Unie
moontlik, wettig en prakties uitvoerbaar
wees, hoewel ekonomies dalk ongewens.
Op
die politieke landskap is hierdie verskynsel baie nuut; iets waarmee die VSA,
Kanada en Meksiko waarskynlik nog te kampe gaan hê sover dit die oprigting van
die Pan-Amerikaanse vryhandelsentiteit aanbetref.
Die afskeiding van Quebec, wat tans ‘n haas onverteerbare vooruitsitg
vir Kanada is, sal polities meer aanvaarbaar raak wanneer ‘n groter Pan-Amerikaanse
politieke entiteit tot stand kom en waarin Quebec ‘n gelyke vennoot sal kan
wees. Gesien teen die agtergrond
dat die VSA sy alleenheerskappy as makro-moondheid waarskynlik eers sal moet
inboet, sal so iets egter nie gou gebeur nie.
Om
nou weer na Afrika terug te keer. Ek
noem Suid-Afrika se terugkeer na Afrikanisme ‘n paradoksale enigma, omdat dit
impliseer dat daar na Afrika se manier van dinge doen teruggekeer gaan word;
soos Afrika dit vir eeue voor die koloniale tydperk gedoen het.
Landsgrense, wat arbitrêr deur koloniale moondhede op die vasteland
afgedwing was, mag dus nou in gedrang kom.
Lande
soos Zambië en Mosambiek het reeds hul soewereiniteit oor die beheer van hul
geldsake aan die IMF en die Wêreldbank afgestaan, wat daardie lande se
begrotings elke jaar moet goedkeur en waar verteenwoordigers van daardie
organisasies hul kabinetsvergaderinmgs bywoon.
Die volgende stap sal gemeenskaplike projekte oor aangrensende
landsgrense wees. Neem bv. die Groter-Limpopowildreservaat van Suid-Afrika,
Mosambiek en Zimbabwe. Soewereiniteit
se verdeelbaarheid en dus ook territoriale verdeelbaarheid, word sodoende
stelselmatig as ‘n gegewe politieke opsie in Afrika aanvaar en stadigaan
prysgegee.
Vir
Afrikanisme om as ‘n ernstige politieke filosofie gesien te word en nie slegs
as die politieke mobilisering van swart nasionalisme om die euforie van die
“finale bevryding” te vier nie, sal Afrika se volke bevry moet word soos om
te wees soos hulle tydens die
pre-1880 tydperk was. Dit
beteken dat grense wat regdeur stamme, volke en selfs gesinne se huise getrek
was, opgeskort sal moet word.
Vroeër
was daar dikwels aangevoer dat Afrikalande se buitelandse skuld die
prysgee van grondgebied, asook die verskuiwing van landsgrense onmoontlik
maak. Binne die huidige
internasionale politieke klimaat, waar daar op die algehele vergewing van
buitelandse skuld vir Afrikalande aangedring word, kan daardie argument dus
eersdaags verdwyn. ‘n Verdere
aansporing van die herskikking van Afrikagrense is die NEPAD program, wat
reusagtige gesamentlike voedselproduksieprojekte tot gevolg mag hê binne streke
waar bepaalde klimatologiese of logistiese voordele bestaan.
Sulke projekte sal noodwendig beteken dat die land waarop ‘n projek
geplaas word, nie noodwendig die volle fiskale, politieke of maatskaplike
seggenskap oor sodanige projekte sal hê nie.
Sulke projekte mag selfs direk onder die beheer van die Afrika-Unie ressorteer.
Dit
is binne hierdie verwysingsraam dat ‘n pre-1880 volk, soos die Afrikaners, wat
van die Boerevolk afstam, ook hul eie staanplek sal moet vind.
Hoewel sesessie nie tans moontlik lyk nie, en, gesien teen die agtergrond
van die twiste wat bestaan oor watter deel van Afrika aan Afrikaners toegewys
moet word selfs onwenslik mag wees, sal sesessie, as ‘n politieke opsie,
telkens weer sy verskyning op die politieke terrein maak.
Dit
is derhalwe wys om die groter politieke prentjie, asook die filosofiese
strominge oor die moraliteit van sesessie noukeurig te volg en om ‘n kultuur
van denke te vestig wat gedurig daarop wys dat sesessie wel ‘n morele
politieke opsie vir Afrikaners se netelige probleem van selfbeskikking is sodat
sy volkskap behoue sal bly.
Julie,
2003